2024-05-12
A. GEMEENSKAP VAN GOEDERE.
Ons lees Handelinge hoofstuk 4:32-37:
En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad. 33 En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal. 34 Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê. 35 En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het. 36 En Joses wie se bynaam onder die apostels Bárnabas was—wat, as dit vertaal word, beteken seun van vertroosting—’n Leviet, van geboorte uit Ciprus, 37 het ‘n stuk grond gehad en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê.
Ons sien twee pragtige kenmerke van die eerste Christelike gemeente naamlik, eenheid en liefde. Jesus het gesê dat wanneer mense die eenheid onder sy dissipels waarneem, hulle oortuig sou word dat God Hom na hierdie wêreld gestuur het (Johannes 17:22,23). Alle mense het die behoefte om deur andere aanvaar te word. Kinders sal allerhande stoute dinge aanvang, net om hul maats se vriendskap te wen. Dieselfde geld vir volwassenes. Wanneer ‘n belangrike persoon iemand anders se naam opper en begin om hom te beswadder, sal die omstanders dikwels meedoen, of ten minste net instemmend knik. Dit doen hulle net om deur die populêre persoon, of in sy geselskap, aanvaar te word; om as een van die groep erken te word. Hierdie soort wêreldse eenheid hou nooit stand nie. Wanneer mense egter intiem met Christus verbind is, word hulle met mekaar verenig deur die liefde wat die Heilige Gees in hulle harte uitstort. Jesus het ook gesê dat wanneer die wêreld hierdie liefde binne ‘n groep mense waarneem, hulle vir mekaar sal sê “Hierdie mense behoort aan Jesus” (Joh 13:35).
Hierdie eenheid en liefde vir mekaar het die selfsug en vrees om hulself te kort te doen, uit die rykes se harte verdryf. Dit is vervang met ‘n besorgdheid oor die wat gebrek gely het en ‘n begeerte om hulle wat in nood was, te help. Baie van hulle, soos byvoorbeeld die godvresende Barnabas, het die landerye of huise wat hulle nie gebruik het nie, verkoop en die geld aan die voete van die apostels gelê om aan die armes uit te deel. Die Here het hulle nie beveel om dit te doen nie. Die apostels het dit ook nie as ‘n voorwaarde gestel om by die gemeente te kon aansluit nie. Elke lidmaat moes self onder leiding van die Heilige Gees besluit. So baie het dit gedoen, dat geen armoede onder Jesus se gelowiges gevind is nie. Dit was net so ‘n groot wonderwerk soos die opwekking van die dooies, want die mens is inherent selfsugtig en net God kan daardie gesindheid verander.
As jy arm was, sou jy daarna verlang het om by daardie gemeente aan te sluit? As jy ryk was, sou jy by daardie gemeente aangesluit het?
B. ANNANIAS EN SAFFIRA.
Ons lees hoofstuk 5:1-11:
Maar ‘n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra ‘n eiendom verkoop, 2 en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en ‘n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê. 3 Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? 4 As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. 5 En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ‘n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het. 6 Daarna het die jongmanne opgestaan en hom toegedraai en uitgedra en begrawe.
7 En ná verloop van omtrent drie uur kom sy vrou in sonder om te weet wat voorgeval het. 8 En Petrus het haar aangespreek: Sê vir my of julle die grond vir soveel verkoop het? En sy sê: Ja, vir soveel. 9 En Petrus sê vir haar: Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek? Kyk, die voete van die wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra. 10 Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe. 11 En ‘n groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het.
‘n Eerste belangrike waarneming: In die Nuwe Testament sien ons ‘n menigte wonderwerke wat deur God se liefde gemotiveer was. Baie min is die gevolg van Sy sin vir geregtigheid om sonde te straf. In hierdie perikoop het ons egter een so ‘n voorbeeld.
Tweedens sien ons dat daar in hierdie wêreld nie iets soos ‘n volmaakte gemeente is nie. Selfs in hierdie besonder heilige groep, steek sonde sy kop uit: oneerlikheid, hebsug en die begeerte om verheerlik te word. Hierdie egpaar het begeer om as vrygewige Christene gesien te word, maar was nie bereid om die prys te betaal nie. Hulle het van hul rykdom gegee, maar met die verkeerde motief. Hulle was nie aangevuur deur onselfsugtige liefde nie, maar deur hebsug. Bo en behalwe die genot van die rykdom, wou hulle ook nog deur mense gesien, hoog geag en gevlei word.
Net terloops merk ons ook op dat in hierdie gemeente, waar die Heilige Gees in beheer was, daar ‘n vrye vloei van sy gawes was. Hier vloei Petrus in die gawe van ‘n bonatuurlike “woord van kennis”. Dit lei tot tot die onthulling van die sonde wat Ananias so sorvuldig verberg het. (God het hierdie gawe juis gegee as hulpmiddel vir sy liggaam om sy kerk mee te bou (1 Kor 12:8). Enige van die Heer se bouers kan in hierdie gawe vloei). In hierdie situasie was dit noodsaaklik om aan almal te wys dat die Gemeente deur God gelei en bestuur was.
Let ook op die sameswering tussen man en vrou. God wil hê dat vroue aan hul mans onderdanig moet wees, maar wanneer haar man sondig, moet die vrou God se kant kies, want God het groter gesag oor haar as haar man.
Die vraag waarop ons ‘n antwoord moet vind is dit: Waarom het God hierdie lidmate se sonde met die dood gestraf; en dit onmiddelik, sonder geleentheid vir berou en vergifnis? Is sulke ernstige optrede nie beperk tot die Ou Testament nie; tot sonde wat onder die Wet gepleeg is nie? Ons dink hier aan Nadab en Abihu wat met vuur uit die hemel verkool is omdat hulle onheilige vuur op die altaar gebruik het (Num 3:4).
Miskien lê antwoord eerstens hierin opgesluit: Die mens se sonde word hom toegereken volgens die hoeveelheid genade en openbaring wat hy van God ontvang het. In hierdie eerste gemeente was daar ‘n oorweldigende openbaring van die heerlikheid en heiligheid van God deur die werking van die Heilige Gees. Eerstens gewaar ons dit in die krag waarin die Woord verkondig is, tweedens in die wonders wat Hy gedoen het en derdens in die diepte van die werk van die Gees in die harte van die lede. Dit het hulle op ‘n vlak van geloof en oorgegewenheid gebring waar hulle bereid was om alles wat hulle gehad het, op die altaar te plaas. Die teenwoordigheid van God, deur sy Gees, was so oorweldigend, daar was so ‘n heilige, gewyde atmosfeer, dat enigeen wat so doelbewus gesondig het soos hierdie twee mense, geweet het dat hulle nie net hul medegelowiges mislei nie, maar blatant sondig teen die Heilige Gees. Vir hierdie uitdruklike verwerping van die genade van God was daar geen vergifnis nie (Matt 12:32 kan hiermee vergelyk word). Ook het hulle die kosbare Bloed van die Seun, waardeur hulle van hul sonde gereinig was, onder hul voete in die stof vertrap (Heb 10:26-31).
Hierdie oordeelsdaad het die heiligheid en verhewenheid van God bo die mensdom beklemtoon. Niemand wat dit nie ernstig bedoel nie, mag met hom saamstap nie. Wanneer Hy deur sy Gees in die harte van sy ware kinders werk om uiters kosbare offers aan hom te bring, moet saamlopers nie waag om namaaksels by sy voete neer te sit nie. Hulle het nie net teen die Gemeente gesondig nie, maar teen God self – en dit, willens en wetens.
O my diebare Bloedgewasde Boetie en Sussie in die Heer, laat ons tog gedurig in diepe nederigheid voor die voete van ons Heiland neerkniel en genade verkry sodat ons nie deur die versoeking van die bose in hierdie verskriklike ellende beland nie! Ons moet groot eerbied vir ons God hê, want sy liefde verplaas nie sy heiligheid nie. Dit is nie nodig om in vrees vir hom te lewe nie, maar ons moet ‘n heilige ontsag vir ons Skepper en Koning hê.
C. STORTREËNS VAN GENADE.
Ons lees hoofstuk 4:12-16:
En deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind; en hulle was almal eendragtig saam in die pilaargang van Salomo. 13 En daar was niemand van die ander wat dit gewaag het om hom by hulle te voeg nie, maar die volk het hulle baie geëer. 14 En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue, 15 sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val. 16 En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.
Wat met Ananias en sy vrou gebeur het, het ‘n baie heilsame uitwerking op die gemeente gehad deurdat onopregte mense nie gewaag om as lidmate aan te sluit nie. Hulle het gevrees dat die verborge sondes van hulle harte, daar, in die midde van die Heer se volk, deur die helder lig van God se heiligheid geopenbaar sou word. Aan die ander kant het diegene wat begeer het om van sonde verlos te word, na hierdie liggaam van gelowiges gestroom het. Die Kerk van Jesus Christus was hoog geag deur die buitewêreld. Geteisterde familielede en vriende is gebring om genees en van demone verlos te word.
Laat ons as hedendaagse gemeentes ons reinig van bedrog, afguns, wellus, skinderpraatjies en dies meer. Dan sal ons ook so die magtige teenwoordigheid van God in ons midde ervaar. Dan sal menigtes van opregte soekers genesing van gees en liggaam vind.
D. DIAKENS AANGESTEL.
Ons lees hoofstuk 6:1-7:
En in dié dae toe die dissipels vermeerder het, het daar ‘n murmurering ontstaan van die Griekssprekende Jode teen die Hebreërs, omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien is.
2 En die twaalf het die menigte van die dissipels byeengeroep en gesê: Dit is nie reg dat ons die woord van God nalaat om die tafels te bedien nie. 3 Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel; 4 maar ons sal volhard in die gebed en die bediening van die woord.
5 En die woord het byval gevind by die hele menigte; en hulle het gekies: Stéfanus, ‘n man vol van geloof en van die Heilige Gees, en Filippus en Próchorus en Nikánor en Timon en Pármenas en Nikoláüs, ‘n Jodegenoot uit Antiochíë, 6 wat hulle voor die apostels gestel het; en hulle het gebid en hulle die hande opgelê.
7 En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en ‘n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof.
Die Kerk van God moet altyd waaksaam wees. Soms word hulle deur vyande van buite, soos die Skrifgeleerdes en Fariseërs aangeval. Dan weer ontstaan daar onenigheid binne die gemeente wat die eenheid verbreek en die Gees bedroef.
Om meer as een kultuurgroep (ras of taalgroep) in ‘n gemeente te hê, vergroot hierdie moontlikheid. In die eerste gemeente was daar Hebreeus-, sowel as Griekssprekendes. Siende dat Jerusalem ‘n Joodse stad was, was die Joodse gelowiges die sterker groep en het hulle hul posisie misbruik. Die Griekssprekende weduwees is afgeskeep wat betref kos en ander lewensbehoeftes. Dit het seergemaak en onderlangse murmerering tot gevolg gehad.
Kerkleiers moet duidelik van God hoor en vinnig en beslis optree om so ‘n kwessie bevredigend op te los. Hulle moet ingryp voordat dit tot harde kwetsende woorde lei. ‘n Klein klippie in die skoen kan al te gou selfs op ‘n skeuring van die gemeente uitloop. ’n Pastoor wat ‘n dowe oor na sy skape se roep draai, óf omdat hy hoop dat die probleem homself sal oplos, óf omdat hy bang is om moeilike mense te konfronteer, sal nie die Heer se beste beleef nie. Die onrus sal sy kudde vernietig.
Die apostels het vinnig besef dat die duiwel hulle probeer verhinder het om hul primêre verpligtinge na te kom. Die gedurige aandag wat hulle moes wy aan die beregting van indiviuele geskille, het hulle te min tyd gelaat om in gebed vir hulle kudde in te tree. Ook kon hulle nie die nodige tyd vind om hulle met Woord lering te bedien nie. So kon dit nie langer aangaan nie. ‘n Ander uitweg moes gevind word.
Hulle besluit toe om ‘n afsonderlike groep manne aan te stel om aan hierdie belangrike saak aandag te gee. Die gemeente moes sewe manne uit eie geledere daarvoor nomineer. Hulle moes die agting van die lede hê vir hul godvrugtige lewe, wysheid om moeilike situasies suksesvol te hanteer en vol van die Heilige Gees wees. Die gekosenes is toe deur gebed en handoplegging van die apostels vir hierdie taak afgesonder.
So is die probleem tot almal se bevrediging opgelos en hoor ons nie weer daarvan nie. Die Gemeente het hierdie oomblik van wrywing oorleef en toe vinnig bly groei. Twee van hierdie manne, Stéfanus en Filuppus, het later ook op ander bedieningsgebiede uitgeblink.
E. STÈFANUS, DIE EERSTE MARTELAAR VIR CHRISTUS.
Ons lees Handelinge 6:8-15:
En Stéfanus, vol van geloof en krag, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen. 9 En daar het sommige van die sogenaamde sinagoge van die Libertyne opgestaan, en van die Cirenéërs en Alexandryne, en van die mense van Cilícië en Asië, en hulle het met Stéfanus geredetwis. 10 Maar hulle kon die wysheid en die Gees waardeur hy gespreek het, nie weerstaan nie. 11 Toe het hulle manne opgestook om te sê: Ons het hom lasterlike dinge hoor praat teen Moses en God. 12 En hulle het die volk en die ouderlinge en die skrifgeleerdes in beweging gebring en op hom afgekom en hom gegryp en voor die Raad gebring. 13 En hulle het valse getuies laat optree om te sê: Dié man hou nie op om lasterlike dinge te praat teen hierdie heilige plek en die wet nie. 14 Want ons het hom hoor sê: Hierdie Jesus, die Nasaréner, sal hierdie plek afbreek en die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het, verander. 15 En terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van ‘n engel was.
Stéfanus, van wie ons in die vorige perikoop gelees het, hoewel nie ‘n apostel nie, was ‘n magtige man van God, vol van geloof en geestelike krag. Sy visie was veel wyer as om net die tafels te bedien. Soos sommige bouers in Nehemia se arbeidsmag wat uit eie beweging ‘n bykomende stuk van Jerusalem se mure opgebou het, het hy dit ook geniet om die mure van God’s nuwe Koninkryk op te rig. Hy was nie soos dié wat kyk met hoe min hulle kan wegkom nie, maar het gedurig werk gesoek; gevra, “Here wat kan ek nog doen om U hart bly te maak”? Sodoende het die Heer hom gebruik om ook groot wonders en tekens te doen en die Woord in wysheid en krag te preek.
Die duiwel was hieroor baie onthuts. (Die spreekwoord lui, “Hoë bome vang die meeste wind”. So ook beleef kragtige geestelike leiers veel meer aanslae van die bose as hulle wat doodstil in ‘n hoekie sit en kyk hoe die ander werk.) Die aartsvyand van Christus het weereens sy magte gemobiliseer. Hierdie geestelike kryger moes gestuit word want hy het ‘n groot rol daarin gespeel om die bose se ryk te vernietig.
Sy bende wat hy vir hierdie taak sou gebruik was blykbaar ‘n groep Joodse slawe wat deur Rome bevry was en hul eie sinagoge saamgestel het. Hulle het Stéfanus toe voor die Joodse hof, die Sanhedrin, gedaag en hom daarvan beskuldig dat hy teen Moses en God gelaster het. Terwyl hy egter daar as beskuldigde staan, het God woordeloos vir hom getuig. Sodra alle oë op hom gerig was, sien hulle hoedat sy gesig verander en soos dié van ‘n engel word. Dit het waarskynlik geblink soos die son; net soos Jesus s’n op die Berg van Verheerliking. Wat ‘n getuienis! Hoe magtiglik het God sy getroue dienaar vereer en ondersteun.
Dit, op sigself, moes die paneel van beregters van sy onskuld oortuig het, maar nee, hulle harte was verhard en hulle het sy verhoor meedoënloos voortgesit. Die hele hoofstuk 7, tot by vers 50, is ‘n rekord van Stéfanus se repliek op hulle beskuldigings. In die loop daarvan beskryf hy hoe God Abraham geroep, en uit sy nageslag die Here Jesus Christus opgewek het. So bewys hy vir hulle, vanuit die Skrif, dat Jesus die Seun van God was wat hulle gekruisig het, maar wat uit die opgestaan en nou hierdie werke gedoen het. Hy sluit sy betoog af met die volgende woorde (V51 ev):
Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle. 52 Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het; 53 julle wat die wet deur die beskikkinge van engele ontvang het en tog nie onderhou het nie!
Wat Stéfanus gesê het, was die absolute waarheid soos geïnspireer deur die Heilige Gees, maar dit het die woede van sy vervolgers net verder laat opvlam tot ‘n vurige oond, dorstende na wraak. Wat toe gebeur het, is opgeteken in verse 54 tot 59:
En toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hul harte en het teen hom op die tande gekners. 55 Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. 56 En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan. 57 Maar hulle het met ‘n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop en soos een man op hom aangestorm. 58 En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig; en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van ‘n jongman met die naam van Saulus.
59 En hulle het Stéfanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees! 60 En hy het op sy knieë neergeval en met ‘n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap.
Stéfanus het nie meer die menigte woedende, tandeknersende gesigte gesien nie; ook nie die gebalde vuiste wat na hom uitgestrek was nie. Sy aardse taak was afgehandel. Hy het sy hoof opgehef na bo en met die oë van sy gees na die hemel op gekyk. Daar het hy die heerlikheid van God aanskou en die Here Jesus aan die regterhand van die Vader gesien. Jesus het egter nie soos ‘n toeskouer gesit en kyk wat hier onder besig was om te gebeur nie; nee, Hy het regop gestaan ter ere van sy moedige dienskneg, gereed om hom in sy arms te verwelkom.
Sy vervolgers het Stéfanus uit die stad uitgesleep en hom gestenig, maar terwyl hulle besig was om dit te doen, het hy luid tot Jesus geroep met die woorde: “Here ontvang my gees en moet hierdie mense tog nie straf nie.” Toe het hy in hierdie wêreld ontslaap maar wakker geword in die wêreld van ewige heerlikheid waar daar geen vervolging of droefheid meer is nie; waar die duiwel nooit weer gesien sal word nie.
F. DIE VOLGENDE FASE BEGIN.
8:1 En Saulus het ook sy vermoording goedgekeur. En daar het in dié tyd ‘n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judéa en Samaría, behalwe die apostels.
Voor ons hierdie bloedige toneel veraat, laat ons daarop let dat hulle wat Stéfanus gestenig het, elk hul bokleed in bewaring van ‘n jong man genaamd Saul gelaat het. Van hom sal ons nog baie hoor; beide in die Boek Handelinge en in die Nuwe Testamentiese Briewe. Hy het die apostel vir die heidene geword wat self ontsaglik ter wille van Christus sou ly.
Die tweede belangrike punt om nie verby te laat gaan nie, is die vervolging wat waarskynlik sy oorsprong in hierdie insident gehad het. Dit het daartoe gelei dat die Evangelie oor groot dele van die bekende wêreld versprei het.
So gebruik die Here die duiwel se aanslae om sy eie Koninkryk te bou. Ons kan weer sê: “Ons verleentheid is God se geleentheid.”
Wat ‘n magtige God dien ons. Wat ‘n wonderlike toekoms om na uit te sien.
//////////
VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → Annanias, Saffira, diakens en Stefanus. Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.
//////////
Die kommentaar wat ons lesers op ons studiegidse lewer, is vir ons om verskeie redes baie waardevol en ons sal dit waardeer as u ‘n paar oomblikke sal afsonder om die onderstaande nota in te vul en af te stuur. Baie dankie. Vrede en vreugde vir u.