Abraham Deel 3; Gen 20-25

A. ABRAHAM KOM IN GERAR EN ONTKEN DAT SARA SY VROU IS. (Lees Gen. 20:1-18)

Tog nie weér nie!

Hoofstuk 20:2 laat ‘n mens na jou asem snak en maak dat jy haastig terugflits na hoofstuk 19 om seker te maak dat jy nog van dieselfde persoon lees. Is dit nou dieselfde man met wie God die visuele verbond gesluit het, met wie Hy saam gesit en eet het; dié man wat saam met Hom oor Sodom en Gomorra uitgekyk en Hom probeer oorreed het om die twee stede te spaar; is dit dieselfde man wat so met die Koning van die Heelal gewandel het, wat nou bewe vir ‘n aardse koninkie en jou wrintiewaar vir ‘n tweede keer jok dat Sara sy vrou is, en dit nadat dit hom die vorige keer so duur te staan gekom het?

“‘n Donkie stamp nie sy voet tweemaal teen dieselfde klip nie”; was ons tog maar donkies …

Jy vryf jou bril se lense skoon en kyk weer: gewis en seker, dit is die einste Abraham en niemand anders nie. En dié voorval was redelik kort nadat hy so met God verkeer het, want die Here het hom toe belowe dat hulle binne ‘n jaar ‘n kind sou hê en ten tyde van hierdie episode was dit nog nie aan Sara se liggaam sigbaar dat sy verwagtend was nie, anders sou Abiméleg haar tog nie as vrou vir hom opgekommandeer het nie. So kom ons bereken dat dit binne ses maande was. “Abraham, geloofsheld in wording, wat het van jou geloof geword? Was daar gedurende die 24 jaar wat jy al in Kanaän gewoon het, enige geestelike groei in jou lewe? En jy is tog die brawe man wat die konings agterhaal en Lot bevry het. Waarom speel vrees nog so ‘n groot rol in jou lewe?”

En wat van my?

Maar dan dink ‘n mens aan jou eie lewe. Jy dink aan jou eie ondervinding; hoedat ou-ou sondes en swakhede wat jy seker was eens en vir altyd oorwin was, skielik, onverwags agter ‘n bos uitgepeul, jou oorrompel en stukkend geslaan het: drank, ‘n sigaret, belangstelling in die teenoor-gestelde geslag, woede, hoogmoed, oneerlikheid, vertroue in jou eie krag en jy bly bly lê daar in die stof soos ‘n lappop op ‘n speel-terrein.

Maar God … .

Hy het weer tussenbeide getree om vir Abraham en Sara die kastaiïngs uit die vuur te krap deur in ‘n droom aan Abiméleg te verskyn en hom te waarsku om Abraham se vrou terug te gee.

Dit is nou die tweede heidense koning van wie ons lees met wie die Here persoonlik gepraat het en nie deur ‘n profeet nie. Het hulle tog in die heidendomme waarin hulle gewoon het, deur die werking van die Heilige Gees tot geloof in die enige God gekom.

Abraham het daardie gemeenskap ook te haastig geoordeel en verkeerdelik tot die gevolgtrekking gekom dat daar by hulle geen vrees vir God was nie. Moontlik het sy ondervindinge met God tot geestelike hoogmoed aanleiding ge-gee. “Daarom, hy wat meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” (1 Kor 10:12)

Weereens is Abraham met ‘n skrobbering en ‘n rooi gesig, met Sara aan die hand, haastig van die paleis af weg.

Abraham: profeet en priester (voorbidder).

Dit is die eerste keer dat ons lees dat die Here na Abraham as ‘n profeet verwys (‘n spreekbuis, segsman vir God – belangrike amp).

Tog ook wonderlik dat die Here sy gevalle dienskneg se gebed verhoor en die straf wat Hy oor die koning en sy mense uitgespreek, weer opgehef het. Hoe groots is God!

B. GEBOORTE VAN ISAK (Lees asb. Gen 21:1-8).

Geen jota of tittel van God se woorde sal onvervuld bly nie.

Die Here het sy viervoudige belofte aan Abraham tot op die letter toe nagekom. Hy het aan hom ‘n seun gegee; ‘n seun wat Abraham self verwek het; ‘n seun waarvan Sara die moeder was en nie ‘n surrogaat slavin nie; ‘n seun wat op die tyd wat vooraf deur God genoem was, gebore is.

Hierin openbaar die Here aan ons Sy almag en sy getrouheid om Sy woord gestand te doen. Watter mens kan waarborg dat hy die een of ander ding oor 25 jaar vir ‘n ander sal doen en wie se woord sal vir so lank standhou?

Wel gedaan, julle is vir ons ‘n voorbeeld (Heb 11:8-12).

Ook Abraham en Sara kan geprys word vir hul aandeel in wat deur God en mens saam bereik is. Vyf-en-twintig jaar lank het hulle vasgebyt, saam in die nagdonkerte voor die tent sit en sterre tel, hande gevat en gebid en geglo, mekaar op hul nuwe name genoem (vader van ‘n menigte nasies en moeder van nasies) terwyl hul slavinne wat elk met 5, 6 kleingoed aan die rokspante, agter die hand vir hulle gelag het. Wanneer hul van hul beloofde erfgenaam gepraat het, het hulle hom by die naam genoem, van “Isak” gepraat asof hy reeds daar was. Dikwels het hul geloof gestruikel, geswig onder die druk van die jare, geval, maar weer orent gebeur en aangegaan, aangehou totdat dit beloon is – na 25 jaar.

Wat is ‘n soeter beloning as die beloning vir volgehoue geloof! So sal jy en ek ook, as ons volhard tot die einde toe, eendag deur die hemelpoort inhardloop of instrompel om die lourierkrans vir oorwinnende geloof te ontvang.

Kinders gebore uit geloof.

Isak was ‘n geloofskind en so ook elkeen wat deur geloof in God en in die kruiswerk van Sy Seun uit die Heilige Gees weergebore word.

Abraham het hom Isak genoem; in gehoorsaamheid aan God. Op die agste dag het hy hom besny: in gehoorsaamheid aan God. Ons lees dikwels dat sy geloof geknak het, maar nooit dat sy gehoorsaamheid kortgeskied het nie.

Soms voel dit of ons geloof maar soos ‘n dun straaltjie fyn sand deur ‘n uurglas vloei, maar as ons ten minste weet wat God wil hê dat ons moet doen en dit van harte te doen, is ons steeds besig om in geloof te wandel.

Geloofsgehoorsaamheid.

As Abraham nie vir Isak besny het nie, sou dit God in die weg gestaan het om Sy verbond met hom ten uitvoer te bring en uit Isak vir hom ‘n magtige nasie te bou. Die Christelike lewe is soos ‘n lang reeks plat klippe wat in ‘n rivier gelê is om vir ons ‘n weg na die oorkantste oewer te baan. Ons moet die treë van geloofsgehoorsaamheid een vir een sorgvuldig neem om veilig anderkant te kom. Mis ons een deur rond te kyk, beland ons in die stroom en is dit ‘n groot gespartel om weer ons posisie in Christus te herwin.

‘n Wonderkind.

Sara was 90 jaar oud toe Isak gebore is en het gesê: “‘n Gelag het God my berei.” Isak beteken “Gelag.” Die monde van Sara se bespotters is gesnoer. Wanneer haar diensmeisies haar kom gelukwens en in haar vonkelende oë gekyk het, moes hul die hoof in skaamte laat sak. Húl kinders, hoe pragtig ook, was uit die wil van ‘n man gebore, maar hare uit die wil van God; ‘n wonderkind, ‘n hemelkind. “Laaste lag die lekkerste.”

As ons nooit in geloof uitstap nie, sal ons nooit geloofswonders sien gebeur nie. Dit is wanneer ons God vertrou vir die bonatuurlike om te gebeur, dat ons die bonatuurlike voor ons oë sien gebeur. Dit is wanneer die sendeling êrens in ‘n strooihut lê en bibber en sweet van malaria en geen hulp naby is nie en hy ylend deur die newels bid, dat die Here Sy magtige hand uit die hemel uitstrek en Sy kind daar op sy bed aanraak.

Laastens: Dit was boonop nie vir Sara nodig om die hulp van ‘n soogmoeder in te roep nie, want die Here het haar liggaam so vernuwe dat sy die outjie self kon soog.

 C. ABRAHAM VERDRYF HAGAR EN ISMAEL (Lees asb Gen 21:9-21; Gal 4:21-31).

Twee seuns in ‘n stryd gewikkel.

Die wrywing tussen Hagar en Sara het ‘n lang pad gekom, vanaf die tyd dat Abraham vir Ismael by Sara se slavin, Hagar verwek en Hagar op Sara begin neerkyk het. Soos wat die ma gedoen het, het haar seun, Ismael, nou ook gedoen. Omdat hy ook ‘n seun van Abraham was, was hy baie meer vrypostig met Isak as wat die ander diensknegte se kinders sou waag om te wees. Hy het met hom gespot – hom seker geterg, want hy was mos ook baie ouer as Isak.

Dit was egter nie al wat Sara ontstel en rooi ligte vir haar laat flikker het nie; sy het voorsien dat hierdie onenigheid tussen die twee seuns hoe later hoe kwater, hoe ouer hoe erger sou word. Eerstens sou Ismael, omdat hy ook deur Abraham verwek is, hul vader se erflating wou deel waardeur Isak materiëel baie swakker daaraan toe sou wees. Maar meer nog; sy het ook voorsien dat Ismael en sy nageslag afgunstig op Isak en sý nageslag sou wees. Dit sou in ‘n wedywering om oppergesag ontaard. ‘n Hewige vyandskap sou ontwikkel wat daartoe kon lei dat Isak sy erfporsie en die land Kanaän wat God aan Abraham en spesifiek ook aan Isak beloof het, sou verloor. (“In Isak sal jou nageslag genoem word.” )

Sara wou seker maak dat dit nie sou gebeur nie en het daarom daarop aangedring dat Hagar en haar seun weggestuur word. Die onderdanige vroutjie wat twee keer aan haar man se versoek toegegee het om te jok dat sy, sy suster was wat haar in twee verkillende konings se harems laat beland het, het nou teen Abraham opgestaan en vir haar seun se regte geveg soos net ‘n ma kan doen.

‘n Vleeslike (menslike) en ‘n geestelike perspektief.

Om Hagar en Ismael uit sy lewe te verban, was baie verkeerd in Abraham se oë. Hy was lief vir sy seun, Ismael, en het ook gevoel hy was verantwoordelik om na Hagar om te sien. Dit was mooi van hom om so te dink, maar hy het op menslike vlak na die situasie gekyk. God het groter planne met dié familie gehad. Hy wou uit Abraham se nageslag vir Hom ‘n volk bou, waaruit Jesus, die Verlosser van die ganse mensdom moes voortkom, en Hagar en Ismael moes opsystaan sodat hierdie hoëre doelwit verwesentlik kon word. Daarom het die Heer self met Abraham gepraat en vir hom gesê dat hy nie moes dink dat dit verkeerd was nie maar dat Hagar en Ismael weggestuur moes word sodat hulle nie Sy planne sou dwarsboom nie.

Die oomblik toe Abraham van God hoor, het hy Hom gehoorsaam en Hager en Ismael die volgende oggend weggestuur, al was dit vir hom pynlik.

(Al is die man die hoof van die huis, moet hy sy vrou se raad ook biddend voor God bring. Sodoende maak hulle saam dubbeld seker dat hulle die Heer se wil ten uitvoer bring.)

Die pyn om ons brouwerk op te ruim.

Wat ‘n hartseer prentjie skilder die Woord nie vir ons van Abraham wat die oggend vroeg brood en water op Hager se skouer gesit het en haar en haar seun die woestyn in gestuur het nie. Toe hy in sy seuntjie se vraende oë kyk, wat kon hy sê om die kind te troos, gerus te stel? Wat het in sy hart omgegaan terwyl hy hulle so staan en agternakyk het tot daar waar hulle uit sy sig verdwyn het? En die ergste was dat hy hieraan deel gehad het. Dit was nie Hagar wat hom verlei het nie; hy het na haar toe gegaan. Dit was hy wat buite die wil van God beweeg het en hy het dit goed geweet.

Die Here, onse wonderlike Vader help ons om ons foute van die verlede weer reg te stel sodat ons die toekoms sonder daardie laste kan aandurf, maar Hy spaar ons nie die bittere pyn wat daarmee gepaard gaan nie want daardeur wil Hy ons leer om nougeset in Sy voetspore te volg en sulke foute in die toekoms te vermy.

Die tragedies wanneer ons buite die wil van God oplossings soek vir ons frustrasies.

Hoeveel miljoene “Ismael” kindertjies mis nie vandag die liefde en ondersteuning van een van hul biologiese ouers omdat hul ouers êrens die wil van God gemis het nie. Ma en kind word die woestyn in weggestuur of die ma besluit self om liewer daardie uitweg te kies as om langer met die pa van hul kinders saam te woon. Ja, die situasie mag vir die ouers onderling onhoudbaar geword het, maar ‘n huweliks-verhouding versleg gewoonlik omdat die egpaar se verhouding met God skipbreuk gely het. Dit is waar dit alles begin.

Sara.

Ek wonder net of Sara daardie oggend in haar tent sit en huil het oor die twee mense met wie sy so baie jare saamgeleef het en wat nou uit haar lewe sou verdwyn. Was dit vir haar ook ‘n traumatiese ervaring of was sy net in haar skik omdat sy haar sin gekry het en haar probleem opgelos was? Dalk het sy haarself so ‘n bietjie verlekker in die feit dat sy nou finaal verlos was van “die ander vrou” in die kamp.

Hagar.

Hagar was ook nie sonder foute nie; sy was geneig om te probeer om van haar probleme te ontvlug. Jare tevore het sy van Sara af weggevlug toe dié haar sleg behandel het, en nou vlug sy van haar sterwende kind af weg en gaan sit en huil.

Ons doen dit ook. Sommige kinders van God vlug uit hul huis uit kroeg toe en verdoof hul pyn daar met alkohol. Dit is dom, dit los niks op nie.

Abraham het sekerlik vir Hagar en hul seun in gebed en geloof aan die Here toevertrou en die Here het haar in haar nood raakgesien. Miskien was sy verbitterd teenoor God oor wat Sy twee uitverkorenes haar aangedoen het en het sy self nie eers gebid om uitkoms nie.

Maar die Heer wat uit die hemel neergekyk het, het die kind se jammerlike gehuil gehoor en met Hagar gepraat en vir haar gewys waar om water te kry. God het altyd ‘n oplossing.

Hy het ook begin om Sy vroeëre belofte ten opsigte van Ismael ten uitvoer te bring (“God was met die seun”) en hom gehelp om ‘n boogskutter te word sodat hy vir homself kon sorg en het ook later ‘n vrou vir hom voorsien.

As die Here vir party mense besonder goed is (soos vir Abraham en Sara) of ‘n besondere doel vir hulle het, beteken dit nie dat Hy nie aan andere ook goed doen nie (soos aan Hagar en Ismael).

En as ons dalk in die versoeking kom om te dink dat die Heer liefdeloos opgetree het, laat ons net maar die oë sluit en die kruis sien waaraan God se geliefde Seun vasgespyker gehang het sodat die mensdom verlos kan word.

Hierdie verhaal van die twee vroue en hul seuns, is ‘n uitbeelding van ‘n baie diep geestelike waarheid naamlik van die verskil tussen die Ou-Testamentiese Wets-verbond en die Nuwe-Testamentiese genade verbond. Die Wet baar slawe maar die Evangelie baar vrye hemelburgers. Lees meer hieromtrent in Gal 4:20-31.

D. VERBOND TUSSEN ABRAHAM EN ABIMĖLEG (Lees asb Gen 21:22-34).

Dit is nie duidelik waarom Abraham vir ‘n lang periode in Filistynse gebied gaan woon het nie, want dit was nie deel van die beloofde land nie. Op daardie stadium was die grense natuurlik nog nie afgebaken nie. Moontlik was daar weer ‘n droogte verder weg van die kus af.

Abraham se teenwoordigheid het nie ongesiens verbygegaan by Abiméleg die koning van Gerar nie. ‘n Tyd tevore was Abraham bang dat hy hom sou doodmaak om sy vrou af te vat, maar intussen het Abraham se besittings, diensknegte en slawe geweldig aangegroei. ‘n Bonatuurlike seën van God het op hom gerus en Abiméleg het dit teenoor hom erken met die woorde: “God is met jou in alles wat jy doen.” Abraham was so geseënd dat Abiméleg vir hom bang geword en kom vra het dat hulle ‘n vredesverbond met mekaar moes sluit.

In Hand 5:13 lees ons dat die eerste gemeente beide geëer en gevrees was. Mag die Here gee dat ook ons, as Sy kinders, vandag so sal uitstaan in ons gemeenskappe.

E. GOD BEVEEL ABRAHAM OM VIR ISAK AAN HOM TE OFFER (Lees asb. Gen 22:1-24).

Het jy My waarlik lief? Vertrou jy My werklik?

Met hierdie opdrag het God vir Abraham op die proef gestel; aan hom die geleentheid gebied om sy geloof en gehoorsaamheid te demonstreer (te bewys) en ook om dit verder te ontwikkel.

Deur die wyse waarop die Here sy opdrag geformuleer het, wou Hy vir Abraham sê dat Hy ten diepste besef het wat Hy van hom vra: “Neem jou seun, jou enigste seun, hom wat jy liefhet, Isak … .” Die Here het inderwaarheid vir hom gesê: “Ek weet presies hoe kosbaar hy vir jou is en wat Ek van jou vra.”

n Voorspel tot ‘n grotere verhaal.

Dit is betekenisvol dat hy Isak op die berg Moria moes offer, al sou dit ‘n reis van ongeveer 80 kilometer meebring. Moria is waar die Godstad Jerusalem later sou wees en waar die Vader sy eniggebore, geliefde Seun, Jesus, sou oorgee om vir die sondes van die ganse wêreld gekruisig te word.

Spontane gehoorsaamheid.

Weer sien ons dat Abraham onmiddellik aan God gehoorsaam was. Hy het die môre vroeg klaargemaak, hout geneem, en met Isak en twee dienaars vertrek.

‘n Onwrikbare vertroue.

Later het hy die dienaars agtergelaat en gesê hy en die seun sou gaan aanbid en dat hulle weer daarheen sou terugkom. Hy was oortuig dat die Here vir hom, uit Isak, ‘n ontelbare nageslag sou gee en daarom het hy vas geglo dat God hom uit die dode sou opwek , Heb 11:17-19: Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word—want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.

Toe Isak vra waar die offerlam was, het Abraham gesê die Here sou vir Homself voorsien. Dit was ‘n wyse antwoord. Dit was ‘n waar antwoord. Isak het die hout op sy rug gedra soos wat Jesus later self sy eie kruis na Golgota sou dra.

Op die plek wat die Here aangewys het, het Abraham ‘n altaar gebou, die hout daarop reggelê, sy seun Isak gebind en bo-op die hout gelê.

Het Isak ingestem?

Hoe oud sou Isak toe gewees het? Waarskynlik oud genoeg om self te kon besluit of hy gewillig was om as brandoffer geoffer te word. Die rede vir hierdie mening is dat hy ‘n beeld was van Jesus wat later geoffer sou word en Wie self daartoe ingestem het: Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ‘n liggaam berei. Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van My geskrywe—om u wil te doen, o God. (Heb 10:5-7; Ps 40:7)

‘n Totale wilsoorgawe; ‘n 100% slaagsyfer.

Abraham het toe die mes in sy hand geneem om Isak te slag. Hy het finaal besluit gehad om hom as brandoffer aan God te offer. In sy gedagte was dit reeds afgehandel – daar was geen twyfel of huiwering dat hy daarmee sou deurgaan nie.

In hierdie besluit was vader en seun dit eens. Ook Isak het homself in geloof en gehoorsaamheid aan God en sy vader oorgegee om so geoffer te word.

Abraham het tevore ‘n paar maal getwyfel en sy geloofstoetse gedruip. God het egter voortgegaan om met hom te praat en hom te bemoedig om aan te hou om Hom te vertrou en te gehoorsaam. Nou het Abraham die hoogste denkbare geloofstoets, naamlik om sy seun as brandoffer aan God te offer en te glo dat God hom weer uit die dood aan hom sou teruggee, geslaag. Hierdeur het God ook sy almag om die mens se hart na sy ewebeeld te verander, bewys.

Adam faal ‘n klein toetsie; Abraham slaag ‘n reuse eksamen.

Die geloofstoets wat Adam en Eva in die paradys gefaal het, het Abraham hier op ‘n veel groter wyse geslaag. Met die uitsondering van Jesus se offerhande van homself aan die kruis, is hierdie moontlik die grootste geloofsdaad wat enige mens ooit gedoen het.

Uitkoms op die nippertjie.

Toe roep die Engel van die Here van die hemel af na hom : Abraham, Abraham, moet jou hand nie uitsteek en doen hom niks nie. Nou weet ek dat jy God vrees En jou seun, jou enigste van My nie teruggehou het nie. Om God te vrees beteken om ‘n heilige ontsag vir Hom te hê; ‘n besondere geloof in Hom.

Toe sien Abraham ‘n ram waarvan die horings in ‘n bos vasgeraak het en hy het hom geneem en geoffer. Die Here het ingegryp sodat Isak nie geoffer is nie, maar toe Sy Seun op Golgota op die kruis neergelê en die Romeinse soldaat die hamer opgetel het om die spykers deur Sy hande en voete te dryf, moes die Vader maar wegkyk en hom laat begaan want daar was geen plaasvervanger ram wat gereedgehou was om in Sy plek te sterf nie. Nee, Jesus self was dan die plaasvervanger ram, nie net vir Isak nie, maar ook vir jou en my. Abraham het die plek genoem “Die Here sal voorsien.”

God is verheugd.

Die Here God was oorweldig deur Sy vriend Abraham se vertroue in Hom, sy gehoorsaamheid en sy onselfsugtige liefde. Hy praat toe weer hoorbaar met hom en bevestig sy vroeëre beloftes aan hom; hierdie keer met ‘n eed.

Ons joernaal van opdragte.

Ons wil almal graag hê dat God met ons moet praat soos wat Hy met Abraham gepraat het, maar onthou, Hy gee nie net beloftes nie, maar ook opdragte. Soms beveel Hy my om pynlike offerhandes te bring. Die vraag is: Is ek gewillig om in alles gehoorsaam te wees soos wat Abraham gehoorsaam was? Is daar uitstaande offers in my dagboek? Het God gepraat en ek nie gedoen nie? Soms is dít die rede waarom Hy nie verder met ‘n mens praat nie – Hy wag dat ek eers doen wat Hy reeds beveel het.

 F. DOOD EN BEGRAFNIS VAN SARA (Lees asb. Gen 23).

God het Sy doel met Sara se lewe bereik deur ‘n geloofskind vir Hom in die lewe te bring. Sy het waarskynlik ook vervuld gevoel. Dit is ‘n voorreg om op so ‘n wyse van hierdie wêreld afskeid te kan neem.

Abraham het as ‘n onbekende swerweling in hierdie land ingekom maar deur sy voorbeeldige lewenswandel het selfs die heidene hom gerespekteer en hom as ‘n prins of vors van God gesien.

Alhoewel die Here die land aan Abraham en sy nageslag gegee het, was hy gewillig om die volle koopprys (eintlik dubbel die gangbare prys volgens die “Life Application Study Bible” vir die stukkie grond te betaal. Hy was ‘n goeie maar ook ‘n eerbare besigheidsman.

G. ELIËSER VERKRY REBEKKA AS VROU VIR ISAK (Lees asb Gen 24:1-67)

‘n Bruid vir Isak.

Isak se pa was skatryk en die meeste meisies sou maar alte graag met hom wou trou, maar hy het op God gewag al was hy al ten minste 36 of ouer.

Isak se huwelik was vir God van besondere belang, want Hy wou vir Homself ‘n volk opbou. Om so ‘n volk te kon genereer, was dit belangrik dat beide die vader en moeder van elke geslag in God sou glo, sodat hulle hul kinders in die vrese van die Here kon grootmaak en ‘n godvresende geslag tot stand sou kom.

Abraham en Sara wou natuurlik ook sorg dat Isak ‘n gelowige vrou trou. So ‘n vrou was net onder hul bloedverwante in Mesopotamië te vind. Om hierdie redes dan, en vir hierdie doel, het Abraham sy dienaar na sy familie in Mesopotamië gestuur.

Dié reël dat ‘n gelowige nie met ‘n ongelowige mag trou nie, staan natuurlik vandag nog vas; die Here laat ‘n Christen nie toe om met ‘n nie-christen te trou nie (1 Kor 7:16; 2Kor 6:14,15). Om op God te wag, is net die beste.

Wat ‘n opdrag!

Dit was waarskynlik Abraham se mees vertroude dienaar en sielsgenoot, Eliëser, wat hy op hierdie vertrouensmissie gestuur het. Sy heer, Abraham, kon hierdie uiters belangrike taak, sowel as soveel rykdom aan hom toevertrou, want hy was ‘n diep nederige man wat God se wil en eer gesoek het.

Hy moes ‘n baie lang reis onderneem met sy 10 kamele en medediensknegte om by Nahor hulle uit te kom; eers op tot by Haran en daarna af in die rigting van die huidige Persiese golf.

Eliëser vra God om ‘n gespesifiseerde teken en hy kry dit.

Met baie tyd op sy kameel se rug en sonder ‘n selfoon om sy rus te verbreek, kon hy uur na uur bid. Hy het God gevra om die vrou van Sy keuse vir hom by wyse van ‘n spesifieke teken aan te wys en die Here het presies gedoen wat Eliëser gevra het. Toe hy vir Rebekka vra vir ‘n slukkie water uit haar kruik,  het sy spontaan aangebied om ook vir die kamele water te put en hulle te laat drink.

In daardie tyd was dit normale gebruik dat ‘n vrou iemand wat haar daarom vra, uit haar waterkruik laat drink. Rebekka het egter meer as dit gedoen en “die tweede myl” geloop deur aan te bied om ook vir die kamele water te gee. (‘n Kameel wat op trek is, kan soveel as 50 liter water op ‘n slag drink – dus 500 liter vir die 10.) Dit was nie ‘n geringe taak nie en Rebekka het ‘n mooi dienskneg gesindheid geopenbaar deur aan te bied om dit te doen. Eliëser het nie na ‘n mooi vrou of ‘n ryk vrou gesoek nie (dit seker ook), maar na ‘n deugsame vrou, ‘n vrou met mooi karaktertrekke en hy het so ‘n een in Rebekka gevind.

Asemrowende geskenke, van ‘n onbekende man, uit ‘n verre land.

Hy het toe duur geskenke aan die meisie en haar familie gegee. Dit was nie om haar met rykdom om te koop nie, maar om die grootheid van sy heer Abraham aan haar te openbaar, sodat sy gewillig sou wees om haarself aan sy seun, Isak, toe te vertrou.

Weeg op en besluit.

Die Here het ook op ander wyses aan Rebekka en haar familie bevestig dat die saak van Hom was, want dit was inder-waarheid ‘n groot geloofstap om so saam met ‘n groep vreemde mans na ‘n verre land te verhuis en daar te trou met ‘n bruidegom wat jy nog nooit gesien het nie.

Die talle kamele en rykdom was nogal oortuigende waarborg dat hy vir haar sou kon sorg, maar sou hy vir haar goed wees? Wat was sy verhouding met God. Sowat 61 jaar het al verstryk sedert hy hulle agtergelaat en na Kanaän verhuis het. Was hy nog die gelowige van ouds wat alles ter wille van God opgeoffer het? Seker wel, want hy wou ‘n gelowige vrou vir sy seun hê, nie sommer een van die mooi meisies van Kanaän nie. En dan was daar Eliëser wie se vroomheid en sy intieme kennis van Abraham, boekdele gespreek het. ‘n Man word mos aan sy vriende geken.

“I do,” (Ja) antwoord die bruid.

Einde ten laaste moes Rebekka self besluit of sy die aanbod sou aanvaar, wat sy dan blykbaar ook sonder voorbehoud gedoen het. Wat ‘n romantiese huwelik! God is die outeur van romanse.

‘n Geseënde uiteinde.

Almal was tevrede: eerstens Rebekka se familie; tweedens Eliëser wat haar as ‘n geskenk uit God se hand gesien het en later, na al die lang wag, ook Isak, die bruidegom. Hy was seker ook baie verras en in sy skik toe sy skugter haar sluier lig en hy gewaar geword het watter mooi meisie die ou man, Eliëser, vir hom uitgesoek het. Hulle het ook nooit geskei nie alhoewel hul huwelik groot storms beleef het. Nie verniet nie dat die Skrif ons dikwels maan: “Wag op die Here”.

‘n Bruid vir Christus.

Hierdie verhaal is ook vir ons ‘n beeld van Die Heilige Gees wat deur die Vader na hierdie aarde gestuur is om ‘n bruid vir Sy Seun, Jesus Christus, te soek. Elkeen wat op Sy aanbod “Ja” geantwoord het, is nou natuurlik deel van die romanse en op pad na al die hemelse rykdomme.

H. ABRAHAM SE ANDER KINDERS EN SY DOOD (Lees asb. Gen 25:1-18)

Abraham het (blykbaar na Sara se dood) weer getrou, die keer met Ketura, en by haar nog ses seuns verwek. Hoe wonderlik het God hom nie versterk nie.

Terwyl hy nog geleef het, het hy geskenke gegee aan haar seuns en hulle elk na ‘n eie woonplek toe laat wegtrek sodat, by sy dood, Isak sy enigste erfgenaam sou wees; ‘n wyse besluit en optrede.

Ismael het ook 12 seuns verwek wat hoofde van 12 stamme geword het, net soos wat God belowe het.

Abraham het op 175 gesterf en is by Sara in die spelonk van Magpela begrawe. Dit is mooi dat Ismael ook saam met Isak deel gehad het in sy begrafnis.

I. SLOTOPMERKINGS.

Abraham het sy God gegewe rol op aarde vervul en kon met vrede in sy ewige rus ingaan.

Die Skrif wy 13 hoofstukke aan Abraham se geloofstryd met sy verhuising na Kanaän, die verwekking van Isak en die verkryging van ‘n vrou vir hom en net ongeveer die helfte van ‘n hoofstuk aan sy latere lewe omdat die Here vir ons, wat na hom kom, wil leer hoe om in die geloof te wandel. Hy is as’t ware die vader van alle gelowiges.

———-

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → ABRAHAM DEEL 3. Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha