Bekering waterdoop en wandel met God

OMDRAAI!

A. BEKERING

Ons het reeds in ‘n vorige Bybelstudiegids ‘n voorbeeld van ‘n bekeringsgebed gegee. Miskien het jy nog nie daardie stap geneem om jou lewe totaal en al aan die Heer oor te gee nie. Dan wil ek jou graag nog ‘n geleentheid om dit sommer nou te doen. Waarom? ‘n Mens wat hom nog nie tot God bekeer het nie, is nog deel van die donker wêreld. In daardie wêreld is die duiwel die koning van almal wat daarin leef. Hulle doen sy wil sonder om dit te besef selfs al is hulle ook baie ordentlike kerkmense.

Ons het mos gelees hoe die apostel Petrus die mense op Pinksterdag gewaarsku het: “Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag”. Ja die mensdom wat nie gered is nie, is een groot familie, geestelike broers en susters van mekaar met een en dieselfde pa. Dit lees ons in die Evangelie van Johannes:

Joh 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen.

Wat ‘n aaklige waarheid word hier aan ons geopenbaar! Niemand van ons wil tog aanhou om as kind van die bose gereken te word nie.

.

B. GOD HET DIE REG OP JOU EN MY LEWE

Hierdie aarde waarop ons almal woon, behoort tog aan God: Hy het dit mos gemaak (geskape). Daarom is dit alles syne: die aarde en alles wat daarop is; ook ek en jy.

Maar toe ons begin het om sonde te doen, het ons soos stoute kinders, ons goed gevat en weggeloop uit sy huis uit en vêr weg, tussen die duiwel se mense gaan bly. Dit is ‘n slegte familie en ons hoof nie ‘n oomblik langer daar te bly nie. Ons het mos ‘n eie wil en kan kies aan wie ons wil behoort. As ons nie kies nie, bly ons net daar waar ons is. Maar as ons nou kies om onsself aan die Here te gee, behoort ons dadelik aan Hom. Dan sal ons begin om hier op aarde saam met Hom te loop, oral waar Hy gaan en na die dood sal ons by Hom in Sy hemel huis gaan woon.

.

C. ‘N BEKERINGSGEBED

Om jouself aan die Heer oor te gee, kan jy soos volg bid (as jy dit nie alreeds gebid het nie):

“Here ek loop jarelank al my eie pad. Ek behoort nie aan U nie. Ek erken dat U alles gemaak het en die reg op alles het. U het ook die reg op my lewe. Ek gee myself nou vir altyd aan U oor. Ek glo dat Jesus U Seun is en aan die kruis gesterf het om my sondes te betaal sodat U my kan vergewe. Dankie dat U my nou as U kind aanneem en in my kom woon. Amen.

As jy in alle opregtheid hierdie gebed gebid het, kan jy seker wees dat die Here jou as sy kind aangeneem het want Hy het dit belowe:

Joh 1:12 Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; 

 .

D. DIE WATERDOOP VAN WEDERGEBORENES

  • Rede vir die doop

Nou dat jy weergebore is, moet jy in water gedoop word om aan God en die mense te wys wat in jou lewe gebeur het.

Kol 2:12 … omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.

Wanneer jy gedoop word, sal jy agteroor onder die water gedompel word soos wat ‘n dooie mens in ‘n graf weggelê word. Daarmee sal jy sê dat jy jou ou sondige self (geaardheid) aan die dood oorgee het.

Wanneer jy daarna weer uit die water opgelig word en regop staan, sê jy daarmee dat jy glo dat die Heilige Gees jou as ‘n nuwe, weergebore kind van God laat opstaan net soos wat Hy Jesus uit die graf lewendig gemaak het. Van dan af aan sal jy net soos Jesus deur die krag van die Heilige Gees lewe.

Rom 6:4 “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”

  •  Waar en deur wie ’n mens gedoop moet word

Dit moet gedoen word waar almal dit kan sien en kinders van die Here sowel as hulle wat nog nie hul lewens aan God oorgegee het nie, moet genooi word om by te wees.

Laat ‘n Christen leier vir wie almal respek het, jou doop, maar laat hy eers vir almal wat daar is, verduidelik waarom jy gedoop word.

Dit sal goed wees as jy self ook eers vertel hoe dit gekom het dat jy jouself aan God oorgegee en Jesus as Verlosser aangeneem het.

 .

E. LOOP NOU SAAM MET JESUS

Bekering, wedergeboorte en die waterdoop is maar net die begin van ons saam loop met God; dit is soos die wegspringstreep in ‘n lang resies. Nou volg die lang, lang pad wenpaal toe: ure, dae maande jare, selfs 100jaar, as jy solank sal leef. Jesus was die Hek waardeur jy op die hemelse pad gekom het en Jesus is die Pad waarop jy moet bly totdat jy deur die hemelpoort ingaan. Hy self sal sonder ophou by jou wees.

Hier is ‘n paar dinge wat belangrik is op hierdie hemelse pad:

  • Geniet dit om om saam met die Here saam te stap

 Psa 37:4  en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. 

  • Wees vrolik en opgeruimd

 Fil 4:4 Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! 

  •  Moet jou nie bekommer nie; vertrou die Heer

Fil 4:6 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. 

  • Dink gedurig aan goeie dinge

 Fil 4:8 Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit. 

  • Bely jou sonde en vergeet dit

Wanneer jy per ongeluk iets verkeerds doen, bely dit dadelik aan die Here en vergeet dit dan.

 1Jn 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. 

  • Lees jou Bybel

Koop vir jou ’n Bybel en lees dit elke dag. Begin voor en lees dit deur. Onderstreep die tekse wat jou hart raak. Die Woord van God is die lig op jou pad en melk en brood vir jou siel.

Psa 119:105 U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad. 

Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan. 

  • Bid vir jouself en vir andere en loof ook die Here

 Luk 11:9  En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10  Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. 11  En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ‘n klip gee; of ook ‘n vis, en hy sal hom in plaas van ‘n vis ‘n slang gee; 12  of ook as hy ‘n eier vra, hom ‘n skerpioen gee? 13  As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid? 

 Psa 29:2  Gee aan die HERE die eer van sy Naam; aanbid die HERE in heilige sieraad! 

  • Getuig

Vertel dikwels vir andere van die goeie dinge wat die Here vir jou doen. 

Hand 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.  

  • Word deel van ‘n Christen groep soos ’n kerk of selgroep

 Hand 2:46 En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, 

 Heb 10:25  en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom. 

 VREDE EN VREUGDE !

//////////

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → 11 Bekering, waterdoop en wandel met God . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha