Die Samaritaanse Vrou; Joh 4:1-42

index

JESUS EN DIE SAMARITAANSE VROU

DOKUMENTE KAN GRATIS VIR PERSOONLIK GEBRUIK AFGELAAI WORD

Lees asb. Joh 4:4-6: Gelei deur die Gees

Hierdie studiegids handel oor ‘n heidense vrou wie se lewe dramaties verander is. Wat ‘n wonderlike verhaal.

Jesus het die land Palestina deurkruis maar veral in die omstreke van Jerusalem in die provinsie Judea bedien. Jerusalem was natuurlik die hoofstad van die Joodse volk waar groot getalle godsdienstige leiers soos die Fariseërs, Sadduseërs, Skrifgeleerdes en priesters gewoon en hul mag uitgeoefen het. Hierdie leiers was baie jaloers op Hom weens die geweldige impak wat sy lering en wonderwerke op die bevolking gehad het. Hy het ook geweet dat hulle beplan het om Hom dood te maak. Sy tyd om aan die kruis te sterwe het, op hierdie stadium, egter nog nie aangebreek nie. Hy besluit toe om vir ‘n tyd na Galilea te gaan en die mense daar te gaan leer. Dit sou die byvoordeel hê dat Hy weg beweeg uit die sentrum van die geestelike leiers se bediening en kon die haat wat teen Hom opgebou het, ‘n bietjie laat afkoel.

Die Woord sê Hy moes deur Samaria gaan. Dit was die kortste roete na Galilea maar die Jode het eerder die langer roete deur die Jordaan vallei gevolg en Samaria vermy. Waarom so? Die antwoord lê in die verre verlede. Toe Israel deur die Assiriërs as ballinge weggevoer was, is heidene uit verskillende dele van Babel in Samaria gevestig. Hierdie mense het God nie geken nie en gesondig deur afgode te dien en selfs hulle seuns as brandoffers te offer. Hulle optrede het die toorn van God in so ‘n mate opgewek, dat Hy leeus gestuur het om hulle te verskeur. Dit is aan die koning van Assirië gerapporteer wat toe ‘n Joodse priester uit die banneling gemeenskap na die Samaritane gestuur het om hulle te leer hoe om die God van Israel te dien (2 Kon 17:26-32). Dié priester het hom in Bet-el in die landstreek van Samaria gevestig en die mense uit die Joodse geskrifte onderrig. Hulle het hulself egter nooit heelhartig aan die Here gewy nie maar beide God en hul afgode gedien. Hulle het inderwaarheid maar dieselfde sondes begaan as die Israeliete, die sonde van afgodery waarvoor God Israel gestraf het deur hulle in ballingskap te laat wegvoer.

Die groep Israeliete wat later na Jesrusalem teruggekeer en die tempel en die mure van die stad herbou het, was egter van afgodery genees en het gevolglik die Samaritane met hul afgodsdiens gehaat, op hulle neergesien en gladnie met hulle gemeng nie; ja hulle het nie eers deur hul grondgebied gereis nie. Die Samaritane, op hulle beurt, sou ook nie ‘n Jood in hulle huise ontvang nie. Hulle het selfs vir hulle ‘n eie tempel op die berg Gerisim gebou sodat hulle nie nodig sou hê om na die Joodse tempel in Jerusalem te gaan om te aanbid nie.

Was dit reg van die Jode om so op te tree? Wel, die mense van God moet versigtig wees om te veel te doen te hê met mense wat Hom nie ken nie omdat die Koninkryk van die Lig en die koninkryk van die duisternis in ‘n oorlog met mekaar gewikkel is. Die een sal altyd die burgers van die ander na sy kant toe probeer oorhaal. Mense van God behoort nie met wêreldgesinde mense te meng ter wille van ontspanning, of om hulleself te geniet nie want hulle plaas hulleself daardeur in gevaar. Maar hulle moet ook nie sulke mense veroordeel, op hulle neersien of dink dat hulle beter as hulle is nie. Christene moet die ongelowiges liefhê en geleenthede soek om hulle van God se genade te vertel. Hulle moet ook nie net binne die mure van hul eie kerke mense geestelik bedien nie, maar moet oral rond na ander uitreik en die Goeie Nuus van verlossing met hulle deel (Matt 28:19).

Dit is wat Jesus hier gedoen het. Alhoewel sy Vader Hom opgedra het om op die Jode te fokus (Matt 15:24), was daar uitsonderings wanneer Hy Hom na ander nasies in die omgewing gestuur het, want hulle het ook nodig gehad om van God se nuwe Koninkryk te hoor. Hierdeur het Hy die basis gelê vir sendingwerk wat na Sy dood en hemelvaart deur Sy dissipels voortgesit sou word. Jesus was dus hier deur Sy Vader gelei om deur Samaria te reis en op die spesifieke dag en uur by die put vir die spesifieke vrou te wag.

Lees asb. Joh 4:7-15: ‘n Verlosser wat dors is en ‘n dorstige mens.

‘n Vrou uit die dorpie Sígar gaan toe juis na die put buite die dorp om water te haal. Haar lewe was in ‘n bedenklike toestand; sy was al vyf keer getroud en weer geskei en op daardie stadium woon sy toe sommer saam met ‘n minnaar wat nie haar man was nie. Sy het ‘n slegte naam in haar tuisdorp gehad en die ander vroue het haar nors en neerhalend behandel. Daarom het sy sovêr moontlik kontak met hulle vermy en op die hitte van die dag gaan water put omdat daar op daardie tyd waarskynlik geen ander vroue sou wees nie. Sy moes verbaas en ietwat ongemaklik gewees het om ‘n man te vind wat alleen daar by die put sit en dit nog boonop ‘n Jood.

Tot haar verdere verleentheid vra die man vir haar om vir Hom water te gee om te drink; vir haar, ‘n vrou en Hy ‘n man; Hy ‘n Jood en sy ‘n Samaritaan, en dan was hulle ook nog alleen by mekaar. Geen gerespekteerde Jood sou onder sulke omstandighede water van ‘n vrou gevra het om te drink nie. Kyk egter hoe Jesus homself verneder het om na iemand wat so verag was, uit te reik. Deur vir haar water te vra, stel Hy homself ondergeskik aan haar; plaas Hy Homself in haar hande; stel Hy Homself bloot aan ‘n afjak. “Ek het jou hulp nodig. Ek is dors. Kan jy my asseblief help, vir My water gee om te drink?” Kyk hoe mooi benader Hy haar. Sy is soos ‘n klein lammetjie wat maklik kan skrik en weghardloop. Sy openheid en nederigheid gee haar moed om met Hom te praat, Hom in der waarheid so ‘n bietjie aan te vat: “Hoe is dit dat U wat ‘n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek ‘n Samaritaanse vrou is?” wil sy weet omdat Hy anders as die ander Joodse mans is en nie volgens hulle kultuur optree nie.

Dit bied aan Jesus die geleentheid om haar te lei om te ontdek wie Hy werklik was. Hy doen dit so stadig en versigtig dat sy rustig word en luister wat Hy vir haar sê. Op haar vraag hoe Hy as Jood vir haar as Samaritaan water kan vra, antwoord Hy in wese soos volg: As jy geweet het watse gawe God vir ‘n mens kan gee en as jy geweet het Wie dit is wat met jou praat, sou jy My gevra het om vir jou lewende water te gee. Hy wil hê dat sy moet agterkom dat Hy anders is as ander mense, dat Hy eintlik God se Seun, God se Gawe aan die mensdom was.

Jesus probeer om haar in te lei in die dinge van die Gees, maar die materiële dinge oorheers haar wêreld en maal deur haar gedagtes. Sy sien Hom gladnie as iemand wat haar kan help nie en konfronteer Hom, daag Hom uit: “U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en self daaruit gedrink het, en sy seuns en sy vee? ” (Sy het moontlik gedink dat die lewende water waarvan Hy gepraat het, iets was soos ‘n fontein wat uit die grond opborrel en die hele omgewing bevogtig.)

Sy was nog op ‘n ander golflengte ingestel maar was ten minste besig om die saak te oordink. Jesus neem haar nog ‘n stappie verder op haar geestelike ontdekkingsreis: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.”

Maar haar gedagtes kan maar nie loskom van die materiële, tasbare wêreld met sy fisiese water nie en daarom besef sy nie dat Hy van geestelike water, water vir die siel, praat nie. Tog beïndruk die Man haar, want Hy praat met gesag. Kan Hy dalk tog vir haar iets buitengewoons gee? Kon Hy dalk ‘n wonderwerk doen en vir haar water gee wat vir altyd sou hou, nooit opraak nie, sodat dit nie vir haar nodig sou wees om weer by die put water te kom haal nie? Dit sou nou sommer ‘n groot geskenk wees! Waarom nie? Sy antwoord hom dus en sê: “Here, gee my van daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom water skep nie.”

Jesus forseer niks op ons af nie, nee, Hy gee net dit wat ons van Hom vra. As Hy sien dat ons waarlik glo dat Hy vir ons iets besonders kan aanbied, gee Hy dit. Wanneer mense na Hom toe gekom het, het Hy altyd gevra: Wat wil jy hê moet ek vir jou doen? Hierdie vrou wou graag van die wonder-water hê, maar begryp nie werklik wat dit was nie, daarom verduidelik Jesus verder sodat sy kan insien wat haar ware behoefte was, naamlik wonder-werkende water vir haar siel; water wat die geestelike lewe van God in haar kon plaas, want haar lewe was in ‘n haglike toestand. Sy het ‘n gawe van God nodig gehad wat aan haar die ewige lewe en ‘n heilige lewe hier en nou sou besorg. Hierdie lewe wat God wou gee, was soos ‘n fontein wat voortdurend, dag en nag, uit die droë grond opborrel en die hele omgewing bevogtig. Waar dit ookal vloei, bring dit lewe en groei.

Lees asb Joh 4:16-19: Openbaring en belydenis.

Om hierdie lewe van God te bekom, moes sy egter eers insien en erken dat haar lewe in flarde was en dit ook met haar mond bely. Jesus help haar om tot hierdie belydenis te kom. Hy sê: “Gaan roep jou man en kom hier.”

‘n Vrou het natuurlik nie haar man se toestemming nodig om haar lewe aan God te gee nie. Jesus het dus nie regtig verwag dat haar man teenwoordig moes wees sodat sy die besluit oor haar lewe eers met hom kon uitklaar nie, nee, maar dat sy aan die Hom en aan haarself sou erken dat haar lewe soos ‘n dooie ding was wat sleg geruik het; iets wat sy liewer sou wou toedraai en wegsteek; iets wat sy vir ‘n ander se oë sou wou verberg. Dít was immers waarom sy op ‘n tyd van die dag na die put gekom het, op ‘n tyd wat sy nie verwag om ander daar te kry nie. Haar lewe was vir ander vroue so vuil en onaanvaarbaar dat hulle nie in haar teenwoordigheid wou wees nie. Wanneer ‘n vrou reeds met vyf mans getroud was, van almal geskei het en nou saam met ‘n sesde een leef, moes daar diep binne in haar iets groots fout wees en sy was diep bewus daarvan. Jesus was nou besig om hierdie sweer in haar lewe oop te maak, die verbande wat dit bedek, af te haal en sy het nie daarvan gehou nie. Daarom kyk sy weg en mompel: “Ek het nie ‘n man nie.”

Ai, hoe moeilik is dit vir ons as sondaars om te erken dit wat verkeerd is in ons lewens. God kan die sonde wat ons wegsteek egter nie vergewe nie, of ons help om onsself daarvoor te vergewe nie. Hy kan nie die ewige lewe gee aan mense wat voortgaan met hulle sondige leefwyse, dit geniet en beskerm nie. Met die linkerhand moet die mens sy ou lewe vir God gee en met die regterhand die ewige lewe in ontvangs neem. Dit sluit in die vergifnis van sonde en ‘n nuwe hart waarin die Heilige Gees sal woon.

Jesus sien haar stryd en help haar voort na verlossing deur erkenning te gee aan die gedeeltelike waarheid waarmee sy na vore gekom het. Hy voltooi self haar erkenning van skuld vir haar; spel dit in detail uit: “Jy het reg gesê: ‘Ek het nie ‘n man nie;’ want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Dit het jy met waarheid gesê.” Watter geweldige skok moes dit nie vir haar gewees het nie om te hoor hoe hierdie vreemde Man haar hele bedekte lewe ontbloot. Maar dit was tegelyk ook ‘n verligting om iemand te vind wat alles van haar af geweet en haar tog nie verwerp het nie.

Sy het dadelik besef dat dié vreemde man ‘n profeet van God moes wees, want alleenlik ‘n man wat met God in kontak was, kon sulke verborge dinge omtrent ‘n ander weet. Daarom antwoord sy: “Here ek sien dat u ‘n profeet is.” Sy ontken dus nie dit wat Jesus omtrent haar aan die lig gebring het nie; inteendeel met hierdie woorde het sy eintlik stilswyend érken dat dit die waarheid was.

(Ons mag, by die lees van hierdie gebeure sê: “Ek wens ek was soos Jesus wat verborge dinge (feite) van ander kon weet, want dan kon ek hulle van die waarheid van die Evangelie oortuig.” Wel die goeie nuus is dat God soortgelyke bonatuurlike gawes gee aan diegene wat die geestelike oes wil inbring. Hierdie besondere gawe word “’n Woord van kennis” genoem. Ons lees daarvan in 1Kor 12:8. Bestudeer gerus daardie Skrifgedeelte en vra die Here om daardie gawe, asook die ander bonatuurlike gawes vir jou te gee sodat jy Sy Koninkryk daarmee kan dien.)

Lees asb. Joh 4:20-26: Verlossing.

Laat ons terugkeer na die vrou by die put. Sy was nou ‘n stappie nader in haar ontdekking van die Ewige Lewe. Haar gedagtes was nou nie meer by die fisiese (natuurlike) water nie, maar by die geestelike. Maar sy was ook baie verleë omdat die waarheid oor haar lewe uitgekom het. Sy wou nou nie langer die fokus op haar haarself hê nie en begin oor godsdiens en kerksake praat.

Dit is wat ons gewoonlik ook doen as die waarheid oor ons bekend word. Die oomblik as ons in ‘n hoek gedryf word, sal ons vir die persoon wat ons probeer help, vrae vra soos: “Aan watter kerk behoort jy?” Ons wil oor neutrale dinge en nie oor ons self praat nie.

Sy wil ook verlore aansien herwin deur te wys dat sy darem nie onkundig oor godsdienstige dinge is nie en sê dan ook ewe slim: “Ons vaders het God op hierdie berg aanbid, en julle sê die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is.” Waarna sy hier verwys, is dat die Samaritane nie die Joodse tempel wat in Jerusalem was, besoek het nie maar hulle eie tempel op die berg Gerisim gebou het. Die kwessie wat dus altyd heftig gedabatteer was, was: “Watter kerk is die regte kerk. Is dit die Joodse kerk in Jerusalem of dié van die Samaritane op die berg Gerisim?” Ons voer dieselfde argumente. “Aan watter kerk moet ek behoort om hemel toe te kan gaan? Is dit die Evangeliese Gereformeerde of Baptiste; die Sewendagse Adventiste of die NG-Kerk of die Terug-na-God groep, of die Kerk van God, of die Presbeteriaanse Kerk, of die Metodiste, of die Katolieke, of die Ou Apostels, of die Zioniste, of watter een dan?” Sommige sal sê dat daar te veel kerke is en daarom bly hulle liewer weg uit die kerke want waar is die waarheid dan nou eintlik te vind? Andere weer meen dat rus en vrede op ander plekke en maniere gevind kan word: “Ek sal eerder by die huis bly en my bier drink of langs die viswaters sit en in die stilte aan God dink”.

Die Here Jesus beantwoord die vrou se terugkap vraag met wyse woorde: “Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” (V21-24). Jesus sê dus vir haar dat dit nie belangrik was op watter plek jy jou bevind wanneer jy God aanbid nie, maar wel wat die ingesteldheid van jou hart is. Jy moet oop en eerlik met Hom wees, uit die diepte van jou hart bid en nie donker dinge probeer wegsteek nie. Wanneer jy Hom aanbid moet jou gees Hom ontmoet, want Hy is ‘n Geestelike Wese. (Jou gees moet skoon gewas wees in die Bloed van die Lam en met die Heilige Gees gevul wees; so moet jy die Vader en die Seun ontmoet. Jou eie hart sal dan die kerk word waarin jy God aanbid.)

Hierop antwoord sy: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig.” Toe sê Jesus vir haar: “’Ek is’, die Een wat met jou praat.” (Bybel, Direkte Vertaling) Nou kom ons by die wortel van die saak. Alhoewel hierdie vrou ‘n slegte lewe gely het, het sy ‘n begeerte gehad om die waarheid oor God te hoor. Nou ervaar sy Hom as die lewende God met wie sy kan praat soos met ‘n vader, ‘n God wat haar kon bevry van haar sondige begeertes en haar in staat kon stel om die nou pad na die hemel te bewandel. Al het sy nie kerk toe gegaan nie, het sy geweet die Woord van God praat oor die Messias wat van die hemel sou kom en die mensdom die waarheid sou leer. Hoe wonderlik moes dit nie vir haar gewees het om te hoor dat Hy wat nou met haar gepraat het, die lang verwagte Messias was op Wie sy gehoop het nie. (En die Heilige Gees het natuurlik ook in haar hart aan haar bevestig dat dié Jesus wat daar met haar gepraat het, waarlik was Wie Hy gesê het dat Hy was.)

Lees asb. Joh 4:27-42: ‘n Siele-oes.

Op daardie oomblik het die dissipels daar aangekom. Hulle was baie verbaas om te sien dat Jesus met ‘n vrou praat. Die teenwoordigheid van die Heilige Gees was waarskynlik egter so tasbaar dat hulle besef het hulle betree heilige grond en hulleself daarvan weerhou het om onnodige vrae te vra.

Die Samaritaanse vrou, aan die anderkant, was so opgewonde oor haar ontdekking van die merkwaardige Man wat sê dat Hy die Messias was, dat sy terug gehardloop het na die dorpie Sigar waar sy gewoon het. Daar het sy ‘n groot konsternasie veroorsaak deur vir die mense te skree: “Kom kyk, ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?” Hulle het besef dat iets groots moes gebeur het dat dié vrou wat so ‘n slegte lewe gely het, so opgewonde oor ‘n geestelik ontdekking was. Hulle stroom toe uit die dorpie na die put om self die besondere Persoon onder oë te kry en te hoor wat Hy sê.

Intussen het die dissiples die kos wat hulle in Sigar gaan koop het, vir Jesus aangebied om te eet. Hy was egter so vol vreugde oor die heidense vrou wat van Hom die lewende water van die Ewige Lewe aangeneem het, dat Hy vir die huidige nie behoefte aan kos gehad het nie en wys hul aanbod van die hand met die woorde: “Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie. …My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te volbring.”

Wat Hy gesê het is dat daar ‘n groot seën opgesluit is in die doen van die wil van God die Vader; dit verskaf soveel innerlike versadiging dat ‘n mens vir ‘n wyle nie eers lus het vir kos nie. In hierdie geval het die wil van die Vader daarin bestaan om verlossing aan te bied aan ‘n heidense vrou wat gesoek het na ‘n oplossing vir haar mislukte lewe. God is ‘n God van gee; daarin vind Hy groot behae en wanneer ons onsself aanbied as kanale waardeur Hy aan die mensdom kan gee, deel ons in Sy innerlike genot.

Hierin is ‘n belangrike les om van die Here Jesus te leer. So vinnig as wat ons weggee, so vinnig ontvang ons weer van God. As ons ‘n oorvloediger geestelike lewe van die Here verlang, moet ons oorvloediger vir ander gee van dit wat ons reeds ontvang het.

Die Here gaan dan ook voort om sy dissipels aan te moedig om op die uitkyk te wees vir geleenthede om die Goeie Nuus van verlossing met andere te deel. Hy sê: “Sê julle nie: Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes. En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees. Want hierin is die woord waar: Dit is een wat saai, en ‘n ander wat maai. Ek het julle gestuur om te maai waar julle nie aan gewerk het nie. Ander het gewerk, en julle het in hulle arbeid ingegaan. (V35-38) Hulle het gedink die Samaritane was sulke sondige mense en dat hulle nie gereed was om die Messias te ontvang nie. Hierin was hulle verkeerd want die eerste Samaritaanse vrou met wie Jesus praat, aanvaar Hom met vreugde en saam met haar, die mense van haar tuisdorpie, Sigar. Die oes was beslis ryp en gereed om ingebring te word.

Jesus sê toe verder: “En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees. Want hierin is die woord waar: Dit is een wat saai, en ‘n ander wat maai. Ek het julle gestuur om te maai waar julle nie aan gewerk het nie. Ander het gewerk, en julle het in hulle arbeid ingegaan.” Aan die begin van hierdie lesing het ons gemeld van ‘n Joodse priester wat die Samaritane die Woord van God geleer het, maar baie min vrugte op sy arbeid gesien het, want hulle het die nuwe godsdiens aanvaar, maar steeds ook voortgegaan met hulle eie afgodediens. Hy het egter die saad gesaai en ten minste het sommige mense die Messias verwag en was hulle harte gereed om Hom te ontvang toe Hy kom. Kan dit dalk wees dat die ou priester vanuit die hemel getuie was van dit wat daardie dag by die put van Samaria gebeur het, waar hy vir so ‘n lang tyd gepreek het. Moontlik was Hy nou ook vol vreugde om vrug op sy arbeid te sien.

Laat ons afsluit met verse 39 tot 42. Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het Sy reis onderbreek en nog twee dae in Sigar oorgebly. Nog baie meer van hulle het tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het; en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld, is.”

Aanvullend en opsommend.

Wat ‘n wonderlike ware verhaal van net een dag (of liewer, drie dae) in die lewe van Jesus. Mag ons ook vir onsself sê: “My kos is om die wil van Hom te doen wat my gestuur het en om sy werk te volbring.” Deur die werk van God te doen, ontvang ons baie meer seën as ‘n man wat ‘n miljoen rand elke uur van sy lewe verdien.

‘n Verlosser wat daarna dors dat verlore, stukkende sondaars tot bekering moet kom en ‘n geestelik dorstige vrou wat verlang om van haar skuld verlos te word, ontmoet mekaar by die put van Jakob.
Die Here is ‘n gewer: vir Jakob het Hy ‘n put met water gegee vir sy huishouding en vee en vir die Samaritane, die Water van die Ewige lewe.

Mag die Here ons help om soos Jesus ingestel te wees op die Vader om ons te lei na mense wie se harte voorberei is om Sy Seun as Saligmaker te ontvang.


———-

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → SAMARIA VROU . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha