A. INLEIDING.
Na die Toring van Babel gebeurtenis, het die mense volgens hul tale gegroepeer, weggetrek en elke groep het hulself êrens in ‘n eie gebied gevestig. Daar het hulle vermeerder en so het verskillende nasies tot stand gekom.
Hul tale was nuut maar hul harte was nog dieselfde. Hulle het God nie liefgehad nie maar hul eie begeertes nagestreef en vir hulself afgode gemaak om te aanbid.
Die afvalligheid van die mens het God egter nie laat afsien van sy voorneme om mense te hê wat Hy Sy eie sou kon noem nie; mense wat sou luister as Hy met hulle praat en wat bly sou wees om Hom as hulle God en Vader te hê nie. Tussen al die baie goddelose mense, het Hy een so ‘n man gevind en besluit om uit hom vir Homself ‘n volk van godvresende mense op te bou.
B. TERA EN SY AFSTAMMELINGE. (GEN. 11:26-32)
Ons lees van ‘n man met die naam van Tera wat in Ur van die Chaldeërs gewoon het. Dit was, wyd gesproke, in die landstreek waar die Toring van Babel vroeër gebou was, vanwaar die mensdom versprei het. Dit was ‘n heidense land waar die bevolking afgode aanbid het. Tera wou Kanaän toe trek: waarom? Het God hom geroep?
Kanaän was ‘n betreklike klein landjie maar baie betekenisvol in God se beplanning. Dit is daar waar die Here later Sy volk, Israel, gevestig het en waar Jesus Christus, die Seun van God, gebore is, bedien het, gekruisig is en opgestaan het. Deur die eeue het dit, en sal dit ook, nog ‘n baie belangrike rol in wêreldgeskiedenis speel.
Tera het egter net so vêr as Haran gekom. Sommige mense begin om God te gehoorsaam maar volg Hom net ‘n entjie, verloor moed, steek vas en bereik nooit die hemelse Kanaän nie; selfs nie eers die pragtige doelwitte wat Hy vir hulle in hierdie lewe beplan het nie.
C. ROEPING VAN ABRAM (GEN 12:1-5)
Tera het egter ‘n seun gehad met die naam van Abram wat saam met hom na Haran getrek en daar bly woon het. Abram se vrou se naam was Sarai en sy was onvrugbaar.
Abram was ‘n uitverkore persoon deur wie God vir Homself ‘n volk wou bou. Na Tera se afsterwe, praat die Here toe met hom.
Of Hy op ‘n hoorbare wyse met hom gepraat het en of Hy aan hom verskyn het, word nie vir ons gesê nie maar die belangrike ding was dat Abram geweet het dat dit God was wat met hom gepraat het en dat hy kon verstaan wat God vir hom gesê het.
God praat vandag nog met mense.
Dit is verstommend dat die almagtige God met ‘n kleine mens wil praat, maar ons is na Sy beeld geskape, ons is baie soos Hy. Hy het ons gemaak om met Hom te kan praat. Dit het van sy kant af gekom en daarom geniet Hy dit om met ons te praat en wil Hy dat ons Hom moet antwoord.
Baie mense hoor nie as God met hulle praat nie omdat hulle nie wíl hoor nie; hulle is bang die Here sê vir hulle om ‘n ding te doen wat hulle nie wil doen nie; daarom draai hulle ‘n dowe oor. Dan gaan God terleurgesteld van hulle af weg en praat met iemand anders.
(Word net vir ‘n oomblik stil en dink na of God al met jou gepraat het, wat Hy vir jou gesê het en wat jy daaromtrent gedoen het. Is daar dalk uitstaande opdragte van God op jou werkskaart?)
Hoe praat Hy vandag met mense? Eerstens gee Hy sy algemene gedagtes wat vir almal geld, vir ons op skrif in Sy Woord of deur die prediking of getuienis van ander kinders van God.
Maar daar is ook dinge wat Hy vir ons persoonlik wil sê, soos ons vrae wat Hy wil beantwoord. Vrae soos: “Here, met wie wil U hê moet ek trou: Marie, Rina of Frieda?” Of: “Watter beroepsrigting moet ek kies?” Daardie antwoorde gee Hy deur sy Heilige Gees wat sterk indrukke in ons hart plaas en dit bevestig deur dinge wat Hy laat gebeur om ons in die regte rigting te stuur: Marie emigreer, Rina raak smoorverlief op ‘n ander ou en Frieda begin al meer van jou te hou –(of, as jy gelukkig is, stel nie een in jou belang nie en hou jy jou hele inkomste vir jouself?).
Abram se opdrag (werksbeskrywing).
God het eerstens vir Abram ‘n drievoudige opdrag gegee wat so geformuleer was dat hy kon sien dat die Here presies geweet het hoe groot die prys was wat hy sou moes betaal om gehoorsaam te wees. Hy het naamlik vir hom gesê om: uit sy land te gaan; uit sy familie en sy vader se huis; na ‘n land moes verhuis wat die Here hom sou wys.
Abram moes ‘n vriend van God word.
Om uit sy vriende- en familiekring uit weg te beweeg, was noodsaaklik omdat hulle in ‘n heidense omgewing ingeburger was wat vanselfsprekend ‘n impak op hom en sy huishouding gehad het. In die vreemde land sou die Here sy beste vriend word en sou hy, op sy beurt, ‘n vriend van God word (Jak 2:23).
Abram moes gaan voetspore trap in Kanaän.
Maar die Here wou ook begin om die land Kanaän terug te neem uit die hand van die Kanaäniete en dit weer Sy eie te maak sodat Hy dit kon gee aan Sy volk Israel wat Hy tot stand sou bring. Deurdat Abram in die land sou rondtrek, sou hy ‘n geloofshandeling uitvoer wat in die hemele aangeteken sou word en 400 jaar later op aarde neerslag sou vind.
God het groot planne gehad waarvan Abram maar min geweet het, soos wat ‘n dienskneg maar min weet van wat sy heer beplan.
Sewe sjokolades in een pakkie.
Saam met die drie opdragte, het God ook aan Abram ‘n sewevoudige belofte gegee, alles in die een pakket, naamlik: dat Hy uit hom ‘n groot nasie sou laat voortkom; hom sou seën (voorspoedig en gelukkig sou maak); sy naam groot sou maak (dat hy hoog geag sou word); dat hy vir ander tot seën sou wees; dat Hy diegene wat vir hom seën sou seën en die wat hom vervloek sou vervloek; dat die seën wat hom te beurt sou val so groot sou wees, dat hy vir al die geslagte wat die aarde sou bewoon, (deur al die eeue heen) tot seën sou wees. Geweldig!
Ontvang en deel uit.
Die laaste frase van God se belofte is ook vir ons van besondere belang. Ons moet eers deur God geseënd wees, voordat ons werklik vir andere tot seën kan wees. Ons kom die wêreld in sonder ‘n draad klere aan ons lyf en ons moet eers iets van God ontvang, voordat ons kan uitdeel.
Die omgekeerde is ook waar: die Here wil hê dat ons die seën wat ons van Hom ontvang, nie vir onsself moet opgaar nie, nee Hy seën ons sodat ons dit kan gebruik om andere mee te seën. Dit geld vir materiële, sowel as vir geestelike seëninge; ontvang met die een hand en gee met die ander hand. Soos wat ‘n klein klippie wat in ‘n groot dam gegooi word, rimpels reg rondom hom tot wie weet waar laat uitkring, sal ons verbaas wees om te sien hoe vêr ons invloed kan strek.
‘n Moddergooier besmeer homself.
Let ook op die waarskuwing. Dit is nogal skrikwekkend om te verneem dat as ons ander kinders van God benadeel, Hy ons dade op onsself sal laat neerkom.
D. ABRAM TREK GEHOORSAAM WEG (GEN 12:4-8)
Drie belangrike vrae.
Voordat Abram tot aksie kon oorgaan, moes hy eers drie dinge vir homself uitmaak.
Sê weer asb.
Eerstens moes hy besluit of hy reg van God gehoor het. Soms mis ons dit wat God vir ons wil gee, deurdat ons bang is dat ons Hom verkeerd verstaan het en bly ons eerder doodstil op ons veilige plekkie sit as om te waag om in die geloof uit te stap.
Hoe kan ek seker wees dat ek reg gehoor het? Deur my in gebed van my eie wil te ontledig totdat die Heilige Gees se vrede my hart vul wanneer ek besin oor dit wat ek meen ek van God gehoor het.
Kan Hy?
Tweedens moes hy glo dat God in staat was om hom te kon gee wat Hy beloof het. Die beloftes was asemrowend maar hoe groot was God werklik?
‘n Bykomende negatiewe faktor was dat sy vrou Sarai onvrugbaar was; hoe sou die Here uit haar ‘n magtige nasie kon verwek? Sou Hy kon uitvoer wat Hy beloof het?
Almal van ons moes al erg op die neus kyk wanneer mense wat dinge aan ons beloof het, hul beloftes nie nagekom het nie deurdat hulle self in ‘n verknorsing beland het. (Hoe groot ag ek God? Hoe groot is Hy in my oë? Is Hy werklik álmagtig?)
Sê nou net Hy verander van plan?
Derdens moes hy besluit of hy God kon vertrou dat Hy voet by stuk sou hou en nie môre oormôre van plan sou verander en hom net daar in die vreemde land in die steek sou laat nie. Hy is immers ‘n onsienlike God; waar sou Abram Hom in die hande kry om Hom aan sy beloftes te herinner en aan te dring om Sy woord na te kom?
Dit was dus eerstens ‘n geloofsoorwinning wat hy oor sy natuurlike menslike swakheid van ongeloof moes behaal.
Voeg die daad by die woord van jou belydenis.
Nou moes hy tot aksie oorgaan. Om die beloftes te verkry, moes hy die stryd stry. Hy moes sy vrese vir die onbekende land en sy mense oorkom. Hy moes die moontlike spot en verwyte van familie en vriende oorkom. Baie van hulle het sy voorneme waarskynlik as dwaasheid afgemaak en dit baie duidelik gestel ook: “Gebruik tog net jou gesonde verstand!”
Vir die ongeredde wêreld is die weë van ‘n man wat deur die Heilige Gees gelei word, dwaasheid en totaal onverstaanbaar omdat dit dikwels reëlreg in stryd met hulle aanvaarde lewensbeginsels is. Abram se geloof en gehoorsaamheid het sy hele familie en alles en almal om hom geraak.
Sak en pak.
En toe, op ‘n dag was alles gepak, die kamele gelaai, almal gegroet en het hy weggetrek soos God hom beveel het. Hy was nie van plan om ooit weer terug te kom nie en het sy vrou, slawe en besittings saamgeneem. Hy was toe 75 jaar oud.
Hy het sy broerskind Lot ook saamgeneem. Dit het God hom nie beveel om te doen nie en sou hom later duur te staan kom.
Hy het tot diep in Kanaän getrek, tot by Sigem, nie te vêr van die latere hoofstad Jerusalem af nie en daar by die Terpen-tynboom More, in die hart van die land, kamp opgeslaan. Die eerste geloofskof was agter die rug en God het hom beloon en sy geloof versterk deur daar aan hom te verskyn en met hom te praat. Die Here het vir hom gesê dat Hy dié land aan sy nageslag sou gee.
“Jy’s op pad om die Ewige Lewe te beêrwe.”
Op ons pad hemel toe, sal die Here Homself aan ons in ons gees openbaar en sal ons soms besonder bewus raak van sy teenwoordigheid. Daar is niks wat ons geloof so versterk as wanneer Hy met ons praat nie; óf deur Sy geskrewe Woord, óf deur Sy Gees.
“Dankie Here.”
Abram se gemoed was diep geraak deur God se toenadering tot hom en hy wou op ‘n tasbare wyse sy liefde aan Hom betoon en bou toe daar vir Hom ‘n altaar waarop hy van tyd tot tyd offers aan Hom sou kon bring. Dit sou ook dien as ‘n openlike belydenis van sy geloof en ‘n aksie waaraan sy huishouding, insluitende sy slawe sou kon meedoen.
Wanneer ek die Here se heerlike teenwoordigheid belewe, sal ek lofoffers, veral by wyse van lofliedere aan Hom bring, maar ook finansiële offers waardeur Sy Koninkrykswerk bevorder kan word.
“Wat hou hierdie nuwe land/lewe vir my in?
Mettertyd het hy die land van belofte verder verken. Daardeur het hy in geloof opgetree asof die land reeds sy eie was. Weer het hy ‘n altaar gebou.
Hoe vêr het ek al my nuwe lewe in Christus verken; staan my kamp nog by die eerste stop, by die Terpentynboom More? Gered maar nie gedoop nie? Het ek die Kanaän van die Woord al deurgetrek? Lê my voetspore ook in Jesaja, Habbakuk, Handelinge en Hebreërs? Kan ek andere vertel van my reise deur Númerie, Psalms en die Evangelie van Lukas? Hou ek ‘n dagboek van getuienisse oor wat die Here al vir my gedoen het en ‘n album van vervulde visies? Hoeveel altare het ek gebou?
Wat van ‘n nuisaltaar? Vir ‘n man om vir die eerste keer sy familie vir huisgodsdiens bymekaar te roep, is nie altyd maklik nie, maar dan is die ys gebreek en gaan dit al makliker. Die familie altaar is ‘n gemeenskaplike kontakpunt met God en ‘n skans teen die siele vyand.
E. ABRAM EN SARAI TREK NA EGIPTE EN JOK OOR HULLE VERHOUDING, (Lees asb GEN 12:8-20),
“Liefie, pak ons goed; hier in Kanaän gaat ons als verloor.”
Tot dusvêr was Abram se optrede deurentyd positief, maar elke kind van God se enkels kan swik. Hier staan ons geskok en toekyk hoe ons geloofsheld skandelik struikel.
‘n Hongersnood het oor die land Kanaän gekom en Abram het besluit om Egipte toe te trek waar die Nyl-rivier deurentyd goeie oeste verseker het en waar hy vir sy mense en diere kos sou kon bekom.
Die kernvraag is of die Here hom daartoe gelei het en of dit sy eie idee was; ‘n wesentlike verskil. Te oordeel aan hoe hy meermale later in sy lewe ook geloofsinsinkings gehad het, sou ‘n mens dalk die tweede opsie as die meer waarskynlike sien; hy het die Here nie vertrou om vir hom in die beloofde land te sorg nie.
Jy skrik vir die hael wat op die sinkdak kletter en vlug na buite.
So ‘n misstap beteken dat jy onder die Heer se beskerming uitstap en weer en weer jou eie planne moet beraam om jouself uit die verknorsing te kry. Die hongersnood was nou opgelos, maar ‘n tweede krisis het gedreig: Abram het naamlik op goeie gesag gevrees dat die Farao hom sou vermoor om sy mooi vrou, Sarai te bekom.
“Saratjie, is jy nog lief vir my? … Nou maak dan so … “
Hoe nou gemaak? Daar was net een menslike uitweg: sy moes instem om te jok dat sy, sy suster was. Die Farao moes haar dan nou maar in sy harem intrek, maar hy, Abram, sou darem sy lewe behou. Was dit nie die minste van twee euwels nie? Sy was ook immers sy half-suster. ‘n Rasionele oplossing en net so het dit toe ook gebeur.
Die Farao het Sarai as vrou geneem en Abram ryklik vergoed met vee, slawe en slavinne maar dit kon Sarai se verleentheid en vernedering nie bedek nie – ‘n skande waaraan sy aandadig was deur die leuen wat sy vertel het om haar bewende eggenoot te beskerm.
Wie se bruid het jy weggegee?
Maar dié misstap het ook wyer implikasies as net vir hulleself gehad. Hulle het nie in gedagte gehou dat God ook ‘n belang in Sarai gehad het nie; Hy wou haar naamlik gebruik as moeder vir Sy volk Israel en nou was sy in die hande en harem van ‘n heidense koning wat haar wou gebruik om kinders vir sý koninkryk te baar – ‘n konflik van belange; Koning teen koning. ‘n Mens kry die koninkie van Egipte half jammer want hy was immers onskuldig. Ja, kinders van God wat buite die Here se wil beweeg, dompel almal om hulle in die ellende.
Die Ruiter op die wit perd bevry Sy bruid.
Om Sarai te bevry het die Here tussenbeide getree en die Farao met swaar plae gestraf. Op een of ander wyse het hy besef dat hierdie rampe verband gehou het met die feit dat hy Sarai geannekseer het. Daar en dan het hy vir Abraham voor stok gekry omdat hy vir hom gejok en hom sodoende ‘n sonde laat begaan het.
Wat ‘n verleentheid vir ‘n man van God om deur ‘n heidense koning vir ‘n morele oortreding berispe te word! Hy het summier Abram se vrou teruggegee en hom en sy mense (so wil dit voorkom) onder begeleiding van sy troepe teruggestuur Kanaän toe.
As ons ontrou is, Hy bly getrou (2 Tim 2:13).
Al was Abram en Sarai ontrou aan God, het Hy aan hulle getrou gebly, hulle uit hul penarie verlos en dit boonop so beskik dat Abram ryker anderkant uitgekom het. (Hoe Abram dié saak weer met sy vrou uitgestryk het, is ‘n ander vraag!)
Samevattend. Die lesse wat ons hieruit leer, is dat ons God met ons hele hart moet vertrou, al lyk die omstandighede ook hoe sleg. Kleingeloof lei tot leuens. Leuens beland jou al dieper in die ellende. Leer uit jou foute en moet dit nie herhaal nie want dan versoek jy God. Die goeie nuus: al het jy gesondig, het jy jou beloofde land, jou hemelse Kanaän nie verbeur nie. God is lankmoedig, geduldig en genadig.
F. ABRAM EN LOT SKEI VAN MEKAAR (GEN. 13:1-18)
Selfs Christen vriende kan in meulstene verander.
Terug op eie bodem het ‘n ander krisis opgeduik. Daar het ‘n twis ontstaan tussen Abram en Lot se veewagters oor veld vir hul vee. Toe Abram uit Ur van die Chaldeërs weggetrek het, het hy dit goed gedink om sy kleinneef, Lot, met hom saam te neem Kanaän toe. ‘n Mens kan aan verskeie goeie redes daarvoor dink soos, geselskap, veiligheid, ens. maar dit was nie God se opdrag nie en dit het Abram nou duur te staan gekom.
Die koste om ‘n fout reg te maak.
Wat ‘n verleentheid: net twee gelowiges (Christene) saam in ‘n vreemde land en hulle kan nie oor die weg kom nie. Abram het die inisiatief geneem om hierdie onaangename onenigheid uit die weg te ruim en voorgestel dat die twee families maar van mekaar af wegtrek en apart boer. Boonop het hy aan Lot die geleentheid gebied om eerste te kies waar hy homself wou vestig. Lot het rondgekyk, gesien dat die Jordaanstreek volop water gehad het en gekies om daar, in die omgewing van Sodom en Gomorra te gaan boer.
Aardse goedere skei die koring van die kaf.
Hierin sien ons nou weer iets baie moois in Abram naamlik sy nederigheid en vrygewigheid. Alhoewel God die land Kanaän aan hóm beloof het, het hy nie krampagtig daaraan vasgeklou nie, maar homself verneder en aan Lot die geleentheid gegee om eerste te kies en dus vir homself die beste veld te kies.
Wanneer sommige Christene sien dat hulle geld kan maak of dit kan verloor, vergeet hulle totaal en al dat hulle God eerste moet stel en baklei soos kat en hond vir die rande en sente. “Besigheid is besigheid,” sê hulle. Kyk maar hoe gaan dit soms tussen erfgename direk na ‘n begrafnis.
… wie homself verneder, sal verhoog word (Matt 23:12).
Abram was nie net diep gelowig nie, maar ook diep nederig: geloof en nederigheid is boesemvriende. Jesus het ‘n dienskneg van die mens geword en soos ‘n misdadiger aan die kruis gesterf, waarna sy Vader Hom verhoog en ‘n Naam bo alle ander name gegee het (Fil 2:9).
As ons gewillig is om die minste te wees, sal God ons ophef en bo andere aanstel. Moet nie gryp na wêreldsgoed nie; wag totdat God dit in jou hand afweeg.
Abram se gewilligheid om aan Lot die eerste keuse te bied, het sy vertroue in God weerspieël en het Hom behaag, sodat Hy hom weer besoek en sy beloftes aan Hom bevestig het.
Abram was nou vry.
Hy het die land verder deurgetrek en in geloof in besit geneem; sy voetspore daarin geplant. Hy het God se gawe nou geniet omdat hy nie krampagtig daaraan vasgeklou het nie. Die land het hom nie besit nie. Hy kon dit na willekeur opneem en neerlê.
Wanneer ons alles wat God in ons hand gegee het met so ‘n oop hand kan besit, het die Here ‘n groot genadewerk in ons harte gedoen. Dan sal ons selfs, as dit moet, ons lewens vir Hom kan aflê.
Hy gee graag want hy ontvang so baie.
Abraham het weer ‘n altaar gebou waarop hy tot God kon offer. Dit is nou die derde een waarvan ons weet en die Here het dit so belangrik geag dat Hy daarvan boekgehou en dit in Sy Woord laat opteken het. Die altare wat hy gebou het, dui daarop dat hy nie net God se gawes geniet het nie, maar bowe alles vir God self.
G. ABRAM VERLOS VIR LOT EN SY ONTMOETING MET MELGISEDEK (Lees asb Gen 14: 1-24).
Meng jou met die semels, dan …
Sodom en Gomorra was twee goddelose stede en was nie onder God se beskerming nie sodat hulle in oorlog deur hul vyande oorweldig is. Lot en sy huismense wat in dié stede gewoon het, is saam met die ander inwoners as buit weggevoer. As ‘n mens kies om met sonde te speel, loop jy die gevaar om ‘n slaaf van sonde te word.
Abram plaas sy lewe en besittings op die spel.
Abram was op dié stadium al ‘n ryk man met baie werkers omdat God hom geseën het, soos wat Hy mos beloof het. Hy kon 318 man bymekaarbring om te gaan veg. Hy was ook ‘n dapper man en het sy manne opgelei om hulself te kan verdedig. Verder was hy ook nog steeds lief vir Lot en het geen kwade gevoelens teen hom gekoester omdat hy die beste veld gekies het nie. Hy het nie gesê: “Ditsem, hy wou mos daar in die groen weivelde gaan bly; dit het hy nou daarvan,” of, “Boontjie kry sy loontjie!” nie.) Hy het sy omgee bewys deur sy en sy mense se lewens te waag om Lot te verlos en selfs in die oorlog was die Here met Abram.
So moet ons ook goed doen aan dié wat ons te na gekom het. Ons moet, wanneer nodig, gewillig wees om ons lewens op die spel te plaas om dié te red wat deur die duiwel as slawe weggevoer word – soos wat Jesus gedoen het.
Abram gee sy tiende.
Melgisédek, koning van Salem en priester van God, het vir Abram brood en wyn geneem en hom geseën. God was bly oor wat Abram gedoen het en het deur sy Priester vir hom kos gestuur en hom geseën.
(Wie Melgisédek was, is moeilik om met sekerheid te bepaal, maar dit kan dalk wees dat Hy die Seun van God was wat vir ‘n wyle in die gedaante van ‘n mens tussen die mense kom woon het. Sien ook Ps 110:4 en verskeie hoofstukke van die boek Hebreërs.) Abram het aan Melgisédek, die dienskneg van God, 1/10 van die buit gegee sonder dat hy daarom gevra was.
Dit is die eerste aanduiding in die Woord dat ons God moet eer deur ten minste die eerste tiende van ons inkomste vir sy werk te gee uit dankbaarheid omdat Hy ons in staat gestel het om daardie opbrengs te kon verkry.
Die Here is ons bron.
Abram wou geen vergoeding van die heidene aanvaar nie. Hy wou hê dat net God die eer sou kry vir die rykdom waaroor hy beskik het.
Ons moet ook nie geld aanvaar wat oneer sal bring op die Naam van die Here nie, bv. loterye of ander dobbelgeld of iets wat ons vermoed gesteel is nie.
———-
VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → ABRAHAM DEEL 1 . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.
Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.