HIERDIE DOKUMENT KAN GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.
God se bedoeling met verlossing is dat Sy kinders vry en vrolik moet wees. Dit is immers waarvoor Jesus so ‘n pynlike dood gesterf het. Soos wat Hy die Israeliete verlos het uit die Egiptiese slawerny, sonder dat hulle Hom daarvoor moes betaal, het Hy ons uit die duistere land van sonde uitgehaal en oorgebring in Sy koninkryk; ‘n land van lig en lewe, lewe tot in ewigheid. Daarvoor het ons ook nie ‘n sent betaal nie.
Ons was tewens gladnie toegelaat om te probeer betaal deur ons wil tot breekpunt in te span om beter te lewe nie. Sou ons dit probeer het, is ons weggewys en moes ons weer agter in die ry inval, oplet hoe andere met bak hande voor Hom staan, hul skuld bely en verbaas sien hoe Hy in rooi oor hul skuldbrief skryf “Betaald” en dit met ‘n spyker bo-aan die kruis waaraan Hy daarvoor betaal het, vasnael, liasseer. Afgehandel, vir ewig vergete.
Op dié manier kon selfs die rower wat saam met Jesus gekruisig is, vergifnis ontvang sonder om eers beter te gaan lewe en kon hy sommer dieselfde dag nog hemeltoe gaan! “Genade, barmhartigheid, onverdiend”: dit is woorde wat ‘n mens hoor wanneer jy by die kruis staan en luister en sien hoedat geharde sondaars vry wegstap. Trane van berou, maar daarna trane van dankbaarheid.
“Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het—nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees. “ (Tit 3:4,5)
“En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, …” (Kol 2:13,14)
In die plek van ons skuldbrief van sonde, ontvang ons nou ‘n splinternuwe geboortesertifikaat waarop ons naam en die datum en tyd van ons verlossing aangeteken is, want die oomblik toe ons sondevergifnis ontvang het, het God ‘n wonder in ons gees gedoen; ‘n geestelike geboorte laat plaasvind waardeur ons nie net familie van die Vader, Seun en Heilige Gees geword het nie, maar sommer nabye familie, kinders van God.
“Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!” (1 Joh 3:1)
En nou, ‘n volgende belangrike waarheid: Verlossing bestaan uit twee lobbe, twee fasette: die een is regverdigmaking waardeur my sonde vergewe word en Jesus my voor die Vader laat staan asof ek nog nooit gesondig het nie. Die tweede is heiligmaking wat begin by die wedergeboorte van my gees wat van my ‘n nuwe wese maak.
“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; …” (2 Kor 5:17 )
Regverdigmaking is oombliklik en volkomelik; daarby kan niks byvoeg word vir die res van my lewe nie; heiligmaking egter, is ‘n proses wat by my wedergeboorte begin en voortduur tot die dag van my dood. By regverdigmaking doen God alles vir my. By heiligmaking is ek ook totaal en al van Hom afhanklik om die werk in my te doen, maar die verskil is dat ek gedurig daarin met Hom moet saamwerk want Hy sal niks in my doen sonder my toestemming en sonder dat ek Hom daarvoor vertrou nie.
Die verdere interessante waarheid is dit dat die Here nie die ou natuur opknap om al beter en heiliger te wees nie, maar dat Hy dit ter dood veroordeel het en dat elkeen wat vergifnis ontvang en weergebore is, met God moet saamwerk om sy/haar ou natuur om die lewe te bring. Tot die mate wat die ou natuur wegsterf, sal die die nuwe natuur gedy; al hoër en mooier uitgroei. By die einde van ons aardse bestaan, sal die ou natuur finaal sterf, sy laaste stuiptrekkings gee en sal slegs ons nuwe natuur, ons nuwe self, die hemel ingaan.
My ou sondige Adam/Eva natuur is dus ‘n ter dood veroordeelde wat binne-in my woon. Die doel van hierdie skrywe is dan om die “doodmaak” van die ou Adamsnatuur van nader te bekyk. Wanneer ‘n lewende ding, al is dit nou ook ‘n giftige slang, doodgemaak word, beleef dit trauma en pyn; so ook maak dit ons seer om ‘n deel van ons wese dood te maak; daarom is die titel van hierdie skrywe; “Die eina kant van verlossing.”
Die voorbeeld van die koringkorrel:
“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.” (Joh 12:24)
In die kern van ‘n koringkorrel het God ‘n embrio van lewe geplaas, ‘n opgesluite wonderwerk, maar voordat die wonder kan plaasvind moet die korrel eers sterf. Gestel nou maar die korreltjie kon dink en praat en het emosies gehad net soos ons. Sy eienaar hou ‘n koringaar voor hom op en sê vir hom: “Ek gee jou ‘n keuse: jy kan kies om te bly soos jy is; dan beteken jy vir my niks nie en sal ek jou in die graansak los totdat jy mettertyd vergaan of die muise jou opeet, óf ek gooi jou in die grond en maak jou toe en na ‘n rukkie sal jy begin groei en net so baie koringkorrels dra as wat aan hierdie halm is. Wat kies jy?”
Dit is ‘n traumatiese keuse maar die brawe korrel glo sy eienaar en kies die tweede opsie. Die boer maak ‘n lang voor in die grond en die koringkorrel word saam met baie ander in die voor gegooi en toegemaak onder die kluite. Dit is ‘n eina ondervinding. Dit is koud en nat en stikdonker en hy is baie eensaam; nie sy aan sy met baie ander van sy soort soos toe hy nog in die koringsak in die warm droë skuur was nie. Vir lank gebeur daar niks nie. Al wat hy kan doen is om aan die belofte van sy eienaar vas te hou.
Dan begin sy dop verweer en verloor hy die beskerming wat dit gebied het. Nog en nog tyd gaan verby en dit voel vir hom of dit sy einde is. Uiteindelik word hy gewaar dat iets besig is om in hom te gebeur. Hy is besig om totaal en al te verander. Daar is iets wat groei; dit word groter, dit vorm wortels na onder en ‘n stammmetjie wat na bo uitstoot. Dit dring deur die grond, stoot dit opsy en een oggend beur die eertydse korreltjie wat nou in ‘n plant, stam en blare verander het, deur in die sonskyn en sien weer die blou lug daarbo en sien ook sy eienaar wat met ‘n groot glimlag tussen die rye koringplantjies deurloop.
Dit sou nog lank duur voordat die koringkorreltjie wat doer onder die kluite tot niet gegaan het, uitgegroei is; voordat ‘n glansende halm in die wind sou wuif en ‘n handvol soorgelyke koringkorrels sou oplewer, maar die goddelike wonderwerk was verseker besig om te gebeur. Dit het gebeur omdat God dit so beskik het en omdat Hy teenwoordig is by elke koringkorreltjie wat besig is om te sterf.
Dit is wat die Here deur die teksvers hierbo vir ons sê: My nuutgebore kind, My kosbare kind, jou ou lewe moet sterf om plek te maak vir jou nuwe lewe om welig te kan groei en handevol vrug te kan dra:
“Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. … .” (Gal 5:22).
Die ou natuur móet sterf want dit veg gedurig teen die nuwe natuur en hoe langer ons dit toelaat om te lewe en hoe meer voeding ons dit gee hoe sterker sal dit ons nuwe natuur afknou en verniel en probeer om dit te vernietig want onthou, die ou natuur leef van kleintyd al in my en sien my nuwe godgegewe natuur as ‘n indringer, as ‘n aartsvyand.
In Gen 16 tot 21 vind ons die aangrypende verhaal van Abraham vir wie die Here beloof het dat Hy aan hom ‘n seun deur sy vrou Sara sou gee, maar later was hy al amper ‘n honderd jaar oud en die seun is nog nie gebore nie omdat sy vrou onvrugbaar was. Hulle twee maak toe ‘n plan; Abraham slaap by sy Sara se slavin Hagar en nege maande later, het hulle toe ‘n seun en noem hom Ismael. Abraham was baie lief vir hom want hy was mos ook sy eersgeborene maar later, op God se eie tyd, gee Hy toe vir hulle ‘n eie seun, Isak. Toe die seuns groter word, het Ismael, wat toe al baie ouer en groter was, vir Isak afgeknou. Hieroor was Sara baie kwaad en toe sy haar probleem voor die Here bring, beveel Hy vir Abraham om vir Ismael weg te stuur, want hy was nie die beloofde seun uit wie God vir Hom ‘n volk wou bou nie. Dit was vir Abraham baie, baie seer om vir Hagar en Ismael in die woestyn in weg te stuur al het die Here beloof om na hulle om te sien, maar Abraham was gehoorsaam en het dit gedoen.
In die Nuwe Testament, in Gal 4, verduidelik Paulus die geestelike betekenis van hierdie verhaal. Dit gaan naamlik om die ou- en die nuwe verbond maar is ook toepaslik op die stryd tussen ons ou en nuwe nature. Die oue, waarmee ons aanvanklik gebore is en baie langer mee saamleef as met die nuwe, is ‘n paaiboelie soos Ismael en sal aanhoudend probeer om ons godgegewe Isak te onderdruk.
“Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte; maar soos destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so is dit nou ook. Maar wat sê die Skrif? Werp die slavin en haar seun uit, want nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie. Daarom, broeders, ons is nie kinders van die slavin nie, maar van die vrye.” (Gal 4:28-31) (Sien ook Rom 7:14-26 oor hierdie stryd tussen die vlees en ons nuutgebore gees.)
Hierdie geveg wat dan tussen die twee nature binne-in ons woed, maak dat ons nie ons nuwe lewe in Christus terdeë kan geniet nie want elke nou en dan, wanneer ek die Here se teenwoordigheid en die mooi dinge wat Hy vir my gegee het, geniet, daag my Ismael ewe skielik daar op om my vrede te versteur. Ek is bv. in my motor op pad werk toe terwyl ek na lofsange luister en saam sing. Skielik swaai iemand roekeloos voor my in en voor ek my kom kry, het Ismael beheer oorgeneem van my emosies en my tong, en het die lofsange wat oor die radio kom by die venster uitgewaai.
Maar selfs wanneer ek vanaand stokflou in die bed kruip, karring my Adamsnatuur in my gedagtes en herinner my so stilweg hoe ek vandag by die werk moes sluk en sluk aan beledigings wat my toegesnou is en, … daar skop my emosies al weer in hoogste rat in en lê ek ure lank en tob en oor en weer praat in ‘n denkbeeldige gesprek wat ek voer en myself verweer en self ‘n paar houe op die ander party inkry. Natgesweet beur ek orent om ‘n tablet vir my sooibrand uit die medisynekassie te gaan opdiep. So kom ek dan die volgende dag moeg en nukkerig by die werk aan waar ek tot my ergernis moet sien hoe die ou wat my so te na gekom het, skaterlag en die middelpunt van my kollegas se belangstelling is.
As my ou natuur dood was, my Ismael in die woestyn weggestuur was, sou die dinge my mos nie ontstel het nie? Is dit dan nie tot my eie beswil dat ek werk maak van hierdie pendoring in my tekkie nie… ?
Ja, dit is seker waar, maar is dit moontlik om ononderbroke in innerlike vrede te leef? Kan dit my uur na uur en dag na dag ervaring wees met baie seldsame onderbrekings? Kom ons hoor wat ‘n geestelike veteraan soos Paulus hieroor omtrent homself getuig:
“Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” (Gal 2:20).
Dit klink mos vir my of hy sê dat sy ou natuur, sy Ismael, saam met Christus aan die kruis gesterf het, dat hy dood is en dat Christus nou in hom woon (en sy nuwe natuur laat floreer.) Maar hoe werk dit? Hoe kon hy wat toe nog geleef het en ons wat nou die dag maar eers gebore is, toentertyd saam met Christus gesterf het? Die antwoord is dat Paulus na Christus se sterwe vanuit die Vader se oogpunt kyk:hy sien dit soos die Vader dit sien. En die Vader kyk daarna vanuit ‘n regsoogpunt, ‘n juridiese oogpunt. Toe Hy Sy Seun aan die kruis sien hang het, het Hy dit nie net gesien as ‘n offer wat Hy besig was om te bring om ons sondeskuld uit te wis nie, maar die Vader het ook gesien hoedat Jesus ons sondige natuur met Hom op die kruis neem en dit saam met Hom laat sterf sodat Hy, toe Hy op die derde dag opgestaan het, ons nuwe self ook weer saam met Hom lewend kon maak en uit die dood kon laat opstaan. Sjoe, moeilik om te verstaan? Ja, maar maklik om in geloof te aanvaar, net soos Paulus ook gedoen het: “ … ek leef (leef ek) deur geloof in die Seun van God … .“
Dit is dus nie vir ons nodig om ons hand of voet af te kap as dié ons laat struikel om te probeer om ons ou natuur op dié wyse dood te maak nie, want Christus se hande en voete is reeds vir ons deurboor en Hy het ons totale ou natuur in Hom aan die kruis laat sterf. Hy het dit dus reeds vír ons gedoen. Al wat ons moet doen, is om dit, soos Paulus, in geloof te aanvaar en dit sal vir ons ‘n werklikheid word.
Nou moet ek eerlik wees, om daardie goddelike waarheid in geloof vas te vat en in my sak te steek, het vir my nie maklik gekom nie. Ek het maar aanhou en aanhou om in eie krag herhaaldelike nuwe voornemens te maak om die oorwinning te behaal maar die Ismael wat ek soveel jare kos gegee en grootgemaak het, was net te sterk vir my. My Isak het nog maar gekruip al was ek baie jare al gered. Dit was eers toe ek moeg en verslae moed wou opgee en aanvaar dat my sondige natuur nou maar eenmaal te sterk was om te oorwin, dat my oë oopgegaan en ek hierdie oop deur van hoop raakgesien het. Toe het tekse soos die volgende vir my sin begin maak:
“As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe,” (Rom 6:8)
“Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel”. (Rom 6:4)
Kom ons probeer dan nou om alles saam te vat in ‘n verstaanbare en uitvoerbare strategie.
Eertsens moet ons verstaan dat sonde, hoe klein ookal, vir ons uiters ongelukkig maak en dat ons ou sondige natuur wat ons gedurig laat struikel en allerhande sondes laat begaan, soos ‘n indringerplant uitgeroei moet word.
“Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, …” (Kol 3:5)
“Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.” (Joh 12:25)
“En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red.” (Luk 9:23,24)
Tweedens moet ek weet hoe om die ou natuur dood te maak: ek moet met diepe oortuiging glo dat Jesus my in Hom aan die kruis geneem en ek in Hom gesterf het. Namate daardie besef in my groei, sal dit ‘n werklikheid in my lewe word, sal die ou natuur wegkwyn en sal die nuwe ek, die ware ek, groei soos ‘n kind wat opgroei en ‘n volwasse man of vrou word.
Ek moet gewillig wees om die sterwenspyne van die ou natuur te verdra en nie halfpad moed opgee nie. Ek moet weet dat ek deur baie van my vriende verwerp sal word; dat ek my rug op sondige plesiere sal moet draai en nog meer vriende sal verloor; dat ek dikwels die minste sal moet wees om plofbare situasies te ontlont; dat ek dié sal moet seën wat lelik is met my; dat ek noukeurig oor my gedagtewêreld sal moet waak; dat ek baie vinnig sal moet optree om iets wat ek verkeerd gedoen of gedink het, te bely voordat dit vastrapplek in my lewe kry; dat ek die Bybel voor die Tv moet plaas, maar dat dit alles moontlik is deur bloot te glo dat ek reeds in Christus gesterf het en ook saam met Hom in ‘n nuwe lewe opgestaan het.
Op dié manier sal die ou ek waarmee ek gebore is, geleidelik wegsterf en sal dit wat reeds aan die kruis gebeur het, nou ‘n lewende werklikheid in my word. Eenvoudig nê? Paulus sê:
“Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here.” (1Kor 15:31).
Die afsterwe van die ou lewe, is die eina kant; die groei van nuwe lewe, die lekker kant en kom dan feitlik vanself. Wanneer dit seermaak en jy soos die koringkorrel voel dat alles om jou donker is, dat jy alleen is en dinge swaar op jou druk, onthou dat Jesus deur Sy Gees elke oomblik met jou is. Hy is aan jou kant, Hy is jou afrigter, nie jou regter nie. Glo dit en sien hoedat daar ‘n huppel in jou stap kom!
“Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee!” (Fil 4:13) Halleluja!
……….