BUNGEE-SPRING
Daar is baie soorte sport waaraan ons as mense deelneem waarvan die meer populêres in Suid Afrika waarskynlik sokker, rugby, netbal, krieket en golf is. Dan is daar ook Bungee-spronge waarmee die meer waaghalsiges hulself vermaak.
Vir hulle is die Blaubergbrug op die Tuinroete ‘n groot aantrekkingskrag. Dit is 216-meter hoog. Die voornemende springer stap op ‘n platvorm uit tot by die punt vanwaar hy moet afspring. Daar word sy voete met ‘n harnas aanmekaar vasgebind wat met ‘n rekbare koord aan die platvorm verbind is. Kyk hy af na onder, sien hy net hierdie ontsaglike afgrond met die riviertjie wat daaronder kronkel; ruwe rotse langsaan. Nou moet hy finaal besluit: spring of terugdraai. Hy haal diep asem, strek sy arms uit na bo, en … duik van die brug af in die hoop dat die koord sal styftrek en sy val sal stuit voordat hy onder grondvat. Terwyl hy vryval beleef hy blykbaar ‘n geweldige sensasie van vryheid en bereik ‘n spoed van tot 220km/u.
Sodra hy die platvorm verlaat, is hy aan die genade van die koord oorgegee en kan die instrukteur niks meer vir hom doen nie. Alhoewel meeste van die aanbieders van hierdie vermaak verantwoordelik en versigtig is, sluip menslike foute tog in en het verskeie springers hulle al op die grond daaronder te pletter geval, self kinders, ‘n tweeling wat deur hul ouers aan hierdie gevaar oorgegee is. Ja, dit is ‘n sportsoort vir avontuursoekers.
ADAM EN EVA SE BUNGEE SPRONG NA BELOOFDE VRYHEID
Die heel eerste ouers van die menseras het, soos ons weet, ‘n baie groter kans gevat. God het hul gewaarsku dat hul verseker hul lewens sou verloor as hulle die vrug van ‘n sekere verbode boom sou eet, maar op advies van ‘n bedrieër, het hulle dit tog gedoen. Ons lees hierdie verhaal in (Gen 3:1-7):
Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.
Dit was die slegste besluit wat die mens ooit geneem het. Die oomblik toe hulle ‘n hap uit die vrug vat, het hulle hul fout besef, maar was dit reeds te laat. Hulle kon nie hulle sondige daad ongedaan maak deur die stukkies vrug haastig weer uit te spoeg nie. Innerlik het hul geestelik gesterf en allerhande bose gedagtes het van hulle besit geneem. Skielik was hulle ook bang vir God met Wie hulle al die tyd sulke goeie vriende was.
Hulle het hulself geskaam en hul naaktheid met vyeblare probeer bedek maar hoe hard hulle ookal gepoog het, kon hulle dit nie regkry nie. Deur die inbyt in die vrug het hulle gekies, dws “gespring”. Hulle kon nie weer terugtree na die veiligheid van die brug nie en God het hulle weggestuur uit die tuin van onskuld en oorvloed. Toe het hul liggame ook agteruit begin gaan en het Adam en Eva, net soos ons vandag, gesterf.
ÓNS BUNGEE SPRONG NA BELOOFDE VRYHEID
Maar hoe raak dit ons; ons het mos nie van die verbode vrug in die Paradys geeët nie? Of het ons? Ja, ons het. Wanneer ‘n kind gebore word, weet hy nog nie van God nie en al is hy stout, sondig hy nie teen Hom nie. Mettertyd egter, besef hy dat daar ‘n God is en dan moet hy kies om hierdie God wat hom, en die aarde waarop hy woon, geskape het, te dien, of nie te dien nie. Dit is dan, wanneer hy besluit om homself eerste te plaas, dat hy sy lewe in sy eie hande neem en die oomblik wat hy dit doen, spring hy sonder ‘n reddingskoord af van die brug van God se teenwoordigheid en tuimel hy vir die res van sy lewe na sy ewige dood, weg van die aangesig en nabyheid van God af.
Ook kan ‘n mens wat sy eerste sonde gepleeg het en besig is om te val, nie deur sy eie toedoen weer agteruit terugbeweeg na die veilige plek waar hy vroeër by God gestaan het nie. Selfs sy ouers en ander geliefdes moet magteloos toekyk hoe hul dierbares onkeerbaar na die ewige dood tuimel. So is die geestelike hemelruim dan op hierdie oomblik vol van miljoene mense wie se ewige dood ‘n sekerheid is.
Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood. (Spr 14:12)
HOOP VIR DIE VALLENDE MENSDOM
Is daar dan nie tog enige hoop vir hierdie vallende menigtes nie? Ja daar is: daardie hulp is van God.
Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het. (Psa 121:1,2)
Hy alleen kan ‘n vallende persoon tegemoetgaan en uit die lug uit gryp.
U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. (Psa 139:5)
Niemand is daar soos God, o Jesúrun, wat oor die hemel ry as jou hulp, en oor die wolke in sy hoogheid. Die ewige God is ‘n woning, en onder—ewige arms; … (Deu 33:26, 27)
Roep My aan in die dag van benoudheid en ek sal jou uithelp ... (Ps 50:15).
God alleen ry oor en met die wolke deur die hemelruim; Hy alleen kan jou uit jou dodelike val na benede ruk en jou soos ‘n klein kindjie in Sy magtige arms na veiligheid dra.
Nie die gapende afgrond onder jou of enige ander persoon of krag sal enige mag meer oor jou hê nie en niemand sal jou uit Sy hand ruk nie.
En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. (Joh 10:28)
Toe Sy Seun, Jesus, aan die kruis gesterf het, was dit ook vir jóu sonde, die sonde wat jy begaan het toe jy daardie besluit geneem het om oor die afgrond van sonde te spring. Daarna was dit verby en het die een sonde na die ander jou elke dag verder laat wegval van God af en jy kon nie daarteen veg nie.
Maar kyk na die prent van Jesus aan die kruis: Sy arms is wyd oop, Hy ryk uit na jou, Hy wil ook vir jou gryp en en vashou. Hy wil jou insluit by die mense vir wie Sy dood betaal het. Hy wil tog nie dat enigeen verlore gaan nie.
Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, … ? (Eze 33:11)
Die Here God kon die mens nie keer om van daardie platvorm, daardie brug af te spring nie want Hy het die mens na Sy Beeld geskape en daarom moes die mens sy eie vrye keuse kon uitoefen, maar toe die Here die mens sien spring, het ‘n pyn soos ‘n messteek deur Sy hart gegaan en het Hy dadelik beplan om Sy geliefde Seun te stuur om Adam en Eva se sonde aan die kruis te betaal sodat hulle en hul nageslag nog ‘n kans kon kry om te kies; om hierdie keer reg te kies. Moet tog nie hierdie kans verby laat gaan nie.
DIE EWIGE DOOD
Die ewige dood is onbeskryflik aaklig. Kan jy jouself voorstel hoe veskriklik lyk ‘n geliefde wie se liggaam meer as 200meter vêr sonder ‘n lewenslyn op die rotse daaronder geval het? Afgryslik. Veel erger is die toestand van ‘n persoon wat in die verdoemenis beland het omdat hy nie die ewige lewe van God ontvang het nie!
En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.
En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.
Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.
En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur—want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.
Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister. Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan. (Luk 16:23-31)
DIE DUIWEL WIL ONS IN ELLENDE DOMPEL MAAR GOD WIL HEERLIKHEID GEE
Dierbare vriend, die duiwel het ons verskriklik bedrieg. Hy het vir ons belowe dat ons heerlik vry sou lewe sonder om deur God se heilige lewe gebonde te wees. Maar hy het nooit vir ons gesê dat ons nie soos ‘n voël sou sweef nie, maar soos ‘n klip blitssnel na die aarde toe sou val sonder ‘n reddingstou om ons veiligheid te verseker. En elke keer wanneer iemand oor die afgrond na sy dood spring, skaterlag hy want hy is ‘n mensemoordenaar van die begin af.
Maar God, ons dierbare Skepper, was te lief vir ons om ons aan ons lot oor te laat en het ons te hulp gesnel sodat ons nie verlore sou gaan nie.
Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. (Joh 3:16,17)
Hoe bly is ek tog dat ek so ‘n goeie boodskap na jou kan bring. Die redding wat Jesus vir ons bring, is nie die tou van pogings om onsself te probeer red deur elke dag te probeer om ‘n goeie lewe te lei nie, want aan die einde van die dag moet ons erken dat ons Sy gebod soveel keer gebreek het, deur kwaad te word, andere se goed te begeer, haat of wrewel teen andere te koester, aan wellus in ons gedagtes toe te gee en veel meer. Die redding wat hy my bied is die vergifnis van al my sonde omdat Hy die skuld daarvoor op Homself geneem en aan die kruis daarvoor gaan sterf het. Roep ek uit na Hom, gryp Hy my met Sy deurboorde hande uit my val en hou my stewig vas in sy magtige arms totdat ek deur die hemelpoorte ingaan in Sy ewige huis.
Neem jy hierdie waarskuwing en beloftes ter harte? Bid dan nou die volgende gebed uit jou hart:
“Here ek is verlore en ek val al dieper in sonde en al verder van U af weg. Ek het die verkeerde keuse gemaak en doen dit nog steeds, maar nou vra ek om vergifnis. Ek glo dat Jesus aan die kruis gesterf het om my straf op Hom te neem. Ek roep U aan om my te gryp en gee myself vir ewig oor aan U Heilige Gees om my te lei op die hemelse weg. In geloof ontvang ek nou van u die ewige lewe. Amen.
As jy hierdie gebed in erns en geloof gebid het, is jy nie meer deel van die vallende menigtes nie, maar een van hulle wat aan God behoort, Hom aanbid en elke dag opkyk na Bo en uitsien na Jesus se wederkoms op die wolke.
……….