DOKUMENTE MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD
Matt 5:13: Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.
FYN TAFELSOUT
Growwe gelerige sout is goed genoeg om ‘n pasafgeslagte beesvel mee in te sout om dit te preserveer, maar ‘n goeie huisvrou maak seker dat sy fyn tafelsout vir haar gaste op tafel sit. Die verskaffers van daardie kwaliteit sout, krap dit nie sommer met ‘n graaf bymekaar waar dit met sand en ander onsuiwerhede vermeng is nie, maar doen moeite om dit behoorlik te prosesseer om net die beste op die winkelrak te kan plaas. So moet ek ook sorg dra dat my lewe met skoon hemelse sout gevul is.
Egte hemelse sout is ten eerste rein. Dit beteken dit is nie ‘n bietjie van Christus gemeng met ‘n bietjie wellus, ‘n bietjie woede, ‘n bietjie gierigheid, ‘n bietjie drank en wat ookal nie. Dit kos iets om innerlik rein te wees. Dit vra dat ek tyd deurbring in die bestudering en bepeinsing van Sy Woord om te sien hoe lyk sout van gehalte. Daarmee saam ook selfverloëning: ‘n voortdurende doelbewuste oorgawe sodat Hy meer in my kan word en ek minder. Meer sout; minder sand.
Egte hemelse sout is tweedens deurgaans dieselfde. Die sout in die pot moet tot op die boom fyn tafelsout wees. Ek moet nie na ‘n aantal beproewings die sout opgebruik het en sand begin uitstrooi nie. Om te kla en te mor is sand in die soutpot. As ek sout gemeng met sand oor iemand se kos gooi, sal dit kraak onder sy tande en sal hy sê: “Nee dankie, hou dit vir jouself!”
Om vir andere kwaad te word en kwaad te bly, ‘n wrok te koester, is nog ‘n tipe sand in die soutpot. Dan is ek net soos die heidene wat kwaad is vir alles en almal en onreg met vuur vergeld. Om onder alle omstandighede jou vreugde te behou, is suiwer sout; iets wat jy nie op ‘n winkelrak te koop kry nie maar waaraan jy self deur die Heer se krag moet werk. Daarom roep Paulus ons op om ons in die Here te verbly: Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! (Fil 4:4).
Wanneer ons geleer het om pal na Bo te kyk, daal die vrede van God in ons harte neer: Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. (Fil 4:6,7) Dit is ‘n goddelike belofte!
Wanneer hierdie vrede in my hart gekom het, dink ek sout gedagtes en nie meer sand gedagtes nie. Dan kan ek doen wat die Skrif leer naamlik: Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit. Dan dink ek sout in my hart en dan praat ek sout en doen ek sout want Salomo sê soos wat ‘n mens in jou hart dink, so is jy (Spr 23:7a). Dan kan ek sout in die samelewing wees. Dan kan ek vir die wêreld wys dat God ‘n liefdevolle Vader en nie ‘n boosaardige regter is nie.
SOUT WAT VERSLAAN HET
Dan praat Jesus in die bostaande Skrifgedeelte ook van sout wat laf geword het, wat veslaan het. Dit het sy sout smaak verloor en het waardeloos geword. “Gooi dit weg. Gooi dit buite in die straat waar dit nie die vrugbare grond kan bederf nie,” sê die Here. Om ‘n teruggevalle Christen, ‘n soutpot waarvan die sout verslaan het, te ontmoet, is ‘n tragiese belewenis. Dit is soos om ‘n arend met gebreekte vlerke in ‘n hok te sien rondskuifel; om Simson met sy leë oogkaste vir die Filistyne te sien koringmaal.
Eenmaal terwyl ek gedurende ‘n Paasnaweek traktaatjies by ‘n spoorwegstasie uitgedeel het, het ‘n man wat een daarvan ontvang het, teruggedraai na my toe en bedroef vir my kom sê: “Weet jy, daar was ‘n tyd in my lewe dat ek aan die brand was vir die Here en net soos jy op die strate uitgegaan en dissipels vir Jesus gemaak het, maar ek het geleidelik my geesdrif verloor en vandag kry ek dit net nie meer reg om opgewonde te raak oor Hom en oor die dinge van Sy Koninkryk nie.” Ek het nog probeer om hom aan te moedig om sy lewe opnuut aan die Heer oor te gee, maar hy het net sy kop droewig geskud, omgedraai en sy familie na buite gevolg. Of die wetenskap verslane sout se smaak weer kan herstel, dit weet ek nie maar om ‘n kind van God wat die Heilige Gees oor ‘n lang periode bedroef het, tot bekering te vernuwe, is nie maklik nie; kyk, hy het sy eerste liefde verloor.
So hoof dit egter nie met ons te gaan nie. Waak, bid, verbly jou in die Here, loof en dank Hom vir elke nuwe môre, vir elke blye dag, getuig van Sy goedheid teenoor ander en voeg die woord by die daad deur aan hulle goed te doen en jy sal van krag tot krag in die Here gaan en tot groot seën vir jou familie, jou bure en jou werkgewer en kollegas wees!
SIEN OOK DIE “FUNKSIES VAN SOUT” .
……….