Bartiméüs kan weer sien; Luk 18:35 – 43

HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.

Lees asb. Luk. 18:35-43 (Sien ook Mark 10:46).

Die dilemma van ‘n blinde.

Hier het ons ‘n man in nood. In Mark 10:46 word sy naam aangegee as Bartiméüs. Hy was blind en kon dus nie werk om sy eie brood te verdien nie. Dit was nogal ‘n ramp want in sy tyd was daar nie pensioene of werk vir gestremdes nie.  God se opdrag aan Sy volk om voorsorg vir die armes te maak soos opgeteken in Lev. 23:22 is ook nie meer nagekom nie, sodat diegene maar aan hulle lot oorgelaat was.

“Waar ‘n wil is, is ‘n weg.”

‘n Man wil darem ook nie dag vir dag by die huis sit en vanaand uit ‘n ander se bord eet nie; so wat bly oor? Wel, hy het darem ‘n hele aantal ander seëninge van die God van sy vaders ontvang; een daarvan was ‘n gesonde liggaam wat hitte, koue, reën en wind kon trotseer en dit was wat ‘n mens nodig gehad het vir die “bedelaarsberoep.” Het die Here dan nie vir koning Saul gesê: “Doen dan wat jou hand vind om te doen” nie?

Geloof in aksie.

So het hy dan elke oggend sy trots in ‘n doek toegevou en in sy kooi versteek, sy wandelstaf en bedelbakkie opgeneem en dan het ‘n vriend of kind hom gelei na ‘n strategiese punt langs die pad net buite Jerigo waar “baie voete” verbygegaan het. Daar het hy dan van vroeg tot laat sit en bid en bedel. Wanneer hy iemand se sandale op die gruis klippertjies hoor knars, het hy sy bedelbakkie met ‘n paar klippies in, geskud om die verbyganger se aandag te trek. Vir hierdie “job” moes ‘n man verwagting hê, hoop hê, anders sou jy dit nie lank uithou nie of sommer net daar in die skroeiende son aan die slaap raak. Dit was amper soos visvang. Soms het hy die voetstappe hoor ophou, die geklingel van ‘n sakkie met munte en dan het ‘n munt in die bakkie geklater. “Die Here seën u!” het hy dan hees uitgeroep en haastig die geldstuk uit die bakkie gekrap voordat ‘n kwajong dit kon steel, gevoel-voel om die waarde daarvan te bepaal en sy totale opbrengs vir die dag te bereken. Laat middag het hy die muntstukke wat hy ontvang het in ‘n bondeltjie toegebind en aan sy lyf versteek, dankbaar dat hy iets gehad het om aan sy familie te kon deurgee om kos en ander benodigdhede vir hulself en vir hom te kon aankoop.

Geloof kan volhard deur dik en dun.

Dit was ‘n vernederende situasie. Almal het op hom neergekyk; soms neerhalende uitlatings gemaak, hom toegesnou dat hy te lui was om te werk. Dit was ook ‘n baie vervelige bestaan. Die een dag net soos die ander. Net die weer het verander. Soms was dit skroeiend warm, dan weer het ‘n koue wind gewaai en het dit begin reën, onverwags, en was hy sopnat teen die tyd dat iemand hom na ‘n skuiling toe kon lei. Miskien kon hy ook nie trou en ‘n gesin hê soos ander mans nie. ‘n Vrou wil mos graag met ‘n welvarende man trou; iemand wat goed vir haar en haar kinders sal kan sorg. Maar hy Bartiméüs, hy was ‘n net ‘n oorlas. Waarom het God dit so toegelaat?

Hy het ook ander seëninge ontvang wat hy kon benut.

Hy het ore gehad wat kon hoor, ‘n helder verstand wat diep kon dink en ‘n tong en ‘n stem sodat hy met andere kon kommunikeer. Hierdeur was hy darem in kontak met ander mense, deur wie se oë hy na die wêreld kon kyk. Hulle, sommige waarvan hy geken het, het van verafgeleë dorpe allerhande nuus na hom toe gebring. Sodoende het hy elke dag baie inligting ontvang en was op die hoogte van wat tot in afgeleë plekke aangegaan het.

‘n Oorvloed van tyd om te peins en tyd om te bid.

Hy het ook die tyd gehad om te kon nadink oor dit wat hy gehoor het, asook oor die lewe as sulks. Vanuit sy gees kon hy ongehinderd met die onsigbare God kommunikeer en God met hom. Moontlik het die Heilige Gees dan ook met hom gepraat oor die dinge waarvan hy gehoor het wat oral in die land besig was om te gebeur. Byvoorbeeld oor die wonder wat in Nasaret meer as 30 jaar tevore gebeur het toe ‘n maagd met die naam van Maria geboorte geskenk het deur die salwing van die Heilige Gees en dat daardie Seun, by name Jesus, wat beteken Verlosser, nou besig was om baie dorpe te besoek, dooies op te wek, siekes gesond te maak, melaatses te reining en die wonderlikste waarhede te leer wat die hart van die volk geraak en hulle gees opgewek het.

En toe, op ‘n dag …

En toe, op ‘n dag, hoor hy die opgewonde gebabbel en uitroepe van ‘n groot skare mense wat al nader en nader kom. Hy kom haastig orent en roep uit: “Wat gaan aan? Waarom al die opgewondenheid?” Iemand antwoord: “Dit is Jesus van Nasaret. Daar is Hy in die middel van die samedromming. Hy gaan hier reg voor ons in die pad verby kom!” Bartiméüs se hart spring wild op van vreugde. “Loof Jehova!  Ek kon nie na Hom toe gaan nie, maar die God van Abraham, Isak en Jakob het Hom, die Seun van Dawid, ons lang-verwagte Messias na my toe gebring!”

Nou of nooit!

Van daardie moment af kon niemand en niks hom meer teëhou nie. Hy het rondgetrap, op en af gespring, sy hande uitgestrek in die rigting waar hy die mense kon hoor beweeg en so hard as wat hy kon, uitgeroep: “Jesus, Seun van Dawid, wees my genadig!” Hy het ‘n paar struikelende  treë vorentoe geneem en nog harder geroep: “J-e-s-u-s, Seun van Dawid, wees my genadig!”  Oor en oor en oor het hy al harder en harder geroep.

Skaamtelose geloof stuit nie vir teëstand nie.

Die leiers van die groep was besig om geirriteerd te raak en het hom boos aangekyk. Hulle was saam met Jesus op pad en hierdie ou nikswerd blinde bedelaar het hulle opgehou.  Hulle het hom ernstig bestraf: “Jy daar, bly tog stil man, gaan sit.”  Maar hy het geen ag op hulle geslaan nie.  Hy sou nooit in sy lewe weer ‘n geleentheid vind om sy sig te herwin nie en het vorentoe gestruikel terwyl hy teen die mense stamp, en weer,  en weer uitgeroep: “Jesus, Seun van Dawid, wees my genadig! Jesus, Seun van Dawid, wees my genadig! Jesus, Seun van Dawid, wees my genadig!”  Nou het ál die gesigte na hom toe gedraai.  Alle gesprekke is gestaak.  Hulle kon nie glo dat enigiemand so ‘n oorlas van homself kon maak nie.  Hulle het natuurlik nie verstaan nie, want hulle was nie blind nie.  Hulle het nie ‘n behoefte gehad om daar en dan ‘n wonder in hulle lewens te beleef nie.  Hulle kon die Here Jesus na ‘n volgende dorp toe volg.  Hulle kon wag vir ‘n ander dag.

Geloof beskaam nie; dit word beloon.

Net toe hy dink dat sy uitroepe tevergeefs was, gaan Jesus staan, draai in sy rigting en beveel sy dissipels om hom nader te bring.  Deur hulle ondersteun, beur hy skuifelend vorentoe terwyl die skare stil word in afwagting van wat nou sou gebeur.

Jesus het die ligblou vliese oor die oogappels gesien, tipies dié van ‘n blinde man en die trane wat oor die son-verbrande wange vloei.  Hy het die gesig gesien, vertrek van emosie en die uitgestrekte pleitende arms en Sy hart het versmelt.  Toe vra Hy hom; “Wat wil jy hê dat Ek vir jou  moet doen?”  Stotterend het die woorde oor die bewende lippe gerol: “Here, dat ek kan sien.”  Stilte. “Sien!” gebied Jesus. En toe, in ‘n oogwenk klaar sy jarelange duisternis op en sien hy sy wonderwerkende Weldoener hier reg voor hom staan, omring deur ‘n menigte van gesigte wat in stomme verbasing na hom staar, na hom die blinde bedelaar wat siende geword het.

“Jou geloof het jou gered!” vervolg die Here terwyl Hy met teerheid in sy oë kyk. Bartimeüs se hande gaan stadig op na sy oë, druk die ooglede toe, neem sy hande weer weg. Nee hy verbeel hom dit nie. Hy kan  alles om hom sien. Dit is ‘n werklikheid!

My geneesheer, my Messias!

Dan stap Jesus verder. Bartimeüs volg op Sy hakke met uitbundige uitroepe van lof en vreugde. Hy het nie net sy sig ontvang nie maar ook sy Messias, sy langverwagte Messias. Sy lofprysing werk aansteeklik en een vir een val die res van skare in, totdat die mure van  Jerigo weergalm met lofprysing en aanbidding. Die hele insident het waarskynlik slegs twee minute geduur, maar die grootheid daarvan sou deur al die eeue wat volg op mijoene mense se lewens ‘n impak hê.

Wat sê God hierdeur vir jou en my?

Wat ons uit hierdie insident leer, is dat God van Sy kant af geleenthede vir ons skep waarbinne ons behoeftes vervul kan word, of dit nou ookal geestelike verlossing is, liggaamlike genesing, finansiële voorsiening, opklaring van huwelikswrywing of wat ook al, maar van ons kant af moet ons, ons hele hart gee in gebed en geloof, sodat ons dit wat ons begeer kan verkry.


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → BARTIMEUS . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha