DIE SKEPPING Deel 3 – GEN 2:1-3

A. DIE TYDSDUUR VAN ‘N SKEPPINGSDAG

Lang debatte word in Christen kringe gevoer oor die lengte van die skeppingsdae: was hulle dae van 24 uur soos wat ons hulle vandag ken, of moontlik periodes van duisende eeue elk soos wat sommige wetenskaplikes beweer?

Kilometer lange versnellers is al gebou in ‘n poging om partikels te versnel tot die spoed waarteen dit vermoedelik op die skeppingsmoment beweeg het. Deur hierdie simulasie hoop wetenskaplikes om meer omtrent die ontstaan van die materiële skepping te wete te kom. Aan die anderkant is daar ook Christen wetenskaplikes wat die 24- uur lange skeppingsdae op ‘n weldeurdagte wyse verdedig.

Of eenstemmigheid bereik sal word, weet ons nie maar laat ons by die kern van die saak uitkom: die heel belangrike is dit: alles, ja alles is deur God geskape en sonder Hom het niks ontstaan wat ontstaan het nie (Joh 1:3). Hy is die Skepper, Onderhouer en Eienaar van alle dinge; van die sigbare sowel as van die onsigbare dinge.

B. DIE HANDEWERK VAN GOD DRA ‘N BOODSKAP OOR.

Die skepping is onbetwisbare getuienis.

Die skeppingsverhaal is nie bedoel as ‘n wetenskaplike verhandeling om die mens se nuuskierigheid, sy dors na kennis, te bevredig nie. Dit dien ‘n groter doel, naamlik om die Skepper aan Sy intelligente geskape wesens, die mens, te openbaar, sodat díé hom kan ken vir Wie Hy is. Hieroor het ons reeds kortliks ‘n paar gedagtes gedeel, maar ons wil graag verder daarop uitbrei.

Hy het die skepping so saamgestel dat Hy daarin gesien kan word: Ps 19:1: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” Ons kan baie van ‘n persoon se karakter en vermoëns te wete kom deur na sy handewerk te kyk: is dit netjies of slordig; is dit groots soos ‘n wolkekrabber of  ‘n Boeing of klein soos ‘n modderhut en ‘n kruiwa; is dit kunstig ontwerp soos ‘n swaeltjie se nes, of net maar ‘n holte in die sand soos dié van ‘n volstruis; word dit behoorlik in stand gehou of maar aan sy lot oorgelaat?

Rom 1: 19-21: “…omdat wat van God geken word, in hulle (die mens) openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want Sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in Sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, … “

Die skepping vra: “Stem ‘Ja’ vir ons Skepper!”

Die Here wou hê dat wanneer die mens alles aanskou en geniet wat Hy vir hom voorberei het, hy daarop moes reageer deur homself aan hierdie wonderbare Skepper oor te gee en vir ewig in volkome vertroue met Hom as Vriend te wandel.

Dit beteken dat hy Hom onvoorwaardelik in alles sou gehoorsaam omdat hy oortuig sou wees dat sy Skepper altyd die allerbeste vir hom sou beskik.

Voortvloeiend hieruit, sou hy Hom verheerlik by wyse van danksegging, lofprysing en aanbidding. Hy sou die handewerk van God dus intelligent bestudeer, peins oor die grootsheid daarvan en sy indrukke dan vanuit sy hart teenoor die Here in gebed, sang of prosa uitspreek soos wat ons dit in talle van die Psalms vind. Dan sou God se skepping in ‘n soete harmonie en vrede gedoop gewees het.

Sien ook Heb 13:15: “Laat ons dan gedurig deur Hom (Jesus) aan God (die Vader) ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” Hierdie is ‘n belangrike praktiese waarheid of lering wat die skeppingsverhaal vir ons inhou.

Die mikroskoop en teleskoop openbaar die heerlikheid van God nog soveel duideliker.

Die wetenskaplike wat een of ander brokkie van die skepping deur sy mikroskoop of teleskoop bestudeer en ontleed en ‘n nuwe ontdekking maak, behoort dan sy oë na die hemel op te slaan en die Skepper daarvan te aanbid.

Net God kan iets uit niks voortbring.

Die mens kan dit wat God geskape het verwerk, maar net onse Here kon, sonder ‘n krieseltjie stof in die holte van Sy hand, die ganse heelal tot stand bring.

C. WAAROM HET GOD ALLES GESKAPE?

Hierdie is ‘n moeilike vraag want dit beteken dat ons die Almagtige se gedagtegang moet probeer peil maar ons kan aan die volgende moontlikhede dink.

Hy geniet dit om Sy vermoëns te benut.

God het geskape omdat Hy ‘n werksame God is. “En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” (Joh 5:17). Hierdie teks skep die indruk dat die Here normaalweg aktief is. Dit strook ook met ons konsep van ‘n persoon wat sy lewe behoorlik benut. Dit is ondenkbaar dat ‘n hoogsbegaafde persoon sy dae sal om sit en niksdoen en nie sy talente sal aanwend nie. Dit druis in teen die grein van ons waardesisteem.

Arbeidsaamheid van die mens word ook op verskeie plekke in die Skrif deur God as ‘n deug aangeprys. Siende dan dat Hy arbeidsaamheid in ons aanprys en ons na Sy beeld geskape is, moet ons tot die gevolgtrekking kom dat arbeidsaamheid ook een van die Here se voortreflike eienskappe (wesens-voortreflikhede) is.

Wanneer ‘n mens iets besonder goed kan doen, wek dit gewoonlik ook die begeerte in jou op om tot die daad oor te gaan en dit nie net te bedink nie, maar dit ook te doen, net soos wat die skilder se ingeboude talent na vore stu om die kleure van ‘n asemrowende sonsondergang met kwas en verf op ‘n doek vas te lê, of die komponis na sy musiekinstrument of pen en papier gryp wanneer die melodie van ‘n nuwe lied sy gemoed deurspoel, skape God omdat Hy daartoe gedronge voel.

Liefde vra vir voorwerpe om liefde aan te betoon.

God skape omdat Hy liefde is en die liefde van Sy wese smag na voorwerpe waarmee Hy sy heerlikheid, vreugde en genot kan deel en op wie Hy Sy liefde kan uitstort. Die naaste wat ons by wyse van illustrasie hieraan kan kom, is moontlik die begeerte van ‘n gelukkig getroude egpaar wat ‘n kindjie wil verwek wat hulle kan liefhê en vertoetel.

D. DIE SEWENDE DAG (Lees asb Gen 2:1-3).

 Wat behels God se rus?

Ons lees dat die Here in ses dae die ganse hemele en aarde met alles wat daarop is, voltooi en op die sewende dag van al sy werk gerus het. Wat hierdie rus wat God op die sewende dag vir Homself aanvaar het, presies behels, weet ons nie, want elders in die Skrif word dit duidelik gestel dat Hy nie moeg of mat word nie (Jes 40:28). In Exodus 31:17 vind ons die interessante openbaring dat Hy op die sewende dag gerus en Hom verkwik het. Aangesien Hy volkome selfonder-houdend (selfversorgend, selfgenoegsaam) is, moes Hy homsélf verkwik het. Presies hoe Hy dit gedoen het, weet ons nie, behalwe dat Hy die sewende dag daarvoor afgesonder het deur geen werk soos op die ander dae te verrig nie. (Mag ek raai dat Hy Sy rusdag afgesonder het om aandag aan Homself te gee; dat Hy Homself op daardie dag geniet het?)

Die mens se rusdag.

Toe God Sy tien gebooie aan Sy volk Israel gegee het, het Hy die onderhouding van die sewende dag, die Sabbat, as die derde gebod daarby geïnkorporeer, (Ex 20:8-11) en as rede daarvoor, gee Hy dat Hyself op die sewende dag van Sy skeppingswerk gerus en daarom daardie dag geseën en geheilig het.

Oor die “Sewende Dag” en presies hoe dit onderhou, of nie onderhou moet word nie, is vanuit die Skrif, veel te debatteer, veral ook in die lig van Jesus se eie uitsprake daaroor en Paulus se verdere beligting daarvan in Skrifgedeeltes soos Kol 2:16 en Rom 14:5 maar laat ons vereers volstaan deur te sê dat ons ten minste ‘n gedeelte van ons tyd eenkant moet uithou, dit van alle aktiwiteite moet afsonder en aan God en aan ons innerlike mens, aan ons gees, wy, sodat ons deur die rus en deur die inwerking van sy Gees verkwik kan word. Dit sal Hy verseker vir ons doen, want Hy het sy besondere guns oor die “Sewende Dag” uitgespreek.

Geniet dit.

Laat ons nie net een dag per week ‘n Sabbatsrus neem nie, maar soos Daniël (Dan 6:11) gedurende elke dag tyd afsonder om alleen met ons Skepper, Koning, Vader, Verlosser en Vriend deur te bring.

(En laat ons tog asseblief ons Sabbatsrus geniet. As kind was my ouers se Sabbat vir my die aakligste dag van die week want vir hulle het die Sabbat se agtermiddag bestaan uit ‘n slapie en dan moes ek ook gaan slaap. Nêrens in die Bybel lees ek dat kinners op ‘n Sondagmiddag moet slaap nie. Daar op die bed het ek rondgerol en gesigte getrek en dieregesigte gesien in die patrone van die plafon totdat ek dit nie meer kon uithou nie en deur die venster geglip het en die veld met my gewillige hond deurkruis en agterna die gevolge gedra het. Seker dié dat ek vandag nog (op 77) soms op die Sabbat/Sondag ‘n bietjie met die fiets wegglip om doer anderkant die blou bulte die stilte van ‘n plaaspad te gaan opsoek en met ‘n nuuskierige perd of ‘n rustige skilpad te staan en gesels. Nou ja … . )

en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.

Ps 37:4

———-

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → DIE SKEPPING Deel 3 . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha