Ryk jongman; Luk 18:18-30

EEN DING KOM JY KORT ...

EEN DING KOM JY KORT …

HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD

Luk 18:18-30

 Op verskeie plekke in die Woord, lees ons van ryk mense; hier het ons nog ‘n ryk man, ‘n jong man en hy het werklik vir God gesoek. Hy het nie gewag dat iemand anders moes kom om hom te vra dat hy hom tot God bekeer nie, nee, hy het self navraag gedoen waar Jesus was en toe na Hom toe gegaan. In die Evangelie van Markus hoofstuk 10:17 lees ons dat toe Jesus besig was om uit die dorp uit te gaan, hierdie jongman aangehardloop gekom, voor Hom op sy knieë neergeval en uitgeroep het: “Goeie Meester watter goeie ding moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?”

Voordat ons besluit waarin hy kortgeskied het, kom ons kyk  na die goeie dinge wat daar reeds in sy lewe was.

  1. Eerstens sien ek voor my ‘n jongman wat na God gesoek het terwyl die meeste ander jongmanne dikwels soek na al die plesiere wat die lewe bied.
  2. Tweedens sien ek ‘n goeie man wat gesoek het om nog meer van die goeie in sy lewe in te bring. Hy het werklik van kindsbeen af probeer om te wandel volgens die Woord van God soos wat hy dit geleer het uit die Wet wat God deur Moses gegee het. Toe Jesus hom hieroor getoets het deur ‘n aantal van die gebooie te vermeld soos byvoorbveeld owerspel, moord, leuentaal, diefstal en om jou vader en moeder te eer, kon hy Hom eerlik in die oë kyk en sê: “Here al hierdie gebooie het ek gehou na die beste van my vermoë vandat ek ‘n jong seun was.”
  3. Derdens sien ek ‘n nederige man. Alhoewel hy ‘n heersersposisie oor andere beklee het, het hy nogtans in Jesus ‘n groter en wyser leier as hyself gesien en Hom geëer deur op sy knieë voor Hom neer te val en Sy advies te soek.
  4. Vierdens sien ek ‘n ryk man met ‘n ewigheidsperspektief. Ander ryk manne van wie Jesus vertel het, het nooit enige gedagte aan die lewe na die dood gegee nie maar hierdie jongman het gevra: “Here, ek hou daarvan om goed te doen, watter goeie ding bly nou oor vir my om te doen sodat ek die ewige lewe kan beërwe?” Hy wou gereed wees vir daardie lewe. Hy wou dit tog nie misloop nie. In Markus 10:21 is dit opgeteken dat Jesus hom aangekyk en liefgekry het. Dit was baie selde dat so ‘n opregte, gerespekteerde, nederige man die Here Jesus se advies gesoek het.

Jesus wou so graag dat hierdie pragtige jongman die ewige lewe moes hê en daarom het Hy hom met graagte vertel wat hy moes doen en gesê: “Daar is een ding wat jy nog kortkom, verkoop alles wat jy het, gee dit aan die armes en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan hier en volg My.” Die jongman het sy vraag gevra en sy antwoord verkry, direk uit die mond van die Seun van God. ‘n Mens sou verwag dat hy met blydskap sou opspring om hierdie opdrag te gaan uitvoer om so gou moontlik die ewige lewe te bekom, maar nee, hy was geweldig geskok. Sy oë het waarskynlik oopgesper en sy mond oopgeval. Hy kon sy ore nie glo nie. Hy was stomgeslaan, het nie ‘n woord gehad om die Here te antwoord nie. Hy was bedroef. Dit was vir hom ‘n verskriklike teleurstelling. Miskien het daar selfs trane oor sy wange gevloei. Hy het nie verwag dat die prys só hoog sou wees nie. Hy het sukkelend orent gekom, omgedraai en met neergeslane oë weggestrompel sonder om enigsinds weer terug te kyk.

Jy sien, hierdie jongman het sy besittings baie, baie liefgehad. Hy het hulle nie net in sy hande vasgehou nie, maar ook in sy hart. Nee, hy het hulle nie net besit nie, sy rykdom het hóm besit. Dit was vir hom ondenkbaar om dit alles te verkoop, die opbrengs vir die armes te gee en die Here Jesus te volg waar hy ook sou gaan. Hy wou nie dat sy rykdomme nou al na die hemel oorgeplaas moes word nie, hy wou dit vir homself hê, hier en nou. Hy het nie juis die gemeenskap met die Here Jesus begeer nie en om saam met Hom die land te voet te deurkruis, was nie sy visie van ‘n goeie lewe nie, nee hy wou, omring deur sy baie besittings die lewe geniet. Ook het hy Jesus nie so heelhartiglik vertrou dat hy alles sou kon opgee en Hom volg nie want sy eiendom was sy sekuriteit.

Die tragedie van die hel is dat dit nie net vol slegte mense is nie maar ook vol “goeies” wat te styf vasgehou het aan aardse dinge; so styf vasgehou het dat hulle nooit hulle hande en hulle harte kon oopmaak om die Ewige Lewe te ontvang nie.

Die goeie nuus egter is dat Jesus sê dat alhoewel dit baie moeilik vir ‘n ryk man is om gered te word, niks vir God onmoontlik is nie. Loof die Here.

Jesus het besef dat hierdie insident sy dissipels diep in die hart gegryp en ‘n groot uitdaging vir hul geloof gestel het, daarom het Hy hulle onmiddellik ook bemoedig deur vir hulle te sê: “Ek vertel vir julle die waarheid: Niemand het ooit sy huis of vrou of broers of ouers of kinders verlaat ter wille van die Koninkryk van God en nie baie meer soveel in hierdie lewe en hierna die Ewige Lewe verkry nie.” Wat Hy dus sê is dat die beloning om Hom te volg, reeds in hierdie lewe begin. Laat ons dus moed skep en ons Meester volg met harte wat vol is van vreugde want dan sal ons geseënd wees in hierdie lewe en ook in die lewe wat kom.

Wat kan ons verder uit hierdie voorval leer? Dit is duidelik dat die jongman ‘n hele paar basiese geestelike waarhede nie verstaan het nie naamlik:

  1. Dat dit onmoontlik is om die Here te behaag deur die nakoming van Sy Wette. Hy was so seker dat hy ‘n skoon rekord gehad het dat hy dit prontuit so teenoor Jesus gestel het. “Al hierdie dinge het ek nagekom van my jeug af.” Wat hy natuurlik bedoel het, is dat hy nie sommer aan sonde toegegee het nie, maar sy bes probeer het om, sovêr dit menslik moontlik was, niks verkeerds te doen nie en sodoende ten minste uiterlik, ‘n hoër morele peil as die meeste ander mense gehandhaaf het. Hy het egter nie die geestelike insig gehad om te besef dat hy sommer die heel eerste gebod al oortree het, deur sy besittings te verafgod nie.
  2. Hy het gedink dat, om God te behaag, jy goeie dade opmekaar moes stapel soos die lae in ‘n koek en wanneer jy uiteindelik die pragtig versierde koek voltooid voor die Here neergesit het, sou Hy jou beloon deur die Ewige Lewe aan jou te skenk wat jy dan soos ‘n kersie bo-op die koek kon sit. Hoe vêr van die waarheid is dit tog nie! Al sou hy sy hele leeftyd se “goeie werke” in ‘n reuse koek wat tot aan die hemel reik kon kompakteer en voor die Here se troon neergesit het, sou hy vir homself nie ‘n enkele minuut in die hemel daarmee kon koop nie. Die enigste “geld” waarmee iets in die hemel gekoop kan word, is die Bloed van Jesus Christus.
  3. Vir hom was Jesus net ‘n besonder wyse leermeester wie se raad hy kon vra en aanneem of verwerp en nie die Seun van God wat teruggekom het aarde toe om menselewens waarvan die duiwel Hom in die Paradys beroof het, weer in besit te neem nie.
  4. Sy siening was dat die Ewige Lewe eers begin waar die aardse lewe ophou, dws. na die dood, terwyl Jesus geleer het dat die Ewige Lewe vir n mens begin die oomblik wanneer jy met God versoen raak deur Hom as Verlosser aan te neem. ‘n Mens kan eintlik sê dat jy ‘n vervroegde dood van jou ou sondige natuur op daardie presiese oomblik beleef deur in geloof te aanvaar dat jy in Christus gesterf het. Die heerlikheid om gemeenskap met God te hê en te beleef hoe die mag van sonde in jou lewe verbreek word, kan jy nou onmiddellik begin beleef!
  5. Hierdie siening dat die Ewige Lewe eers na die dood begin, het meegebring dat hy geen gemeenskap met God hier op aarde verwag het nie; dit sou eers ná die graf kom. (Geen wonder dat hy sy skatte bo so ‘n troostelose, droë geestelike bestaan verkies het nie!)
  6. Hy het nie besef dat die Ewige Lewe behels het dat die Here in sy lewe sou kom woon en totale beheer van die daaglikse vloei van sy gedagtes, woorde en dade sou oorneem nie en dat ook al sy eiendom dan aan die Here sou behoort nie.
  7. Hy het nie verstaan dat hy alleenlik deur God se genade die Ewige Lewe kon ontvang nie. Hy was van gedagte dat as hy nou, op Jesus se advies, nog een besóndere goeie daad sou kon verrig en dit op sy tabel sou invul, hy met ‘n geruste hart verder sou kon lewe en sterwe in die wete dat sy plek in die hemel verseker was.

Nou wat van jou en my? Ons elkeen besik oor ons eie soort besittings, dinge wat vir ons kosbaar is en die lewe vir ons die moeite werd maak. Miskien het jy al baie aan Hom oorgegee maar is daar dalk nog iets wat jy agter jou rug weggesteek hou?

Ek moes ‘n loopbaan prysgee om ‘n sendeling te word en my vrou moes haar kosbare twee troetel honde prysgee toe ons in ‘n vreemde land,  in ‘n afgeleë nedersetting tussen mense van ‘n vreemde taal en kultuur moes gaan woon.

Een ding kan sy en ek sê sonder om doekies om te draai: daar is niks, maar niks wat Jesus ons vra om prys te gee wat ons nie ten goede strek nie. Ja ons kan bevestig: ‘n mens ontvang honderd maal soveel terug in hierdie lewe en hierna … die voortsetting van die Ewige Lewe.

(As die ryk jongman tog maar later Jesus se raad gevolg het, (wie weet) sal hy vandag uit die hemel kon antwoord met ‘n luide “Amen, Amen!”)


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → RYK JONGMAN . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha