Die mens verval in sonde

DIE DUIWEL MISLEI EVA EN SY VERLEI ADAM

A. GOD STEL VIR DIE MENS ‘N TOETS DEUR MIDDEL VAN DIE BOOM VAN KENNIS VAN GOED EN KWAAD

Gen 2:9 En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad. 

Gen 2:16 En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, 17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe. 

God wou sien of Adam en Eva net lief was vir sy mooi tuin en lekker vrugte en of hulle nog meer lief was vir Hom.

‘n Ryk man wil nie hê ‘n meisie moet hom trou net vir sy baie geld, beeste, skape en motorkarre nie. Hy wil ‘n vrou hê wat meer van hom hou as van sy goed en meer as van enige ander man op aarde. So ‘n man mag planne maak om te kyk of sy meisie regtig lief is vir hom. Hy mag miskien vir haar sê dat hy vir ‘n lang tyd moet weggaan maar belowe om verseker weer na haar terug te kom. Dan sal hy weggaan om te kyk of sy nie sal moeg word om vir hom te wag en met ‘n ander man trou nie.

God het ook ‘n toets vir die mense gestel. Hy het ‘n boom met die naam van die Boom van Kennis van Goed en Kwaad in die Tuin geplant. Van daardie boom se vrugte was hulle nie toegelaat om te eet nie. Vir ‘n tydlank het hulle nie naby die Boom gekom nie, maar toe kom daar ‘n verleier in die Paradys.

B. DIE DUIWEL (SATAN) VERLEI DIE MENS

Gen 3:1 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? 

2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, 3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. 

4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. 

6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet. 

7 Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaar gewerk en vir hulle skorte gemaak. 8 En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die HERE God tussen die bome van die tuin. 

Ons lees hier vir die eerste keer van satan. Hy was eers ‘n pragtige engel maar wou hoër as die Here wees. Hy word toe God se vyand.

Toe hy die mooi mense en diere sien wat God gemaak het, asook die tuin met sy pragtige plante, was hy baie kwaad en afgunstig want hy kon niks maak (skape) nie. Hy wou God aanval en dit van af Hom weg vat, maar kon dit nie doen nie; hy was te swak daarvoor. Toe sien hy dat God die tuin aan Sy twee kinders, Adam en Eva gegee het, en maak hy ‘n slim plan.

Hy sou probeer om God se twee mense aan sy kant te kry; dan sou God hulle nie meer wou hê nie en sou hy wat satan was, hulle en die hele tuin met alles wat daarin was, in besit kry.

Hy kom toe in die vorm van ‘n slang en begin by die vrou. Vir haar haal hy oor om hom bo die Here te glo. Toe sy die vrug eet wat God gesê sy mag nie eet nie, het sy gekies om eerder aan die duiwel as aan God gehoorsaam te wees. Sy het die satan bo God gekies.

Dit was soos ‘n vreemde man wat by jou vrou kom wanneer jy weg is en haar ompraat om by hom te slaap. Eva het vergeet van al die mooi dinge wat God in sy tuin aan haar gegee het. Sy het haar laat ompraat en van die verbode vrugte geëet. Toe het sy ook haar man omgepraat om saam met haar van die vrug van ongehoorsaamheid te eet. Onmiddellik het hulle onder satan se mag gekom. Hulle was baie dom om dit te gedoen het, want die satan het net valse beloftes gemaak en nooit vir hulle iets goeds gegee nie. Skielik was hulle toe ook bang en skaam vir God.

 C. ADAM, EVA EN DIE SLANG WORD VERHOOR

Gen 3:9 Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy? 10 En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg. 11 En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie? 12 En die mens antwoord: Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet. 

13 Daarop sê die HERE God aan die vrou: Wat het jy nou gedoen? En die vrou antwoord: Die slang het my bedrieg, en ek het geëet. 

14 Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe. 15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt. 

16 Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers. 

17 En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie—vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. 18 Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. 19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer. 

20 En die mens het sy vrou Eva genoem, omdat sy moeder geword het van alles wat lewe. 

God kon hierdie ernstige sonde wat begaan was nie so laat nie en het ‘n hofsaak gehou. Dit het gegaan oor die eet van die vrug wat Hy verbied het. Die man het die vrou beskuldig. Hy het gesê dit was sý wat hom verlei het. Hy het ook vir God beskuldig en gesê dat dit God was wat die vrou wat hom verlei het, vir hom gemaak het – so, hy het gesê die Here het vir hom ‘n slegte vrou gegee.

Die vrou weer, het die slang beskuldig. God het hulle verskonings nie aanvaar nie en al drie skuldig bevind dat hulle sy wet oortree het en elkeen sy eie straf opgelê. Die man moes van toe af aan hard werk vir hulle kos en die vrou sou baie pyn hê wanneer haar kinders gebore word.

D. DIE HERE IS GENADIG VIR DIE TWEE MENSE

Gen 3:21 En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek. 

Maar God was nog steeds lief vir sy twee mense. Hy wou nie hê hulle moes vir altyd skaam wees omdat hulle kaal was en van Hom af bly wegvlug nie. Toe het Hy ‘n onskuldige dier geslag; die arme skaap of bok se bloed het gevloei. Van sy vel het die Here vir die twee mense klere gemaak om hulle kaal liggame mee toe te maak. Nou kon hulle weer na Hom toe kom en met Hom sit en gesels sonder om skaam te wees.

22 Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie! 23 Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is. 24 So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak. 

Adam en Eva is toe uit die tuin uitgesit. Van daardie dag af moes die mens buite die Paradys woon en swoeg en sweet om kos te kan kry om van te lewe.

E. BELOFTE VAN ‘N VERLOSSER (REDDER)

Vers 15 is baie belangrik: Hierin spreek God sy straf oor die satan uit en belowe Hy die mens dat Hy eendag uit die saad van die vrou (uit haar nageslag, haar agter-agter-agter kleinkinders) ‘n mens sou stuur wat die kop van die slang stukkend sou trap. Die dag sou ook kom dat Hy die duiwel (die satan) in ‘n diep put sou gooi sodat hy niemand ooit weer sou kon verlei nie.

Hierdie Saad van die vrou wat God belowe het, was God se eie Seun, Jesus, wat uit die hemel sou kom en as ‘n mense baba op aarde gebore sou word. Dan, wanneer Hy 33 jaar oud sou wees, sou die heersers van die aarde Hom aan ‘n kruis vasspyker en laat sterf.

Wat hulle nie sou besef nie, was dat Sy bloed sou vloei net soos dié van die onskuldige dier in die Paradys om die mens se sondeskuld te bedek. Dit het natuurlik nou al reeds gebeur. Ons lewe nou baie jare nadat Jesus vir ons skuld aan die kruis betaal het. In die volgende hoofstukke lees ons meer daarvan.

//////////

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → 3 Die mens verval in sonde . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha