HIERDIE DOKUMENT MAG VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD
Lees asb. Mat 15: 21-28
Jesus breek die grense deur uit te reik na die heidene.
Ons lees dat Jesus die omgewings van Tirus en Sidon besoek het. Tirus was binne die grondgebied van die stam Aser geleë, maar Tirus was buite Israel se grondgebied. Vroeër het Hy verklaar dat Sy roeping na die verlore skape van Israel was, maar nou vind ons Hom deels binne heidense grondgebied waar die Jode normaalweg nie sou kom nie. Die dissipels moes dit ook vreemd gevind het. Het die teenstand wat Hy van die Joodse godsdienstige leiers ondervind het, Hom dalk laat besluit om Hom tot die heidene te wend? Nee, gedagtig daaraan dat die Evangelie mettertyd na alle nasies uitgedra sou word, was Hy hier besig om die eerste stappe vir sendingwerk onder nie-Jode te onderneem. Hiermee sou Hy die voorbeeld stel vir Sy dissipels wat ná sy hemelvaart in Sy voetspore sou volg.
‘n Heidense vrou reik uit na die Jode se Messias.
Miskien was hierdie bewys van belangstelling en goedgesindheid, een van die redes waarom hierdie heidense vrou, hierdie Kanaäniet, moed geskep het om die Here Jesus terwille van haar dogter te nader. In opdrag van God het Joshua die Kanaäniete uitgeroei as gevolg van hulle boosheid. Hulle het hulle kinders aan afgode geoffer, hoerery in hulle tempels beoefen en geweier om hulle tot God te bekeer. Maar in elke nasie is daar diegene wat honger na God en Hy let op hulle en lei hulle na iemand deur wie Hy Homself aan hulle kan openbaar sodat hulle met Hom versoen kan word en deel aan sy Koninkryk kan kry. Hier het ons so ‘n vrou op wie God ag gegee het. Hy het Sy Seun vanaf Kapernaüm na hierdie omgewing laat reis en sodoende die eerste stap geneem om dit vir haar moontlik te maak om die Verlosser te ontmoet.
‘n Vrou breek deur die grense wat vir haar geslag gegeld het.
Daar was egter ook ander struikelblokke wat sy moes oorkom. Een daarvan was dat sy as vrou, deur die etiket van haar tyd gebonde was om haarself op die agtergrond te hou. Dit sou onvanpas wees om haarself aan die Heer op te dring soos wat ons lees dat baie van die mans, bv Bartiméüs wel gedoen het. Die mense, veral die mans wat Jesus omring het, sou haar bestraf het as sy toenadering tot Hom gesoek het.
Haar agtergrond was teen haar, maar haar hart was reg.
Maar hierdie vrou het gehoor van wat Jesus, die Seun van Israel se geliefde koning Dawid, vir andere gedoen het. Deur die werking van die Heilige Gees moes sy besef het dat Hy veel meer was as ‘n gewone mens en daarom het sy Hom Heer genoem. Wanneer ʼn persoon se hart na God dors, sal die Here homself verseker aan so ‘n persoon openbaar. Wanneer hy opreg en met sorg wandel volgens die lig wat hy van Bo ontvang het, ongeag hoe gering of klein daardie liggie ookal is, sal God sy geestelike insig vermeerder. Luister wat Jesus sê in Joh. 14:21 : “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.”
‘n Moeder veg teen bose magte vir die behoud van haar kind.
Nog ‘n belangrike faktor waarop gelet moet word, is dat hierdie vrou ʼn moeder was. Moeders is God se spesiale agente wanneer dit kom by Sy bediening aan hulle kinders. ʼn Vader mag ‘n abnormale kind, of ʼn kind wat gedurig siek is, of ernstige gedragsafwykings toon, miskien nog verlaat, maar ʼn moeder sal altyd terug draai om so ‘n kind op te tel; die outjie wat sy so in haar skoot gedra het, wat so na aan haar hart is. Selfs wanneer dit kom by ʼn tienderjarige wat deur sy selfsugtige en sondige lewe die moeder baie seermaak, sal sy nog onthou hoe sy daardie ou kleintjie aan haar bors gevoed, in ʼn kombers toegedraai en in haar arm of op haar rug gedra het. ʼn Goeie moeder sal selfs sy verwerping vergewe en alles doen wat sy kan om dit wat hy of sy nodig het, in die hande te kry en vir hom of haar te gee. Let daarop dat dit nie die vader van die kind was wat Jesus om hulp opgesoek het nie, maar die moeder.
Sy hamer hard, dringend, aanhoudend, aan ‘n toe deur.
Hoe het Jesus gereageer op haar droewige uitroep van: “Wees my barmhartig Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete.” Hy het haar nie ʼn enkele woord geantwoord nie. Onverklaarbaar! Net so ook haar reaksie: sy het net aangehou en aangehou om agter Hom aan te loop en aanhoudend dieselfde woorde oor en oor uit te roep totdat Sy dissipels later verskriklik geïrreteerd geraak en Hom gevra het om van haar ontslae te raak. “Stuur haar weg want sy hou aan om agter ons aan te loop en uit te roep,” het hulle gekla.
“Jy kwalifiseer nie vir My hulp nie. Jou soort is nie my opdrag nie!”
Dit wou vir almal voorkom asof Jesus so diep in gedagte was, dat Hy algeheel onbewus was van haar onophoudelike pleitroepe. Maar nie so nie, want Sy antwoord aan die dissipels wys dat Hy inderdaad ten volle bewus was van haar en inderwaarheid in Sy gees besig om ál Sy aandag aan haar te gee. Hy het egter nie net op haar probleem gefokus nie, maar was gefassineer deur hierdie heidense vrou, sovêr van Jerusalem af, wat so ‘n onwrikbare geloof in Hom gehad het. Hy wou sien hoeveel verder sy haar geloof sou strek in haar poging om haar dogter genees te kry, daarom, instede daarvan om aan sy dissipels se versoek te voldoen, het Hy haar geantwoord: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.” “Welgedaan” het die manne seker gedink, “dit sal haar regsien.” Maar nee, sy sou haar nie so maklik laat afsit nie; “Waarom het Hy dan hier na ons heidense land gekom,” het sy moontlik in haar hart geredeneer. Hy het haar ten minste ook nie weggestuur soos die dissipels wou hê nie.
Sy stuit Hom in Sy spore; Hy sal bo-oor haar moet tree of om haar loop om verder te kan gaan.
Toe beraam sy ‘n ander plan, ‘n brawer poging en sy hardloop verby Hom, val voor Hom neer sodat Hy tot stilstand gedwing word en roep gedemp uit: “Here, help my!” Teen hierdie tyd was Jesus se gemoed seker al oorstelp van verwondering maar sou hierdie besondere vrou se geloof nog ‘n teenslag kon oorkom?
Die wysheid en geloof van die nederige.
Terwyl Hy haar gesig ondersoekend dophou, antwoord Hy sag: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en dit vir die hondjies te gooi nie.” Vir ʼn oomblik sien Hy die twyfel op haar gelaat want in die oë van die volk van God was die Kanaäniete niks anders as honde nie maar dan skiet ‘n ingewing haar te binne en beantwoord sy Sy beswaar: “Ja Here maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.” Verwonderd oor haar geloof wat die een struikelblok ná die ander te bowe gekom het, antwoord Jesus haar: “Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê,” en haar dogter het gesond geword van daardie uur af.
Ware geloof sien die Here soos wat Hy is.
Wat ‘n aangrypende verhaal. Geloof is nie soveel om te glo dat God die krag het om my te seën nie, maar dat Hy my wil seën omdat ek kosbaar is in Sy oë. Geloof is om te glo dat God goed en liefdevol is, vol van genade en eindeloos in vergifnis. Geloof is die soort vertroue wat ʼn babatjie in sy moeder het. Geloof is nie te hoog dat ʼn mens dit nie kan bykom nie. Geloof is om aan die voete van Jesus te sit. Mag ons volhard, totdat hierdie soort van geloof ook deur ons werk.
……….