DIE SKEPPING Deel 1 – GEN 1:1-25

A. DIE BEGIN VAN ALLE DINGE (Lees asb Gen 1:1-4).

In die begin …

Alles om ons het ‘n begin datum. Ek het ‘n geboortedatum wat ek elke jaar as my verjaarsdag vier. Net God het geen begin nie; Hy was maar van altyd af daar: “Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.” (Jes 40:28) Kalenders, horlosies  en oud word, vind ons net hier op aarde; buite die skepping bestaan dit nie. Wat het Hy gedoen voordat Hy ons wêreld geskape het? Ons weet nie want ons weet net dit wat Hy goed vind om aan ons te openbaar – verder as dit kan ons nie sien nie en is dit ook nie van belang om te weet nie.

… het God die hemel en die aarde geskape.

Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.”  (Joh 1:3). Kyk weer mooi na die hoë berge van ons land, die ontsaglike oseane wat ons omring; kyk vannag op in die hemelruim na die ontelbare sterre waarvan die meeste duisende male so groot as ons eie aarde is, en besef hoe groot en magtig dié God is wat dit alles geskape het. Soos wat ‘n vrou geboorte skenk aan ‘n kind, het krag van God uitgegaan waardeur alles gebore is, ook die onsienlike wesens soos die engele en ook die gees van die mens.

Waarom het Hy alles geskape? Dit is nie aan ons geopenbaar nie. Moontlik was dit om uiting te gee aan Sy skeppingsvermoë en om die vreugde wat Hy uit Sy eie bestaan put, met andere te deel.

Die Bybel gaan eerstens oor God en tweedens oor die mens. Ek is hier omdat dit vir God lekker was om my te skape. Hy geniet Sy skeppingswerke en daarom geniet hy dit  om my dop te hou en na my te luister. Ek is belangrik omdat ek vir Hom belangrik is. Ek kan goed voel oor myself omdat Hy goed  voel oor my.

B. DIE EERSTE SKEPPINGSDAG: GOD SKEP LIG (Lees asb Gen 1:1-5).

Die aarde was woes en leeg.

Die aarde was woeste, ongeordende materie bestaande uit grond, rots en water. ‘n Massa gestolde energie. ‘n Kolos saamgestel uit miljarde mikroskopiese klein boustene, onverwerk maar met grenslose potensiaal. ‘n Hemelliggaam waarop kontinente en seë ingekerf moes word. Dit was ook leeg soos ‘n tuin sonder plante, ‘n kraal sonder beeste, ‘n hok sonder voëls, ‘n stad sonder mense, ja dit het selfs geen atmosfeer nog gehad nie. Arm, behoewend, eensaam in eindelose ruimte, wagtend op ‘n wonderwerk, soos ‘n mens in wie se lewe die wedergeboorte nog nie plaasgevind het nie.

Die aarde se oppervlak was met water bedek.

‘n Allesinsluitende see van rustelose, stromende, kolkende golwende water. ‘n Oënskynlike waterbal, swewend in die groot heelal.

Maar hierin was die wyse voorsienigheid van God reeds te bespeur, want water is juis dié element waarvan alle lewe afhanklik is.

Dit was pikdonker sodat niks van die ganse aardbol sigbaar was nie, so goed asof hy nie bestaan het nie.

Hierdie magtelose kolos was verswelg in eindelose ondeur-dringbare duisternis.

Die Gees van God het gesweef op die waters.

Maar daar was hoop, want in daardie stikke duisternis het die Skeppende Gees van God onbesorg, rustig, oor die onstuimige waters gesweef en bedink hoe Hy dit sou omtower in ‘n wêreld van sonskyn en orde waarin lewe gevestig kon word.

God het gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig.

In hierdie verstikkende nagtelike duister spreek Hy net enkele woorde: “Laat daar lig wees” en eensklaps is die kolos deur heldere lig vanuit die ruimte oorspoel. Vanaf sy glansende wateroppervlak word lig die ruimte in weerkaats. God het Sy werk aan die aarde begin en dit sou nooit weer dieselfde wees nie.

God het gesien dat die lig goed was.

Soos ‘n skilder wat terugtree om die bykomende lyne en kleure wat hy op die doek aangebring het te betrag, het die Here ‘n oomblik lank stil bly staan om die ligtende bal te aanskou en gesien dat Hy goed gedoen het.

God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis en het die lig dag genoem, en die duisternis nag.

Gedagtig daaraan dat Sy skepsele nie net tye van aktiwiteit nie, maar ook periodes van rus en vernuwing nodig sou hê, bewerk Hy skeiding tussen die periodes van lig wat Hy dag noem en die ure van duisternis wat Hy nag noem.

(Hoe  Hy dit teweeggebring het, word nie vermeld nie. Moontlik het Hy ‘n eksterne ligbron soorgelyk aan die son geskep en die aarde toe op sy as aan die draai gesit sodat dit min of meer soos ons huidge sonnestelsel gefunksioneer het. Dit is egter net bespiegeling. Later eers sou Hy die son, maan en sterre skape.)

Vir die eerste keer het die nag op aarde gedaal en na verloop van ‘n periode het die lig weer begin skyn  om die eerste skeppingsdag te voltooi.

‘n Skeppingsdag is van ligdag tot ligdag gemeet. Hiermee het die Here ‘n bepaalde orde, ‘n reëlmaat, ingestel wat tot vandag toe nog voortduur. Sy werkswyse is om gesonde beginsels in Sy skepping in te bou waarvolgens dit moet funksioneer soos wat ons spore bou waarop ons treine veilig kan ry. Hy wil nie voortdurend elke faset van Sy skepping persoonlik bestuur nie, maar verwag dat geskape dinge by hul neergelegde beginsels moet hou en sodoende in volkome harmonie met Homself en met al die ander fasette van Sy skepping sal funksioneer.

Ons kan dus nie van Hom verwag om elke dag by wyse van ‘n wonderwerk brood op ons tafels te plaas nie. Ons kan Hom wel vra om ons te help om ‘n werk te bekom waardeur ons op ‘n vaste basis vir onsself ‘n inkomste op natuurlike wyse kan genereer. Hy verwag ook dat ek na my eie gesondheid sal omsien deur reg te leef en veral deur gesond te eet.

Wanneer ek so volgens Sy neergelegde beginsels leef, sal ek minder dikwels by Sy deur hoof aan te klop om my by wyse van ‘n wonderwerk uit die pekel te help.

C. DIE TWEEDE SKEPPINGSDAG: DIE ATMOSFEER (Lees asb Gen 1:6-8)

Op die tweede dag het God eerstens ’n uitspansel gemaak om skeiding te maak tussen die waters op die aarde en die waters bo die aarde. Hy het die uitspansel hemel genoem.

God het doelgerig, stap vir stap voortgegaan om ‘n perfekte habitat te skep vir die lewende wesens wat Hy hier wou vestig. Hulle sou suurstof, koolsuurgas, stikstof en baie ander gasse vir hul lewesprosesse nodig hê en sommige van hulle sou drie-dimensioneel moes kon rondsnel hoog bokant die oppervlak van die aarde. Daarom het God ‘n gaslaag geskep om die aarde te omring wat Hy hemel genoem het en wat ons die lug of atmosfeer noem. Die atmosfeer sou ook die doel dien om waterdamp in die vorm van wolke hoog bo in hom te kon dra om ‘n laag te vorm rondom die aardoppervlak en die lewe wat later daarop sou voorkom te beskerm, en sodat dit deur wind van een plek na ‘n ander gedryf kon word om reën te bring.

(Op daardie stadium het dit egter nog nie gereën nie. Na die vestiging van plantlewe het die Here ‘n mis laat optrek uit die aarde om die hele aardbodem te bevogtig (2:5,6).)

D. DIE DERDE SKEPPINGSDAG: LAND, SEE EN PLANTE (Lees asb Gen 1:9-13)

Land en see.

GOD SKAPE LAND EN SEE

GOD SKAPE DIE DROË LAND EN SEE

Nie alle lewe wat God sou skape, sou in water kon bestaan nie en daarom het Hy dwarsoor die aardbol, grond uit die waters laat oprys en die waters wat dit bedek het, laat wegvloei sodat kontinente van droë land (aarde) verskyn het met waters wat dit omring (see). Tot hier toe het God met lewelose materie gewerk. Weereens het Hy sy handewerk bekyk en gesien dat dit goed was.

Plante.

GOD SKAPE PLANTE

GOD SKAPE PLANTE

Na die skeiding van waters en droë grond, was die aarde gereed om lewe te huisves, net soos wat ons tuingrond omspit voordat ons groente daarin plant. Toe het Hy, ook op die derde dag, gebied dat die aarde grasspruitjies, plante wat saad gee en verskillende soorte vrugtebome voortbring. Plantlewe is dus die eerste lewe wat God geskape het en (in die algemeen gesproke) die laagste (mees basiese) vorm van lewe. Dit lewe algeheel volgens ‘n ingeboue kode waarvolgens dit groei, blom, vrug dra en voortplant. Dit beskik nie oor sintuie soos sig, gehoor, reuk, smaak ens. nie, alhoewel dit sensitief is en reageer op lig en temperatuur wisselings. Dit kan ook nie dink, praat of rondbeweeg nie.

Behalwe dat die plante gedien het as versiering vir die skepping, was ‘n groot deel daarvan bedoel as voedsel vir dier en mens wat later geskape sou word. Slegs drie tipes plante word hier genoem, maar ons kan aanvaar dat alles wat vandag opgeteken en omskryf is, reeds op die derde skeppingsdag ontstaan het.

Nou was die bruin aarde omskep in groen velde en taferele van kleureprag, en weer het God indringend na Sy handewerk gekyk, die eindelose landskappe van ongeskonde natuur gadegeslaan en, gemeet aan Sy standaarde, gesien  dat dit goed was. Niks waaraan Hy Sy hand geslaan het, het misluk of selfs net effens skeefgeloop nie; Hy was voorspoedig in alles wat Hy gedoen het.

E. DIE VIERDE SKEPPINGSDAG: SON MAAN EN STERRE (Lees asb Gen 1: 14-19)

God verfyn die ligbronne.

Die Here se handewerk het asemrowend gevorder, maar daar was nog baie om te doen. Op hierdie skeppingsdag, het die Here verdere aandag geskenk aan ligbronne vir Sy skepping. Hy het naamlik die son, maan en sterre geskape. Dit wil voorkom of Hy hulle in die plek gestel het van die lig wat Hy op die eerste skeppingsdag geskape het (of dalk daardie lig hierby geïnkorporeer het).

Die skepping van aarde tyd; ‘n kalender en horlosie.

Die doel van hierdie ligbronne en die aarde se plasing in sy spesifieke baan daarbinne, het verder gestrek as net om lig op die aarde te gee; hulle was ook bedoel as die kalender en horlosie van die skepping waarvolgens die plante, diere en die mens hul lewens moes inrig. Die mens kan nie ‘n enkele sekond by die lengte van ‘n jaar byvoeg of wegneem nie en  druk sy kalenders en maak sy horlosies om by God se tydlyn in te pas.

Werktyd en rustyd.

Dag-tyd is opgedeel in lig-tyd (dag; werktyd) en donkerte-tyd (nag; rustyd) en dae is opgedeel in maande en jare, en jare is opgedeel in seisoene. Die son se toenemende en tanende hitte oor die aardbol, bepaal die seisoene en die mens kan dit ook nie verander nie.

Die Woord sê die son en maan moes “heers” – die son oor die dag en die maan oor die nag. Die maan en sterre moes nou snags lig gee want tot op daardie stadium was daar snags geen lig nie. Die sterre sou in besonder hul deel bydra wanneer die maan nog nie op was nie, of reeds onder was. Die naglig sou dowwer wees as die daglig wat aardlewe sou toelaat om in ‘n staat van rus te gaan.

Daar is ‘n rustige asemhaling in die skepping; soggens asem hy in en sononder asem hy uit; met die aanbreek van die lente asem hy in en met die koms van die herfs asem hy uit; onversteurbaar. Toe sien God dat dit goed was.

Die grootheid van die hemelruim se liggame.

Die heelal bestaan uit ‘n onbepaalbare aantal galaksies en elke galaksie uit miljoene, ja selfs duisende miljoene sterre en planete. Meer onlangs is bepaal dat daar tussen die galaksies net soveel sterre is as in die galaksies self. Ons sonnestelsel met sy nege planete is maar bloot ‘n spikkeltjie van die galaksie van sterre wat ons die Melkweg noem. Die son se deursnee is 864,938km en bevat 99.8% van die massa van ons totale sonnestelsel. 1,3 Miljoen aardes kan daarin inpas.

F. DIE VYFDE SKEPPINGSDAG: VISSE EN VOëLS (Lees asb Gen 1:20-23) 

GOD SKAPE VOЁLS

GOD SKAPE VOЁLS

Op hierdie vyfde dag het die Here die leë lugruim gevul met voëls en die leë oseane met visse en ander seediere. Net soos met die menigte van plante, het Hy ‘n menigte van voëls en ‘n menigte van seediere geskape; dit skep nie die indruk dat Hy in gedagte gehad het dat een spesie (soort) uit ‘n ander moes ontwikkel nie (bv. ‘n skaap uit ‘n bok nie). Hy het hulle geseën sodat hulle vrugbaar sou wees, vermeerder en die aarde sou vul. Hy het dus sy guns oor hulle uitgespreek, hulle bemagtig, sodat dit met hulle goed sou gaan en hulle Sy doel met hulle sou verwesentlik, naamlik om die aarde te vul. God se deel en hulle deel; Hy het geskape, hulle moes vermeerder – so werk Hy en sy skepping saam.

G. DIE SESDE SKEPPINGSDAG: DIERE (Lees asb Gen 1:24,25)

Op die sesde dag het God al die vee (wat die mens later as mak diere mee sou boer) en wilde diere geskape. Ook hier, sien ons, het die Here elke denkbare soort dier wat ons vandag mee kontak het, op een enkele dag geskape.

IMG_8525

GOD SKAPE DIERE

Diere is bo plante (van ‘n hoër orde).

Diere was weer ‘n hoër vlak van lewe as plante. Hul fisiese eienskappe sluit in dat hulle kan beweeg, hoor, proe, ruik, voel, klanke voortbring en reuk afskei. Hulle kon dus waarneem wat om hulle aangaan en waarneembaar daarop reageer. Ook beskik hulle oor basiese denkprosesse soos om self planne te maak om die beste roete te vind om ‘n rivier oor te steek of soos ‘n sjimpansee wat ‘n stok in sy hok optel en deur die tralies steek om ‘n piesang nader te hark. Dit is egter te betwyfel of hulle vooruit kan beplan. Wanneer die mier in die somer kos versamel vir die wintermaande, doen hy dit weens ingebore instink.

Hulle kommunikeer deur lyftaal en deur klanke voort te bring, maar beskik nie werklik oor ‘n taal nie. Wel openbaar hulle sekere emosies soortgelyk aan dié van die mens, veral woede en vrees, maar ook verlange en die begeerte aan gemeenskap met ander diere van  hul soort en sommige ook aan gemeenskap met die mens.

Siel en liggaam maar geen gees nie.

Omdat die dier geen geestelike komponent as deel van sy samestelling het nie, kan hy, sover ons weet, nie met God wat Gees is, kommunikeer nie.

Let ook op die kos wat die Heer op die diere se spyskaart geplaas het naamlik al die menigte van groen plante sodat elke smaak en voorkeur bevredig kon word (1:30).

Die grootheid van die diereryk.

Wanneer ons die diereryk beskou, staan ons steeds verstom oor die Almagtige se vindingrykheid: dink maar aan die skilpad wat moeisaam oor die aarde kruip, terwyl die arend hoog bo hom, sonder inspanning, deur onsigbare lugstrominge gedra word. Elkeen het sy plek en doel op God se mooi aarde.

(Vandag word die getalle van werweldiersoorte, wat slegs 3% van alle diere uitmaak, soos volg beraam: Reptiele: 7,984; Amfibieë (wat beide in water en op land kan leef): 5400; Voëls: 9,000 – 10,000; Soogdiere: 4,475 – 5,000; Visse: 23,500).

———-

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → DIE SKEPPING Deel 1. Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha