HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.
Lees asb. Luk. 16:19-31
Na die dood is daar net twee wêrelde.
In hierdie Skrifgedeelte openbaar die Heer eerstens aan ons wat ons te wagte kan wees wanneer ons te sterwe kom. Dit sê vir ons dat God net soveel beheer het oor die geeste van die afgestorwenes as oor ons wat nog lewe. Hy het twee ewige bestemmings daargestel vir die geeste van die mensdom; die een huis noem God die doderyk of ook die hel. Dit is die ewige gevangenis vir die verlorenes, diegene wat nie in God se Koninkryk ingegaan het deur die Deur wat Hy voorsien het nie, naamlik Jesus. Die ander ewige tuiste wat God geskep het, word in hierdie gedeelte na verwys as die “Boesem van Abraham.” Elders word dit ook die hemel genoem en dan is daar ook nog ander name om hierdie wonderlike plek van heerlikheid en glorie te beskryf. Dit is waar God en al Sy engele woon. Daar is dus net een van twee bestemmings vir die gees van die mens na die dood.
Kies nou of nooit.
Die oomblik wanneer ‘n persoon sterf, word sy gees weggevoer of oorgeplaas na een van hierdie twee plekke. ‘n Mens het hieroor geen beheer wanneer hy eers gesterf het nie, want die Woord van God sê in Heb 9:27: “En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel.” God het ‘n oomblik bestem waarop elke persoon sal sterwe en daarna word hy onmiddellik beoordeel na gelang van of hy aan Christus behoort of nie, en indien nie, word hy onmiddellik in die hel gewerp.
Afgestorwenes is geen bedreiging vir die nog lewendes nie.
Die eerste gevolgtrekking wat ons hieruit kan maak, is dat daar dus geen rede is om die geeste van afgestorwenes te vrees nie. Daar is ook geen rede om, soos sommige volke doen, ‘n uitgeholde riet in die grond van die graf van ‘n afgestorwene in te druk sodat sy gees daardeur kan asemhaal of daardeur kan ontsnap nie. Wanneer ‘n persoon sterwe, verwyder God sy gees onmiddellik en teen die tyd dat hy begrawe word, is dié alreeds lankal, óf in die hel, óf in die hemel. Alleenlik die liggaam, die vlees, bly hier agter en dit sal in die graf ontbind. Dit maak ook geen sin om ‘n persoon se klere saam met hom te begrawe nie of om kos by die graf van ‘n afgestorewene te laat vir hom om te eet nie, want daardie persoon se gees is baie vêr verwyderd van sy graf en weet absoluut niks van wat hier onder op aarde aangaan ten tyde van sy begrafnis nie.
Die verdoemenis.
Kom ons kyk nou na een of twee Skrifgedeeltes wat handel oor die hel voordat ons verder praat oor hierdie huidige verhaal. Selfs in die Ou Testament vind ons verwysings na die ewige straf van die onregverdiges. Ons lees bv. in Jes 66:24: “En hulle sal uitgaan en die lyke sien van die mense wat teen My opgestaan het; want hulle wurm sal nie sterwe en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie, en hulle sal afgryslik wees vir alle vlees.”
Dan haal ons ook aan uit die Nuwe Testament, uit die boek Markus 9:43,44: “En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie”.
Die hemel en sy vreugdes.
Laat ons ook kyk na ‘n Skrifgedeelte wat sommige van die genietinge en vreugdes wat ons in die hemel sal ervaar, uitbeeld. Ons lees uit 2 Kor 5:1: “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.” Ons lees ook uit Openbaring 21:3,4: “En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”
Later sal ons meer uit die Skrif leer omtrent hierdie twee ewige plekke, naamlik die plek van heerlikheid en die plek van lyding.
Wat bepaal die mens se ewige bestemming?
Kom ons kyk nou na ons hoof Skrifgedeelte. Waarom het die ryk man na die doderyk en Lasarus na die hemel gegaan? Die antwoord is dat die een deur die Bloed van die Here Jesus gered was en die ander een nie. Maar waarom dan, het die een tot redding gekom en die ander een nie? Die twee hoofkarakters se lewensbeskrywings verskaf grootliks die antwoord.
Die lekkerte van rykdom.
Kom ons kyk eerstens ‘n bietjie na die lewe van die ryk man. Dit word nie vir ons gesê wat sy naam was nie. Miskien was dit omdat sy naam nie geskryf was in God se Boek van die Lewe nie. Jesus sê dat hy ryk was, weelderig gelewe, die beste klere gehad het om aan te trek en ‘n baie vrolike lewe geniet het. Hy moes ook ‘n groot huis gehad het sowel as ‘n muur daaromheen en ‘n veiligheidshek wat snags of wanneer hy en sy mense deur gevaar bedreig was, gesluit kon word. Wanneer hy siek was, kon hy die beste geneesheer en verpleging bekostig. Op sy siekbed sou hy deur sy familie en vriende vertroos en deur sy diensknegte bedien word. Hy was nooit eensaam nie want sy rykdom sou verseker dat almal graag onder sy vriende sou wou tel. Hy was waarlik ‘n geseënde man wat ‘n groot maat van God se guns geniet het, want elke goeie ding wat ons in hierdie lewe te beurt val, kom van Bo, kom van God.
Die aardse pad is maar een klein treetjie van die ewigheid.
Die mens is egter onsterflik, dus kan ons sy lewe nie net meet aan wat hy op aarde beleef nie. By geboorte onstaan ‘n unieke wese wat tot in ewigheid sal voortbestaan. Hy is nie soos ‘n skaap of ‘n bees wat net vir ‘n paar jaar lewe en dan ophou om te bestaan nie. Daarom, om te oordeel of ‘n bepaalde persoon se lewe nou regtig as begeerlik gesien moet word of nie, moet ons sy volle lewensduurte in ag neem, m.a.w. vanaf sy geboorte tot in die verre verskiet van die ewigheid.
‘n Verbeeldingsvlug na die ewige gevangenis.
Kom ons stap daarom saam met die Here Jesus in ons verbeelding, en aan die hand van sy lering in dié verband, deur die deur van die dood en kyk wat die kwaliteit van hierdie ryk man se lewe was nadat sy gees sy liggaam verlaat het. Ons betree die ontsaglike ryk van die verdoemenis en voel die skroeiende hitte van die vlamme; ons ruik die reuk van verrottende liggame wat deur wurms verteer word en hoor die kermende uitroepe van miljoene siele. Hulle het geen rus nie, selfs nie eers die ontvlugting van ‘n nagrus nie. Niemand gee ooit enige aandag aan hulle nie, niemand vertroos hulle nie. Hulle wat in hierdie lewe saam gedrink en gelag het, blameer en vloek mekaar nou omdat die een die ander verlei het tot ‘n lewe van sonde. Die hele plek is in semi-duisternis gehul want hierdie mense het die Lig van God verwerp. Die ergste van alles is dat God nooit hierdie plek van ewige pyniging besoek nie want hier is geen mense wat aan Hom behoort nie.
Die ryk man in sy ewige tuiste.
En nou, terwyl ons tussen hierdie verdoemde prisoniers deurstap, wys die Here Jesus die ryk man wat in soveel weelde en plesier gelewe het vir ons uit. Hy skreeu dit uit van pyn, hy krap met sy naels teen die mure om uit te kom maar val net gedurig weer terug in die put van vlamme en wurms. Dan sien hy ons en roep uit: “O, wat ‘n dwaas was ek tog nie. My lewe op aarde was so baie, baie kort van duur. Dit het so vinnig verbygegaan en nou sal ek hier ly vir ewig en ewig. Baie male het mense wat deur God gestuur was, by my gepleit dat ek my moes bekeer maar ek het hulle uitgelag en nou sal ek my tong vir ewig kou van spyt oor my woorde.”
Die ryk man se pleidooie om verlos te word.
Dan kyk hy op en in die verte sien hy vir Abraham waar hy ontspanne sit, met Lasarus wat teen hom aanleun. Skielik kry die ryk man ‘n idee en roep uit in ‘n luide stem: “Vader , wees my genadig en stuur tog vir Lasarus om net sy vinger in water te doop en my tong daarmee aan te raak want ek ly smarte in hierdie vlam.” Maar Abraham antwoord: “Seun onthou net dat gedurende jou leeftyd jy jou goeie dinge ontvang het en Lasarus die slegte, maar nou word hy getroos terwyl jy in pyn is. En buitendien is daar ‘n groot kloof tussen ons en julle gevestig sodat die van ons wat na julle wil oorgaan, dit nie kan doen nie en net so kan niemand van julle kant af na ons toe oorkom nie.”
O, ek dink op daardie oomblik het die ryk man teruggedink aan die baie kere wat hy deur die poort van sy huis ingegaan en vir Lasarus gesien het waar hy honger was, dors en in pyn en net weggekyk het of hom dalk nog vervloek het.
Sy gebed vir sy broers word afgewys.
Terwyl hy nou terugdink aan sy lewe op aarde, onthou hy ook iets anders, hy onthou sy vyf broers. Hy besef dat hulle nog steeds voortgaan in dieselfde lewe waarin hy vir so lank gelewe het en dat ook hulle in hierdie verskriklike plek sou beland; ‘n plek van ewige pyniging tensy hulle hul bekeer en daarom stel hy ‘n volgende versoek aan Abraham: “Dan pleit ek by jou vader, stuur tog vir Lasarus na my pa se huis want ek het vyf broers. Laat hy hulle waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.” Maar Abraham antwoord: “Hulle het Moses en die profete. Laat hulle na hulle luister.” “Nee vader ,” sê hy, “maar as iemand uit die dood opstaan en aan hulle verskyn, dan sal hulle, hul bekeer.” Hierop antwoord hy hom: “As hulle nie na Moses en die profete luister nie, sal hulle ook nie oortuig word nie selfs as iemand uit die dood opstaan nie.” Ons draai om en keer terug uit daardie verskriklike plek wat die hel genoem word, en ons laat die ryk man daar alleen agter in sy ellende.
Lasarus se aardse bestaan.
Kom ons kyk nou na die lewe van Lasarus. Hy het altyd langs die poort van die ryk man gelê, honger, oortrek met sere, en met niemand om hom te vertroos nie en selfs na sy dood het hy waarskynlik geen behoorlike begrafnis eers gehad nie; waarlik ‘n harde lewe wat niemand van ons sou begeer nie. ‘n Persoon wat toe na hom gekyk het, sou by homself gedink het dat hierdie man deur God vevloek en verlaat was, maar nee, toe hy sterf het alles skielik verander.
Die dood: Lasarus se poort na ewige heerlikheid.
God het sy spesiale hemelse diensknegte, sy engele, gestuur om sy gees te haal, die gees wat aan God behoort het. Hulle het hom opwaarts weggevoer tot in die hemele en hom in liefde aan Abraham besorg wat hom verwelkom en vertroos het. Die trane wat hy so dikwels gestort het as gevolg van sy pyn en lyding, is weggevee. ‘n Lewe van genieting en heerlikheid het nou vir hom begin en dit sou voortduur tot in alle ewigheid. Nou lewe hy by God en die heilige engele en al die goeie mense wat deur die eeue heen tot bekering gekom en Jesus gevolg het. Hy is nou veilig, sal nooit weer versoek word om te sondig nie en nooit weer die aanvalle van die duiwel beleef nie.
Wie?
Wie van hierdie twee manne was dan nou werklik die geseënde een?
Ryk of arm?
Natuurlik sal alle ryk mense nie hel toe gaan nie en so ook sal alle armes nie hemel toe gaan nie. Abraham was een van die rykste manne in die land waarin hy geleef het, nogtans het hy hemel toe gegaan. Aan die anderkant vind ‘n mens arm mense wat God haat en selfs daardie klein bietjie sonde wat hulle kan bekostig, met albei hande aangryp. Die Here Jesus het self egter gesê dat dit moeiliker is vir ‘n rykman om in die hemel te kom, as vir ‘n kameel om deur ‘n naald se oog te gaan (Luk 18:25). Waarom is dit so? Kom ons kyk na drie redes.
Drie redes waarom rykdom vir ons nadelig in plaas van voordelig kan wees.
Die bymekaarmaak en bestuur van rykdom laat min tyd om oor die lewe na die dood te besin.
Die eerste is dat ‘n ryk man gewoonlik baie min tyd tot sy beskikking het om aan God te dink en Hom te dien. Sy baie besittings neem al sy tyd in beslag. Hy moet omsien na sy beeste, bokke, skape, gesaaides, huis, motor, ens. Hy moet sy diensknegte betaal, in hul ander behoeftes voorsien en hul onderlinge twiste oplos. Miskien het hy selfs verskeie vroue getrou, baie kinders voortgebring en dié almal het sy aandag nodig. Die gevolg is dat hy geen tyd vir God het nie.
Die baie plesiere wat rykdom bied, maak die huidige lewe alte lekker.
Die volgende rede is dat hy ook soveel genietinge het wat hom beroof van die tyd wat God toekom. Hy hou natuurlik baie partytjies om sy menigte vriende te onthaal en op hulle beurt sal hulle hom ook weer na hulle partytjies uitnooi. Hy sal baie sakereise onderneem. Die gevolg van so ‘n besige lewe is dat hy teen die aand se kant doodmoeg sal wees en geen tyd sal oorhê om met God deur te bring nie.
Geld maak dat ‘n mens amper alles kan koop wat jy benodig, so waarom na God soek?
Die derde rede is dat hy sal voel dat hy geen behoefte aan God het nie. Hy sal voldoende kos hê, ‘n heerlike huis om in te lewe, ‘n sagte bed om in te slaap, ‘n oorvloed kos, ‘n goeie dokter, hospitaal en mediese voordele, baie vriende om mee te gesels en hy sal beskermd wees, beveilig deur al sy veiligheidswagte. Daarom, in sy hart, sal hy geen behoefte aan God voel om hom te beskerm, te genees of om op enige ander wyse in sy behoeftes te voorsien nie. Dit sal meebring dat hy nie sal nadink oor wat met hom sal gebeur na hierdie lewe nie. En as iemand met hom hieroor sou praat, sal hy hom uitlag of besluit om hierdie saak uit te stel tot ‘n later datum, tot hy na aan die einde van sy lewe is.
Lasarus het dalk ‘n beter kans as die ryk man gehad om gered te word.
Vergelyk nou die ryk man se situasie met die van Lasarus. Waarom het laasgenoemde homself so goed vir die ewigheid voorberei? Hy het geen materiële dinge gehad waaroor hy besorg moes wees nie, en dus baie tyd gehad om oor God te peins en om in gebed met Hom te verkeer. Hy moes homself algeheel op God verlaat om homself van dag tot dag in die lewe te hou.
Eerder arm as ryk?
Tot watter gevolgtrekking moet ons dan kom? Moet ons almal dan maar arm wees? Nee, ons kan geniet waarmee die Here ons ook al seën, maar ons moet God bo al ons besittings stel, bo ons vriende en familie en ons vertroue in Hom stel. Soos Abraham moet ons op Hom steun en Hom met ons hele hart dien. Daarom kon God hom seën met soveel rykdom want God het geweet dat hy nie as gevolg van sy rykdom sou ophou om Hom lief te hê en Hom te dien nie.
Tel elkeen se aardse en hiernamaalse seëninge bymekaar: wie was die geseëndste?
Die logiese antwoord op die vraag watter van die twee lewens die geseëndste was, die begeerlikste, is dan dat, in die lig van die ewigheid, Lasarus se lewe oneindig meer voordele vir hom ingehou het en hy dus, alles inaggenome ‘n geseënder bestaan beleef het. Dit druis natuurlik in teen ons hele konsep van ‘n hoë lewenskwaliteit maar ons kan die logika van Jesus se vergelyking nie ontkom nie. Vir die meeste van ons is dit genadiglik nie nodig om tussen die een en die ander te kies nie want die Heer wil ons uit genade ook in die hier en nou ‘n aangename bestaan te beurt laat val op voorwaarde dat dit ons nie van die groter ewige heerlikheid beroof nie.
As ‘n man nie wil glo nie, sal niks hom maak glo nie.
Laat ons ten slotte aandag geen aan Abraham se laaste antwoord. Hy het gesê dat as ‘n persoon nie ag gee op die waarskuwings wat in Moses se boeke en die profete se skrywes opgeteken is nie, dws in die Ou Testamentiese Woord van God nie, sal daardie mens homself ook nie bekeer nie, selfs as iemand uit die dode sou terugkeer na die aarde om met hom te praat. Die rede waarom ‘n persoon nie sy lewe aan die Here gee nie, is nie omdat die Woord van God onduidelik is oor hierdie onderwerp of moeilik is om te glo nie, maar omdat daardie persoon dit nie wil doen nie, omdat hy onafhanklik van God wil leef.
Die Skrif bevat die inligting sowel as die krag om ons by die Here uit te bring.
Laat ons dus vertroue hê in die krag van God se Woord om mense tot bekering te bring.
……….