Antiogië en Paulus se eerste sendingreis

2024-05-01

A. INLEIDING.

Vanaf hoofstuk een van die boek Handelinge, vertel Lukas vir ons die verhaal van hoe die Heilige Gees, deur middel van sy verskillende dienaars uitgegaan het om dissipels te maak. Hulle het aanvanklik meestal die Joodse volk bedien. Hulle was mos God se verbondsvolk, die nageslag van Abraham. Selde het hulle aan nie- Jode bedien; mense soos die Samaritane, die skatmeester van Etiopië en Cornelius en sy familie. Vanaf hoofstuk 13 is dit duidelik dat, alhoewel God se genade nog nie vir die Joodse gemeenskappe ten einde geloop het nie, Sy fokus nou duidelik verskuif het na die nie-Joodse wêreld, die heidene, soos daar soms na hulle verwys word.

Die tweede waarneming is dat terwyl die eerste 12 hoofstukke oor die algemeen op Petrus se bediening sentreer, hoofstukke 13 tot 28, Paulus as sy hoofkarakter het. Om hierdie rede, onder andere , word daar dikwels na Petrus verwys as die apostel na die Jode en word Paulus die apostel na die heidene genoem.

B. SEKERE GRIEKSSPREKENDES VAN ANTIOGIË AANVAAR DIE EVANGELIE

Ons lees Handelinge 11:19-26:

Die wat dan verstrooi was deur die verdrukking wat oor Stéfanus ontstaan het, het die land deurgegaan tot by Fenícië en Ciprus en Antiochíë sonder om tot iemand die woord te spreek, behalwe tot die Jode alleen. 
20  En daar was sommige van hulle, Cipriese en Cirenése manne, wat in Antiochíë gekom het en met die Griekssprekende Jode gepraat en die evangelie van die Here Jesus verkondig het. 21  En die hand van die Here was met hulle, en ‘n groot getal het gelowig geword en hulle tot die Here bekeer. 
22  En die berig hiervan het die gemeente wat in Jerusalem was, ter ore gekom en hulle het Bárnabas afgestuur om die land deur te gaan tot by Antiochíë. 23  Toe hy daar kom en die genade van God sien, was hy bly en het almal vermaan om met hartlike voorneme aan die Here getrou te bly; Act 24  want hy was ‘n goeie man en vol van die Heilige Gees en geloof; en ‘n aansienlike skare is aan die Here toegebring. 

25  Toe vertrek Bárnabas na Tarsus om Saulus te soek, en toe hy hom kry, het hy hom na Antiochíë gebring. 26  En hulle het ‘n hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan ‘n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer Christene genoem. 

Ons sien hier dat toe die vervolgde gelowiges uit Jerusalem gevlug, sommige hulle in ‘n stad genaamd Antiogië, ver noord van Palestina gevestig het. Daar het sekere van hulle die Evangelie met die Griekssprekende Joodse gemeenskap gedeel. ‘n Groot aantal van hulle het hul vertroue in Jesus gestel sodat ‘n sterk gemeente daar ontwikkel het. 

Toe die gemeente in Jerusalem hierdie vreugdevolle nuus ontvang, het hulle een van hul staatmakers, Bárnabas gestuur om die nuutbekeerdes by te staan. Daar aangekom was hy diep beindruk met die groot werk wat God daar gedoen het. Hy het ook onmiddellik besef dat daar ‘n geweldige behoefte was aan ‘n dieper bediening in die lewens van hierdie nuwe bekeerlinge. Daarvoor sou hy ‘n medewerker nodig hê wat vol van die Heilige Gees en van geloof was, maar ook goed onderleg in die Skrifte. Ook sou hy moes verstaan ​​hoedat God van die begin af die redding van alle nasies begeer het en nie net die van die Jode nie. Maar wie sou die regte medewerker wees? Die apostels en ander leiers in Jerusalem het nie sy diepe besorgdheid oor die heidene gedeel nie, daarom kon hy nie hom nie na hulle wend vir hulp nie. Gelei deur die Heilige Gees, het Paulus in sy gedagtes opgekom. So pak hy die lang reis na Tarsus aan om hom te gaan haal.

C. PAULUS TREE TOE TOT DIE JESUS BEWEGING.

Nou sal u onthou dat Paulus, wat vroeër Saulus genoem was, kragtig tot bekering gekom het op pad na Damaskus, toe die Here Jesus self, vanuit ‘n geopende hemel met hom gepraat het. Uit ander Skrifgedeeltes soos Gal 1:17, leer ons dat, alhoewel hy onverskrokke teenoor een en almal getuig het van sy nuutgevonde geloof, hy nie dadelik tot ‘n voltydse bediening toegetree het nie. Vir ‘n tydperk van ongeveer drie jaar het hy homself eers afgesonder.

Hy was ook ‘n baie geleerde man wat, voor sy bekering tot Christus, die Ou Testamentiese Skrifte bestudeer het onder leiding van ‘n bekende professor genaamd Gamaliël. Nou, nadat hy Jesus gevind het, het hy gedurende sy tyd van afsondering waarskynlik al die inligting wat hy oor Hom kon versamel, vergelyk met wat hy van Moses en die profete geleer het. Tot sy verbasing het hy ontdek dat dit alles netjies inmekaar pas. 

Hierdie verligting van sy begrip deur die Heilige Gees het tyd geneem want elke nuwe openbaring moes hy ook met sy gees aanvaar. Net soos Petrus moes hy sy diepgewortelde hardheid van hart oorkom. Dit het geleidelik gebeur, deur die bestudering van die Skrifte waardeur sy verkeerde interpretasie van die Wette en voorskrifte van God opgeklaar het. Ook het hy begin om die grootheid van God se genade te verstaan; ‘n genade wat almal ingesluit het, Jode sowel as heidene.

Uiteindelik het die tyd aangebreek dat die Heer, wat die diepste gedagtes van Sy kinders ken, vir Paulus gereed geag het om in voltydse bediening uitgestuur te word. Daarom, toe sy ou vriend Bárnabas skielik eendag opdaag en hom versoek om hom te kom bystaan, nie in Jerusalem nie, maar in Antiogië, het hy geweet dat dit die roepstem van God was. Dié kon hy nie weerstaan ​​nie. Daarom het hy sy maat van weleer vergesel na sy eerste arbeidsveld .

Barnabas en Paulus het saam ‘n uitstekende span gevorm en vir ‘n volle jaar het hulle ‘n aansienlike aantal gelowiges in die leer van Christus onderrig. Sodoende het Paulus ook waardevolle ondervinding in praktiese bediening opgedoen; die beantwoording van die vrae van nuwe gelowiges en raad oor die probleme van die hart. Kortom, hy het geleer om ‘n jong gemeente na volwassenheid te lei en ook om leiers op te rig wat in staat sou wees om sy skoene vol te staan, sou hy die Gemeente moes verlaat. Dit was inderdaad ‘n baie vrugbare tydperk om Paulus voor te berei vir die jare van diens wat vir hom voorgelê het.

D. “DIE WEG” WORD DIE CHRISTUS WEG.

Ons neem ook kennis dat dit aan die gemeente van Antiogië te danke is dat u en ek onsself Christene kan noem want dit was in hulle midde wat hierdie naam sy oorsprong het: Christene; die Christus mense. Tot op daardie tydstip is daar oor die algemeen na die Christendom verwys as “Die Weg”, maar dit was maar ‘n vae beskrywing. Nou kon hulle antwoord: “Ons volg die Christus-weg. Christus leef in ons en daarom is ons Christene.”

E. DIE ANTIOCHIE GEMEENTE.

Ons lees Handelinge 13:1:

En daar was in die plaaslike gemeente in Antiochíë sekere profete en leraars, naamlik Bárnabas en Símeon wat Niger genoem word, en Lúcius, die Cirenéër, en Manáen, wat saam met Herodes, die viervors, grootgeword het, en Saulus. 

Hierdie gemeente was geseën met ten minste vier kragtige manne van God uit uiteenlopende agtergronde en geboorteplekke. Wie was hulle? Eerstens was daar Barnabas die Jood, oorspronklik van Jerusalem, van wie ons al verskeie kere vantevore gelees het en van wie daar in hoofstuk 11:24 gepraat word as ‘n “goeie man, vol van die Heilige Gees en van geloof”. Dan was daar Simeon, waarskynlik ‘n Swart man van Nigerië. Ook Lucius van Cirene en Manáen wat in die koninklike Herodus huis grootgeword het. Laastens ook Saulus, die vurige Fariseër van Tarsus, die man wie se getuienis van bekering sy luisteraars altyd sou boei. Hulle diversiteit op sigself sou daartoe bydra dat die verskillende soorte mense wat gedurig hierdie handelstad besoek en daar gewoon het, na die gemeente aangetrokke sou voel.

Die leiers van die gemeente het ook in twee baie belangrike bedieninge gevloei, naamlik lering en profesie. Wat behels hierdie gawes en hoe verskil hulle van mekaar?

Die Here Jesus is dikwels as “Meester” aangespreek. ‘n Onderwyser dra kennis aan sy leerlinge oor. Hy versamel inligting oor geskiedenis, aardrykskunde, wiskunde, ensovoorts en deel dit met sy klas. Om dit te doen, ontvang hy aan die begin van die jaar handboeke van die Departement van Onderwys. Dit bestudeer hy en dra dit dan bladsy vir bladsy volgens ‘n voorafbepaalde kurrikulum oor. Hy bel nie elke oggend die Minister van Onderwys en vra hom “Wat moet ek vandag vir my leerlinge leer nie?” Vanselfsprekend.

Net so het die Christen leraar die Bybel as handboek van die Here ontvang. Hy leer sy gemeente daaruit; nie altyd bladsy vir bladsy, beginnende by Genesis nie. Soms fokus hy net op sekere Boeke, onderwerpe of leerstellings soos geloof of liefde, of op Bybelkarakters soos Abraham, Josef of Moses. ‘n Kundige leraar haal kosbare geestelike lesse uit die Woord. Hy is natuurlik baie afhanklik van die Heilige Gees om die inhoud so te verduidelik dat sy leerlinge dit sal verstaan.

Die Gees moet ook hierdie waarhede vir hulle lewend maak, aktiveer. Dit is nie voldoende om petrol en suurstof deur ‘n motor se vergasser in die masjien se ontbrandingskamers in te spuit nie. Die vonkprop moet dit laat ontplof sodat die suier na onder geforseer, die krukas gedraai en die beweging na die wiele oorgedra kan word. Dit gebeur blitssnel, aanhoudend, onsigbaar, in die “hart” van die motor. Sonder die duisende vonke per minuut kan jy die masjien maar krink tot die battery pap en jy moedeloos is. ‘n Sterk petrolreuk sal aan jou die boodskap van verkwiste brandstof oordra.

Net so moet Bybelkennis diep binne-in die gees van die mens aan die brand gesteek word om die persoon geestelik in beweging te bring. Daarsonder het die mens hoogstens verstandelike geloof dat die Bybel waar is, maar nie lewende geloof nie, en Jakobus waarsku dat geloof sonder Geesgedrewe werke dood en van geen waarde is nie (Jak 2:14). ‘n Motor wat nooit by die hek uit ry en sy eienaar êrens heen neem nie, is ‘n totaal vrugtelose uitgawe: deposito, paaiemente, versekering, ‘n tenk vol petrol.

Die onderwyser/leraar, se taak eindig dus nie by die oordra van Bybelkennis nie; nee daardie “petrol” moet vlam vat sodat die leerling uit die kuipe op die hemelse pad kan kom en spoed optel wenpaal toe. Jesus se vloot van motorfietse, motors, bakkies, vragmotors, busse, skepe en vliegtuie moet oral rondbeweeg om sy Koninkrykswerk te verrig. Om êrens in ‘n parkeerterrein te staan en oproes is om die Heer se waardevolle besittings te verkwis.

Natuurlik sal die kundige leraar weet om sekere waarhede op sekere tye bo ander te beklemtoon. Sy einddoelwit is om alles wat in die Bybel vervat is, na die gedagtes en harte van sy studente oor te dra. Hy moet God se instrument wees om sy leerlinge na die beeld van Christus te herskape.

Die profeet speel ‘n ander rol. Dit is ook belangrik om uit die staanspoor daarop te let dat daar beide ‘n ooreenkoms, maar ook ‘n verskil is tussen die gawe van profesie (sien 1 Kor. 12:10 ) en die profetiese bediening wat een van die vyfvoudige bedieninge is wat in 1 Kor 12:28 vermeld word. Daar kan gesê word dat wanneer ‘n persoon gereeld, of voortdurend, in die gawe van profesie vloei, hy mettertyd deur die leierskap as ‘n profeet van God erken sal word. Sy bediening is dus ‘n profetiese bediening. Sy woorde wat aldus in die gemeente geuiter word, moet as van God en dus waar bewys word.

Maar nou, wat is profetiese woorde? Ons neem weer die voorbeeld van die skoolonderwyser. Kom ons sê dat terwyl die onderwyser besig is om fisika te doseer, kom die skoolhoof skielik in, onderbreek die les en sê vir die klas: “Ek het so pas ‘n telefoonoproep van die Minister van Onderwys ontvang. Hy het my meegedeel dat môre as ‘n publiek vakansiedag geproklameer is. Nie een van julle hoof dus môre skool toe te kom nie.” (‘n Groot gejuig gaan op.) Daardie aankondiging het niks met die normale kurrikulum van oordrag van kennis te doen nie. Dit is ‘n direkte kommunikasie van bo, van die hoogste gesag af ondertoe na die voetsoolvlak. So is ‘n woord van profesie; ‘n woord wat direk vanaf God, deur sy profeet, na sy mense vloei. Dit geniet inderdaad voorrang bo ander verrigtinge wat besig is om plaas te vind.

Hierdie woord kan kom by wyse van ‘n droom, of die fisiese hoor van God se stem, of die wegvoering na die hemel waar die persoon sekere dinge sien en hoor, of ‘n verrukking van sinne, of ‘n boodskap wat deur die bediening van ‘n engel oorgedra word. Die Here Jesus kan selfs kies om self aan die persoon in een of ander fisiese vorm te verskyn, of bloot, soos wat meestal gebeur, net deur ‘n sterk indruk wat Hy diep binne sy gees gee. Laasgenoemde is in werklikheid die Heilige Gees wat God se gedagte of boodskap aan sy gees oordra.

Dit mag kom terwyl hy die Skrif bestudeer, maar die belangrikheid is dat dit nie die uitleg van die Skrif is nie, maar ‘n woord wat direk vanaf die troon van God op daardie oomblik vloei. Daardie boodskap is bedoel vir ‘n sekere persoon, of groep, of nasie. Die oordrag is meestal by wyse van verbale kommunikasie of fisiese aksie wat die beste sal dien om God se boodskap effektief oor te dra. Die profeet is ‘n boodskapper. Hy luister na God en praat dan met mense. Die Bybelonderwyser sê “Luister, dit is die beginsels wat God jou deur Sy geskrewe Woord wil leer.” Die profeet sê: “Luister, dit is die woorde wat God nou van sy troon af met jou spreek.” 

Voorbeelde van profetiese boodskappe in die Bybel is legio. Ons vind bv hoe dat Josef die komende oorvloed en droogte in Egipte voorspel. Met daardie godgegewe kennis kon die Farao gedurende die jare van oorvloed koring opgaar vir die maer jare en ‘n ramp van sy volk afweer. Daardeur het die Here ook ‘n tydelike heenkome vir sy volk, Israel bewerk. Net so belangrik is hierdie gawe en bediening ook vir ‘n gemeente.

Ons sien dus hoe belangrik beide hierdie bedieninge is. Deur die vloei van hierdie, asook die ander drie bedieninge, bou God sy kinders op tot die volheid van Christus.

Die bediening van lering vloei deesdae wel in die meeste gemeentes, maar wat van die bediening van profesie? Vloei dit ook in u gemeente? Indien nie, bid tot die Here want Hy is die mildelike gewer van al die goeie gawes.

F. PAULUS EN BARNABAS AFGESONDER VIR SENDINGUITREIKINGS.

Handelinge 13:2,3:

En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het. 3  En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan. 

Terwyl hierdie groep leiers gevas en God aanbid het, het iets besonders gebeur. Die Here het vir hulle ‘n opdrag gegee. In die Ou Testament het profete wat by God ‘n antwoord wou kry, dikwels ‘n musikant gevra om op ‘n instrument vir hulle te speel. Terwyl hy dit doen, was die profeet beter in staat om sy vlees te onderwerp en sy gees oop te maak vir die influistering van die Gees van God. In daardie heilige atmosfeer het hy dan die verlangde boodskap van God ontvang.

Deesdae, na die uitstorting van die Heilige Gees, ontvang ons dikwels waardevolle, rigtinggewende boodskappe van God ten tyde van gemeentelike aanbidding en lofprysing. Deur sang, begelei met musiekinstrumente, behaal ons dieselfde resultaat: die wêreld om ons vervaag; ons gemoedere word stil; ons beweeg in, in sy heiligdom; ons bevind ons voor sy troon; en dan hoor een of meer daardie spesiale woord uit die mond van die Almagtige. Dit kan ook aangehelp word deur tye van vas. (O Here leer my hoe om tot U Troon te nader en U aangesig te vind!)

Dit is presies wat in hierdie gemeente gebeur het. Terwyl hulle gevas en aanbid het, het die Heilige Gees deur een of meer van die profete gespreek en gesê: “Sonder nou vir my Bárnabas en Saulus af vir die werk waartoe Ek hulle geroep het.” Almal het in hul harte bevestiging hiervan van God ontvang. Hulle het dadelik gehoor gegee, die twee mans die hande opgelê en hulle weggestuur. Alhoewel die profetiese woord nie gesê het wat God se werk vir hierdie twee broers in Christus sou wees nie, het hulle waarskynlik vir ‘n geruime tyd ‘n sterk begeerte gehad om die Evangelie na die res van die bekende wêreld te neem. Die profetiese woord sou as bevestiging gekom het en so het hulle weggegaan.

Hoeveel pastore sal, nadat hulle ‘n sterk en vinnig groeiende gemeente opgebou het, bereid wees om op ‘n oomblik se kennisgewing op te pak en aan te beweeg om nuwe kerke in die donker, afgeleë uithoeke van ander lande te gaan plant? En hoeveel gemeentes sou bereid wees om hul senior pastoor en ouderling vry te laat om die roeping van God so te volg? (Hierdie woorde skryf ek nie ligtelik nie want ek weet wat dit beteken as die Here jou lewe, en die van jou gesin, so onverwags in totaal ‘n nuwe rigting stuur.)

Laat ons voortgaan. Van hier af gaan ons net kortliks die belangrikste gedeeltes van die Skrif aanraak en veral die wat oor Paulus se bediening handel. Ons is nou maar halfpad met die boek Handelinge en sal nie in detail met die res van die 14 hoofstukke kan handel nie.

G. DIE BEGIN VAN PAULUS (EN BÁRNABAS) SE EERSTE SENDINGREIS.

Ons lees hoofstuk 13:4-12:

So het hulle dan, deur die Heilige Gees uitgestuur, afgegaan na Seleúcië en daarvandaan weggevaar na Ciprus. 5  En toe hulle in Sálamis kom, het hulle die woord van God in die sinagoges van die Jode verkondig; en hulle het ook Johannes as helper gehad. 6  En hulle het die eiland deurgegaan tot by Pafos en ‘n towenaar gevind, ‘n valse profeet, ‘n Jood met die naam van Bar-Jesus. 7  Hy was by die goewerneur Sérgius Paulus, ‘n verstandige man. Dié het Bárnabas en Saulus laat roep en het versoek om die woord van God te hoor. 
8  Maar Élimas die towenaar—want so word sy naam vertaal—het hulle teëgestaan en het probeer om die goewerneur afkerig te maak van die geloof. 9  Maar Saulus, dit is Paulus, vervul met die Heilige Gees, het die oë op hom gehou en gesê: 0  Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie? 11  En nou, kyk, die hand van die Here is op jou, en jy sal blind wees en die son ‘n tyd lank nie sien nie. En onmiddellik het daar donkerheid en duisternis op hom geval, en hy het rondgegaan en gesoek na mense wat hom by die hand kon lei. 12  Toe die goewerneur dan sien wat daar gebeur het, was hy verslae oor die leer van die Here en het geglo. 

Die eerste belangrike punt om op te let is dat nie net Paulus en Bárnabas se roéping nie, maar hul hele reis deur die Heilige Gees georkestreer was. God het ‘n plan gehad en hulle gebruik om Sy plan uit te voer. Hulle het nie die Here se krag gebruik om hulle planne uit te voer nie.

Ywerige geestelike werkers is dikwels oorywerig en bou die mure van God se Koninkryk na eie goeddunke in plaas daarvan om sorgvuldig navraag te doen oor hoe Hy dit gedoen wil hê. So ‘n produk hou nie stand nie, is ‘n verkwisting van tyd en ander middele en bedroef die Heilige Gees. Jammer, maar so beleef ek dit in eie bediening.

Van Antiogië af het hulle afgegaan na Seleucia vanwaar hulle per skip oorgevaar het na die eiland Ciprus, in die Middellandse See. Salamis was waarskynlik die eerste groot nedersetting daar waar daar ‘n sinagoge van die Jode was. Die sinagoges was natuurlik vergaderplekke vir godsdienstige mense (Jode) wat ten minste ook in die Ou Testament geglo het. Daarom het hulle oral waar hulle sou kom eers daarheen gegaan om die Evangelie te verkondig, menende dat hulle daar vrugbare aarde, oop harte sou vind.

Terloops: hulle het ook ‘n jongman, Johannes, saam met hulle geneem. Hy was dalk ‘n familielid van Bárnabas en hulle het waarskynlik gedink dat hy hulle sou kon bystaan. Ons moet egter baie seker wees van God se wil wanneer ons ander mense in ons uitreikspanne inkorporeer. Lot, wat Abraham saamgeneem het toe hy na Kanaän geëmigreer het, was vir hom meer tot ‘n las as tot seën. Johannes Markus sou wel later wonderlik deur God gebruik word, selfs om ‘n Evangelie op te teken, maar hierdie was nie die tyd en plek vir hom nie.

Van Salamis af het hulle verder gereis na nog ‘n hawedorp genaamd Pafos waar hulle bediening so ‘n impak op die gemeenskap gehad het, dat die heerser van die eiland, ‘n pro-konsul van Rome, hulle na sy woning genooi het om hom alles omtrent hierdie Jesus te vertel. Hy was duidelik, menslik gesproke, ‘n goeie man wat na waarheid en ‘n dieper sin vir die lewe gesoek het.

Die duiwel het egter lank tevore sy eie profeet, Elimas, ook bekend as Bar-Jesus (wat seun van Jesus beteken) daar geplant. Hy was ‘n towenaar en was een van die binnekring van amptenare wat na die behoeftes van Sergius Paulus, die pro-konsul, omgesien het. Hy het oor bonatuurlike kragte beskik wat hy gebruik het om die goewerneur te beïndruk. Met die aanhoor van die Evangelie, het hierdie bose man dadelik daarteen opgestaan ​​om te verhoed dat die Goewerneur uit die koninkryk van duisternis na die Koninkryk van Lig ontsnap. Bárnabas (wat beteken “seun van vertroosting”) was ‘n sagte soort mens wat eerder sou poog om versoening te bewerk as om hardhandig te werk te gaan. Dit is ‘n mooi eienskap maar nie die regte medisyne wanneer jy met die duiwel te doen kry nie.

Die hele eiland en hul leier se lewens was op die spel. Hulle moes net eenvoudig die Evangelie glo en Jesus aanneem om gered te kon word. En nou was dit Paulus, wat ‘n vreemdeling was, se woord teen dié van Elimas, wat hulle goed geken en geglo het. Wat nou gemaak? Paulus het bsef dat daar net een pad na oorwinning was: geestelike oorlogvoering. Soos Elia op die berg Karmel met die Baäl profete gedoen het, moes hy ‘n sigbare konfrontasie met hierdie gesant van satan afdwing.

Onverskrokke en reguit het hy hom hom uitgekryt vir ‘n kind van die duiwel, vol van bedrog; ‘n vyand van alles wat reg was; ‘n man wat aanhoudend die waarheid van God verdraai het om homself te pas. En toe, om die waarheid van sy woord te bewys, het hy blindheid oor hom uitgespreek. Hierin het God hom onmiddellik ondersteun en Elimas se oë met blindheid geslaan. Met uitgestrekte hande het hy pateties rondgetas en naarstiglik gepleit dat iemand hom tog moes kom lei. Die toeskouers was natuurlik bleek geskrik en wou nie naby hom kom nie; doodbang dat die toorn van hierdie God hulle ook sou tref. (Miskien kon hy later iemand omkoop om hom te help).

Sergius egter, nadat hy die boodskap van verlossing gehoor en nou ‘n demonstrasie van God se krag gesien het, het dadelik in Jesus Christus geglo. So sien ons hoe Paulus deur die Gees gelei is, deur die Gees geïnspireer en deur God as dienaar van die Allerhoogste geeer is. 

Ons woorde mag soms so broos lyk, maar wat ons onder die inspirasie van die Gees uitspreek, sal God handhaaf.

H. PERGE EN PISIDIË.

Ons lees nou hoofstuk 13 van vers 13 tot vers 15:

En Paulus en sy metgeselle het afgevaar van Pafos en by Perge in Pamfílië gekom. En Johannes het hulle verlaat en na Jerusalem teruggekeer. 14  Maar hulle het van Perge af verder gegaan en in Antiochíë in Pisídië aangekom, en hulle het op die sabbatdag in die sinagoge gegaan en gaan sit. 15  En ná die lesing van die wet en die profete het die hoofde van die sinagoge na hulle gestuur en gesê: Broeders, as julle ‘n woord van opwekking vir die volk het, spreek dan! 

Die eerste belangrike punt is dat, terwyl die naam van Bárnabas voorheen eerste gestel was waar hy en Paulus vermeld is, Paulus se naam nou voorkeur geniet. Daar word ook nou verwys na “Paulus en sy metgeselle”. Dit dui daarop dat Lukas opgemerk het dat Paulus nou in die praktyk die leidende rol oorgeneem het. Die Here se plan was besig om verder vir hom te ontplooi.

Tweedens sien ons dat hulle weer met ‘n skip verder gereis het, oorgevaar het na ‘n plek genaamd Perge in die land van Pamfilië. Die Koninkryk was besig om geleidelik voort te vloei oor Europa.

Die derde noemenswaardige feit is dat die druk vir Johannes Markus te veel geword het. Hy het nog nie die geloof gehad om al die gevare van hierdie baanbrekersreis in die duisternis van satan se domeine in die gesig te staar nie. Daarom het hy, ten spyte van Bárnabas se aanmoediging en Paulus se teregwysings, die rug op die die bediening gedraai en na Jerusalem vertrek. Hulle wat nie deur God geroep is nie, word nie deur hom bekragtig nie en vind dit onmoontlik om in eie krag te volhard.

Paulus en Bárnabas het egter verder gegaan na ‘n dorp wat ook Antiogië genoem word, maar geleë is in die land Pisidië. Daar aangekom het hulle weer ‘n Joodse sinagoge besoek. Die hoof het hulle die geleentheid gebied om ‘n woord met hulle te deel. Paulus het weer die leiding as woordvoerder geneem.

Ons gaan nie die inhoud van sy boodskap bespreek nie, maar net op die uitkoms let. Ons lees hoofstuk 13:42-52:

En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die volgende sabbat tot hulle gespreek sou word. 43  En toe die sinagoge uit was, het baie van die Jode en die godsdienstige Jodegenote Paulus en Bárnabas gevolg. Dié het hulle toegespreek en hulle probeer beweeg om in die genade van God te bly. 44  En op die volgende sabbat het byna die hele stad saamgekom om die woord van God te hoor. 
45  Maar toe die Jode die skare sien, is hulle met nydigheid vervul en het met lasterlike woorde weerspreek wat deur Paulus gesê is. 46  Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie — kyk, ons wend ons tot die heidene. 47  Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde. 

48  En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe. 49  En die woord van die Here is deur die hele land verbrei. 

50  Maar die Jode het die godsdienstige en aansienlike vroue en die vernaamste mense van die stad opgehits en teen Paulus en Bárnabas ‘n vervolging in die lewe geroep en hulle buite hul gebied verdryf. 51  Toe het hulle die stof van hul voete teen hulle afgeskud en na Ikónium gegaan. 52  En die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees. 

Net ‘n paar kort opmerkings. Let eerstens op die geweldige impak van hierdie twee manne se bediening op daardie hele streek.

Tweedens, let daarop dat dit God se tradisionele volk, die Jode, was wat die boodskap van die kruis verwerp het; diegene wat so bevoorreg was om heel eerste die Evangelie te ontvang.

Let ook daarop dat jaloesie die oorsaak daarvan was. So heftig was hulle reaksie dat Paulus en Barnabas, besef het dat dit nodeloos sou wees om hulle verder te bearbei. Soos wat Jesus Sy dissipels geleer het om te doen, het hulle die stof van hulle voete afgeskud en verder gegaan, na die volgende dorp.

Derdens bemerk ons hoe die heidene, al moes hulle ‘n volle week wag om die Woord te hoor, God se genade in Christus met blydskap aangeneem en die ewige lewe ontvang het. Dit was ‘n keerpunt in die verskuiwing van die fokus van die bediening van die Evangelie. Nie meer sou die Jode voor in die ry staan nie; nou het die heidene se beurt aangebreek.

Let vierdens daarop dat God se twee dienaars verder op hul pad gegaan het met harte gevul met blydskap en met die Heilige Gees. Mag u hart ook gevul wees met blydskap en met die Heilige Gees terwyl u God se Woord oral bedien, selfs al sou u geliefdes en u volksgenote u die rug toekeer.

I. TERUG IN ANTIOGIË.

Ten slotte lees ons hoofstuk 14:26 tot 28:

En daarvandaan het hulle weggevaar na Antiochíë, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle volbring het. 27  En toe hulle daar kom en die gemeente saamgeroep het, het hulle verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het, en dat Hy ‘n deur van geloof vir die heidene geopen het. 28  En hulle het daar by die dissipels ‘n geruime tyd deurgebring. 

Paulus en Barnabas het die Blye Boodskap van Verlossing daarna na nog baie ander landstreke en dorpe soos Ikónium, Listre en Perge uitgedra. Soms was hulle verwelkom maar op ander plekke vervolg. Paulus was selfs gestenig maar weer deur die Heer opgerig en bekragtig om voort te gaan. Toe kom die oomblik dat hulle gelei was om vireers terug te keer na Antiogië in Sirië vanwaar hulle gestuur was. Daar het hulle met vreugde verslag gedoen oor wat God deur hulle gedoen het; hoe Hy ‘n deur na die heidene geopen het.

Hierna het hulle ‘n geruime tyd eers weer in die Antiogië gemeente bedien. Maandelange sendinguitreikings is en was nie speletjies nie; vlees en bloed moet soms ‘n blaaskans gegun word. Wie weet dit beter as Jesus self; Hy wat self die eerste sendeling was, maar sonder ‘n eie huis, hawe of gemeente.

//////////

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK →  Antiochie en Paulus se eerste sendingreis. Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

//////////

ONS HOOR GRAAG VAN U. GEBRUIK ASB DIE ONDERSTAANDE KONTAKVORM.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha