A. OU TESTAMENTIESE PROFESIË
Die uitstorting van die Heilige Gees was geprofeteer in verskeie boeke van die Ou Testament onder andere die boek Joël.
En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet. (Joel 2:28,29).
B. DOEL
Die doping met die Heilige Gees en die geestelike gawes, is aan die Kerk gegee om hom toe te rus om sy roeping om dissipels van alle nasies te maak, te kan uitvoer.
… maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde. (Han 1:8).
Vroeg in Sy bediening het Jesus alreeds die begeerte uitgespreek dat die Heilige Gees uitgestort moes word.
Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was! (Luk 12:49).
C. DIE HEILIGE GEES IN DIE OU TESTAMENT
In die Ou Testament het die Heilige Gees die wedergeboorte in die mens teweeg gebring sodat hy met God kon wandel. Dit is reeds vroeër behandel.
Hy het ook op sekere uitverkore persone soos konings, priesters en profete gekom as ‘n salwing sodat hulle die werk wat hulle vir God moes doen, kon uitvoer. Hierdie tipe werk was in daardie dae klein in omvang en (sovêr ons weet) tot die volk Israel beperk (alhoewel die Here vir Elia gestuur het om die heidense koning Hásael, as koning oor Aram te salf (1Kon 19:5)).
D. DIE DOPING MET DIE HEILIGE GEES IS GEGEE VIR DIE MAAK VAN DISSIPELS
Na die dood, opstanding en hemelvaart van Jesus, moes die hele wêreld vir Christus verower word. Hiervoor was ‘n geweldige toename in die aantal werkers wat betrokke sou wees, benodig. Ook moes hulle veel meer gees-like krag hê om die werk te kon doen. Jesus het toe die Vader gebid om die Heilige Gees uit te stort om beheer te neem oor hierdie ontsaglike aksie wat sou voortduur tot aan die einde van hierdie dispensasie.
E. PINKSTER DAG
Die uitstorting het op Pinksterdag plaasgevind.
En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek. (Han 2:1-4).
Dit was ‘n dramatiese bonatuurlike gebeurtenis, onbetwisbaar ‘n handeling van God. Die persone in die bokamer op wie die Heilige Gees uitgestort is, het innerlik ‘n ongekende krag belewe wat hulle uitgedryf en buite laat getuig het van Jesus se sterwe vir die mens se sondes en sy opstanding uit die dode. ‘n Menigte inwoners van Jerusalem het na die plek toegestroom toe hulle die gedruis van die magtige wind hoor. Daar aangekom, het ‘n verdere wonder hulle oorweldig: hulle, wat uit elke volk onder die son was, het skielik elk gehoor hoedat in sy eie taal vertel word van wat Jesus vir hom of haar gedoen het. Die gekombineerde effek was so oorweldigend dat hulle diep in die hart getref, en 3000 van hulle in geloof hul lewens aan Jesus gegee het en gedoop is. Dit was die eerste vrugte van Jesus se kruis-werk wat voortaan deur die Heilige Gees se bemagtiging van gelowiges dwarsoor die wêreld sou uitkring.
F. IS DIE SPREEK IN TALE NODIG AS BEWYS DAT ‘N MENS MET DIE HEILIGE GEES GEDOOP IS?
Daar is ‘n mate van verskil van opinie in Christen geledere of die spreek in ‘n onbekende taal, gesien moet word as die enigste bewys van die feit dat iemand deur die Heilige Gees gedoop is. Daar is egter geen werklike rede om hierdie dispuut tot ‘n konklusie deur te voer nie. Die essensie van die saak is dat ‘n Christen toegerus moet word vir dienswerk om hom in staat te stel om die Groot Opdrag te kan uitvoer. Sodra hy uit sy gemaksone uitbe-weeg om die verlorenes te bereik, sal die Heilige Gees hom te hulp kom en toerus op die wyse wat Hy die beste ag om sy doel onder bepaalde omstan-dighede te bereik.
Toe Paulus in die tronk was in Filippi, het die Heilige Gees gegee dat ‘n aard-bewing die plek skud wat ‘n rol gespeel het om die sipier daartoe te lei om sy vertroue in die Here Jesus te stel, maar toe Paulus in die tronk was in Rome, het die Gees van God hom daar gehou, maar aan hom bonatuurlike wysheid gegee om die Sendbriewe op te teken wat sedertdien ‘n geweldige seën vir die Kerk was.
Laat die geestelike impak wat jy op mense het, dien as maatstaf van die mate waartoe jy met die Heilige Gees vervul is.
G. GAWES VAN DIE GEES
Die Heilige Gees deel nege verskillende geestelike gawes, soos wat Hy dit goed ag, aan gelowiges uit, waarvan elkeen nuttig is vir ‘n bepaalde behoef-te in die dienswerk van God. Hierdie gawes word vermeld in 1 Kor 12, naamlik:
- ‘n Woord van wysheid.
- ‘n Woord van kennis.
- Profesie.
- Geloof (vir ‘n spesifieke doel).
- Genadegawes van gesondmaking.
- Werkinge van kragte.
- Onderskeiding van geeste.
- Verskillende tale.
- Uitleg van tale.
‘n Diepgaande bespreking van hierdie gawes is nie haalbaar in die loop van hierdie studie nie, maar laat ons volstaan deur te sê dat die Heilige Gees hulle nodig ag om die dissipelskaptaak gedoen te kry. In 1Kor 14:1 maan Paulus ons om ons te beywer om hulle te bekom. Hierdie is God se kragge-reedskap en is daar om gebruik te word, of sou jy verkies om 1000km vêr na jou bestemming te stap, eerder as om per motor of selfs per vliegtuig daarheen te reis?
Ons maak graag van die natuurlike krag middele wat tot ons beskikking is, gebruik, om die lewe makliker te maak of om ons doel vinniger te bereik, maar wanneer dit by God se geestelike werk kom, ploeter ons maar met die handsaag aan, eerder as om die vinnige elektriese saag te bekom en te gebruik.
F. TALENTE
‘n Laaste woord: daar is ‘n groot verskil tussen bonatuurlike gawes van die Gees wat deur God aan sy diensknegte vir geestelike werk toevertrou word en natuurlike vermoëns soos musiektalent, skilderkuns, organisasie, ens, alles natuurlike talente waarmee selfs ongelowiges ryklik bedeeld mag wees.
……….