Die Onregverdigste Verhoor Ooit

Dat daar deur die eeue talle onskuldige mense ter dood veroordeel was, is gewis. Dit het dikwels gebeur as gevolg van getuies wat leuens vertel het om hul eie lewens te red. Ander redes was die aanvaarding van die getuienis van sogenaamde “deskundiges”. So is ene Claude Jones in die jaar 2000 in Amerika terreggestel omdat so ‘n kundige getuig het dat ‘n haar wat op die misdaad toneel gevind is, aan hom behoort het. Later jare toe vordering met DNA toetse gemaak is, het dit geblyk dat dié haar die vermoorde se eie was. Hoe tragies so ‘n voorval ookal is, kan ‘n mens ten minste sê dat die arme man ook maar ‘n sondaar soos ons almal was.

Die onregverdigste verhoor en veroordeling wat egter ooit plaasgevind het, was dié van Jesus Christus, die Seun van God. Kom ons kyk na net ‘n paar ongerymdhede:

In die eerste plek was Hy die enigste volmaak regverdige Persoon wat ooit geleef het. Sy ganse lewe het getuig van eerbied teenoor God die Vader en welwillendheid teen die mensdom. Sonder vergoeding het Hy rondgegaan en goed gedoen teenoor een en elk. Net Hý kon te midde van ‘n skare staan en uitroep: “Wie oortuig My van sonde?”
Nie een van die drie howe wat Hom verhoor het, het die jurisdiksie gehad om dit te doen nie. Dit is ‘n vaste internasionale beginsel dat geen land die reg het om die ambassadeur van ‘n ander land tereg te laat staan nie; hy moet aan sy eie land uitgelewer word om daar verhoor te word.
Hy was die Alleen-eienaar van die land en die mense wat Hom aangekla het. Watter reg het ‘n skepsel om sy Skepper te arresteer, aan te kla, te verhoor en tereg te stel?
Hy is onmiddellik na Sy arrestasie, gedurende die nag, in die vroeë oggendure verhoor wat algeheel in stryd was met die Sanhedrin se hofreëls wat bepaal het dat geen verhoor voor die oggend offer gehou mog word nie.
By ‘n strafverhoor moet die klag waarop die beskuldigde teregstaan, by die aanvang van die verhoor duidelik aan hom gestel word sodat hy weet waarop hy moet antwoord en watter getuienis hy moet voorlê. Dit is nie gedoen nie, maar getuies is na willekeur geroep wat elk met ‘n ander klag gekom het. Die hele ding was vooraf beplan en Hy was skuldig geag nog voor Hy by die hof aangekom het.
In ‘n gesonde juridiese sisteem moet die regter na afloop van die staat se saak, besluit of daar voldoende getuienis teen die beskuldigde ingebring is om hom skuldig te vind; so nie, moet hy hom laat gaan. Hy mag die beskuldigde nie dwing om teen homself te getuig nie, maar dit is presies wat Kajafas gedoen het toe hy sien dat daar geen geldige getuienis wat die doodstraf regverdig, teen Jesus ingebring was nie.

Deur sy klere te skeur toe Jesus verklaar dat Hy die Seun van God was, het Kajafas duidelik gedemonstreer hoe intens emosioneel hy by die saak betrokke was. Hy was geensinds ‘n onpartydige regter nie maar eerstens die klaer, die verontregte en dan sommer ook nog die regter.
Die beskuldigde moes in drie howe direk na mekaar teregstaan: eers is hy onderwerp aan ‘n voorlopige ondervraging deur Annas, toe is Hy ondervra deur Kajafas, die hoëpriester wat later die die Joodse Raad, die Sanhedrin, bygesleep het. Nadat Hy hier veroordeel is, is Hy voor die Romeinse regter Pontius Pilatus gebring wat verklaar het dat hy geen skuld in Hom kon vind nie en Hom na Herodus gestuur wat tot dieselfde slotsom gekom het en Hom teruggestuur het om verder voor Pilatus tereg te staan.
Pilatus het ten einde rade en om homself te red, ‘n skottel water laat kom en sy hande gewas van die bloed van “dié regverdige Man” en Hom oorgegee om gekruisig te word.

Hierdie is maar net enkele voorbeelde van die uiterste onreg wat ooit deur ‘n geregshof gepleeg is.

God die Vader het dit maar laat begaan en Jesus die Seun het aarde toe gekom, welwetende dit was wat met Hom sou gebeur. Die rede? Sodat jou en my skuld voor God tot die laaste krieseltjie toe, betaal kon word en ons as vrygekoopte sondaars, as ‘n regverdiges, uit die hemelhof kon uitstap en die Ewige Lewe deelagtig kon word.

Die aanbod van hierdie offer staan nog; moet dit nie misloop nie!

……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → ONREGVERDIGSTE VERHOOR . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha

    ……….