.
A. DIE DISSIPELS HET VAN GOD KRAG GEKRY OM HULLE WERK TE KON DOEN
Hand 2:1 En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. 2 En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. 3 Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. 4 En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.
Ons lees hier van die Heilige Gees. Die Heilige Gees is saam met die Vader en Seun, een God maar elkeen doen ‘n verskillende werk. Die Vader maak al die planne, sê wie dit moet doen en wanneer dit gedoen moet word. Jesus, die Seun, doen die werk en die Heilige Gees deel dit wat Jesus verdien het uit aan die mense.
Kom ons vergelyk dit met ‘n restourant (‘n kafee wat etes gee). Die eienaar besluit wat se soort kosse in sy plek bedien sal word, stel die personeel aan en besluit op watter tye die plek oop sal wees. Die kok berei die kosse voor en die kelnerin (die “waiter”) bedien dit aan die mense. God die Vader het die hemel en aarde en alles daarop beplan en wat, wanneer deur wie gedoen moet word, Jesus het het die son, maan en sterre, die aarde en die mense gemaak en toe die mens in sonde val het Hy deur sy kruisdood die Ewige Lewe vir ons met sy bloed gekoop en die Heilige Gees bring daardie Lewe in ons harte in en gee ons krag en maak ons slim om te lewe soos wat die Vader dit wil hê. Hieruit kan ons sien hoe belangrik die werk van die Heilige Gees is.
Ons het in ‘n vroeëre les gesien dat voordat Jesus kon uitgaan om die duiwel te oorwin, Hy eers as mens volgemaak moes word met die Heilige Gees. Daarna kon Jesus baie dissipels maak.
‘n Dissipel is iemand wat sy sonde laat staan en sy lewe aan Jesus oorgegee het. Jesus het later terug gegaan hemel toe. Toe was dit sy dissipels se beurt om nog baie meer dissipels vir Hom te maak. Om dit te kon doen, moes hulle ook eers volgemaak word met die Heilige Gees om hulle krag te gee en slim te maak om daardie werk te kon doen.
Hiervoor moes hulle lank en ernstig bid. Na 10 dae het dit gebeur. 120 Van hulle was in ‘n groot kamer op die tweede verdieping van ‘n gebou bymekaar. Skielik kom die Heilige Gees asof van nêrens af nie in die kamer in. Toe die dissipels opkyk vanwaar hulle bid, lyk dit soos tonge van vuur wat op elkeen se kop is; miskien soos groot rooi kersvlamme. Die Heilige Gees het ook met die geluid van ‘n geweldige sterk wind rondom die gebou gekom.
Ons weet mos dat vuur en wind baie krag het en dat ‘n mens nie maklik daarteen kan staan nie. Daardie dissipels sou in hulle harte net so sterk soos vuur en wind word wanneer hulle na ander nasies toe gaan om van hulle dissipels te gaan maak.
Daardie dag waarop die Heilige Gees gekom het, word Pinksterdag genoem.
.
B. DIE DISSIPELS WAT VOL WAS VAN DIE HEILIGE GEES, KON IN ALLERHANDE TALE PRAAT
Hand 2:5 En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. 6 En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; 7 en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie? 8 En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? 9 Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, 10 Frigië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, 11 Kretense en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek. 12 En hulle was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander: Wat kan dit tog wees? 13 Maar ander het gespot en gesê: Hulle is vol soetwyn.
Die mense wat in Jerusalem was om die groot Joodse fees, die Paasfees te kom vier, was van baie verskillende nasies. Elkeen het sy eie nasie se taal, sy moedertaal, gepraat. Jesus se dissipels wat vol van die Heilige Gees was, kon skielik in al daardie baie tale praat sonder dat hulle dit eers geleer het.
Hulle was ook nou nie meer bang vir die Joodse kerkleiers nie, maar het buite toe gegaan en met die skare van mense gepraat. Elkeen het vertel van die groot dinge wat God vir hulle gedoen het. Al die mense in die strate kon dus verstaan wat vir hulle oor Jesus gesê word. Hulle het oopmond (verstom) geluister en geweet dat wat daar gebeur het, ‘n wonderwerk van God was. Op dié manier het hulle geweet dat alles wat die dissipels daar van Jesus gesê het, die waarheid was.
.
C. PETRUS SE PREEK
Hand 2:14 Maar Petrus het opgestaan met die elf en sy stem verhef en hulle toegespreek: Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde.
15 Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre. 16 Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: 17 En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. 18 En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. 19 En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. 20 Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. 21 En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
Toe daar nou eers baie mense saamgestroom het, het Petrus voorgegaan en begin om vir hulle van Jesus te vertel. Hy het die hele storie vertel van hoe dit gekom het dat Jesus vir die mens se sondes kom sterf het.
.
D. DIE EERSTE BEKEERDES
Hand 2:37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? 38 En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. 39 Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep. 40 En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.
41 Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring.
Baie mense was diep in hulle harte geraak deur die boodskap. Hulle was bekommerd oor hul sondes en het gevra wat hulle moes doen om vergewe te word. Petrus het geantwoord:
- Hulle moes hulle sonde laat staan (hulle bekeer).
- Daarna moes hulle, hul in water laat doop.
- Jesus sou dan die geskenk van die Heilige Gees in hulle harte gee sodat hulle verander sou word in kinders van God; Hy sou dit verniet vir hulle doen, sonder dat hulle daarvoor sou hoof te betaal, of ‘n dier te offer of eers vir ‘n ruk lank probeer om reg te lewe. Dit was wat God van lankal af belowe het.
Party van hulle was baie bly om dit te hoor. Hulle het hulle toe van hul sondes bekeer en in water laat doop. Daar was omtrent drie-duisend wat so gedoen het en gedoop is en die Heilige Gees ontvang het.
//////////
VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → 10 Die Heilige Gees kom na die mens toe . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.
Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.