Die Skepping deel 2; Gen 1:26-2:25

A. DIE SESDE SKEPPINGSDAG (VERVOLG): SKEPPING VAN DIE MENS EN SY WOONPLEK (Lees asb Gen 1:26 – 2:25).

Die mens se woonplek (Lees asb Gen 2:8-15).

Voordat die Here die mens geskape het Hy eers vir hom ‘n besonder mooi en gerieflike woonplek ingerig in die vorm van ‘n tuin wat Hy in die Ooste, in Eden, aangelê het. Daarbinne het Hy allerhande bome laat uitspruit, begeerlik om te aanskou en met vrugte wat ‘n genot was om van te eet. (Daar was ook twee bome wat anders was as al die ander, naamlik Die Boom van die Lewe in die middel van die tuin en die Boom van Kennis van Goed en Kwaad.)

Water, was daar in oorvloed, want ‘n rivier wat in vier lope verdeel het, het uit die tuin gevloei om dit te besproei. Die vier lope se vertakkings was die Pison, Gihon, Hiddékel en die Frat.

Die Here het niks ontsien om vir die mens ‘n genotvolle woonplek te verskaf nie, ‘n woning waaraan hy nie self gewerk het nie. Vanaf die eerste oomblik dat hulle hul oë sou open, moes die mens en sy vrou beleef dat God hul uitermate goedgesind was en goeie bedoelinge met hulle gehad het. Interessant dat die natuur so goed deur God vir die mens voorberei is, dat hy nooit nodig gehad het om klere te dra nie. (So Eva het nooit nodig gehad om te was en te stryk nie!)

(Sommige navorsers meen dat die tuin moontlik binne die grense van die huidige Irak geleë was.)

Die Here skape vir Homself ‘n “geesgenoot.” (Lees asb Gen 1:26, 27 en 2:7)

Waarom het God die mens geskape? Omdat Hy Gees is en slegs met geestelike wesens sinvol kan kommunikeer, wesens wat Hy kon liefhê en vertroetel. Alles wat Hy tot op daardie tydstip geskape het, was slegs fisies, materie. Hy kon dit alles, ook die diereryk, wel beheer, maar nie oor en weer met hulle kommunikeer nie. Hy kon aan ‘n vis opdrag gee om ‘n sekere man te gaan insluk en hom op ‘n bepaalde strand te gaan uitspoeg, maar die vis sou eintlik nie eers weet dat dit God was wat hom dit laat doen het nie (Jona 1:17).

Die skepping sou dus onbewus wees van sy Skepper en nie in staat om op ‘n intelligente wyse met Hom saam te leef nie. Hy kon nie by die skaap gaan stilstaan en die uitleg van die sterrehemel aan hom verduidelik en sy opinie daaroor verneem nie. Die skaap se belangstelling was net die groen gras onder sy voete.

Die mens: deel van twee wêrelde.

Die Here moes dus ‘n wese verwek wat ‘n fisiese liggaam het sodat hy met die fisiese skepping, met die plante, landdiere, visse en voëls, kontak kon hê, maar ook ‘n gees wat met God, wat Gees is, kon kommunikeer. Hierdie wese moes die perd na hom toe kon roep en afrig om hom te dien, maar hy moes ook stil kon sit en met God gesels oor hoe om hierdie ontsagwekkende skepping te bestuur en om sommer net ‘n vriend vir Hom te wees.

God gebruik Homself as voorbeeld om die mens te skape.

Daarom het die Here gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis,” en het Hy die mens  na sy beeld geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. Die skepping van die mens was nie maar ‘n nagedagte nie, nee Hy het dit so beplan gehad nog voordat Hy die eerste korreltjie sand gemaak het.

Die man, die eerste wese in wie God sigbaar geword het.

Die man het Hy eerste geskape. Hy het dit nie nodig gevind om ‘n nuwe soort materie te skep waaruit hy die man kon maak nie, nee die bestaande boustene, die stof van die aarde wat Hy tevore gemaak het, was goedgenoeg en daaruit het hy die eerste mens se liggaam geformeer.

Die man het ‘n geestelike komponent.

Maar wat van die geestelike komponent wat soos Hy sou wees en met wie Hy sou kon kommunikeer? Ons lees nie dat die Here lewe in enige van die diere ingeblaas het nie, maar van die mens sê die Skrif, God het: “… in sy neus die asem van die lewe geblaas. So dan het die mens ‘n lewende siel geword.” Kon dit dalk die wyse en oomblik gewees waarop die Here ‘n geestelike komponent aan die mens oorgedra het sodat hy, anders as ‘n dier, “… ‘n lewende siel” geword het? So het God ‘n wese geskape soortgelyk aan, (van dieselde soort as) God, alhoewel nie gelyk aan Hom nie.

Die mens se goddelike kwaliteite.

  • Hierdie mens het vermoëns soos Hy gehad bv.:
  • Kennis van sy habitat (maar nie alwetendheid nie).
  • Krag (maar nie almag nie) om die fisiese wêreld waarin hy geleef het, te kon bemeester.
  • Spraak: ‘n omvangryke woordeskat wat hom in staat sou stel om gedagtes te vorm oor beide fisiese voorwerpe en abstrakte onderwerpe en dié gedagtes met andere te deel.
  • Beredenering van en vind van oplossings vir probleme.
  • Kreatiwiteit (verbeeldingrykheid): die vermoë om nuwe dinge te bedink en te bewerk.
  • Selfbeskikking: lewensbeplanning, vooruitbeplanning.
  • Selfbewustheid: die vermoë om homself te betrag en te evalueer.
  • Die mens was ook in staat om die Here se karaktereienskappe te reflekteer soos:
  • Liefde, getrouheid, vergewensgesindheid, genade, nederigheid, geregtigheid en heiligheid.
  • Ook selfvertroue (oortuiging van eie waarde en vermoë): die oortuiging dat hy sy rol as heerser oor, en bewerker en bewaker van Eden (sien later) suksesvol sou kon vervul.
  • God wou wesens hê met wie Hy intellektuele, geestelike en emosionele gemeenskap kon hê. Dink maar aan kinders: ‘n ouer kan ‘n pragtige plaas en kosbare troeteldiere hê, maar sy kinders lê vir hom op ‘n baie hoër vlak, kruip dieper in sy hart.

Die mens: God se skakel met Sy skepping.

Deur hierdie menslike wese wat Hy geskape het, sou Hy kontak met die res van Sy skepping hê en dit volgens Sy eie wil bestuur. Deurdat die mens beide liggaam en gees was, kon hy met beide die fisiese skepping, aan die een kant, en God aan die ander kant, kontak hê.

(Net terloops: die woord “ons,” dui op die verskillende Persone in die Drie-enige God (Gen 1:26)).

Die mens ontvang sy woonplek en verpligtinge.

Toe het die Here vir die mens ‘n plek in hierdie tuin van Eden aangewys om te woon en hom ook aangestel om dit te bewerk en te bewaak. As voedsel het Hy aan hom gegee (1:29): al die plante wat saad gee en al die boomvrugte.

Die beeld van God se tweede gedeelte (Lees asb 2:18-2:25).

Alhoewel die Paradys ‘n asemrowende mooi, uiters aangename  en baie interessante plek was om in te woon, was dit tegelyk ook ‘n baie eensame plek want daar was nie ‘n enkele ander mens om mee te gesels nie. Die mens was ook nie in volkome harmonie met die res van die skepping nie in dié sin dat hy nie, soos die diereryk (en selfs sommige plante) ‘n vroulike eweknie gehad het nie. Die skepping van die mens was dus nie voltooi voordat die Here nie ook die vrou geskape het nie. Let op dat die woorde van 1:27: “En God het die mens geskape na sy beeld; …; man en vrou het Hy hulle geskape,” daarop dui dat man en vrou gesamentlik, as ‘n eenheid, die beeld van God vertoon.

Die eerste mens ontvang ‘n wonderlike gawe en aanvulling.

Vir die (mans)-mens was die vrou ‘n uiters wonderlike gawe van God want soos die mens geskape was na die beeld van God en tot gemeenskap vir God, was sy selfs tot ‘n groter mate “na die beeld van die man” geskape deurdat sy net soos hy ook ‘n fisiese liggaam gehad het en die fisiese skepping met hom kon deel, geniet en saam met hom daarby betrokke kon wees.

Maar sy was ook meer as net nog ‘n (mans)-mens, sy was ‘n mens wat die man deur haar gedeeltelike andersheid aangevul en volkome gemaak het. Deur haar is sy diepste behoeftes: geestelik, emosioneel, verstandelik en fisies bevredig. Deur haar sou hy homself, sou hulle, hulself kon vermenigvuldig en so die skepping kon beheers.

Deur die skepping van die vrou, het die Here ook aan die mens gedemonstreer dat Hy ‘n goeie bedoeling met hom gehad het, opmerksaam was om al sy behoeftes raak te sien en in staat om daarin te voorsien op ‘n wyse wat die mens self nie eers sou kon bedink het nie.

‘n Geskende beeld, is nog steeds ‘n beeld.

Beskou ons die mens, kom ons tot die gevolgtrekking dat, alles inaggenome, die mens geskape was om in sy totaliteit die heerlikheid van die Here te vertoon. Selfs in ‘n mens wat fisies geskend of moreel verwronge geraak het, is daar nog soveel van die heerlikheid van God te sien, dat so ‘n persoon steeds met agting behandel moet word, en dit ter wille van God. Die basiese rede waarom ‘n mens oor homself goed moet voel, is nie oor wat hy in die lewe bereik het nie, maar omdat hy na die beeld van God geskape is.

Die huwelik.

Die samevoeging van die mens en sy vrou, wat ons nou ‘n huwelik noem, is ‘n eenwording tussen twee mense van teenoorgestelde geslag wat deur God so  uitgesoek is dat hulle bymekaar pas en mekaar aanvul om hul godgegewe doel te verwesentlik; soos twee kunstige weefstukke wat bymekaargebring en waarvan die randte inmekaar ingeweef word sodat hulle een geheel vorm.

Hierdie eenwording is ‘n geheimenis waarvan ons bitter min begryp. Laat ons dikwels hieroor peins sodat die Heer die diepte daarvan aan ons kan openbaar en dit deur die werking van Sy Gees in ons huwelike kan verwesentlik. Die huwelik maak deel uit van God se skepping van die mens en wie dit verbreek, verbreek God se handewerk; skeur die weefdoek uitmekaar en laat albei partye verskeurd agter.

‘n Besondere wese.

Die mens is voorwaar ‘n besonderse wese met onberekenbare vermoëns. Dink maar daaraan dat hy selfs in staat is om ruimtetuie te bou om ander planete te besoek. Van hom sê Dawid in Ps 8:6: “U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.”  Ook is die mens gedurigdeur besig om met sy teleskope die hemelruim te deursoek om vas te stel of daar nie dalk êrens in die heelal soorgelyke wesens bestaan nie maar tot dusvêr kon niks nog gevind word nie. Dit beteken dat ons aarde ‘n baie spesiale plek is, al is dit ook so klein en dat ons baie, baie besonderse wesens is. Laat ons dan so leef dat ons daardie besondersheid waardig kan wees en eer aan ons Skepper kan bring.

B. DIE MENS SE MANDAAT (Lees asb Gen 1:26, 28; 2:15, 19, 20).

Die Here het vir die mens sy funksies binne die skepping uitgestip. Hulle was nie bestem om maar net onder die koeltebome te sit en vrugte eet nie; hul lewensverloop sou nie ‘n ewigdurende ontspanning wees nie – nie “‘n huisie teen ‘n duin by die see” nie. Saam met die genot van die wonderlike tuin, het ook sekere pligte en verantwoordelikhede gekom. Om dit na te kom, was egter nie ‘n las wat swaar op hulle gedruk het nie, maar ‘n kanaal waardeur hul lewenslus kon vloei.

Begin met ‘n gesin.

Eerstens moes hulle, hul fisiese vermoë om mense na hul beeld, en daarom ook na die beeld van God, te kon voortbring, benut, deur aan kinders die lewe te skenk en sodoende die mensdom te vermeerder.

Die fisiese omgang tussen man en vrou was ‘n ekstatiese belewenis en om ‘n kind (die eerste kind ooit) te verwek en tot geboorte te bring, moes ‘n oorweldigende ervaring gewees het; ‘n gevoel van mag en waarde. Soos wat God wesens geskape het, kon hulle in ‘n sekere sin ook doen.

Die nuwe wesens wat hulle voorgebring het, sou egter volgens ‘n godgegewe DNA gevorm word. Net soos wat God verantwoordelikheid vir Sy skepping aanvaar, moes die mens ook vir die kinders wat hy sou voortbring, pa staan en hulle versorg en opvoed sodat hulle tot die beeld van God kon ontwikkel.

“Onderwerp My skepping en heers daaroor.”

Hulle moes hulself as heersers oor die ganse geskape wêreld sien, omdat God dit aan hulle gegee het; vir hulle voorberei het. Die volgende stap was om daardie gesagsposisie daadwerklik in te neem deur dit aan hulle te onderwerp en dan daaroor te heers.

Daar was egter geen nodigheid vir ‘n geweldadige optrede nie aangesien die skepping nie in ‘n staat van rebellie verkeer het nie. Alles was in volmaakte harmonie; al die diere het volgens goddelike instink gelewe en niks gedoen om die tuin te beskadig of mekaar te benadeel nie. Hul moes dus eerder optree soos kinders wat ‘n plaas met landerye, boorde en vee as erfporsie van ‘n ouer ontvang, terwyl die ouer nog leef en oorhoofse toesig daaroor behou.

Gesagstrukture.

Vir ons lê die belangrikheid van hierdie opdrag eerstens daarin dat die Here, selfs in volmaakte omstandighede, binne die raamwerk van gesagstrukture werk. Gevolglik is gesagstrukture binne die huwelik, werkplek, land, ens., normaal en gesond. Dit is nie ‘n gevolg van die sondeval nie, maar ‘n maatreël om ‘n gelukkige samelewing te skep.

Ons kan hierin ook sien dat om oor iets te heers, beteken om  dit op ‘n liefdevolle en wyse manier ten beswil te bestuur en nie om onnodige harde reëls met gepaardgaande strawwe te formuleer nie.

Adam se eerste stap om gesag uit te oefen en beheer te neem.

Adam se eerste stap om  beheer oor die skepping te neem, was deur God gerëel. Hy moes naamlik aan die diere name gee.

Ongetwyfeld is dit die meerdere wat aan die mindere ‘n naam gee; ‘n ouer aan ‘n kind. Toe koning Nebukadneser die Joodse ballinge oor dele van sy koninkryk aangestel het, het hy aan hulle nuwe name laat gee wat eie was aan die koninkryk waarin hulle moes dien (Dan 1:7). Die aanvaarding van daardie name was ‘n aanduiding van onderwerping aan die persoon wat die naam gegee het.

Om Adam te help om sy gesagsposisie in te neem, het die Here die diere en voëls na hom gebring sodat hy hulle name kon gee. Sodoende het die mens die diere waaroor hy sou heers, se gedrag en eienskappe leer ken.

(Mag ons nou dalk ons verbeelding so ‘n bietjie rek en waag om te sê dat hulle hom, hul hoof, ook leer ken het? Hul het seker ook gehoor wat hul name was – maar verstaan? Laat ons nie verder bespiegel nie.) Wat vasstaan, is dat die name wat die mens aan elke soort dier gegee het, deur God aanvaar (bekragtig) is. Hierdeur is die mens se gesag oor daardie dier bevestig.

Adam was meer as ‘n taalkundige; hy was ‘n ontwikkelaar van ‘n nuwe taal; die eerste taal.

Gedagtig daaraan dat God beskrywende name aan mense gee, bv. “Petrus” wat “rots” beteken, “Abraham,” “vader van ‘n menigte nasies,” en “Jesus,” “Verlosser,” sou die name wat die mens aan die verskillende diere gekoppel het, nie net mooi klanke gewees het nie; nee, dit sou beskrywend van aard gewees het, soos die woorde “duisendpoot,” “bromponie” en “vlermuis,” (“vlerkmuis”?) wat ons ontwikkel het.

Ons groooot-oupa was ‘n baie intelligente “professor.”

Om sulke name te kan uitdink, verg nogal heelwat vindingrykheid; bestudering van die voorwerp se voorkoms en aanwending en formulering van ‘n gepaste woord. Adam moes dus ‘n baie intelligente persoon gewees het. Hierdeur het hy dan ook die mens se taal verder uitgebou en uitvoering gegee aan God se wil om dit wat hy van Hom ontvang het, te ontwikkel.

Die mens moet beide sy liggaam en verstand benut.

Waar die voortbrenging van kinders die aanwending van die mens se liggaam behels het, het die uitbouing van sy taal, benutting van sy brein, sy intellek, sy skeppingsvermoë behels. Op hierdie wyses het die twee mense waarde toegevoeg aan die tuin en die aarde wat die Here aan hulle toevertrou het – hulle het met hulle talente gewoeker.

Bewerking van die tuin (Gen 2:15).

Wanneer ons praat van die bewerking van grond, dink ons in terme van ‘n pik, graaf, hark, ploeg, stroper, ens. Dit kon tog nie op die Tuin van Eden van toepassing gewees het nie, so, hoe moes hulle dit bewerk? Miskien bv die diere lei na nuwe voedingsterreine om te verhoed dat gedeeltes oorbeweid raak? Dit daar gelaat.

Die tuin moes ook bewaak word.  

Die feit dat hulle aangesê was om die tuin te bewaak, dui daarop dat dit bedreig was, wat ons mettertyd sal sien, ook inderdaad die geval was.

Bemagtig vir hul dagtaak. 

Toe die Here hulle sy mandaat (opdrag) gegee het, het Hy hulle ook geseën (bemagtig) (1:28). Sy seën het hul in staat gestel om Sy wil te kon volbring.

Hulle het God beter leer ken.

Afgesien van die persoonlike kontak met God (Gen 3:8,9) was hulle ook in kontak met Sy handewerk want hulle was daardeur omring. As hoogs intelligente mense sou hulle Sy skepping fassinerend gevind het en elke boom, struik, plant en blaar noukeurig bekyk en sodoende die heerlikheid, wysheid, mag en liefde daarin uitgebeeld gesien het, want God het dit juis so geskape dat die mens Hom in Sy skepping kon sien en bewonder. Aangesien hulle tyd nie deur ‘n magdom verantwoordelikhede verswelg is nie, het hulle ook genoeg geleentheid gehad om juis dít te kon doen.

‘n Reis na gister.

Dit sou darem ‘n belewenis wees as ons deur die tyd terug kon reis om ‘n dag saam met Adam en Eva in die Paradys te kon deurbring – maar daar lê vir die kind van God ‘n wonderliker ewige paradys voor, want Jesus het vir die rower aan die kruis belowe: “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” Hallejuja!

U het hom n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel.

Heb 2:7

———-

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → DIE SKEPPING Deel 2 . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha