Abraham Deel 2; Gen 15-19

A. GOD BEVESTIG SY BELOFTE VAN ‘N GROOT NAGESLAG AAN ABRAM EN HY GLO DIT OPNUUT (Lees asb. Gen 15:1-6)

Abram se geloofsband rek baie dun.

Soos wat die jare verbygedraal en geen kind vir Abram gebore is waaruit ‘n nageslag kon voortspruit nie, het sy geloof dat hy vader sou word van ‘n groot nasie, dag vir dag al kleiner geword en God wat ons diepste gedagtes ken, het dit geweet. Hy het besef dat Hy iets sou moes doen om Abram se geloof weer aan te wakker, daarom het Hy in ‘n visie aan hom verskyn. Dit is nou die vierde keer waarvan ons lees dat God op so ‘n besondere wyse met hom gekommunikeer het.

‘n Woord van gesag.

In dié visie het die Here hom eerstens vermaan om nie bang te wees nie. Moontlik het hy bedreig gevoel deur die Kanaäniete wat maar alte dikwels op die oorlogspad was. Wanneer die almagtige God vir ‘n mens sê, “Moenie bang wees nie,” het dit ‘n elektrifiserende effek op jou gemoed. Sy woorde kom met gesag soos toe Hy tydens die skepping gesê het: “Laat daar lig wees,” en onmiddellik was daar lig. Dit tref jou diep in die hart. Dit is ‘n oordrag van goddelike krag. Ons vind talle male in die Skrif dat God vir sy bevreesde kinders gesê het: “Moenie vrees nie; glo net.”

“Kyk waar staan Ek.”

Tweedens het die Here vir hom gesê: “Ek self staan tussen jou en jou vyande.” Dit was sekerlik vir hom ‘n groot troos om te weet dat die Here nie net mét hom was nie maar soos ‘n skild tussen hom en sy vyande of dreigende rampe stelling ingeneem het. Dié dinge moes eers by God verbykom voordat dit hom kon tref; en wie en wat kon by die Almagtige verbyglip of Hom uit die pad stoot?

“Verstel jou fokus.”

Derdens het Hy vir hom gesê: “Moet nie so op jou uitdagings fokus dat dit jou hipnotiseer nie. Fokus op die positiewe dinge in jou lewe; dink aan die ontsaglike loon wat jy reeds deur jou gehoorsame wegtrek uit Ur vir jouself opgestapel het, dan sal jou vrese verdwyn.”

Wat gebeur wanneer jy jou kamera of verkyker se fokuspunt verstel? Dit waarop jy gefokus hét, word onherkenbaar dof en dit waarop jy noú fokus, staan ewe skielik helder uit. Dit waarop jy fokus, sal jou gesigsuitdrukking bepaal; vrees, afsku, ‘n glimlag, blydskap, verwagting. Onthou, die fokus ring is in joú hand!

Skep moed hemelreisiger.

Hierdie drie dinge wat die Heer vir Abram gesê het, kan elke kind van God wat ook op ‘n dag uit sy sondige wêreld weggetrek het en nou hemel toe reis, vir homself toe-eien. Met elke versoeking wat ons oorkom, elke vesting van sonde waarvan die mure val en elke tree wat ons vorder op die weg van heiligmaking, word ons loon ook in die hemele opgestapel. En dan is daar ook dit wat ons doen vir die Heer se kinders en vir Sy Koninkryk. Jesus het belowe dat selfs ‘n beker koue water wat ons aan een van Syne gee, nie onbeloond sal gaan nie.

Die donker bril van depressie.

Maar Abram was depressief, uitgeput, moeg geglo. Hy lê daar in die nagdonker tent en opstaar na die beeld van God wat aan hom verskyn. Hy hoor wat God sê, maar sy probleem was nie soseer die vyande om hom nie, maar die vyand in sy eie liggaam of in dié van Sarai. Jare lank nou al slaap hy en sy bymekaar maar maand vir maand, as die tyd daar is en sy kom van die tent af verbygestap waterput toe en hy vraend na haar opkyk, beweeg sy net haar kop effens, bykans onsigbaar, heen en weer sodat net hy dit kan sien. Dan weet hy en kyk weg en prewel: “Niks, nog niks nie – sal maar wag. Dalk volgende maand, dalk volgende maand.” Hulle praat lankal nie meer met mekaar hieroor nie, dit maak dit net pynliker. En wanneer hulle die tentflap toetrek en onder die karos bymekaarkom, is hulle gespanne, so gespanne, amper bang vir mekaar. “Waarom Here, waarom?”

“Ja Here, maar … “

Wanneer God klaar gepraat het, lek Abram sy droë lippe af en vra huiwerend: “Here wat het U vir my in gedagte? My jare stap aan. Móre, oormóre is dit verby met my; dan is my tyd verstreke en gaan ek heen sonder ‘n erfgenaam. Soos sake nou staan sal my kneg Eliëser alles erf. Is dit wat U wil hê?” “Nee Abram, nie so nie, nee, die een wat uit jou eie liggaam, uit jou eie saad sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees.” Was daar dalk trane in Abram se oë? Het ‘n klein vlammetjie van hoop dalk weer uit die dooie as van sy geloof opgevlam?

Fokus op die sterre.

Toe doen die Here iets ongewoons: Hy lei hom na buite om daar onder die sterrehemel te staan terwyl die kamp om hulle slaap. Dan beveel Hy hom om opwaarts te kyk na die skitterende hemelruim en sê vir hom: “So talryk sal jou nageslag wees. Tel hulle as jy kan, dan sal jy weet hoeveel jou kinders en kindskinders sal wees.” En toe hy begin tel, het ‘n vuurgloed van geloof skielik weer in sy hart opgevlam en God het dit gesien en hom dit as geregtigheid toegereken. Anders gestel: God het besluit: “Hy glo waarlik opreg in My, daarom weet Ek dat sy hart reg is met My, dat hy hom aan My toevertrou het, dat hy myne is.”

Johan, Johanna, God fokus op jou geloof; nie op jou foute nie.

Ons ontvang ons saligheid (redding /wedergeboorte /sondevergifnis) wanneer God in ons harte sien dat ons met ons hele hart in Hom glo en onsself aan Hom toevertrou. Dit sluit natuurlik in dat ons glo dat Jesus aan die kruis vir ons sondes betaal het, sodat Hy ons die ewige lewe kan skenk.

Wanneer jy twyfel, fokus op die sterre.

Abram was ‘n man van die veld en sou in die toekoms, sodra twyfel hom wou oorval, snags uit die tent uitloop na buite, opkyk na die hemel en dié nag onthou toe God saam met hom na die sterre gekyk en Sy belofte van ‘n nageslag aan hom herbevestig het.

Hierdie verhaal van Abram het God in sy Boek opgeteken sodat ek en jy kan sien watter moeite die Here doen om ‘n mens se geloof in stand te hou en op te bou sodat ons, net soos Abram, met die Here sal saamwerk in hierdie proses van geestelike groei.

B. GOD DOEN NOG IETS OM ABRAM SE GELOOF TE VERSTERK: HY SLUIT ‘N VERBOND MET HOM (Lees asb Gen 15:7-21).

Ek glo Here; kom my ongeloof te hulp (Mark 9:24).

Weer het die Here met Abram gepraat en hom verseker dat hy hom uit Ur van die Chaldeërs uitgelei het, om hierdie land waarin hy nou rondgetrek het, vir hom te gee. God het gesê: “Tot hiertoe is my woord bewaarheid, vertrou my vir die toekoms.”

Abram se geloof was egter steeds te klein om daardie belofte wat in die vêrre toekoms eers vervul sou word, vas te vat en hy het die Here om ‘n bewys gevra. God het gesien dat sy kind hard probeer om te glo en nie vir hom kwaad geword nie, maar hom met ‘n verdere praktiese teken te hulp gekom. Hy het iets baie dramaties gedoen; iets wat Abram nooit sou vergeet nie.

‘n Dramatiese, onvergeetlike gebeurtenis.

God het hom naamlik opdrag gegee om sekere diere na Hom te bring. Abram het hulle gebring, sommige middeldeur gesny en dit alles in twee rye teenoor mekaar gelê. Dit wat die Here nou wou doen, was iets wat volgens die gebruik van daardie tyd was. Wanneer belangrike kontrakte gesluit is, het die partye diere middeldeur gesny en dan tussen die helftes deur geloop om daarmee te sê: “Mag ek so middeldeur gesny word as ek hierdie kontrak nie nakom nie.” (In vandag se terme, sou die Here sy belofte waarskynlik op skrif gestel, onderteken, met ‘n seël verseël en aan Abram oorhandig het.)

Terwyl Abram tot die aand op God wag, het ‘n groot skrik en duisternis hom oorval. Dit was algeheel bonatuurlik en Abram sou geweet het dat dit van God kom en dat die Here daardeur iets aan hom te kenne wou gee – miskien was dit om hom die pyn en verwarring van sy nageslag as slawe in Egipte te laat beleef.

Toe praat God met hom en vertel hom wat met sy nageslag sou gebeur voordat hulle die land in besit sou neem. Hulle sou vir 400 jaar lank slawe wees maar sou met rykdom uit die slawerny wegtrek na hierdie land van belofte. God het ook die grense van die land beskryf sowel as die name van al die verskillende volke wat Hy in hul hand sou gee. Toe die nag daal, het die Here Sy woorde verseël deur in die gedaante van ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen die stukke vleis deur te beweeg. Sodoende het Hy ‘n verbond met Abraham gesluit. Op die koop toe (as ‘n bonus) het die Heer hom ook die versekering gegee dat hy in goeie ouderdom sou sterf.

(Let daarop dat Abram nie ook saam met God tussen die karkasse deur beweeg het nie. Die rede daarvoor is dat die mens in werklikheid te swak is om in eie krag so ‘n ooreenkoms met God na te kom.)

So het God op ‘n tasbare, dramatiese, bonatuurlike wyse en in soveel besonderhede, die toekoms aan Abram beskryf en bevestig, dat dit vir hom haas onmoontlik sou wees om weer daaroor te twyfel. Dit sou so ‘n geweldige indruk op hom gemaak het dat hy dit ook nooit sou vergeet nie. In die jare wat voorlgelê het, sou dit hom help om aan te hou om te glo.

C. HAGAR EN ISMAEL (Lees asb Gen 16:1-16).

Nou was dit Sarai se beurt om handdoek in te gooi. Nooit het die Here direk met haar gepraat om haar te bemoedig nie en nou het die tien jaar se gewag vir haar net eens te veel geword. Haar geloof dat sy self ‘n seun sou hê, het opgeraak. Sy het sommer net moeg geraak om so vir die Here te sit en wag om iets te doen. Haar oë was nie meer op God gerig en haar begeerte nie meer om Hom te vereer nie. Haar hart wou nou, en nie later nie, ‘n kind hê.

As die Here my nie help nie, laat ek myself help en Hom ook.

Sy het haar eie plan gemaak om ‘n seun te verkry en het haar man betrek om vir haar ‘n kind by haar slavin te verwek. Sy het gerasionaliseer (haarself om die bos gelei) deur te dink: “My slavin is my eiendom en daarom is haar kind nie hare nie, maar myne. Op dié manier kan ek sommer gou-gou my eie kind hê, hom in my arms vertroetel.” Sy het gedink sy het ‘n slim plan bedink. Niemand sou waag om iets daaroor te sê nie, want sy was mos die hoof vrou van die plaas.

“Di’s nou ‘n blink idee; hoekom het jy nie lankal … “

Abram het ingestem om so te doen. Hy het ingestem want hy was ook al moeg om te glo en uit te sien na die beloofde kind. Hy was sat om die uitdrukking van ongelukkigheid dag vir dag op Sarai se aangesig te aanskou omdat sy nie ‘n kind kon hê nie. Miskien het sy geskimp dat die fout dalk by hom kon lê; wie weet? Toe maak hy homself wys dat sy vrou dalk dié slim plan van die Here gekry het. En boonop, nou sou hulle kon toets wie van hulle twee die onvrugbare was.

Hoof van die huis, staan vas, skop hakke in!

‘n Man moet vasstaan om God se leiding te volg en nie toegee aan sy vrou se misleiding nie (en andersom). Daar moet ‘n uitdruklike vaste verstandhouding tussen ‘n Christen egpaar wees dat as die een swig deur van God af weg te draai, die ander een hom of haar nie sal volg nie maar alleen sal volhard om die Here te dien. So help ons mekaar.

En daar loop die kar toe van die opad af.

Net soos tevore in Egipte, het Abram en Sarai se komplot op ‘n ramp uitgeloop.

Nie lank nie of Hagar was swanger en toe sy bemerk dat sy swanger was, het sy begin om vir Sarai minagtend te behandel. Sarai se plan was ‘n mensgemaakte plan en het haar bitter berou want haar slavin het haar toe verag. Sy het probeer om haar pyn te verlig maar het dit net vererger.

(Terloops, dink sommer hier en nou mooi na oor die hedendaagse tendens van surrogaat moederskap.)

Sy loer so vermakerig oor die skouer: “Pê, wê, en ek vind jou man onweerstaanbaar.”

Wat Hagar betref: ‘n mens moet nooit hoogmoedig raak teenoor andere as God jou bo hulle seën nie.

Di’s alles joú skuld.

Sarai se pyn was nou ondraaglik want daar is geen pyn soos dit wat jy jouself aandoen nie, waarvoor jy self die skuld dra nie. Toe blameer sy haar man daarvoor. Genugtig! Wil jy nou meer! Abram was seker stomgeslaan: “Vroumense, jy sal hulle nooit verstaan nie,” prewel hy kopskuddend as hy terugstap na sy eie tent toe.

Maar sy het volgehou, dit was alles sy skuld, hy moes van beter geweet het, geweet het sy bedoel nie regtig dat hy by Hagar moes slaap nie. Sy wou eintlik maar net hê hy moes haar jammer kry, haar vertel hoe mooi en kosbaar sy vir hom was en toe gryp hy sommer die kans aan om daardie nag in haar slavin se bed  te gaan inkruip. Seker lankal ‘n oog op haar gehad. Kon natuurlik nie wag nie! Mans! Hulle is almal dieselfde.

Di’s g’n my skuld nie, di’s joú skuld!

Abram weer het geredeneer: “Jy’t die bed opgemaak, slaap nou daarin,” en vir haar gesê: “Di’s jou slavin, maak met haar soos jy wil,” omgedraai en ongeërg weggestap veldtoe. Hy wou niks met dié tammeletjie te doen hê nie en het dit net so vir Sarai teruggegee.

Vroue slaan nie vuis nie, hulle knyp. Eg vroulik het Sarai toe vir Hagar so sleg behandel, só sleg dat sy in trane uit die kamp uit weggevlug het. Het sy ooit vir Hagar gebid en op ‘n mooi, geestelike manier met haar gepraat, of het sy weer sommer in die vlees opgetree en in haar hart gesê: “Jy is my slaaf. Ėk sal jou leer wie’s baas in hierdie huis.”

Lekker maar duur.

Hagar se sonde om haar bo haar meesteres te verhef, het haar duur te staan gekom: haar, haar werk en verblyf gekos en amper ook haar kind se lewe. Nou was sy ‘n verstote swerweling, soos Kain. En daar was geen sentrums vir ongehude moeders nie.

Ook onder die mánne van hierdie wêreld vind jy baie “Hagars.” Is jy dalk een? “Ek laat my nie van ‘n baas rondorder nie” sê jy, en spoeg eenkant op die grond, maar môre, oormôre kruip jy onder ‘n ander man se dak weg en moet die kerk vir jou vrou en kinders kruideniersware aandra huis toe.” Wat het nou geword van jou manhaftigheid?

Wie vind wie?

Die Engel van die Here (ons Jesus, Wie in daardie tyd as “Die Engel van die Here” bekend gestaan het) het Hagar in die woestyn by ‘n fontein gevind en iets soos die volgende vir haar gevra: “Maar jy lyk mos vir My bekend; is jy nie Hagar, Sarai se slavin nie? Jy hoort mos daar by haar; waar kom jy dan nou vandaan en waarheen is jy op pad?” “Ek vlug van my meesteres Sarai af weg het sy kop ondertebo, stug, eerlik geantwoord.” Dit het die Here behaag dat sy nie soos haar meesteres haar skuld op ‘n ander geplaas het nie, maar dit kort en bondig erken het, maar Hy kon haar nie op hierdie self-gekose pad laat voortgaan nie.

God het vir elkeen van ons ‘n tyd en ‘n plek in die lewe wat hy weet die allerbeste vir ons is. Dit is nie altyd ‘n lekker plek nie en soms maak ons dit vir onsself net moeiliker deur ons opstandigheid. Maar vir ons toelaat om weg te vlug, dit laat Hy nie toe. Hy haal ons in, in die woestyn, by watter put ons ookal lafenis probeer vind. Wegvlug uit jou huwelik? Wegvlug uit jou werksomstandigheid? Nee, as jy ‘n verandering wil maak, bid en wag op God om jou aan die hand uit te lei na groen weivelde en na waters waar rus is.

Trane van droefheid word trane van vreugde.

Die Heer het aan Hagar opdrag gegee om terug te gaan na haar meesteres en haar onder haar hand te verneder. Maar let nou op hoe wonderlik Hy met haar handel. Hy stuur haar nie met leë hande terug nie maar sit lank met haar en gesels soos wat hy honderde jare later sou doen met die vrou by die put van Samaria. Hy vertel haar van die seun wat in haar skoot is, dat sy hom Ismael moet noem en hoe hy sou grootword en ‘n groot nasie uit hom sou voortkom. Wanneer Hy klaar gepraat en weer na Sy hemelwoning terugkeer, is Hagar se hart oorstelp van verwondering dat God ook aan haar, ‘n slavin verskyn het en noem sy die put Lagai-Roi wat beteken: “Put van die Lewende Een wat my sien.” Ja, Sarai was vir die Here nie meer werd as wat Hagar was nie; hulle was albei kosbaar in sy oë.

Swyg, wees stil.” (Mark 4:39).

So dan het die Heer Sarai, Abram en Hagar se foute oorheers en die vrede op hulle plaas herstel; die storms in dié drie se harte laat bedaar; die huismoles beeindig.

Hagar het toe later ‘n seun gebaar en Abram het hom Ismael genoem. Met sy geboorte was Abram 86 jaar oud. Sowat 11 jaar het toe al verloop sedert hy uit Ur vertrek het.

Die langtermyn gevolge van dié drie se dade.

Ismael se verwekking was nie uit die hart van God nie en alhoewel die Here hom en sy nageslag geseën en elke moontlike kans gebied het, het hulle mettertyd heeltemal van die geloof van Abram afgedwaal en hul eie geloof nagevolg. Vandag ken ons hulle as Moslems en hul geloof as Mohammedanisme. Hulle is teen die Christendom gekant en erken nie die Here Jesus as die Seun van God nie.

D. GOD GEE VIR ABRAM EN SARAI NUWE NAME EN STEL DIE BESNYDENIS IN (GEN 17:1-27)

Ál – magtig.

Abram se jare het stadig maar seker aangestap totdat hy 99 jaar oud was. Toe was dit al 24 jaar sedert hy weg is uit Ur van die Chaldeërs en 13 jaar na die geboorte van Ismael. Nou eers weer het God aan hom verskyn en dit op ‘n sigbare wyse. Dit was die vyfde keer waarvan ons weet dat God met hom gekommunikeer het.

Die Here wou sy geloof weereens versterk sodat hy in sy hart met Hom kon saamwerk om die beloofde seun te verkry. Hy het vir hom gesê dat Hy God die Almagtige was. Dit is nou die tweede keer dat Hy hierdie spesifieke waarheid tot sy aandag gebring het, naamlik dat Hy oor alle, alle mag beskik het.

Geen geheime voor God nie.

Hy het Abram ook gemaan om voor Sy aangesig te wandel, dan sou hy opreg wees. Hy het hom dus gemaan om altyddeur oop en eerlik met Hom te wees.

Rotsvas.

Hy het sy verbond weer bevestig om Abram tot ‘n menigte van nasies te vermenigvuldig en om die land aan sy nageslag te gee as ‘n ewige besitting. Deur oor en oor dieselfde ding vir hom te sê, wou Hy dit vir hom inskerp sodat hy nooit daaraan sou twyfel nie. Soos vroeër ook gesê is, wanneer God met ‘n mens praat, doen dit iets vir jou geloof.

 Hulle ontvang drie nuwe name wat hulle profeties moes uitspreek sodat dit prakties kon uitwerk.

Hy het dié keer nog ‘n stap verder gegaan en Abram se naam na Abraham verander, wat beteken “Vader van ‘n menigte nasies.” Ook Sarai se naam (prinses) het Hy verander na Sara “Moeder van nasies.” Op die koop toe het Hy die naam van die seun wat vir hulle gebore sou word, ook gegee, naamlik “Isak”.

Deur die ouers se name te verander en die komende seun se naam vooruit te noem, het die Here hulle iets konkreets gegee om hul geloof te onderskraag.

Meer nog: wanneer hulle mekaar nou op hul nuwe name sou noem en hul verwagte seun op sy naam (wat ek glo dat hulle wel gedoen het) sou hulle aan almal rondom hulle bevestig dat hulle God se belofte vas geglo het. Hierdie mondelinge getuienis sou nie net hulle geloof verder versterk het nie, maar sou ook ‘n aandeel hê in die verwekking van Isak, want God skep nuwe dinge deur die woorde wat van Sy mond uitgaan en wat van ons as Sy kinders se monde uitgaan.

Ons moet ook mondeliks aan andere vertel wat die Here vir ons gesê en gedoen het. So kry ons deel aan die verwesent-liking van God se beloftes.

“Agge-nee Here, U maak seker ‘n grap.”

Abraham het op sy aangesig geval voor God, in sy hart gelag en gesê: “Kan daar vir een wat honderd jaar oud is, ‘n kind gebore word? Of kan Sara wat 90 jaar oud is, baar? Mag Ismael lewe voor u aangesig”. Abraham kon dit nouliks glo dat hy en Sara op hulle ouderdomme ‘n seun sou kon verwek en het daaroor gelag. Hy het gedink hoe snaaks (grappig) dit sou wees as twee sulke ou mense ‘n kind sou hê, maar die Here het sy belofte maar net weereens bevestig.

Ek glo, daarom doen ek.

God het ook die besnydenis ingestel wat Abraham moes nakom as ‘n teken dat hy sy kant die verbond met God bevestig. Die besnydenis was nog ‘n praktiese, fisiese teken wat hulle almal (ook die slawe) aan God se belofte sou herinner en, in ‘n sin, voordeel uit Sy belofte sou laat trek. Dit was nie ‘n gelofte wat Abraham nou moes aflê en dalk later nie in staat sou wees om na te kom nie. Dit was ‘n praktiese ding, wat binne sy vermoë was om na te kom, en wat hy sommer nou en hier moes doen – God verwag nie van ons die onmoontlike nie.

Sommer nou, voor die Here se woorde koud word in my hart.

Abraham het homself en alle manspersone oor wie hy gesag gehad het, besny. Hy het God altyd onmiddellik gehoorsaam en so ook hier, deur die besnydenis op dieselfde dag nog te voltrek. Alle ander werk wat beplan was, is uitgestel. Die veewagters moes seker laat haal word. God het gepraat en dit was belangriker as enigiets anders.

Dit was ‘n pynlike en vernederende belewenis en hy moes ‘n baie sterk geestelike gesag oor sy mense gehad het om hulle tot hierdie drastiese stap te kon laat oorgaan. Omdat hy God vertrou het, het hulle hom vertrou. ‘n Mens se dade is die bewys van jou geloof.

Vir ‘n hele aantal dae moes die vrouens seker al die aktiwiteite in die kamp oorneem totdat die manne weer herstel het.

E. ABRAHAM DOEN VOORBIDDING VIR SODOM (Lees asb Gen. 18:1-33)

Die voorval wat hier beskryf word, moes plaasgevind het kort nadat die Here die laaste keer aan Abraham verskyn het. Dit was die sesde keer waarvan ons weet dat die Here op so ‘n persoonlike wyse met Abraham gekommunikeer het.

Hemelse besoekers.

Drie besoekers het by sy tent aangekom. Dit was waarskynlik die Here Jesus en twee engele wat in menslike gestalte aan hom verskyn het. Moontlik het hulle skielik, uit die niet, verskyn en dat dit is waarom hy soveel besondere moeite gedoen het om hulle gasvry te onthaal.

In die Nuwe Testament word Christene gemaan om gasvry te wees teenoor almal en daarop gewys dat mense in vroeëre tye, deur hul gasvryheid, onwetend engele met kos en drank bedien het. (Het ek dalk al onwetend engele in my huis onthaal?)

“Sara, kom hoor ‘n bietjie hier.”

By dié geleentheid maak die Here seker dat Sara binne hoorafstand is, voordat Hy weer oor die beloofde kind praat. Dit was moeilik vir Sara om God se beloftes en opdragte wat sy altyd by monde van haar man verneem het, net so heelhartig as hy te glo, tog het sy haar dit laat welgeval en het die Here haar nederigheid en geloof beloon deur haar nou by die gesprek in te sluit.

Christen vroue geniet ‘n voordeel bo Sara om God se woorde persoonlik vanuit die Skrif en deur sy Gees, te kan verneem. Binne ‘n gesin bly die man egter steeds die hoof en praat die Here oor belangrike sake eerstens met hom en bevestig dit dan aan sy vrou. Dit is ‘n baie groot verantwoordelikheid wat die man dra en daarom moet die vrou net soveel as hy met God wandel sodat haar bevestiging gewig kan dra en hom vrymoedigheid kan gee om besluite te neem. Die hele gesin se welsyn hang hiervan af.

Humor op hul oudag.

Die Here belowe toe dat Sara oor ‘n jaar ‘n seun sou hê. Sara het daaroor gelag, sekerlik nie op oneerbiedige wyse vir God nie, maar omdat sy aan die prentjie gedink het van ‘n ouma wat ‘n baba soog. Die Here het haar berispe en gevra of sy dan gedink het dat daar enigiets was wat vir die God onmoontlik sou wees om ten uitvoer te bring.

Dié keer voer die Heer Sy openbaring nog ‘n stappie verder deur die geboortedatum van die seuntjie naastenby te verstrek naamlik: “oor ‘n jaar.” Uiteindelik het hulle nou ‘n definitiewe datum.

Lag jy, pruil jy, juig jy, huil jy?

Hoe staan die saak met jou wanneer jy die Here se beloftes lees: glo jy, of lag jy? Wel, lag is darem beter as huil of murmureer, maar gelowige lofprysing voordat die uitkoms nog sigbaar is, is wat God behaag en vereer.

Die lewe draai nie net om my en my “issues” (sake) nie.

Met die kwessie van Abraham se probleem rakende sy komende seun nou afgehandel, betrek die Here God hom by Sy bestuur van wêreld gebeure naamlik die uitsonderlike sondigheid van twee nabygeleë stede, Sodom en Gomorra.

As Koning van die heelal kon Hy nie maar passief toekyk wanneer gemeenskappe moreel so degenereer nie, want dit sou daartoe lei dat Hy mettertyd weer die ganse aarde sou moes verdelg soos in die dae van die sondvloed. God het dié krises met Abraham, Sy vriend gedeel en aan hom openbaar dat Hy genoodsaak was om die stede te verwoes.

Ja, ook die Here het probleme en dít met die mensdom. God weet presies van elke onheil wat in elke stad, onder elke dak en in elke hart aangaan en gedurig moet Hy die hartver-skeurende besluit neem om individue of gemeenskappe finaal te oordeel.

Gebruik jou staanplek voor God ten behoewe van jou naaste.

Abraham, waarskynlik gedagtig daaraan dat sy kleinneef Lot en sy gesin daar woonagtig was, het vir die stede ingetree en die Here oorreed om hulle te spaar, al sou daar net 10 regverdiges in hulle wees. Hy het, soos ‘n bekwame advokaat, sinvolle argumente in sy betoog gebruik.

(Daar word goediglik van Abraham se nasate, die Jode van vandag, gesê dat as jy met een van hulle besigheid dryf, jy altyd aan die kortste end sal trek, omdat Abraham selfs in staat was om die Heer af te stry vanaf 50 na 45, na 40, na 30, na 20 en jou werklik tot op 10 regverdiges! Miskien is dit maar net omdat die Heer hul buitegewoon seën, gedagtig aan Sy beloftes aan Abraham.)

God soek redes om die mens te verskoon.

In ernstiger luim: God het geen behae daarin om goddelose mense te vernietig nie. Vanaf die hemel deurloop sy oë die ganse aarde van huis tot huis om te soek vir voorbidders, evangeliste, leraars en wie ookal, om Hom by te staan om die goddelose van hulle dwaalweë te bekeer.

Spreek ek net my skok uit oor wat in ons land aangaan, of doen ek iets daaromtrent? Al wat Abraham op daardie oomblik kon doen, was om te bid, en dit het hy gedoen. Sy weldeurdagte, sinvolle gebed is deur die Regverdige, genaakbare Regter verhoor.

Net so sal jou en my gebede opstyg tot in die raadsaal van God en daar deur Hom oorweeg word. Moontlik is daar op hierdie oomblik van jou familie en vriende wie se lewens op ‘n mespunt gebalanseer is en werk die Gees van God kragtiglik in jou hart om vir oulaas vir hulle in te tree. Die rower aan die kruis het uit die bek van die draak ontkom.

F. VERWOESTING VAN SODOM EN GOMORRA (Lees asb Gen 19: 1-29).

Kampeer jy alweer op die treinspoor?

Lot en sy gesin het na hul verlossing uit die hand van die vyand wat hulle as buit weggevoer het, weer in Sodom gaan woon.

Laat ons, ons nie met goddelose mense vermeng nie. Ons kan vriende maak om hulle vir Christus te wen, maar ons moet die skild van ons geloof altyd tussen ons en hulle hou sodat ons verhouding met God nie skade ly nie. As ons afgedwaal en die Here ons uit genade verlos het, laat ons wakkerskrik en in ontsag en gehoorsaamheid met Hom wandel en nie soos Lot weereens in “Sodom en Gomorra” gaan woon nie, dws. nie weer die wêreld en sy begeerlikhede liefkry nie.

Wees die lig en sout in jou gemeenskap.

Dit wil darem voorkom asof Lot sy geloofsband met God behou het. Hy het die twee vreemde manne (engele wat deur God gestuur was om hom en sy gesin te red) gasvry ontvang en gehuisves. Toe die manne van die stad met geweld homoseksueel met die twee besoekers wou verkeer, het hy uit sy pad gegaan om hulle te beskerm. Hy het hom ook baie gekwel oor die goddeloosheid van die stadsmense en met hulle daaroor gepraat (2 Pet 2:7) maar hulle het dit as baasspelerigheid afgemaak. Die feit dat sy twee volwasse dogters nog maagde was, tel ook in sy guns.

Wat moet God tog nie doen om sommige mense te red nie?

Toe die engele sien dat Lot se pogings om hulle en sy gesin te beveilig niks baat nie, het hulle bonatuurlik ingegryp en die manne van die stad met blindheid geslaan. Daarna het hulle Lot en sy gesin gewaarsku om uit die stad te vlug. Lot gaan toe na buite om sy aanstaande skoonseuns ook te waarsku, maar hulle het hom uitgelag. Teen dagbreek was Lot hulle nog nie uit die verdoemde stad nie en was die engele genoodsaak om hulle aan die hand te gryp en as’t ware uit die stad uit te sleep en toe te beveel om na die berge te vlug.

Selfs op hierdie kritieke stadium het Lot nog met die engele geredekabel dat hulle in die nabygeleë dorpie Soar kon gaan skuil. Dit is toegestaan en die engele het vertrek, maar ten einde laaste het Lot se vrou die versoeking nie kon weerstaan om, om te kyk nie en het God se geduld opgeraak en haar gestraf deur haar in ‘n soutpilaar te laat versteen. (Dit was seker ‘n eienaardige monument van ‘n vrou wat verewig oor die skouer loop en kyk het.)

Sommige mense se harte is so verkleef aan die dinge van hierdie wêreld dat, al sou hulle op die rand van die hel staan, in die lekkende vlamme afkyk en die pynkrete van die verlorenes hoor, dit nog maar baie moeilik vind om die aardse dinge prys te gee (Luk 17:32,33) en na die veiligheid van die Here Jesus toe te vlug.

Die genadedae was verby.

Met sonsopkoms het God vuur en swawel op Sodom en Gomorra laat reën en die hele landstreek uitgedelg.

Goddelose mense dink hulle is baie slim om gedurig met al hulle sondes weg te kom, maar wanneer die Here in oordeel op hulle toeslaan, is daar geen moontlikheid van ontkoming nie. Dan is genadetyd verby. Met dagbreek, toe die dag van God se oordeel aanbreek, was daar vir hulle geen geleentheid meer om na die veiligheid van die berge te vlug nie.

Toe Lot die landstreek van Sodom en Gomorra baie jare tevore vir homself gekies het, het hy gedink hy doen goed, maar nou het hy alles verloor (huis, huisraad, beeste, skape, bokke, kamele). Al wat hy behou het was sy eie lewe en dié van sy twee dogters.

God was genadig oor Lot en sy gesin ter wille van Sy vriend Abraham se voorbidding.

 G. LOT SE LOT (GEN 19: 30-38)

‘n Christen boemelaar in ‘n grot.

Einde ten laaste moes Lot en sy dogters toe tog maar uit vrees vir die mense van Soar na die gebergte vlug en in ‘n grot gaan woon. Waarom het hy nie maar weer onder Abraham se vleuels gaan skuil nie? Dié sou hom tog met ope arms ontvang het. Miskien was hy skaam oor sy vroeëre keuse en waarop dit uitgeloop het.

Nou het sy lewe egter drasties agteruitgegaan. Dit wil lyk of hy hom aan die drank oorgegee en homself heeltemal buite weste gedrink het.

‘n Slang in ‘n bottel.

Wanneer sommige mense deur rampe getref word, raak hulle moedeloos en gee hulleself aan die drank oor – hulle soek ontvlugting. Drank is ‘n spotter: dit het ‘n bespotting van beide Noag en Lot gemaak, alhoewel albei godsmanne was. Alkohol is soos ‘n troetelslang in ‘n glasbottel. Sodra iets in die huis skeefloop, breek die bottel, ontsnap die slang en pik hy links en regs uit woede omdat hy so lank ingeperk was.

Die Woord leer ons om geen plek aan die duiwel te gee nie. Wanneer ‘n mens gewoond is om nou en dan ‘n sopie te vat en een of ander krises jou oorval, is jy in ‘n baie groter versoeking om na die bottel te gryp om jou vrese of pyn te stil as iemand wat die effek van alkohol gladnie ken of in die onlangse verlede ervaar het nie.

Dit is veiliger om nie ‘n slang aan te hou nie. Dit maak tog sin? (Spreuke 23:29-36). Laat ek dit so stel: die meeste mense het nooit die effek van dwelms soos Kokaïne, Tik ens. ervaar nie en wanneer hul in depressie of vrees verval, sal hulle nie eers daaraan dink om hul toevlug daartoe te neem nie. Net so met drank: raak dit nie aan nie en dit sal nooit vir jou ‘n versoeking wees nie.

‘n Grillerige storie.

Lot se dogters het hom toe later van tyd dronk gemaak, met hom gemeenskap gehad en so kinders verwek. ‘n Mens vertrou maar dat hulle dit nie uit wellus gedoen het nie maar uit ‘n edeler motief, naamlik om vir hom en vir hulsef ‘n nageslag te verwek.

Nogtans was dit in die vlees; hulle eie planne om kinders te hê, instede daarvan om God te vra om vir hulle te voorsien. Hy is tog nooit sonder ‘n plan vir die wat op Hom wag nie. En kyk net watter aaklige sonde, bloedskande, moes hulle pleeg om hul doel te bereik. Miskien was hulle kwaad vir God omdat Hy hul verloofdes in Sodom verdelg het. Dit is duidelik dat Sodom en Gomorra se immoraliteit ook hul geestelike waardes so afgestomp het dat hulle goedsmoeds aan dié versoeking toegegee het.

Die Moabietiese en Ammonietiese volke is uit hierde vleeslike omgang verwek. Hulle was twee goddelose volke wat gedurig met Israel, die latere volk van God, oorlog gevoer het. Dit sou dalk beter gewees het as dié twee dogters liewer maar kuis en ongetroud gebly het. Dat die ganse wêreld ‘n sondige ding doen, moet nie druk op my plaas om dit ook te doen nie.

Bo begin maar onder geeindig.

Lot het goed begin en saam met die godvresende Abraham weggetrek uit die land van sonde, maar hy het sleg geëindig: ‘n ou dronk, verwaarloosde, vreesagtige wewenaar in ‘n grot, ‘n pa wat bloed-skande met sy eie dogters gepleeg het. Abraham se lewe is in die Skrif opgeteken ter aanmoediging van hulle wat die Here gehoorsaam: Lot s’n is daar as waarskuwing vir hulle wat Hom nie raadpleeg in hul keuses nie. Abraham se lewe roep: “Volg my.” Lot s’n waarsku: “Maak soos wat ek gepreek het, maar tog nie soos ek gemaak het nie”.

My daaglikse keuses bepaal my eindbestemming.

Wie wil jy graag wees: ‘n Abraham of ‘n Lot? Wandel voor die aangesig van God, volg Hom versigtig, treetjie vir treetjie en jy sal ook in jou gees ‘n Abraham word.

———-

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → ABRAHAM DEEL 2 . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha