HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.
“Saai jou saad in die môre en en laat teen die aand jou hand nie rus nie …” (Lees asb. Luk 13:22-30).
Ons lees dat Jesus op pad was na Jerusalem. Hy het geweet dat Hy daar gearresteer en gekruisig sou word, maar dit het Hom nie weerhou om die goeie en kragtige saad van God se Woord in elke dorp waardeur Hy gegaan het, te saai nie. Hy het geweet dat dit nie vermors sou wees nie, maar vrug sou dra in die harte van die toehoorders, lank nadat Hy na die hemel vertrek het.
“Here, die wat gered word, is maar min, nie waar nie?”
Onderweg het iemand Hom ‘n belangrike vraag gevra. Dit lyk asof hierdie persoon ernstig belang gestel het in die dinge van God, bv die ewige lewe. Hy het verstaan dat alle mense van kindsbeen af verlore was en gered moes word. Hy het ook verstaan watter hoë standaarde Jesus gestel het vir ‘n persoon om sy dissipel te wees, en gedagtig aan die bose natuur van sy volksgenote, begin wonder hoeveel van hulle die hemel sou haal.
God se geestelike huis het ‘n deur waardeur die mens kan ingaan na die Vader toe.
Die eerste belangrike waarheid in die antwoord wat Jesus gegee het, was dat God, as die eienaar van die huis, ‘n deur of poort tot Sy huis voorsien het waardeur enigeen na Hom toe kon kom. Dié deur/poort staan dag en nag oop.
‘n Besonderse deur.
Wat egter baie eienaardig omtrent die poort is, is dat dit baie nou is. (In Luk 18:25 word gesê dat dit nou is soos ‘n naald se oog.) ’n Persoon wat byvoorbeeld ‘n klomp goed met hom saam gedra het, sou teleurgesteld wees wanneer hy by die deur kom want hy sou eers moes stilstaan en besin hoe belangrik dit vir hom was om in te gaan. Wou hy regtig baie graag ingaan, die Eienaar ontmoet en vir ewig by Hom bly? Indien wel, sou hy sy bondel goed moes neergooi en dan beur om deur die nou opening te kom. Jesus het dus die vrese van die vraer bevestig dat die meeste mense die deur te nou sou vind, sou wegdraai en vir ewig verlore sou wees.
‘n Video van ‘n boemelaar by dié nou deur.
Kom ons dink nou mooi aan die prentjie wat Jesus geskets het en bou dit so ‘n bietjie verder uit om dit beter te kan verstaan.
‘n Sekere regter wat deur sy losbandige lewe alles verloor en ‘n hawelose boemelaar geword het, begin verlang na ‘n beter lewe. Hy hoor van ‘n pragtige huis waar hy veiligheid, skuiling teen die winterkoue en meer as genoeg kos sou kon kry. Na wekelange oorweging besluit hy om sy vryheid prys te gee en koers hy soontoe.
Daar aangekom, vind hy dat die eiendom met ‘n ontsaglike hoë klipmuur omhein is. Hy kyk op en sien ‘n wag wat die plek bewaak en vra hom waar die poort dan is. Die wag leun effe oor en beduie met sy spies na ‘n nou spleet in die wand en roep uit: “Daar, daar reg voor jou. Di’s nie maklik nie; jy sal dwars moet draai en so sentimeter vir sentimeter moet deur wriemel. Min mense sien daarvoor kans; hulle draai hier om en jy sien hulle nooit weer nie! Maar di’s deur en deur die moeite werd. As jy eers in is, sal jy die lewe hierbinne geniet en nooit weer wil uitgaan nie; buitendien, om weer uit te wriemel is nog baie moeiliker as om in te kom.”
‘n Kopkrap besluit.
Die boemelaar krap sy gekoekte hare nog meer deurmekaar. Hy kan sy oë nie glo nie. Hy stap nader om deur die “poort” te loer maar kan geen lig anderkant sien nie; blykbaar is die muur baie dik en is daar boonop ‘n kinkel in die deurgang. Gelukkig is hy maar skraal van al die hongerly maar wat van al die ou goedjies in sy bondel wat hy deur die jare bymekaargemaak het.
Hy pak hulle een vir een liefdevol uit: ‘n waterketel waarvan ‘n stuk van die tuit afgebreek het, ‘n driepootpotjie met net een poot nog oor, ‘n ekstra onpaar stewels, ‘n klein draagbare radio waarvan die plastiek op die een hoek gesmelt het van die warm as op die ashoop waar hy dit opgetel het, ‘n verflenterde stuk kombers en ‘n kussingsloop vol ou lappe. Hy meet die opening weer so met die oog en besef met ‘n skok dat hy sy verflenterde ou jas en skoene ook sal moet uittrek. Moedeloos voeg hy die daad by die woord.
‘n Boer maak ‘n plan.
Miskien kan hy tog die radiotjie voor hom uitstoot en dit behou, dink hy, maar net toe hy dit in die opening wil indruk, swel dit skielik uit tot tweemaal sy grootte en steek teen die kante vas. Die wag skater van die lag daar van bo af: “Nee ou vriend, baie het daardie slenter al probeer maar hier kan jy nie kul nie. Jy sal daardie ou afgodjie maar moet los of so nie buite bly. Gaan maar terug na jou plastiek skuilinkie daar onder die brug.
‘n Finale besluit.
Radeloos en met betraande wange bekyk hy sy hanjievol aardse besittings nog ‘n slag en pak hulle dan sorgvuldig in ‘n hopie teen die muur. “Mooi so,” roep die wag, “jy het ‘n slim besluit geneem; draai nou dwars en wurm jouself deur!”
‘n Worstelstryd.
Die boemelaar gee hom ‘n suur kyk maar volg tog sy raad, draai na regs en begin na links in die opening in inbeweeg. Die eerste meter af wat gaan dit maklik maar hoe verder hy gaan, hoe moeiliker word dit. Hy snak na asem. Sy gesig is vas teen die klip. Dit voel of die rotswande hom wil versmoor maar dan dink hy aan die wag wat so vrolik en gesond gelyk het. Miskien is dit tog waar dat daar ‘n wonderlike huis binne-in hierdie ringmuur is. Hy kan nie sy nek so vêr buig om behoorlik vorentoe te kan kyk nie maar bemerk tog dat dit effe ligter om hom begin word. Hy skep moed en wriemel al vinniger sywaarts. Uiteindelik breek hy anderkant uit en leun heigend teen die muur aan.
‘n Ongelooflike ontdekking.
Skielik verander alles om hom; die sere aan sy hande verdwyn; hy is gekleed in ‘n glansende wit mantel en sy voete geskoei in goudkleurige sandale. ‘n Man, gekleed soos ‘n koning kom nadergestap en roep uit: “Welkom Cornelius! Jy het ‘n harde stryd gehad om hier in te kom jong maar jy sal vir ewig bly wees oor die besluit wat jy geneem en deurgevoer het. Kom sit aan by die feesmaal wat ons vir jou voorberei het.”
Ek is die boemelaar.
“Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.” Dit is Jesus se waarskuwing aan elkeen van ons en Hy weet wat Hy sê want Hy het honderde duisende al by die nou poort sien omdraai om nooit weer te probeer om in te gaan nie.
Wat weerhou die mens daarvan om deur hierdie poort in God se koninkryk in te gaan? Kom ons noem ‘n paar van die meer algemene stukke bagasie:
Die agting wat jy geniet.
Die agting wat ‘n persoon in sy gemeenskap, familie of vriendekring geniet is vir hom uiters kosbaar en hy klou verbete daaraan vas. Omdat die oorgrote meerderheid van die mense wat ons omring, buite die ringmuur van God se Huis lewe, kyk hulle met veragting neer op elkeen wat homself verootmoedig, sy sonde bely en aflê en op sy knieë na Jesus gaan. Die omstanders buite die Poort sal so ‘n persoon, bespot, verwerp en selfs vervolg. In Jesus se tyd, is enigeen wat Sy volgeling geword en dit openlik bely het, uit die sinagoges geban. So gebeur dit vandag nog omdat baie kerke ongeredde persone as lidmate toelaat wat elkeen wat tot bekering kom, afkraak om hul eie verleentheid te verberg.
My ou-ou sondes.
Dan is daar ook die bagasie van lank vertroetelde sondes. Hier praat ons nie van sondes wat in die verlede begaan is nie want dit kan vergewe word omdat Jesus daarvoor aan die kruis betaal het, nee, ons praat van die liefde vir sondes wat maak dat die sondeboemelaar die sak van sy lieflingsondes styf toeknoop en verbete daaraan vasklem; die sonde wat maak dat wanneer die Heilige Gees hom tot reg voor die Nou poort bring, hy net daar omdraai en wegstap.
(Wat hou jy daar in jóu boemelsak: ‘n bottel, ‘n pakkie verslawing, oneerlikheid in jou besigheid, die leuen in jou omgang met andere, ontrouheid in jou huwelik, ‘n onversadigbare seksuele drang, trots, woede, haat, onvergewens-gesindheid? Is dié dinge werklik so kosbaar vir jou dat jy jou siel daarvoor sal verkoop?) Miskien wil jy nie ingaan nie omdat jy ‘n verslaafde is en eers wil vrykom voor jy ingaan; nee dit werk juis andersom: gaan eers in en daar binne sal jy bevry word wanneer die krag van God jou vul.
“Ek het niemand se hulp nodig nie.”
Selfstandigheid – jy wil jou eie god wees net soos Eva. Jy wil nie deur God voorgeskryf word wat om te doen en wat nie. Jy wil jou rede gebruik en jou besluite onafhanklik van God neem. Jy wil vry wees om jou eie pad te kies. Die mens is nie geskape om sy eie god te wees nie – hy is óf ‘n dienskneg van die enige God óf ‘n dienskneg van sonde en van die bose. Ware vryheid beteken om vrygemaak te wees van jou bose drange sodat jy in die rus van God kan ingaan.
“Ek kies my eie deur.”
Afgesien van hierdie en baie ander bagasie, gaan baie sondaars nie binne nie omdat hulle die deur wat die eienaar van die huis voorsien het, verwerp. Die Here Jesus het gesê: “Ek is die Deur, niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Sommige poog om binne te gaan deur die deur van goeie werke. As jy deur daardie deur wil binnegaan, moet jy silwerskoon van sonde wees, gelyk aan God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die Bybel sê in Rom. 3:23: “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, maar hulle word sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”
“O wêreld tog, ek het my vlug verpas; daar styg hy nou net op!”
Nog ‘n rede waarom mense nie ingaan nie, is omdat hulle dit uitstel totdat dit te laat is. Hulle sien die oop deur en weet dat hulle moet binnegaan en gered word, maar hulle wil die wêreld om hulle nog net so ‘n bietjie langer geniet en hou aan om die besluit uit te stel. Hulle staan letterlik voor die Poort maar kyk op die armhorlosie en besluit dat hulle waarskylik darem nog ‘n daggie of wat op aarde sal hê. Dan, op ‘n spesifieke oomblik, kyk die eienaar van die huis op sy horlosie, besluit dat hy genoeg tyd toegelaat het, staan op en maak die deur toe.
Menigtes sal dan na die deur toe hardloop, daaraan hamer met hulle vuiste en sê: “Maak oop vir ons asseblief. Ons ken U. Ons het saam met U geëet op so en so ‘n plek en U het op ons strate (die mense) geleer.” Maar Hy sal antwoord: “Ek ken julle nie en weet nie waarvandaan julle kom nie. Gaan weg van My af, julle sondaars.” God se besluit is finaal.
Die lot van hulle wat nie betyds ingegaan het nie.
Daardie ongereddes sal nie terugkeer na die strate van hulle tuisdorp om voort te gaan om die sonde te geniet nie, maar sal in die hel gewerp word vanwaar hulle die gereddes in die hemelhuis van God uit die verte sal sien. Hulleself sal egter huil en op hulle tande kners van die pyn wat hulle sal moet verduur. Om dit so op skrif te moet stel, breek ‘n mens se hart.
‘n Onomstootlike feit.
Die skrikwekkende omtrent Jesus se antwoord is dat Hy, wat alles weet, Hom baie duidelik hieroor uitgespreek het. So staan dit ook in die ander Evangelies opgeteken: dat min gered sal word. Is jy een van die wat ingegaan het of talm jy nog voor die ingang?
……….