A. GOD SE WET IS GOED WANT DIT IS DIE UITDRUKKING VAN SY HART VAN LIEFDE
En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. (Mat 22:37-39)
B. DIE ONGEREDDE MENS SE VERHOUDING TOT DIE WET
-
-
- Vir die onwedergeborene is die onderhouding van die Wet ‘n bomenslike taak.
-
Die Wet maak die lewe vir die mens baie, baie moeilik want dit is vir hom soos ‘n spoor waarop hy nie kan ry nie. Hy sien dit soos ’n treinspoor wat in die regte rigting koers, dit gaan hemeltoe, maar dit help hom nie eintlik nie, want sy lewe is soos ‘n ou, ou ysterwiel kruiwa, hooggelaai met al sy besittings. Hy loop wydsbeen oor die spoor en stoot die kruiwa voor hom uit. Solank hy met alle mag konsentreer op die gladde spoor, vorder hy so ‘n meter of wat, maar sodra iets sy aandag aftrek, soos wanneer hy op ‘n skerp klip trap of iemand hom koggel, kyk hy weg en af is die wiel van die spoor af en onderstebo die kruiwa en daar lê al sy goed. Nou ja, hemeltoe moét hy, so pak hy maar weer alles terug, lig die wiel op die spoor en probeer weer harder as tevore en so gaan dit aan en aan.
-
-
- Die Wet is volmaak maar die mens onvolmaak
-
Die fout lê nie by die treinspoor nie, tewens ‘n enorme lokomotief met al sy trokke skel met sy fluit en as die man met sy kruiwa haastig padgee, snel dit verby en verdwyn oor die bult. Waarin lê die verskil? Die wiele verskil algeheel. Die trein se wiele en die treinspoor pas by mekaar; hulle is aanpasbaar. Die een is gemaak vir die ander, maar die ou kruiwa s’n nie. Hom kan jy hoogstens op die werf rond stoot, maar nie ‘n rit na die stad toe aanpak nie.
God se Wet is ‘n volmaakte treinspoor en toe die Here ons geskape het, het ons gladder en vinniger op sy wil en wet beweeg as die vinnigste sneltrein op sy spore, maar na die sondeval, pas ons “lewenswiele”, ons sondige karakter nie meer daarop nie; nee, geestelik lyk ons meer soos ‘n geroeste ou kruiwa met ‘n slingerende wiel wat tjierie-tjierie, tjierie-tjierie aansukkel hemel se kant toe. God se Wet is volmaak; die fout lê by ons.
Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed. (Rom 7:12).
Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. (Rom 7:14)
-
-
- Die Wet betoon geen genade nie.
-
Die Wet het geen begrip vir ons swakhede nie; dit eis volmaakte gehoorsaamheid en skryf ons onmiddellik af as ons maar net die kleinste sondetjie begaan.
Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. (Jak 2:10)
Die Wet verwag van die mens om perfek te wees in elke klein detail van sy dade, gedagtes en bedoelings. Wanneer ‘n trein vanaf Kaïro aan die noordpunt van Afrika na Kaapstad aan die suidpunt reis en die 10,131km in 10 dae perfek afblits maar in die laaste bergpas die spoor byster raak, tuimel dit na benede en vergaan dit tesame met sy vrag nuwe motors. Vir die persoon wat die voertuie bestel het, beteken dit algeheel niks dat die trein 90% van sy rit foutloos afgelê het nie; dit kon net sowel maar nooit uit Kaïro vertrek het nie. Die hele rit was tevergeefs. Die handelaar het nie sy voertuie ontvang nie en het nou niks om op sy vloer te sit om te verkoop nie. Dit is wat die bostaande teks sê. Of ek nou een maal of ‘n duisend maal die Wet oortree het, my lewe is ‘n geestelike wrak omdat ek ontspoor het.
-
-
- Die mens kan God nie behaag deur sy poging om die Wet te onderhou nie.
-
Geen mens kan deur die onderhouding van die wet God so vêr kry om hom regverdig te verklaar nie. Die goeie dade wat ‘n persoon probeer om te doen om God se guns te wen, word gesien as dooie werke want hulle is besmet deur die sonde wat in die mens is. As ‘n koning se skinker vir hom ‘n beker wyn aanbied in ‘n beker wat weke lank op die ashoop gelê het en so besmet is dat niemand dit wil aanraak nie, sal hy die koning se woede opwek in plaas daarvan om sy guns of goedkeuring te wen. Die daad wat die sondaar aanbied mag in sigself goed wees, maar die sondaar is besmet met sonde en hy besmet die geskenk.
… aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. (Rom 3:20).
Die Wet veroorsaak dat die mens onder veroordeling lewe want hy is gedurig besig om te oortree. Die onwedergebore mens is ‘n misrabele wese.
C. DIE WAARDE VAN DIE WET VIR DIE ONWEDERGEBORE MENS
“Maar”, kan ek tereg vra, “as dit dan nou so is, waarom gee die Here enigsinds vir my die Wet as ek tog nie in staat is om dit te onderhou nie?”
Wel, die Wet dien ten minste drie goeie doele.
-
-
- Die Wet openbaar aan ons wat sonde is
-
… deur die wet is die kennis van sonde. (Rom 3:20).
-
-
- Die wet oortuig die sondaar van sy skuld
-
Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; (Rom 3:19)
-
-
- Die Wet bewaar die sondaar en lei hom na Christus.
-
Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word. Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie. Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; (Gal 3:23-26).
Die Wet is ons tugmeester deurdat dit ons gewete aanspreek en uit vrees vir straf bly ons maar so na as moontlik aan die onderhouding van die Wet. In die voorbeeld wat ons hierbo gebruik het, hou die man met die kruiwa maar in die voetpaadjie wat langs die spoor loop. Dit sal hom nie in die hemel bring nie, maar bewaar hom darem dat hy nie heeltemaal in die bosse of in die woestyn in wegdwaal nie. Wanneer die Evangelietrein vir die hoeveelste maal by hom stilhou, kry hy weereens die geleentheid om sy ou kruiwa lewe te laat vaar en deur geloof, sonder om deur goeie werke te probeer om ‘n kaartjie te koop, sommer net gratis in te klim en een te word met met die ander passasiers wat reeds deur Jesus gered is en die ewige lewe sonder verdienste ontvang het.
‘n Tugmeester is ook soos ‘n jong kind se voogd wat aanhoudend ‘n oog oor hom hou totdat hy groot is en vir homself kan sorg.
‘n Ander vertaling sê die onwedergeborene word tydelik in ‘n tronk bewaar. ‘n Tronk verander nie die prisonier se hart nie, maar dit weerhou hom ten minste daarvan om in allerhande misdaad betrokke te raak. So is die vrees vir straf soos ‘n gevangenis wat jou ten minste weghou van lelike sondes, maar in jou hart het jy nog steeds ‘n begeerte om dit te doen. Wanneer jy gered word, kom jy uit uit die gevangenes van vrees want dan kom woon die Heilige Gees in jou om jou hemeltoe te lei.
……….