HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.
Lees asb. Johannes 8: 1-11
Jesus, ‘n teiken vir andere se haat.
Die Here Jesus was gedurig onder die aanval van die duiwel wat probeer het om Hom in ʼn lokval te lei om iets te doen of te sê waardeur Hy God se Wet, die tradisies van Jode of die Romeinse reg sou oortree, sodat Hy in die hof skuldig bevind en tot die dood veroordeel kon word. Hy moes gevolglik baie versigtig wees in wat Hy gedoen en gesê het. As Hy ‘n gewone mens soos ons was, sou Hy moontlik in vrees geleef het, maar Hy het kalm voortgegaan en elke geleentheid gebruik om die Koninkryk van Sy Vader te bevorder. Die mense wat die meeste deur die duiwel gebruik was om hierdie bose werk te doen, was nie die ongelowige Romeine nie, maar eerder die Joodse godsdienstige leiers wat in hulle binneste verteer was deur bitterheid en jaloesie.
‘n Sondaar sonder hoop.
Op hierdie spesifieke dag het Jesus vroeg al tempel toe gegaan, waarskynlik met die gedagte om ‘n groot gedeelte van die dag daar deur te bring om diegene wat gekom het om offerandes te bring of om te aanbid, die beginsels van die geestelike Koninkryk van God te leer. Terwyl Hy hiermee besig was, was daar skielik ʼn opskudding onder die skare en het ʼn aantal swetende Fariseërs en Wetgeleerdes ‘n verwaaide, verwilderde, worstelende, huilende vrou na Hom toe gesleep daar waar Hy gesit het en haar voor Hom laat staan. Die leier van die groep het dan ook nie op hom laat wag nie maar, terwyl hy triomfantelik dié kant toe en dáárdie kant toe rondkyk, met ʼn luide uitdagende stem uitgeroep: “Leraar, hierdie vrou is op heterdaad in owerspel betrap. In die Wet wat Moses vir ons gegee het, word beveel dat so ʼn vrou gestenig moet word maar U, wat sê U?”
‘n Verlosser moet skielik as regter sit.
Jesus het onmiddellik deur hulle bose komplot gesien. Die Wet wat God deur Moses gegee het, was inderwaarheid baie streng rakende owerspel want God wou hê dat sy volk gelukkige en heilige mense moes wees. Sonde bring pyn en droefheid, veral seksuele sondes wat lei tot vaderlose kinders, agterdog tussen man en vrou en selfs moord, en daarom het die Wet bepaal dat nie net die skuldige vrou nie, maar ook die man onder sulke omstandighede gedood moes word (Sien Lev 20:10, Deut 22:22, Num. 5:11-31, ens.). Die Romeinse reg het egter verbied dat die doodstraf deur enige ander liggaam as ʼn Romeinse hof opgelê mag word. Wat meer is, Jesus het by meer as een geleentheid verduidelik dat Hy nie gekom het om mense te veroordeel nie maar om aan hulle genade te bied sodat hulle hul kon bekeer. Die nuwe verbond wat Jesus ingelei het, gebasseer op sy offerande van Homself, het dan ook onderskeid getref tussen die mens en die mens se sonde. Sonde moes gestraf word maar die mens, wanneer hy hom sou bekeer, moes verskoon word. Wat meer is, sulke berouvolle sondaars sou aanvaar word as hemelburgers in die Koningkryk van God.
‘n Regter in ‘n hoek.
Jesus het egter besef dat na watter kant toe Hy ookal standpunt inneem, Hy veroordeel sou word. Sou Hy die vrou se aanklaers gelyk gee dat sy gestenig moes word, sou die volk vir wie Hy gepreek het dat God genade aan hulle wou betoon, sy boodskap verwerp en Hom beskuldig dat Hy in praktyk maar net so ongenaakbaar as die Joodse leiers was. Sou Hy die teenoorgestelde standpunt inneem en pleit dat die vrou begenadig word, sou hierdie hardvogtige leiers dit onmiddellik aan die Joodse godsdienstige raad rapporteer sodat daar stappe teen Hom as ‘n oortreder van die Wet geneem kon word. Dit kon sy verdere bediening verydel het.
‘n Derde opsie.
Die Here het egter altyd ‘n uitweg. Wat Hy toe gedoen het was om geen antwoord te gee nie maar om neer te buk en met sy vinger in die grond te skryf. Ons wat agterna hierdie verhaal lees, sal altyd wonder wat die woorde was wat Hy geskryf het. Miskien het Hy glad nie eers woorde geskryf nie maar sommer net letters terwyl Hy tot Sy Vader gebid het om die situasie tot Sy eer en tot seën vir almal wat asem opgehou het om Sy antwoord te hoor, sou gebruik. (Dit leer ons dat ons nie haastig moet wees om ʼn antwoord te gee wanneer ons ondervra word nie maar dat ons, ons gedagtes op die Here moet vestig en van Hom leiding moet ontvang om die weg te open sodat Hy in die harte van die wat ons bedien, Sy wil kan werk.) Die Fariseërs en Wetgeleerdes wat die vrou aangekla het, het egter al hoe meer opgewerk geraak. Hulle het Jesus se optrede vertolk as synde dat Hy hulle vraag wou ontduik en gevolglik al sterker op ʼn antwoord aangedring. Hy het toe weer orent gekom, Sy vervolgers in die oë gekyk en gesê: “Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste klip op haar gooi.” In hierdie Afrikaanse vertaling behels die antwoord slegs 16 woorde.
Die aanklaers word die beskuldigdes en veroordeeldes.
Die oudste van hulle wat gedurende sy leeftyd seker al ‘n bietjie meer wysheid as die andere geleer het, was nie so heethooftig as die jongeres nie en was die eerste om te besef dat hulle die stryd verloor het. Moontlik, of waarskynlik, was hy besig om te dink aan geleenthede in sy lewe waartydens hy ook ontrou was aan sy vrou, dade waaroor hy eintlik gestenig moes gewees het. Hierdie innerlike erkenning van skuld het hom vrygemaak van sy velle oordeel oor ʼn medemens en daarom het hy besluit dat dit die beste sou wees om maar net stilweg pad te gee uit hierdie verleentheid. Nog ʼn ouerige man het op sy hakke gevolg, en toe nog een en toe nog een en skielik het die res almal weggedrentel, elkeen in sy eie rigting, elkeen worstelende met sy eie gewete, terwyl hulle nie kon waag om die een die ander in die oë te kyk nie. Let ook op hoe groot die wysheid en liefde van die Here Jesus was wat weer afgebuk en op die grond geskryf het, om die beskuldigers die geleentheid te bied om te ontvlug.
Genade, die deur tot ‘n rein lewe.
Toe die laaste voete behalwe dié van die aangeklaagde vrou uit Sy sig verdwyn het, het Jesus weer opgestaan en vir haar gevra: “Vrou waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie?” Sy antwoord toe: “Niemand nie, Here.” “Ek veroordeel jou ook nie,” het Jesus verklaar, “Gaan heen en sondig nie meer nie.” Kan jy net dink die verbasing en die trane van verligting wat gevloei het oor die wange van hierdie vrou wat ʼn paar oomblikke tevore nog die doodstraf in die oë gestaar en nou in die liefdevolle oë van die Here Jesus gekyk het? Genade en vergifnis is kragtige middele om donker harte tot bekering te lei.
‘n Les vir regters.
Kom ons kyk van nader hoe die Here Jesus hierdie netelige saak bereg het. Hy het nie gesê dat die Wet van Moses nie toegepas moes word nie, ook het Hy nie die vrou se owerspel goedgekeur nie maar wat Hy gedoen het, was om te wys dat in die toepassing van hierdie verskillende reëls en wetgewing, die aanklaer en die regter die swakheid van hulle eie geesteskonstitusies in ag moes neem en daarom nie die wet te hardvogtig moes toepas nie.
Eers genade, dan oordeel.
Tweedens het Hy die genadige hart van God geopenbaar. Ware berouvolle sondaars moet die geleentheid gebied word om hulle tot God te bekeer, eerder as om hulle summier hier en nou tot die dood te veroordeel. Eendag, wanneer die groot Wit Troon in posisie geplaas is, sal die finale oordeel uitgespreek word. Dan sal die wette van God toegepas en regverdige, ewige vonnisse opgelê word vir alle ongeregtigheid wat deur die mensdom gepleeg was, maar huidiglik moet die genadetyd aangewend word om die mens tereg te wys, om vir hom te wys dat daar ‘n meer vervullende manier van lewe is, ʼn manier wat God behaag en tot sëen is vir almal om hom. Jesus het gekom om te soek en te red dié wat verlore is en nie om hulle nou al te veroordeel nie.
……….