Die Mens: sondeval en staat

WAAROM JOU SONDE NOG SELF WIL DRA TERWYL JESUS REEDS DAARVOOR BETAAL HET?

A. DIE MENS SE VAL EN DIE GEVALLE MENS SE STAAT

1. Die oorspronklike mens, Adam, het gesondig en geestelik gesterf

Lees asb die verhaal van die mens se sondeval in Gen: 3:1-6. 

… maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe. (Gen 2:17)

En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes. (Efe 2:1).

Jy mag redeneer dat die mens nie gesterf het nadat hy gesondig het nie, dat hulle nog steeds rondgeloop, met God gepraat ens. Ja, hulle het nie onmiddellik dood neergeslaan nie, maar soos ‘n bok wat weghardloop nadat hy ‘n doodskoot met ‘n giftige pyl gekry het, het hulle ook voortgegaan, maar die uitwerking van die gif van sonde was onomkeerbaar. Eerstens het hul liggame begin om geleidelik agteruit te gaan en tweedens het ‘n vinnige verrotting van hul eens heilige karakters ingetree.

Alle nie-wedergebore mense is geestelik dood en fisies sterf hulle gaandeweg. Enigiets wat dood is, ontbind en dit word net erger en erger. Die mens is nie in staat om enige dooie ding, byvoor-beeld ‘n dooie dier, weer lewend te maak nie. Net so kan ‘n mens ook nie ‘n persoon wat geestelik gesterf het weer, geestelik le-wend maak nie.

Wat God betref, sterf ‘n persoon die oomblik wanneer ‘n spikkeltjie sonde sy lewe binnedring.

2. Adam se nageslag is geestelik dood

            • Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het. (Rom 5:12).

Adam se sonde is deurgegee aan sy kinders en deur hulle aan die ganse mensdom. Alle mense word gebore met die sonde wat reeds ‘n element of deel van hulle samestelling is.

            • Jy mag aanvoer dat jy ‘n respektabele persoon is; dat jy nie moor of steel nie en eerbaar met jou vrou saamlewe, maar God sien jou heeltemal anders. Enigiets wat die fynste spikkeltjie van sonde bevat, is in die oë van ‘n heilige God reeds dood en kan nie in heiligheid herstel word nie. Gif mag ‘n rukkie neem om sy werk te doen, maar die finale uitkoms wanneer dit nie behandel word nie, is die dood. Om daardie rede skryf God ‘n sonde besmette persoon op die oomblik wanneer hy besmet word, onmiddellik af.

 3. Die onwedergebore mens vertoon nie meer die beeld van God nie.

En die HERE het die lieflike geur geruik, en die HERE het in sy hart gesê: Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af(Gen 8:21).

Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. (Ps 51:7)

Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? (Jer 17:9)

 4. Die onwedergebore mens is onder die duiwel se beheer en hy is hulle vader.

Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. (Joh 8:44).

 5. Die onwedergebore mens is ‘n vyand van God.

Sien Joh 8:44 supra. Aangesien die duiwel ‘n vyand van God  en die mens sy kind is, is die mens ook ‘n vyand van God, tensy hy wedergebore word as ‘n kind van God.

Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God. (Jak 4:4).

Aangesien alle wedergebore mense deel is van die wêreldsisteem van dink en doen, is hulle vriende met die wêreld en vyande van God.

Om nou ‘n aantal goeie dade te doen om God se guns daardeur te probeer wen, is soos wanneer ‘n mens se vyand oor die heining vir jou ‘n paar goedkoop verlepte groentetjies aangee om jou te paai. In sy hart is sy gesindheid teenoor jou nog net dieselfde en wanneer sy vriende by hom kom vleisbraai, beskinner hy jou. God ken ook ons harte en sal nie deur ons halfhartige pogings om reg te lewe, omgekoop word nie.

As ek my lewe nie aan hom oorgee nie, bly ek sy vyand en my goeie dade beland in sy asblik en Hy sit die deksel stewig daarop sodat hy sy huis van die slegte reuk van my dubbelhartigheid kan reinig.

 6. Die onwedergebore mens is onder ‘n vloek

Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie. (Gal 3:10).

 7. Die toorn en oordeel van God is op die onwedergebore mens

Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, (Rom 1:18).

Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; (Rom 3:19).

 8. Die mens is nie in staat om homself te herstel sodat hy weer heilig en in ‘n regte verhouding tot God kan wees nie.

… aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. (Rom 3:20).

nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees. (Tit 3:5).

 B. DIE STAAT VAN ‘N KIND.

‘n Klein kindjie kan nie voor of teenoor God sondig nie, omdat hy nie in staat is om die wil van God te onderskei nie. Stoutigheid en ongehoorsaam-heid teenoor sy ouers, is nie sonde voor God nie. Soos wat hy ouer word, raak hy bewus van God en van God se wil. Wanneer hy dan doen wat hy besef of aanvoel teen die wil van God te wees, sondig hy teen God en dring die dood hom binne net soos wat dit met Adam en Eva gebeur het. Hy word dan ‘n sondaar. Voor dit was hy onskuldig alhoewel hy Adam se sondige natuur oorgeërf gehad het. Op watter ouderdom en oomblik dit met elke kind gebeur, weet God alleen, maar sodra as wat dit gebeur, moet hy weer- gebore word om met God versoen te raak; om ‘n kind van God en ‘n burger van God se koninkryk te word.


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → MENS, SONDEVAL EN STAAT . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha