Blydskap, SSG



Aangesien hierdie ‘n selfstudiegids is, gee ons in DEEL EEN net ‘n aantal opskrifte met een of twee tekse daarby. U moet dan u eie gedagtes of kommentaar onder elke opskrif opteken. Wanneer u almal klaar afgehandel het, kan u na DEEL TWEE van die gids gaan waar òns bondige kommentaar aangeteken is en dit met u eie gedagtes vergelyk.
 DEEL EEN

.

A. WANDEL IN DIE AANDWINDJIE

En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; (Gen 3:8).

B. GROOT BLYDSKAP

En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig. En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is. (Luk 2:9-11).

En skielik was daar saam met die engel ‘n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae! (Luk 2:13,14).

C. AANBID HOM IN GEES EN WAARHEID

 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. (Joh 4:24)

D. VERLUSTIG JOU IN HOM

 … en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart (Ps 37:4)

E. LOFPRYSING IS ‘N SIMFONIE

 Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! (Psa 103:1).

F. ‘N SINGENDE HART

Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here. (Efes 5:19).

G. DIE HERE GENIET JOU VROLIKHEID

Verder het hy vir hulle gesê: Gaan, eet lekker spys en drink soet dranke en stuur porsies aan hulle vir wie niks berei is nie; want hierdie dag is heilig aan onse Here. (Neh 8:11).

H. JESUS SE VREUGDE

U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle; (Heb 1:9).

I. AANHOUDENDE BLYDSKAP

Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! (Fil 4:4).

Wees altyddeur bly. (1Th 5:16)

... saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig. (Psa 30:6).

J. BLYDSKAP IN KRANKHEID

Die gees van ‘n man ondersteun hom in sy krankheid; maar ‘n verslae gees—wie kan dit opbeur?  (Spr 18:14)

K. BLYDSKAP BIED BESKERMING

En die muur is voltooi op die vyf en twintigste van Elul, in twee en vyftig dae. (Neh 6:15) 

Verder het hy vir hulle gesê: Gaan, eet lekker spys en drink soet dranke en stuur porsies aan hulle vir wie niks berei is nie; want hierdie dag is heilig aan onse Here. Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE—dit is julle beskutting (Neh 8:11). 

L. DANS VOOR DIE HERE

En toe die draers van die ark van die HERE ses treë geloop het, het hy ‘n bees en ‘n vetgemaakte kalf geoffer. Daarby het Dawid met alle mag gedans voor die aangesig van die HERE; en Dawid was omgord met ‘n linneskouerkleed. So het Dawid en die hele huis van Israel dan die ark van die HERE met gejuig en basuingeklank opgehaal. (2Sam 6:13-15).

Wees bly in die HERE en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart! (Psa 32:11).

M .VERSADIGING VAN VREUGDE

U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.  (Psa 16:11)

DEEL TWEE

.

A. WANDEL IN DIE AANDWINDJIE

In die Paradys was daar geen afstand tussen God en mens nie. Daar het Hy met hulle rondgewandel, gesels en gehoor watter name hulle aan die diere gegee het. Hulle het mekaar geniet. Toe kom die sondeval en verbreek daardie heerlike samesyn. Maar die Heer het sy mensvriende gemis en stuur sy Seun om daardie versuurde betrekking weer soet te maak.

B. GROOT BLYDSKAP

Jesus herstel vir ons die salige, soete belewenis van gemeenskap met ons Skepper. Ons stap hom in die wandelgange diy hemelse paleis van sy Vader, gekleed in die skitterblink kleed van heiligheid wat Hy vir ons met sy Bloed gekoop het.

C. AANBID HOM IN GEES EN WAARHEID

Ware aanbidding, kom uit ‘n hart wat dit geniet om Hom te aanbid. Of is ek dalk soos die liedjie sê ‘n “Cold hearted lover,” teenoor my Hemelse Bruidegom?

D. VERLUSTIG JOU IN HOM

Om in jou gees met die Heilige Gees intiem om te gaan, moet die grootste plesier wees wat jy kan belewe; die kersie op die koek van jou bestaan; die lekkerste lekker in jou lewe. Jou oë is toe en ‘n breë glimlag verhelder jou gelaat. Jy is doof vir wat om jou aangaan. Soms blink die trane onder jou wimpers. Die hemel het in jou hart oopgegaan. Jy is besig om jou te verlustig in die Here; in die warmte van sy liefde, in die blinkende reinheid van sy wese. Jou begeertes verander. Die verlange na aardse goedere verdof. Al wat jy begeer is om gedurig by Hom te wees en soos Hy te wees. Die etensklok lui en jy moet terugkeer na die aardse lewe maar jy bring ‘n stukkie hemel saam: nuwe begeertes en sien hoedat die Here hulle vir jou en in jou vervul.

E. LOFPRYSING IS ‘N SIMFONIE

Wanneer al die snare van my hart in harmonie met die wil van die Heer ingestel is, gaan ‘n pragtige simfonie van lofprysing op na Sy Troon.

F. ‘N SINGENDE HART

Vir elke soort voël het die Here ‘n eie lied in sy hart gegee om sy Skepper mee te loof; vir die mens die vermoë om duisende liedere te dig en te komponeer om God en mens se hart te verbly. ‘n Mens kan nie gelyktydig sing en byt nie – probeer dit gerus.

G. DIE HERE GENIET JOU VROLIKHEID

 Om vrolik te wees voor die aangesig van die Here is net so heilig as om ernstig te wees.

I. JESUS SE VREUGDE

Jesus was gedurig aangeval, moes soms in die veld slaap, het bitter min tyd vir homself gehad en tog was Hy ‘n buitengewoon vrolik en opgeruimde mens wat dit geniet het om andere vrolik te maak.

 J. AANHOUDENDE BLYDSKAP

Aanhou en aanhou en aanhou bly wees, onder alle omstandighede. Soos wanneer ‘n grys-donker wolk skielik uitsak maar oorwaai. Daar breek die son weer deur en skitter sy lig uit ‘n duisend druppels.

Ons was by geleentheid by die begrafnis van ‘n jogman wat in ‘n gasontploffing verbrand het. Sy Christen moeder het sy laaste ure by hom deurgebring. Terwyl sy daardie ondervinding met ons deel, het die trane gevloei. Dan skielik weer was daar ‘n vrolike humoristiese laggie. Haar verlustiging in die Heer was ononderbroke.

J. BLYDSKAP IN KRANKHEID

Opgeruimdheid maak jou siekbed draaglik terwyl ‘n morbiede uitkyk jou lyding vererger.

K. BLYDSKAP BIED BESKERMING

Dit gaan hier oor oor die herbouing van die vervalle mure van Jerusalem onder leiding van Nehemia. Die vollk het het baie, baie hard gewerk en binne ‘n verstommende kort tydjie was die werk voltooi.

 Die mure van die bouers se harte het agter nog plat gelê, verwoes deur ‘n leeftyd van sonde. Daarom het Esra hulle bymekaar geroep en die Wet urelank aan hulle voorgelees en uitgelê. Hulle is diep in die hart getref en het onophoudelik hardop geween.

Maar die leiers het ook geweet dat die Here die mens nie gemaak het om aanhoudend in trane te wees nie. Net soos dit vir ons lekker is om ons kinders vrolik te sien baljaar, geniet ons Hemelse Vader dit ook. Daarom:

 Verder het hy vir hulle gesê: Gaan, eet lekker spys en drink soet dranke en stuur porsies aan hulle vir wie niks berei is nie; want hierdie dag is heilig aan onse Here. Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE—dit is julle beskutting (Neh 8:11). 

As daar ‘n mens is om wie die duiwel wye draaie loop, is dit die een wat vrolik is in die Here. ‘n Vrolike van hart is vir hom bitter moeilik om te verlei. Ons blydskap maak die lewe nie net ‘n fees nie maar beskut ons ook teen die aanvalle van bose.

L. DANS VOOR DIE HERE

Bekleed in ‘n linne skouerkleed dans die koning van Israel voor die KONING van hemel en aarde. Ware genot is nie om op die grootste troon op aarde te sit en bedien te word nie maar om self ‘n uitbundige danser op die dansvloer van die Koning van konings te wees. Het u al in gemeentelike byeenkoms spontaan voor die aangesig van die Here van vreugde gedans?

M. VERSADIGING VAN VREUGDE

Die pad van die Lewe lei na die dansvloer voor die Troon waarop die Ewige sit met die septer van die lieflikhede van geregtigheid, vrede, liefde en vreugde seënend uitgestrek oor sy kinders, sy burgers, sy bruid.

//////////

KLIK HIER OP BLYDSKAP SSG OM HIERDIE STUDIEGIDS IN PDF FORMAAT AF TE LAAI OF UIT TE DRUK.

SIEN OOK DIE LYS VAN ANDER STUDIEGIDSE (“MENU”) BOKANT ⇑, REGS VAN ⇒, OF ONDERKANT ⇓ HIERDIE BLAD

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha