DOKUMENTE KAN GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD
Toe Piet Petoors laas September langs Melissa Malan voor die preekstoel staan, was sy glimlag so breed soos die sekelmaan. En so het dit gebly. Die man was darem baie in sy skik met hierdie stadsbruid wat hy, as boerseun, kon aankeer en saam terugneem plaas toe. Hy was hoeka ook nie meer jonk nie, reeds by die 28 gesleep want hy wou eers die boerdery mooi laat vlot en die plaashuis netjies in orde kry voor hy trou. Nooit het hy kon dink dat hy so ‘n mooi bruidjie voor die stadsjapies sou kon wegraap nie; ‘n bruid wat elke jong boer in die distrik hom sou beny.
En so is hulle toe huistoe en het sy met verloop van tyd al meer op die plaas ingeburger geraak. Sy vrese dat sy nie daar sou aard nie, was ongegrond. Sy het baie gevind waarmee sy haarself kon besig hou; die sorg van hoenders oorgeneem, dit geniet om hulle elke dag kos te gee, eiers uit te haal, kuikentjies groot te maak. Die sybokke het sy ook onder haar sorg geneem en versorg soos hy haar geleer het. Nee, kyk, alles het sommer klopdisselboom geloop en almal in die buurt het hom op die skouer geklop en gelukgewens met die pragtige, flukse vroutjie wat hy vir hom aangekeer het.
Daar was net een opsig waarin dit nie heeltemal so vlot gegaan het nie en dit was met die kosmakery. Die bord kos wat sy aan hom voorgesit het, was maar eina-eina vir ‘n boerseun wat heeldag buite harde handewerk moes doen, windpomp regmaak, spilpunte herstel, lammers se sterte knip, die kliprantjies invaar om ‘n verlore ooi en haar lam te soek voor die jakkals of rooikat hulle kry en al hierdie dinge. Wanneer hy dan teen sononder sy hoed aan die kapstok opgehang, hande gewas en flou van die honger by die etenstafel kom aansit het, was die leërige bord kos wat sy liefie voor hom op die matjie neergesit het, maar ietwat van ‘n teleurstelling; alles so opgekook in die water. Die groenboontjies wat nog half op ‘n watertjie drywe, die sous oor die rys en aartappels, bleek soos gortsop, om nie eers te praat van die opgekookte skaapribbetjie wat lyk of die katte hom beetgehad het nie. Nee kyk, by die kosmakery, daar het die dinge ‘n bietjie gehaak.
Maar Petoors was nie ‘n man wat hom laat onderkry het nie en het geglo dat dié ding nog vorentoe sou regkom, want sy bruidjie was tog so oulik; het selfs aan die universiteit ‘n graad in letterkunde behaal en sou verseker mettertyd leer om ook hierdie fasset van die plaaslewe te hanteer.
Maar soos wat die tyd nou aangeloop het, het dit darem vir hom al moeiliker geraak. ‘n Hol kol op die maag die hele dag deur en dan, laataand, wanneer Malissa al gaan inkruip het, het hy soos ‘n stout seun kombuis toe gesluip, ‘n sny brood gesny, ook maar winkelbrood, want sy het nie self gebak nie, dit met ‘n smeersel margarien en ‘n bietjie konfyt eetbaar gemaak, haastig weggesluk en dan maar gaan inkruip en gedink: “Ag wat, in al die ander opsigte gaan dit so goed, laat ek tog maar in hierdie een ou klein dingetjie ook ‘n bietjie geduld hê.”
Maar uiteindelik kon hy dit nou net nie meer uithou nie. Toe bedink hy ‘n plan. Kyk, in ou Meraai en haar Jan se huisie daar teen die bult, was dit so blink en skoon as wat jy maar wou hê. Tot die tafeldoeke word gestyf. Van haar tafel af kon enige man eet sonder om ‘n oog te knip.
So kom hy toe ewe vroom onskuldig na waar Melissa in die kombuis doenig is en sê vir haar: “Melissa-lief, jy weet, Jan en Meraai se kinders is besig om groter te word. Hulle lyk vir my so skraal asof hulle nie genoeg kos inkry nie. Ek dink tog, e … jy moet so nou en dan vir hulle ook so ‘n bietjie rys laat kry, sommer so ‘n pakkie van die winkel se rak af; sy kan dit mos self kook. Dalk elke dag ‘n porsie skaapvleis ook want hulle het mos nie ‘n yskas om die skaap wat ons elke maand vir hulle slag koud te hou nie. Dan kan hulle ook ‘n bietjie beter eet. Leef en laat leef, nie waar nie?” Melissa, goeie mens wat sy was, het heelhartig saamgestem en so gedoen.
Toe Meraai weer op pad huistoe by die groentetuin verbykom, roep Petoors haar nader asof hy vir haar iets wou wys. “Meraai,’ sê hy vertroulik, “Kyk, die Kleinmies is nog maar ‘n bietjie jonk, soos jy kan sien, en het meeste van haar jare op die skoolbanke gesit en slim geleer. Maar, in haar huis het sy nooit geleer om te kook soos wat die Oumies vir jou leer kook het nie. So ek het nou vir haar gesê sy moet maar nou en dan vir jou ‘n bietjie rys en vleis saam huistoe gee om vir jou kinders te gebruik want hulle word hoeka groot en eet al meer. Nou wil ek tog vir jou vra of jy dan nie vir my ook ‘n bietjie van die kos wat jy vir julle maak, sal eenkant sit nie, so ‘n bord egte regte boerekos. En kyk, die tuin is mos ook hier. Daaruit kan julle groente vat net soveel as wat julle wil. Maak tog net vir my ook ‘n bordjie kos. Skep dit sommer in een van jou erdeborde met die blommetjies. Dan sal ek nou so maak: in die aand as ons klaar geëet het en die Kleinmies gaan sit voor die TV om Sewende Laan te kyk, dan maak ek maar verskoning om nog ‘n paar goedjies te gaan doen en kom ek agter om die waenhuis en gaan in die melkkamer in. Daar sal ek die kers opsteek en sit en wag. Stuur jy dan vir julle Klein-Jan met die kos af soontoe. Maar bind dit tog mooi toe in ‘n doek dat die Kleinmies nou nie as sy dalk deur die venster kyk, sien wat aangaan nie. Maar die kos moet nog lekker warm wees en dan vat Klein-Jan sommer weer die bord terug ook.” Meraai het die asem ‘n slaggie diep ingetrek en die oë na bo gerol maar sy was lief vir hierdie kind, het hom help grootmaak en toe die Oumies Huistoe is, het sy vir Meraai gevra om tog mooi na haar laatlammetjie te kyk. So antwoord sy toe sag en met deernis: “Nee reg my Kleinbaas, ek sal so maak. Meraai sal so maak.”
So het dit dan van toe af aan gebeur dat Piet Petoors elke aand ‘n lekker bord boerekos, net soos wat sy ma dit altyd gaargemaak het, skelm daar agter in die melkkamer gaan sit en eet het. Met sy snor versigtig skoon afgevee en Klein-Jan met die leë blommetjies bord op pad terug na sy huis, het hy dan ewe onskuldig langers Melissa op die rusbank neergesak om die laat weervoorspelling te kyk.
So was die probleem tydelik oorkom, sonder struweling . Vroeg aand al het hulle dan gaan inkruip, lekker geslaap en so aan. Die weke het mekaar geduldig opgevolg maar Malie se kookgewoontes het lynreg dieselfde gebly en Petoors het later weer by ‘n punt gekom dat hy besef het dinge kan nie onbepaald so voortgaan nie. Om vir die res van sy lewe Meraai se kos skelm agter in die melkkamer te eet: nee, die ding gaan eendag uitkom en dink nou net wat ‘n horasie gaan dit nie wees nie. Maar hoe gemaak?
Terwyl hy dag vir dag so loop en broei en stoei vir ‘n oplossing, kom Meraai een aand self met die bord kos daar aan. Solank hy gulsig eet, staan sy eenkant, druk haar hande in haar voorskoot se sakke en begin met hom te praat oor wat op haar hart is: “My Kleinbaas,” sê sy, “ek het nou maar self vanaand gekom en gedink om vir die Kleinbaas iets te sê.” “Ja Maraai, wat wil jy vir my sê? Is jy nou moeg om vir my kos te maak?” “Nee, nee, nee, my Kleinbaas, nie so nie, maar kyk, Meraai kan nie lees nie, maar die Oumiesies… Meraai het gesien die Oumiesies, sy het ‘n boek daar gehad wat sy baie in geskryf het. En dan het sy partykeer die boek oopgemaak en daaruit gelees en allerhande lekker kosse gemaak na wat sy in die boek gelees het. Nou het ek net gewonner of die Kleinbaas nie kan kyk wat van dié boek geword het nadat die Oumies Huistoe is nie. Dan kan die Kleinbaas die boek vir die Kleinnonna gee dat sy die kos daaruit kan maak”.
Petoors het die gedagte so ‘n bietjie om en om gedraai. “Dis reg so Meraai, dit is ‘n goeie plan,” antwoord hy. “Ek sal dink hoe ek die ding kan doen”. So is hy die aand met ‘n frons op die voorkop terug huistoe. Waar sy ma se resepteboek was, wis hy nie en dalk sou Melissa aanstoot neem as hy sy ma se resepte vir haar deurgee. Toe skiet ‘n ander ingewing hom te binne. Haar verjaarsdag was net om die draai; wat daarvan as hy vir haar ‘n resepteboek persent gee, net die beste wat jy kon kry. Daar was darem mos ook ander boervrouens in die omgewing wat resepteboeke bygesleep het vir die kosmakery, so sal Melissa tog nie sleg daaroor kon dink nie.
So gedink, so gedoen. Die eerste keer dat hulle weer saam Bloemfontein toe is, los hy haar met ‘n handvol note by Milady’s en haas hom om na die CNA. Maar ai, wat weet ‘n boerseun tog van resepteboeke af? Maar hierin was die Heer hom genadig want daar kry hy ‘n bejaarde dame juis deur die boeke staan en blaai. Handewringend tree hy nader, maak keelskoon om haar aandag te trek en vra verskonend: “Ag tannie, sal tannie nou omgee as ek net ‘n bietjie raad vra?” “Nee, jongman, dis reg, waarmee kan ek help?” antwoord sy. “Ek soek na ‘n resepteboek. Wat is tog die beste resepteboek wat ek vir my vroutjie kan koop? Ons is jonk getroud en sy, e .., sy is gretig om meer te leer van die kosmakery.” Sonder om tweemaal te dink, haal die tannie die grootste en mooiste boek van die rak af; ‘n boek met die titel “Die Groot Resepteboek,” en buite op die voorblad is dit net die ene prente van allerhande soorte disse. Sy gee dit vir hom en hy blaai haastig daar deur. “Dink tannie dis nou die regte boek?” “Ja, die regte boek ou seun, daarvan kan jy seker wees. Dit is elke vrou se droom; bevat resepte van vergange dae se keurigste geregte maar beskryf ook in besonderhede hoe jy die vreemdste hedendaagse disse kan voorberei. Hiermee kan jy nie verkeerd gaan nie. Kyk net die prys”. Hy kyk op die agterblad. Ja-nee, wrintie, die prys slaan sy asem amper weg. Nooit gedink ‘n boek kan soveel kos nie. Maar dis die regte ding. Want kyk, Melissa is darem een wat lief is om te lees. Sy kan haar vir ure lank opkrul in die ronde gemakstoel en sit en storieboeke lees, so sy sal sekerlik dié boek ook lees. Haastig maar hartlik bedank hy die tannie en sit af na die kassier. “Laat hulle hom sommer vir jou in geskenkpapier toedraai ,” roep sy agterna. Met dié juweel van ‘n trofee onder die arm, maak hy eers haastig ‘n draai by die motor en versteek dit in die kattebak voor hy haar doodluiters by die klerewinkel gaan haal en help om haar pakkies te dra. Daarna huistoe.
Toe haar verjaarsdag nou uiteindelik aanbreek, gee hy vir haar die boek met die mooi geskenkpapier met die woorde: “Skatlief, ek weet nou nie, ek kon nie dink wat ek nog vir jou kon koop nie. Ons het reeds allerhande goeters in die huis en het toe gewonder of jy nie in ‘n boek belang sou stel nie. Jy is mos soort van ‘n boeke-mens. Hier het ek dit vir jou”. Sy maak dit oop, en ja wrintie, sy is gaande daaroor, en dit “oe” en dit “a”, en sy blaai daardeur, gooi haar arms om sy nek en plant ‘n vol soen op sy mond. Beter kon dit nie verloop het nie. “Ja-nee Petoors” praat hy met homself, “nou het jy die regte ding gedoen. Die Kaap is weer Hollands!”
So wag hy toe dat die vis moet byt, dat die groot ding moet gebeur. Wanneer hy van die veld af kom, loer hy wat sy maak, sien hy dat sy ‘n storieboek lees maar so tussendeur lees sy die resepteboek ook en sit elke keer ‘n papiertjie in om te merk tot waar sy gekom het. Dag vir dag wag hy om te sien wat sou gebeur. Later is die papiertjie heel agter in die boek en die volgende dag staan die boek in die rak by al die ander wat sy klaar gelees het; maar nog geen nuwe disse op die tafel nie. Later kan hy homself nie meer bedwing nie en vra so ewe ongeërg: “Nou Melissa, die boek, hoe het jy dit gevind?” “Oe”, sê sy, “nee, dis pragtig. Ek het al die resepte deurgekyk en die foto’s van al die wonderlike geregte – dit is asemrowend, laat ‘n mens watertand. Baie dankie skat. Jy moes ‘n fortuin daarvoor betaal het! Jammer hier is nie ‘n restourant in die omgewing waar ‘n mens dié kosse op die proef kon stel nie.” Hy is platgeslaan.
Die volgende oggend loop hy hangskouers na die perdestal. “Wat nóu gemaak Petoors, wat nou gemaak? Jou kastige slim plan het nie gewerk nie, nê? Die boek wil nie inskop nie. Die boekrak is voller maar jou bord bly leeg en jy eet nog steeds uit Meraai se kombuis.” Week na week het so verbygegaan en selfs sy bid vir die saak het nie gehelp nie. So sit hy eendag eenkant op die werf op die vleisblok en kopkrap. Hy dog toe so: kyk, hy het al gehoor van die dorpsmanne wat partykeer hulle vrouens help om skottelgoed te was en wat selfs so ‘n bietjie in ‘n kombuis ronddraai en vroutjie help met die kos se voorbereiding, maar vir ‘n boerseun is dit darem nou ‘n anderste storie. Sê nou maar net die ander manne van daar rond kom te hore dat Piet Petoors sy vrou in die kombuis help? Maar hoe dan anders? Hoe anders? Die probleem móet opgelos word. Hy moet vir Melissa aan die gang kry met die kokery.
Net daar kom hy tot ‘n besluit, slenter by die agterdeur in, leun teen die besemkas en sê vir haar waar sy met die skottelgoed doenig is: “Vroutjie, jy is nou altyd so hard aan die werk hier in die kombuis, ek het vandag lus om sommer vir jou ook ‘n slaggie te help. Alles op die plaas loop mooi reg en Jantjie en die ander volkies is aan’t lusern sny. Hoe lyk dit, sal ons twee nie saam probeer om iets uit daardie nuwe boek van jou aanmekaar te slaan nie? Daar is seker iets wat jy al gedink het wat lekker kan wees.” En terwyl hy so praat, kruis hy altwee sy duime agter sy rug van pure senuagtigheid.
Melissa wat dit nie van hóm te wagte was nie, frons so ‘n slag in sy rigting maar hy lyk tog so onskuldig en bedremmeld dat sy summier instem, al is dit dan net om hom nie aanstoot te gee nie. Sy gaan haal die boek. Saam blaai hulle dit deur en kom op ‘n wildspastei af . Wat daárvan; hy het mos pas drie dae tevore ‘n blesbok platgetrek en die karkas hang afgedroog in die koelkamer. Koppe bymekaar lees hulle die voorskrifte sorgvuldig deur. Hy kry ‘n voorskoot agter die kombuisdeur, glip dit aan en sit af na die koelkamer om die regte snitte te gaan kry. Terug in die kombuis word die vleis eers gaargemaak, woord vir woord soos die boek sê, dan ook die deeg volgens voorskrif voorberei en uiteindelik kom die twee saam in die Pyrex-bak in die oond. Die temperatuur word op die nommer reggestel en na ‘n goeie ruk se wag, lui die klokkie en is die pastei gereed.
Nuuskierig haal hulle dit uit, en sowaar, so wrintiewaar, hier en daar ‘n bietjie geskroei, maar dit lyk gladnie te sleg nie. “Nee,” sê hy “dit lyk te lekker. Kom ek en jy gaan sit daar op die voorstoep en eet elkeen ‘n stuk dat ons kan proe hoe dit smaak.” So gaan sit hulle toe daar soos twee onnutsige kinders, elk met ‘n groot stuk pastei in ‘n bord op die skoot en ‘n beker koffie daarby en eet vir ‘n vale; eet en skep weer en eet totdat net die krummels in die bak oorbly. Nooit tevore het Petoors so lekker in sy eie huis geëet nie en net so Melissa ook. Die laaste stuk deeg het sy met die hand bygedam en terwyl sy haar vingers aflek, knipoog sy vir hom en prewel met ‘n happie nog in die mond: “Wonderlik, ou man; nooit kon dink dat jy jou lyf kok sou kon hou nie.” “Nee jong,” kap hy terug, “dis die boek, dis die boek wat vir ons so gehelp het.”
Die ys was gebreek. Die wêreld van die kookkuns het Melissa se nuuskierigheid geprikkel en baie in haar skik dat sy deel kon hê aan so ‘n heerlike gereg, het van toe af die een resep na die ander probeer, selfs later ook dié van haar oorlede skoonma wie se resepteboek Petoors uit ‘n kas opgediep het. Vir hulleself kon hulle hul nuutgevonde talent en vaardigheid nie hou nie en kort-kort het hulle van die bure vir ete oorgenooi en het Melissa uitgehang met haar resepteboek etes totdat die hele kontrei dit eens was dat daar nie nog ‘n kok soos Melissa Petoors was nie. Sy kon die ou-ou geregte op eg boere manier voorberei, maar ook al die nuwerwetses, en so het Piet Petoors homself weereens heimlik gelukgewens met die uithaler vrou wat hy getrou het (en ook met die blink oplossings wat hy beraam het om haar tot daartoe te gebring het.).
Nou, dit is Piet en Melissa Petoors se storie, maar ek en jy het ook ‘n storie. Kyk, die dag toe jy jou lewe aan die Here gegee het, toe jy voor Sy troon gestaan en “Ja” gesê het, het jy die Hemelse Bruidegom se bruid geword. Daar het jul saam ‘n nuwe lewe begin. Jy het oorgetrek na Hom toe en deel van Sy huis geword en Hy het vir jou Sy groot Resepteboek gegee, sommer op jul troudag al. Ek praat mos nou van die Bybel. Want kyk, die Bybel is nie net ‘n storieboek nie. Daar is wel mooi stories in opgeteken, verseker, maar dit is nie nét ‘n storieboek nie. Dit is ‘n resepteboek. Die Bybel is die mees praktiese Boek waaraan ‘n mens maar kan dink. Dit bevat God se resepte vir Sy Bruid se lewe. Maar, tog so jammer, party lees nie eers die Boek nie. Andere lees hom, maar pas hom nie toe nie; gaan maar voort met die ou resepte, die ou lewe, die ou lewenstyl waaraan die Heer geen erg het nie. Hulle lees van al die mooi geestelike vrugte en disse wat die Bruidegom wil sien en wat Hy deur Sy bruid se handelinge wil geniet, maar nee, dis verniet of sy dit wil toepas. Om daardie Boek vir Sy bruid te kon koop, het Hom bloedgeld gekos. So jammer tog om die hemelse Groot Resepteboek so op die rak te sien staan.
Maar hier is goeie nuus: die Hemelse Bruidegom maak ook soos Piet Petoors. Hy kom staan by jou in die kombuis van jou lewe en sê: “Melissa, hierdie is hemelse resepte. Hulle is nogal moeilik om gemaak te kry. Hulle “flop” so maklik. ‘n Mens besluit die oggend om die heel dag vriendelik te wees maar as jy jou weer kom kry, het Meraai jou duur eetstel se bord teen die kraan stukkend gestamp en trek die rook uit die aangebrande pappot van jou vinnige humeur. Jy wil mos ook nie skinder nie maar voor jy “knipmes” kan sê, het jy onthuts saamgepraat oor Sonnet wat haar man so verkul. Hoe lyk dit Melissa, jy is so ‘n oulike bruid vir My; kan Ek so ‘n bietjie hand bysit? Die resep waarmee jy nou daar besig is, verg ‘n ekstra eetlepel wysheid en nog ‘n menspunt genade.” En so help Hy jou en kom al meer heerlike geregte ongeskonde uit die oond van jou vurige hart.
Die hoofgereg is natuurlik altyd die liefde; ‘n groot bak daarvan waarby almal, ook die bure, huis- en plaashulpe kan kom aansit; ‘n bak wat nie leeggeskep kan word nie omdat God self die bron daarvan is. Dan is daar die stewige bruingebraaide biefstukke van geloof vir die swaar tye en beproewings, maar ook die melkkos vir die outjies wat nog jonk in die geloof is maar tog behoefte het om uit jou oorvloed te kom skep. En so word jou tafel ‘n tafel van seën en sy blad al groter en sy disse al ryker.
Die “Groot Resepteboek” is oor ‘n periode van 1535 jaar opgteken deur 39 manne en beslaan nie minder nie as 66 boeke met prosa, digkuns, spreuke en wat meer; iets vir elke smaak en behoefte. Hoe lyk dit, het dit nie tyd geword dat jy dit van hoek tot kant begin deurwerk en elke resep persoonlik op die proef stel nie?
VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → DIE GROOT RESEPTEBOEK. Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.
Ons verwelkom u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.