Bestaan God werklik?

SY SKEPPING SPREEK VAN HOM

A. GOD OPENBAAR HOMSELF DEUR DIE NATUUR

Jou vraag, of daar ‘n God is, wys dat jy diep nadink oor hierdie baie belangrike saak. Dit is ‘n vraag wat sin maak en dit is ‘n vraag waarop God baie duidelike antwoorde gee.

Eerstens doen Hy aan die hand dat jy net ‘n bietjie rondom jouself heenkyk en jouself die vraag afvra waar dit alles dan vandaan kom. Kon die son, die maan en die sterre hulle self gemaak het of ken jy iemand wat selfs net een klein sterretjie kon gemaak het. Besin oor die ontsaglike afmetings van alles. Wanneer jy kyk na ‘n grasbesem waarmee ‘n vrou besig is om haar werf te vee, sal jy nie baie beïndruk wees daarmee nie want jy kon dit self ook maar gemaak het, maar kyk jy op en sien daar ‘n reuse straler deur die blou lug klief, sal jy onmiddellik tot die gevolgtrekking kom dat dit ‘n baie intelligente persoon met groot bronne tot sy beskikking moes gewees het wat daardie vaartuig gemaak het.   Neem ‘n handvol sand en dink daaraan dat selfs nie die slimste wetenskaplike net een klein korreltjie daarvan uit niks kon gemaak het nie.

Ja die werke van God is ontsagwekkend en wanneer ons dit in alle eerlikheid betrag, moet ons erken dat daar waarlik ‘n God is.

Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. (Rom 1:18-21)

Die Here sê dus ook in sy Woord dat Hy homself in die natuur aan die mens openbaar, maar dat die mens willens en wetens hierdie geopenbaarde kennis ignoreer omdat hy Hom nie wil dien nie.

‘n Os ken sy besitter en ‘n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie. (Jes 1:3).

Ja ‘n dom dier weet wel aan wie hy behoort, wie vir hom sorg en wie hy dus moet gehoorsaam, maar die slim mens gee voor dat hy onbewus is van die Een wat hom gemaak het, wat die son gee om sy omgewing vir hom te verwarm  en te verlig, en die lug wat hy kan inasem om suurstof in sy bloedstroom te plaas sodat hy lewend en gesond kan wees.

 B. GOD OPENBAAR HOMSELF DEUR SY WOORD

Wat nie in die natuur so duidelik is nie, word bykomend deur die Bybel openbaar. Die Woord bevat al die inligting wat die mens nodig het om God te kan leer ken en om met Hom te kan wandel.

Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. (2 Tim 3:16,17)

C. GOD OPENBAAR HOMSELF DEUR SY GEES

Lees asseblief Spreuke 1: 20 – 33. Die Heilige Gees wat hier “Wysheid” genoem word, is gedurig besig om tot die mens te spreek, maar die mens herken nie daardie innerlike stem as die stem van God nie. Wanneer ‘n persoon egter sy lewe aan die Here oorgee sodat Hy binne-in hom kan woon, getuig die Heilige Gees teenoor sy gees dat hy nou ‘n kind van God is.

Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; (Rom 8:16)

KOMMENTAAR: U opmerkings is vir ons waardevol. Om kommentaar te lewer, gaan asb. heel onder aan die blad na “Leave a Reply,” klik op “login”, registreer en lewer jou kommentaar.

NAVRAE OF VERSOEKE: Indien jy meer inligting wil bekom of ‘n versoek wil rig, klik asb hier en gebruik dan die raam wat daarvoor voorsien word.

DEEL MET ANDERE: As jy die studiegids geniet het, deel dit asb. met jou vriende en kennisse deur middel van die sosiale media soos Facebook, ens. So vat ons hande om die Goeie Nuus uit te dra.

KOPIEËRING: Hierdie studiegids mag gratis vir persoonlike gebruik afgelaai en gedruk word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *