HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.
(Lees asb Luk. 14:15-24)
‘n Feesmaal verloop heel anders as om vis en skyfies by ‘n tafel in die kafee om die hoek te gaan eet.
Weereens het Jesus gepraat oor die binnegaan van Sy koninkryk. Hy vergelyk die uitnodiging om in te gaan, met ‘n uitnodiging na ‘n feesmaal, ‘n fees wat deur ‘n ryk en belangrike man gereël is.
Deur al die eeue het magtige konings hul heerlikheid by sulke geleenthede ten toon gestel. So het ons byvoorbeeld in die boek Esther, hoofstuk 1:6 – 8, die beskrywing van ‘n maaltyd wat deur koning Nebukadneser gereël is:
“Linne—, katoen— en pers stowwe was met linne— en purperrooi bande vasgemaak aan silwerringe en marmerpilare! Goue en silwerrusbanke op ‘n plaveisel van malachiet en van witmarmer en perlemoensteen en gevlekte marmer! Daarby het hulle laat drink uit goue bekers, en die een beker was verskillend van die ander beker, en daar was koninklike wyn in oorvloed, eg koninklik! En hulle het gedrink volgens voorskrif: niemand het gedwing nie; want so het die koning bevel gegee aan al die hoë beamptes van sy paleis, dat hulle na elkeen se sin moes handel.” (AOV).
Die uitnodigings.
Konings en hooggeplaasdes oorweeg sorgvuldig wie hulle by die feesmaal wil hê en net diegene word genooi. Om na so ‘n feesmaal uitgenooi te word, is natuurlik ‘n groot eer, maar nie net dit nie, die genooide is eintlik onder verpligting om dit by te woon. Nie-bywoning sal deur die gasheer as ‘n klap in die gesig, ‘n minagting van sy persoon gesien en nie maklik verskoon word nie. Daarom sal genooides so ‘n uitnodiging sorgvuldig dagboek om dit nie per abuis mis te loop nie. Selfs sommige ongenooides wat daarvan te hore kom, sal probeer konkel om ‘n kaartjie te bekom. Dit is haas ondenkbaar dat iemand sy uitnodigingskaartjie eenkant op die rak sal gooi en met sy eie dinge op daardie dag of dae sal voortgaan.
Die groot dag breek aan!
Wanneer die feesdag dan aanbreek en die gaste die saal binnestap, word hulle op die hande gedra en getrakteer op die mees eksotiese kosse.
Is dit inderdaad wat in die verhaal wat Jesus vertel, gebeur het. Ongelukkig nie! Toe die feesmaal nog in die beplanningstadium was, het die diensknegte al uitgegaan om die gaste te nooi en hulle meegedeel op watter datum en tyd dit sou plaasvind. Daarna is die banket voorberei en toe alles gereed was, is die boodskappers weer uitgestuur om die gaste in te lig dat hulle nou maar kon kom.
Die gaste stel teleur.
’n Mens sou verwag dat hulle gereed sou wees, in hul beste klere getooi, opgewonde en dadelik sou kom, maar nee, hulle het elkeen homself verskoon! Ondenkbaar. Watse verskonings kon hulle tog hê? Kom ons kyk na ‘n paar:
Verskoon my tog …
Die eerste een het gesê: “Ek het nou net ‘n stuk grond gekoop en ek moet daarna gaan kyk. Verskoon my asseblief.” Was dit ‘n geldige verskoning? Nee. ‘n Persoon wat grond koop, gaan bekyk dit tog deeglik voordat hy sy geld daarop uitgee en wanneer die prys betaal is, sal hy niks daaraan kon verander nie, al sou dit agterna blyk ‘n swak koop te gewees het. Daar was dus geen rede om gou agterna daarna te gaan kyk om te bepaal of dit goed was of nie.
Verskoon my tog …
Die tweede genooide gas het, toe die bediende aan sy deur klop, geantwoord: “Ek het pas vyf paar osse gekoop en is op pad om hulle te gaan uittoets. Verskoon my asseblief.” Weereens ‘n swak verskoning. Wat kon bereik word deur die osse dringend te gaan toets nadat hy hulle gekoop en betaal het?
Verskoon my tog …
Die derde een se verskoning was: “Ek is pas getroud en kan dus nie kom nie.” Maar waarom reël hy sy troue vir net voor die fees of waarom bring hy nie sy bruid dan maar saam na die fees toe nie? So ‘n geleentheid is gewoonlik darem so in ‘n vrou se kraal.
‘n Verslae en gekrenkte gasheer.
Toe die gasheer, wat so uitgesien het na die feesmaal, al hierdie flou verskonings hoor, het hy by homself gedink: “Die rede is nie dat hulle nie kán kom nie, maar tussen die lyne lees ek baie duidelik dat hulle nie wíl kom nie.” Hy was vanselfsprekend baie terleurgesteld, selfs gekrenk. Waar hy in die banketsaal staan, omring van sy besorgde diensknegte en oor die menigte leë stoele kyk, het hy seker somme gemaak en bereken wat ‘n ontsaglike bedrag hy vrugteloos aan die kos en ander voorbereidings bestee het. Dit alles was nou vermors. Wat ‘n anti-klimaks! Eenkant, op ‘n verhoog het die gehuurde musikante hulle verleentheid verberg deur verder aan hul instrumente te verstel want daar was niemand om die vrolike musiek wat hul voorberei het, voor te speel nie.
Wie was hierdie onbeskofte genooide gaste?
Jesus het hierdie verhaal eerstens bedoel vir die oor van die luisterende Jode. Hulle was die nageslag van Abraham, die volk en vriende van God. Deur die eeue het Hy Sy boodskappers, die profete na hulle gestuur om te vertel van die fees wat Hy besig was om vir hulle voor te berei sodat hulle voorbereid kon wees wanneer die tyd sou kom dat hulle by die tafels kon aansit. Maar nou was hulle nog steeds te besig met hul eie belange.
Na watter fees verwys Jesus hier?
Wat presies is hierdie Godsfees? Dit is ‘n geestelike fees wat moontlik gemaak is deur die Seun van God en was reeds beplan voordat die wêreld geskape is. Die koste daarvan sou onberekenbaar hoog wees en nie in goud en silwer betaal kon word nie. Hy sou daarvoor met Sy eie lewe betaal. Hy sou betaal deur pyn en skande te ly aan die kruis op Golgota. Daar sou Hy uitroep: “Dit is volbring.” Alles was nou gereed vir die Joodse volk om in Sy Koninkryksaal in te gaan, by Sy tafel aan te sit en die gratis vrug van redding en die ewige lewe te geniet.
Versmaaide ewige skatte.
Maar hierdie wonderlike uitnodiging het by die meeste, en veral by die leiers geen aanklank gevind nie. Uiterlike godsdienstige rituele was vir hulle voldoende. Om vergifnis van sonde te ontvang, ‘n nuwe hart en die ewige lewe, was geestelike spyse wat veragtelik was vir die aanvanklik genooide Joodse gaste. Hulle eie dinge was vir hulle belangriker as die offer van die Lam van God. Hulle het die Koning en die heerlikheid van Sy Koninkryk gering geskat.
Die Vader se Koninkryk is ‘n banketsaal, nie ‘n werkkolonie of ‘n tronk nie.
Wanneer ‘n sondaar in die Koninkryk van God ingenooi word, word hy as ‘n eregas ontvang. Daar word nie ‘n pik, ‘n graaf en ‘n blou oorpak by die deur aan hom uitgereik en hy word nie beveel om iewers in die tuin boetebossies te gaan skoffel nie. Nee, hy ontvang ‘n vlekkelose kleed van die Koning van die hemel en word deur ‘n engel begelei om sy plek aan Sy tafel in te neem. Hy is ‘n geëerde gas en alles op die tafel is daar vir hom om vryelik te geniet. (Ps 23:5).
Ander gaste genooi.
So, wat doen God toe? Hy stuur sy Evangelie boodskappers na die nie-Jode, na die heidene en ‘n menigte van hulle reageer en stroom in Sy banketsaal in – hulle word gered, ontvang die Ewige Lewe, jubel in die Here.
Die uitnoding kring uit tot by die uithoeke van die aarde.
Maar mettertyd sou ook baie van hulle nageslag in kerkbanke sit maar geen behae hê in die God van die kerk waaraan hulle behoort nie en daarom sou die Heer Sy evangeliste, profete en leraars stuur na hulle wat in verafgeleë lande en streke woon om hulle ook te nooi sodat, wanneer die trompet wat die einde van genadetyd sal aankondig deur die heelal weergalm, niemand vir uitstel sal kan vra omdat hy nie ‘n uitnodiging ontvang het nie.
Wat hou jóu weg van God se banketsaal?
Wat ‘n treffende verhaal en hoe dom tog die mens wat sy stukkie grond, sy osse, sy vrou, sy kinders wat alles van korte duur is, verkies bo die ewige lewe wat die Here vir ons aanbied. Die mens wat ingegaan, die lewe in Christus ontvang het en daagliks aan Sy tafel eet, geniet die tydelike dinge ook soveel meer omdat hy hulle nie meer bo die Here stel nie.
Bykomende algemene opmerkings.
Ons as mens is van kleintyd af gewoond aan sondaarskos soos lawwe en vuil praatjies, ‘n vloek of gewaagde woord hier en daar, ‘n paar skinderwoorde agter die hand, ‘n wit leuentjie “wat tog geen skade doen nie (die Here sal mos verstaan)”, so ‘n klein bietjie oneerlikheid in die besigheid, ‘n skelmpie by die werk, ens. Dit is ons dieët van kleintyd af maar geestelike kosse soos verdraagsaamheid, eerlikheid, gesprekke oor die Here en die Woord, gebed, agge nee dit is eksotiese goeters, vreemd van aard en ons weet sommer ons sal dit nie geniet nie. So nou en dan kerktoe gaan, ja dit is houdbaar, maar ‘n lewe binne-in die hemelse banketsaal; nee, laat ek eers my ander dinge doen en geniet … so … “Dankie vir die uitnodiging – ek sal die kaartjie solank agter in my Bybel bêre vir die dag wat ek dit nodig mag kry. Totsiens!” En dan, drie dae later: “Maak gou, bel die dominee!. Jan lê op sterwe!”
……….