HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.
(Lees asb Luk. 14:25-35)
Ons wêreld se media-advertensies.
In ons moderne lewe is die advertensiewese tot ‘n fyn kuns ontwikkel. Dit is nie noodwendig die beste produk wat die beste verkoop nie, maar eerder dié waarvan die volblad glans foto in ‘n tydskrif met wye sirkulasie verskyn; die produk waarvan helderkleurige strooibiljette in tienduisende posbusse geplaas word; die produk wat elke paar minute met luide klank op die TV skerm vertoon of oor die radio aangekondig word. Ja, die adverteerder huur ‘n deskundige hoë impak verkoopsman om potensiële kliënte te oortuig dat sy produk die allerbeste waarde vir geld is, sakpas om af te betaal en eenvoudig om te gebruik. Die swakpunte van ‘n produk word nie vermeld nie, behalwe in die geval van medisynes waar dit kragtens wet verpligtend is om die newe effekte uit te stip. Dit lees jy natuurlik eers tuis nadat die pille klaar gekoop en betaal is.
Koninkryksadvertensies: die lekker- en die seerkant.
Jesus daarenteen, het beide kante van Sy Koninkryk vir Sy hoorders uitgespel. Die blinkkant was dat dit soos ‘n verborge skat in ‘n saailand of ‘n kosbare pêrel was waarvoor jy alles wat jy gehad het, gerus kon verkoop om dit te kan bekom. Dit is ook ‘n veilige bank waarin jy skatte vir die ewigheid kan wegbêre.
Maar Jesus is nie net die Lewe nie maar ook die Waarheid en die Waaragtige Lig. Hy het geweet dat die meeste van Sy volgelinge nie ernstig was nie; dat hulle geen werklike begeerte gehad om ‘n intieme verhouding met Hom te hê nie en nog minder ‘n radikale verandering in hulle lewens begeer het. Hulle wou net die wonderwerke wat Hy gedoen het, sien en ervaar, die brode en vis eet en na Sy vertroostende woorde luister. Daarom wou Hy sekermaak dat hulle nie onder die illusie verkeer dat hulle Sy dissipels was en deel aan die ewige lewe sou hê nie en het Hy dikwels vertel hoe moeilik dit was om Sy koninkryk binne te gaan en hoe pynlik om op daardie pad te volhard. In die Skrifgedeelte wat ons so pas gelees het, doen Hy dit weer.
Die einakant: ‘n doringdraad heining loop dwarsdeur gesinne.
Eerstens moes hulle hul familielede haat en hulleself ook. Waarom? Wat beteken dit? Hy wou hulle laat verstaan dat hulle liefde vir God oneindig groter moes wees as hul liefde vir hulself of vir hul familielede. Dit beteken dat Hulle keer op keer wanneer hulle familielede wou gehad het dat hulle iets moes doen en Hy wou hê dat hulle iets anders moes doen, hulle moes kies om te doen wat Hy wou hê en dit wat hulleself of familielede graag wou hê, van die hand moes wys. Vir mense wat toekyk en sien hoe hulle gedurigdeur so vreemd optree, sou dit lyk of hulle hulself en hulle familielede haat. Die werklike rede vir hulle gedrag was egter hulle oorweldigende liefde vir God.
Die einakant: ter dood veroordeel.
In vers 25 verduidelik Jesus hierdie beginsel weer op ‘n ander wyse. Hy sê dat indien ‘n persoon saam met Hom wil stap, hy sy kruis elke dag moet opneem en Hom volg. Destyds, indien ‘n persoon vooroor gebuig en ‘n groot, swaar hout kruis op sy skouers gedra het, het almal wat hom gesien het, geweet dat hy op pad was om tereggestel te word. Binnekort sou hy aan daardie kruis vasgespyker word en daar sou hy hang totdat sy gees sy liggaam verlaat. ‘n Persoon wat ‘n kruis gedra het, het sy huis, beeste, bokke, en selfs sy klere weggegee en sy familie en vriende vir die laaste keer gegroet. Wanneer hy die kruis opgeneem het, het hy niks meer gehad wat hom met hierdie wêreld verbind het nie.
So, het Jesus verduidelik, moes Sy dissipel dag vir dag lewe. Die dag wat hy die Koninkryk deur die smal poort binnegaan het, het hy die doodstraf oor homself uitgespreek. Van daardie dag af moes niks en niemand in hierdie wêreld enige verdere invloed op sy lewe uitoefen nie. Die dissipel spreek selfs die dood uit oor al sy eie sondige begeertes; die totaal van sy ou sondige natuur. Van daardie dag af sou hy in geheel aan Jesus behoort en Hom volg in ‘n lewe van heiligheid en toewyding. Dit is ‘n sterk uitspraak! (Maar laat ons tog nie vir ‘n oomblik dink dat hierdie Koninkrykslewe ‘n neerdrukkende lewe is nie want soos ons die ou sondige lewe laat vaar, sal God se nuwe kragtige, vreugdevolle en heilige lewe in ons ontwaak en sal ons gelukkige mense word, vervul met Jesus se vreugde en nie die sondige vreugde van hierdie wêreld nie. Laat ons ook byvoeg dat ons nooit in ons eie krag in staat sal wees om die daaglikse kruis van selfverloëning te dra nie, maar die Here sal ons bemagtig om dit te doen.)
Die einakant: die prys is toringhoog.
Die derde beeld van dissipelskap vind ons in verse 28-30. Hier gebruik Hy die beeld van ‘n persoon wat ‘n toring wil bou. Nou, as jy ‘n gewone huis wou bou, sou dit nie veel aandag trek nie en sal die inwoners van die dorp hulle ook nie veel aan jou steur nie. Jy kan ook goedkoop materiale gebruik. Die armer klas het sommer klipmure gestapel en die dak van riete gemaak. Min of meer enigeen sou so ‘n huis kon bou. Om ‘n toring te bou was ‘n ander saak. Van die oomblik dat jy die fondament lê, sal almal kom kyk, verneem wat jou doel daarmee was, hoe hoog dit sou wees, wat dit sou kos. Sommige sou jou bewonder; andere weer sou agteraf smalend opmerk: “Hy lyk ‘n mooi een vir so ‘n konstruksie.”
Om te verhoed dat jy die spot van die dorp word, sou jy vooraf moes gaan sit en jou somme baie mooi maak; die koste van sterker boumateriaal, dikker mure, soliede fondamente en natuurlik die massa steen of klip om drie of meer verdiepings hoog te bou, die wenteltrap; kundige bouers en so meer. Dit sou jou ‘n aardige som geld uit die sak jaag. Sou jou geld opraak, sou jy jou gesig nie weer op straat, om nie eers te praat van in die stadspoort, kon wys nie. Ja, jou hele gesin sou die spot van die dorp wees.
Net so, het Jesus gewaarsku, moes jy mooi dink en die koste van dissipelskap bereken. Terwyl jy dieselfde sondige lewe leef as almal om jou, sal niemand hulle aan jou steur nie, maar as jy ‘n ware Christen word, uitstaan vir God, ‘n ligtoring in jou omgewing, sal almal dit spoedig te wete kom. Hulle sal jou fyn dophou want hulle sal nie daarvan hou as jy ‘n beter lewe as hulle leef nie. Jou heilige lewe sou hulle sondige lewens sleg laat afsteek, soos ‘n toring tussen modder huisies en hulle sal heimlik ‘n slegte gesindheid teen jou koester. Indien hulle sien dat jy opgehou het om vordering te maak in jou strewe na heiligheid, sal hulle gou-gou met jou spot, onder mekaar skinder en met die vinger wys. Dit sal vir jou ‘n groot verleentheid wees en jy sal nie weet waar om weg te kruip nie. Daarom, waarsku Jesus, moet jy ernstig nadink voordat jy in God se Koninkryk ingaan maar terselfdertyd ook nie bang wees nie omdat Hy jou die krag sal gee om jou toring van lig tot Sy heerlikheid te voltooi.
Die einakant: di’s oorlog!
Vervolgens, in verse 31 en 32 word dissipelskaplewe met ‘n oorlog vergelyk. Op die oog af lyk dit na ‘n ongelyke stryd: 10 000 teenoor 20 000 want die ongereddenes is gewis, getalle gewys aan die wenkant. Die Christen kryger moet dus deeglik besin of hy kans sien om die stryd te wen en nie blindelings instorm nie. Talle oorloë is egter al gewen deur ‘n handjievol soldate wat ‘n hartstogtelike liefde vir hul land gehad het en ‘n volkome vertroue in hul aanvoerder. Strategie en wapentuig kan ook ‘n reuse verskil maak en Jesus se krygers is goed toegerus.
Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus, (2 Cor 10:4,5).
Die einakant: lawwe sout is geen sout.
Laastens, in verse 34 en 35vergelyk Jesus Sy dissipels met sout wat ‘n baie sterk smaak het. As daar sout in die kos is, sal almal wat dit eet, dit weet. Dit is bedoel om geproe te word. As sout sy smaak verloor, beteken dit dat sy chemiese samestelling verander het sodat dit gladnie meer sout genoem kan word nie. Dan is dit totaal en al nutteloos en kan net sowel op die pad uitgestrooi word. ‘n Christen wie se lewe nie gekenmerk word deur die kragtige smaak van Christus se heiligheid nie maar dit wegsteek om vervolging of bespotting te vermy, is geheel en al nutteloos in die Koninkryk van God en kan net sowel oor die muur in die verbygaande pad tussen die wêreldburgers gegooi word.
Luister aandagtig.
Die Here sluit dan Sy kragtige lering af deur te sê: “Laat almal wat kan hoor, hul ore spits om hierdie belangrike woorde in te drink want dit beteken lewe of dood vir die toehoorder en wie dit ookal hoor en dit nie ter harte neem nie, sal eendag soveel strenger geoordeel word.”
……….