Die Sondeval van die Mens – GEN 2:16 – 3:24

Fall of Man

A. DIE HERE STEL VIR DIE MENS ‘N TOETS (Lees asb. Gen 2:16,17).

Die reël.

Om ‘n persoon of voorwerp te kan toets, moet daar eers ‘n reël of standaard wees waaraan hulle getoets of gemeet kan word. God het net een wet of reël in Sy koninkryk gepubliseer naamlik: “Van die Boom in die middel van die tuin, die Boom van Kennis van Goed en Kwaad mag julle nie eet nie want as julle daarvan eet, sal julle sekerlik sterwe.”

Waarvandaan kom die kwaad?

Kennis van Goed en Kwaad.  Ons het reeds gesien dat alles wat van God af uitgaan, net goed is, maar die kwaad dan, waarvandaan kom dit? Die naam van die Boom kan impliseer dat “Kwaad” reeds bestaan het, wat inderdaad die geval was, want teen daardie tyd het een van God se engele reeds in sonde geval en ‘n groot aantal ander engele met hom meegesleur. “En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.” (Openb 12:7-9). (Toe Adam en Eva in die Paradys geplaas is, het die duiwel en sy engele se rebellie reeds plaasgevind, maar hul neerwerping uit die hemel het waarskynlik later eers gebeur. Hulle bewegings was egter nie tot die hemel beperk nie; hulle was, sovêr ons kan aflei, vry om die aarde na willekeur te besoek.)

 Was die boom self boos?

Hierdie boom en sy vrug was, net soos al die ander bome, goed gewees om van te eet want God sou immers nie iets boos geskape het nie. (Aan die einde van elke skeppingsdag het Hy tog teruggekyk op Sy werk en gesien dat dit goed was.) Die kwaad sou dus nie in die vrug lê nie, maar in die mens se ongehoorsaamheid deur ‘n vrug te eet wat God verbied het.

‘n Koninkryk kan net een koning hê.

‘n Koninryk kan nie twee konings hê nie want elkeen sou sy eie idees en sieninge hê oor hoe hy sy land wil bestuur. Die landsburgers sou ook verdeeld wees; sommige sou die een koning en die ander die ander een navolg en dit sou tot ‘n ewigdurende oorlog lei.

Die burgers van ‘n land kan ook nie toegelaat word om elk hul eie koning te wees deur elk hul eie reëls en wette te maak nie; nee, daar moet eenvormige, regverdige en wyse verordeninge wees waaraan almal gewilliglik onderworpe is; dan sal die land vrede en voorspoed belewe.

So ook kon God se heelal net een koning hê. Hy moes almagtig en alwys wees en volkome in liefde. En dit was God inderdaad. Sy ganse skepping het daarvan getuig. Adam en Eva kon dit duidelik sien. Boonop het Hy hulle besoek en met hul gesels sodat hulle Hom persoonlik kon leer ken. Die tafel was dus gedek en gereed vir hulle om oor Hom te besluit; om te besluit of hulle Hom as Koning sou aanvaar en Sy reëls eerbiedig, aldan nie.

Nog ‘n rede waarom die mens self moes besluit.

Die Vader wou die mens as ‘n bruid aan Sy Seun gee en ‘n bruid moet haar eie bruidegom kies, so nie, is sy, sy dienskneg of sy slaaf. ‘n Man kan ‘n meisie die hof maak, maar as sy hom goed deurgekyk het, moet sy self besluit en ja of nee sê. En dit is waar die haakplek gekom het.

God het beide Adam en Eva uit Sy eie wil geskape sonder dat hulle ‘n sê daarin gehad het. So, êrens vorentoe, moes hulle vir Hom ja of nee sê. ‘n Duidelike keuse wat vir ewig sou geld, was ‘n noodsaaklikheid.

Dit was ‘n groot keuse want Hy moes die volkome sê oor hul lewens hê. Dit het natuurlik nie beteken dat hulle Hom as ‘n kwaai regter moes sien nie, maar as ‘n almagtige, liefdevolle Vader wat altyd net die beste vir sy kinders sou doen; ‘n bruidegom wat sy lewe vir sy bruid sou aflê; iemand wat hulle algeheel kon vertrou.

Ooglopende feite waarop hulle hul besluit kon baseer.

  • As intelligente wesens was dit sekerlik eerstens vir hulle duidelik dat alhoewel hulle na Sy beeld geskape was, hulle nie aan Hom gelyk was nie. Hy was in elke opsig oneindig groter as hulle in Sy vermoëns en veral in wysheid.
  • Voordat hulle geskape was, was Hy reeds daar, en naas Hom was daar niemand anders met wie hulle kontak gehad het nie.
  • Hy was die alleen-Skepper en daarom ook die alleen-eienaar van alles. Hulle kon, en het absoluut niks bygedra tot die skepping  nie. Hy alleen kon regtens die finale sê hê in Sy heelal, oor lewelose, sowel as lewende dinge.
  • Hy alleen kon die ganse skepping onderhou. As Hy skielik die skepping aan homself sou oorlaat en vertrek om nog ‘n heelal te gaan skape, wat sou van hierdie skepping word? Wat sou die mens kon doen om die son, maan en sterre, die planteryk en die diereryk behoorlik te laat funksioneer en tot wie sou hulle bid om in te gryp as iets aandag nodig gehad het?
  • Laastens was dit duidelik dat God alles goed geskape het en hulle sou nie met ‘n logiese rede na vore kon kom waarom ‘n bepaalde ster in ‘n ander baan geplaas moes word, of waarom die dassie van ‘n stert voorsien moes word nie.
  • Sy ganse  optrede het gespreek van liefde en welwillendheid. Daar was dus geen rede om te twyfel of hulle hul lewens aan Hom kon toevertrou nie in die wete dat Hy altyd die beste vir hulle kon, en sou doen.

‘n Praktiese toets.

Om hulle tot hierdie besluit te bring, het Hy vir hulle ‘n boom van keuse gestel; die boom van Kennis van Goed en Kwaad. Om “ja” te besluit hoof hulle niks te gedoen het nie. Om “nee” te besluit, moes hulle hul hand uitsteek, die verbode vrug pluk, en dit eet. Dit was eintlik ‘n vreeslike maklike toets om te slaag want van al die menigte bome van verskillende soorte was hulle vry om te eet en te geniet, maar net hierdie éen was verbode. Maar, sou hulle teen Sy wil van dié boom eet, sou hulle daarmee wys dat hulle Hom nie volkomelik vertrou as ‘n liefdevolle God, Vader en Bruidegom nie en dat hulle eerder hulle eie verstand wou gebruik en navolg om vir hulle die beste in die lewe te verkry, met ander woorde dat hulle onafhanklik van Hom wou lewe. Ons kan maar sê dat hulle hulle eie god sou wou wees en hul eie reëls vir hulleself sou wou maak.

Die verskil tussen toets en versoek.

(Laat ons nou sommer net terloops daarop let dat om ‘n keuse aan hulle te stel, nie dieselfde was as om hulle in versoeking te lei nie; dít doen God nooit (Jak. 1:13-15).

Na verloop van tyd.

Miskien het daar baie, baie tyd, selfs jare verloop wat hulle die boom met sy vrugte gesien, maar nooit hulle hand uitgesteek het om daarvan te eet nie. En toe eendag …

B. DIE SLANG SE AANSLAG OP GOD SE SKEPPING (Lees asb Gen 3:1-6).

‘n Vreemde, onbekende, persoon verskyn op die toneel en hy en die slang werk saam.

Skielik is daar nog iemand in die tuin; die duiwel, in die gedaante van ‘n slang. Ons verneem nou vir die eerste keer van hierdie buitengewone dier wat kon redeneer en praat.

Later in die Skrif word hy geopenbaar as ‘n bose geestelike wese, wat die Here haat en teen Hom oorlog voer. In Openb 12:9 word hy genoem “… die groot draak, die ou slang wat genoem word duiwel en satan, wat die hele wêreld verlei.”

Uit Eseg. 28 kan ons aflei dat hy die heerlikste van al God se geskape engele was, maar toe hoogmoed in sy hart posgevat het, het hy teen God gerebelleer. Daarvoor is hy deur God veroordeel en uit Sy teenwoordigheid uitgewerp. In Openb.12:12 leer ons ook dat hy met groot woede na die aarde neergedaal het om God se skepping te gronde te rig – meer hieroor later.

Gedagtig daaraan dat die duiwel, voor sy val, die glorierykste van al God se engele was, is dit waarskynlik dat hy die slang as vennoot gekies het omdat dié weer die wonderbaarlikste van al die diere was. Hy het waarskynlik bene gehad net soos al die ander diere. Die Here het hom dit later ontneem as deel van sy straf. Die slang, soos wat hy deur God geskape was, was natuurlik nie listig nie, hy was goed.

Kon hy dalk selfs met die mens praat – anders sou Eva mos geskrik het toe die slang skielik met haar begin praat het? Die feit dat die Here later die slang vervloek het, dui daarop dat hy skuld gehad het aan Eva se verleiding. In regsterme kan ons sê dat die Here hom toerekeningsvatbaar geag het. Miskien het hy willens en wetens toegelaat dat die duiwel hom as spreekbuis gebruik en deur hom praat. Sy skerpsinnigheid het oorgegaan in listigheid toe die slinkse duiwel van hom besit geneem het.

Hy vra toe vir die vrou … .

Voordat ons na sý vraag kyk, kom ons vra eers self ‘n vraag of twee aan die vrou:

“Goeiedag Eva. Dit lyk my jy is besig om vrugte te pluk vir jul middagete. Maar waarom bekyk jy vandag die verbode Boom so van naderby? Is die menigte ander bome se vrugte nou nie meer vir jou lekker en goed genoeg nie? Loop en wonder jy dalk wat nou eintlik verkeerd is met hierdie boom se vrugte? En hoekom loop jy so alleen hier rond; waar is jou man? Help jy hom nie vandag met diere se naamgee nie?”

(Laat ons tog vêr weg bly van dit wat verkeerd is. Die Skrif waarsku ons om te vlug (weg te hardloop) vir die kwaad. (1 Kor 6:18, e.a.)).

Hy vra toe vir die vrou of dit so is dat die Here gesê het hulle mag nie van al die bome van die tuin eet nie.

Kyk hoe slinks is hy: hy wil net eers vir Eva sovêr kry om met hom in gesprek te tree. Hy doen dit deur haar ‘n vraag te vra; so asof hy onkundig is en net groter duidelikheid wou bekom. Sy antwoord hom: “Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet…”

“Waak en bid dat julle nie in versoeking kom nie.” (Matt 26:41).

‘n Deel van God se opdrag aan hierdie egpaar was om die tuin te bewaak; sy doen dit nie, sy faal. Sy moes onmiddellik vir haarself afgevra het: “Wat gaan hier aan dat ‘n dier nou skielik kan praat? Waarom wil hy dit weet: wat is sy motief?” Sy moes toe met ‘n teenaanval gekom het deur te vra: “Waarom wil jy weet? Hoe raak dit jou? Jy is ‘n dier vir wie God sy eie voedsel gegee het; God se opdrag aan ons gaan jou nie aan nie.” As sy daardie vrae gevra het, was hy op die agtervoet geplaas, was sy uit die kryt se hoek en hy daarín. Maar o wee, sy doen dit nie en vir die duiwel was die ys nou gebreek. Die slang het die eerste rondte gewen.

Wanneer God se Woord duidelik is oor ‘n saak, moet ons nie met mense wat dit betwis, argumenteer nie. Ons haal net eenvoudig die Skrif aan en  volstaan daarmee.

 ‘n Halfhartige antwoord.

Sy antwoord hom: “Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet maar van die boom in die middel van die tuin het God gesê dat ons nie mag eet, of dit mag aanroer nie, anders sal ons sterwe.” Dit is nie heeltemaal wat God gesê het nie. Hy het gesê: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet , … ” (2:16). Gód se woorde beklemtoon die milddadigheid van Sy gawe; háar woorde daarenteen, is so ‘n afgewaterde “Jaa-aa, ons mag maar van sekere bome eet, maar van … mag ons nie eet nie.”

Sien ons nie reeds hierin ‘n gebrek aan dankbaarheid en entoesiasme oor haar Skepper en Sy wonderlike, onverdiende gawes nie?

Ondankbaarheid vir dit wat God vir my gee, maak dat ek al nader aan die verbode boom beweeg en stilletjies wonder of so ‘n happie ongehoorsaamheid nie dalk my dag sal opvrolik nie. Nee, die weg na vervulling is eerder om met opgehefde hande op te kyk na Bo want die Woord sê “… en verlustig jou in die Here, dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” (Ps 37:4).

Die duiwel betwis God se goedheid.

Die vrou se halfhartige reaksie was vet op die duiwel se vuur en nou gaan hy met mening oor tot die aanval. Hy sê vir haar dat hulle gewis nie sou sterwe nie, maar dat God weet dat as hulle daarvan sou eet, hulle oë sou oopgaan sodat hulle net soos Hy sou wees om goed en kwaad te ken. Sy aanval is nie op die vrou nie maar op God self; hy betwis dat God goed is, en goed doen, en beweer dat Hy die beste van die mens weerhou. Hy beweer dat die vermoë om goed en kwaad te ken, ‘n besondere goeie gawe is en dat dit jou oplig om aan God gelyk te wees; hy sê dus dat God die mens onderdruk deur hierdie kennis van hom te weerhou. Hy vertel egter nie vir haar wat die kennis van goed en kwaad eintlik inhou nie.

C. DIE SONDEVAL VAN DIE MENS (Lees asb Gen 3:6,7).

 Die grootste ramp wat ons planeet ooit getref het.

Die vrou se emosies van begeerte is opgewek en dit oorheers haar gesonde verstand, haar rede. Die magdom getuienis van God se wysheid en liefde vir haar en Sy waarskuwing versmelt soos was voor die son.

Skielik gebeur iets skrikwekkends in haar gees: die goeie word verruil vir die kwade. Sy verwerp God se siening en volg haar eie denke wat deur haar emosies oorheers word. Skielik verander haar sienswyse oor die Boom. Sy sien dat dit ‘n besondere aanskoulike (mooi) boom is; dat dit reg was om sy vrugte te eet omdat dit haar verstand (insig) sou vergroot. Sy is mislei. Die boom staan skielik vir haar uit bo al die ander bome; is skielik ‘n lus vir die oë.

Sy begeer iets, maar begryp nie werklik wat dit presies is nie. Hoe, het sy gedink, sou sy beter af wees deur soos God goed en kwaad te ken? Die inhoud van haar begeerte was ‘n vae onomlynde begrip. Sy het geen behoefte gehad aan dit wat sy begeer het nie want hulle het in ‘n misdaadvrye wêreld geleef en sy en haar man sou nooit die funksie van regters moes vervul nie. In Eden was daar net een wet naamlik, “van ‘n sekere boom se vrugte mag julle nie eet nie,” en hulle het geen besondere regsinsig nodig gehad om dit te verstaan en te onderhou nie.

 Sy pluk en eet.

Sy pluk toe van die vrugte en eet dit. Dit wil amper lyk of sy nie net een vrug gepluk en geëet het nie, maar sommer ‘n paar. Miskien, toe sy die eerste sonder slegte gevolge verorber het, het sy besluit om sommer behoorlik weg te lê.

 Sy gee van die vrugte aan haar man by haar en hy eet dit.

Dit wil ook voorkom asof haar man nie by was toe sy die gesprek met die slang gehad het nie. Waarskynlik het hy eers later bygekom want die Skrif sê dat hý nie deur die slang mislei was nie maar die vróu (1 Tim 2:14). Die feit dat hy sien hoe sy die verbode vrugte eet en niks oorkom nie, maak dat hy ook sy waaksaamheid verslap, die Here sy Skepper, se waar-skuwing oorboord gooi, ‘n vrug uit sy vrou (wat die Here vir hom gegee het) se hand aanneem, en dit eet.

Huweliksvennote wat mekaar liefhet en vertrou, kan baie maklik deur mekaar in sonde betrek word. (Kort nadat my vrou en ek weergebore is, het ons met mekaar ooreengekom dat as een van ons van die Here af sou wegdryf, die ander een nie sou saamgaan nie maar eerder vasstaan en poog om die een wat teruggeval het, terug te wen. Ek weet dan ook van verskeie gevalle waar ek probeer het om die Heer se volmaakte wil te ontglip en my vrou standpunt teenoor my ingeneem het. Ek het dieselfde gedoen en dit is een rede waarom ons nog steeds die Here sy aan sy volg. Ons behoort eerstens aan God en dan aan mekaar.)

 Eva het gekyk, geneem, geëet en gedeel.

Die eerste waarneming van iets wat verbode is, kan gewoonlik nie verhoed word nie, maar die tweede kyk is jou eie keuse. Sou jy besluit om nie te kyk nie, is die krag van die versoeking onmiddellik gebreek en stap jy weg as ‘n vry man/vrou, maar om ‘n tweede kyk te steel, is ‘n stap na verslawing.

As seun het ek ‘n hond gehad wat nie die versoeking om hoenders te vang, kon weerstaan nie. Na twee pakke slae, het hy sy les geleer gehad en wanneer hy saam met my straataf gestap en ons ‘n hoender teëgekom het, het hy dadelik na die oorkant van die straat oorgegaan en sy kop weggedraai. Hy het die gevaar van die tweede kyk leer ken; dit laat die bloed kook en die kokende bloed laat die brein ophou om te funksioneer.

Wanneer jy in versoeking kom, staan die duiwel reg agter jou met sy handboeie en sodra jy toegee, glip hy hulle om jou polse en word jy sy slaaf sovêr dit daardie sonde betref.

Tweedens: ‘n persoon wat in sonde verval, is gedurig op soek na andere om by hom aan te sluit, want daardeur maak hy sy gewete stil want hy voel dat as andere meedoen, dit nie so verkeerd kan wees nie.

 Ontnugtering.

Albei se oë gaan toe oop. Hulle sien dat hulle naak is. Hulle skaam hulleself vir mekaar. Haastig werk hulle vyeblare aanmekaar om vir hulle skorte te maak om hul liggame te bedek. Maar hulle besef dat dit nie genoeg is om so voor God te verskyn nie en toe hulle die Here se stem hoor, vlug hulle verskrik tussen die lower van die tuin se bome in en kruip daar weg.

Die aanloklike kwade het verander in ‘n monster.

Hulle oë hét toe oopgegaan soos die duiwel gesê het, maar dit het vir hulle geen voordeel gebring nie. Hulle het nie gewen nie, maar verloor: hul onskuld en reinheid verloor. Hulle het die kwaad (sonde) nie net van buite leer ken soos wat ‘n mens kennis oor ‘n ander land opdoen deur ‘n artikel daaroor te lees of op die Tv te kyk nie. Hulle het nie net op ‘n afstand kennis oor die kwaad opgedoen nie, maar toe hulle versigtig aan die kwade byt, het dit skielik in ‘n roofdier verander wat hulle bespring en oorweldig het.

Boosheid het in hulle ingestorm.

Die kwaad het in ‘n stroom van bose gedagtes en gevoelens in hul harte en gedagtes ingestroom. Skielik het hulle emosies wat hulle nooit geken het nie, beleef: vrees, woede, ontevredenheid, jaloesie, geïrriteerdheid, wantroue, verwyt en miskien die opwelling van brandende wellus vir mekaar se liggame. Die heerlike gloed van reine liefde wat hulle saamgebind en een vlees gemaak het, was ewe skielik weg. Skuldgevoelens het hulle oorweldig en tot gevolg gehad dat hulle hul openheid en deursigtigheid verloor het. Hulle was skaam oor wie hulle skielik innerlik was en daardie skaamte en vrees vir straf het na alle fassette van hul menswees deurgewerk sodat hulle selfs hul liggame wat nie op sigself sondig was nie, wou bedek.

Hulle is in hegtenis geneem en het slawe geword.

Kennis van die kwade was nie vir hulle soos om ‘n kas oop te maak, die inhoud te staan en bekyk, dit weer toe te maak en weg te loop as hulle nie daarvan sou hou nie; nee, daar was net een manier om die kwaad te leer ken en dit was om hulself daaraan oor te gee, om daardeur in besit geneem te word.

(‘n Mens kan die effek van alkohol nie leer ken deur na die bottel te kyk en te luister na wat ander daaroor te sê het nie, nee, jy moet dit self drink, bedwelm raak, neerslaan, ‘n bespotting word, jou werk en gesin verloor om die werking en krag daarvan te begryp.)

Deur God se Woord te verwerp, het hulle Hom verwerp.

Hulle wou God nie glo toe Hy vir hulle hierteen gewaarsku het nie; hulle het eerder die duiwel geglo wat hulle nog nooit vantevore ontmoet het en wat nooit ‘n greintjie se goed vir hulle gedoen het nie. Hulle het geglo dat God hulle verkul het. Hulle het hul eie koppe gevolg, eerder op hulle eie oordeel staatgemaak as op God se woord. Hulle het Sy wysheid en almag gesien in alles wat Hy geskape het; sy tere liefde ervaar in alles wat Hy vir hulle voorsien het, maar dit alles in die wind geslaan. Hy was vir hulle ‘n vriend wat hulle gereeld besoek en met hulle gesels het, hoe kon hulle Hom wantrou? Hoe kon Adam wat so ‘n pragtige vrou van God ontvang het, glo dat die Here besig was om Sy beste van hom te weerhou? Hulle het hulself verhef bo die Een wat hulle geskape het.

Hulle het die duiwel as vader gekies; die een wat hulle voortaan sou gehoorsaam.

In Joh 8:44 lees ons dat Jesus vir die Fariseërs gesê het dat die duiwel ‘n leuenaar was en dat hulle sy seuns was. Dit is ‘n skokkende waarheid: deur ‘n hap uit die verbode vrug te neem, het hulle vaders verruil en ewe skielik het hy deur hul eie keuse hul vader geword.

‘n Mens kan nooit werklik sonder ‘n meester wees nie; wanneer hy kies om onafhanklik van God te leef, kies hy onwetend om die duiwel te dien.

Desperate pogings.

In ‘n desperate poging om die gevolge van hul daad te ontvlug, het hulle skorte van vyeblare aanmekaar geryg om hulle vir mekaar en vir God te verberg. Selfs dit was nie genoeg nie sodat hulle vir Hom tussen die bome weggekruip het.

Maar die innerlike agteruitgang sou maar net al hoe erger word soos ‘n lyk wat besig was om te ontbind. Dit is eerstens hierdie innerlike dood waarna God verwys het toe Hy gewaarsku het dat hulle sekerlik sou sterf as hulle eet van die Boom van Kennis van Goed en Kwaad.

Pyn, siekte en dood volg op die hakke van die kwaad.

Tweedens sou ook hul liggame begin agteruitgaan en fisies sou hulle uiteindelik sterwe en terugkeer tot die stof van die aarde.

Die aarde is in duisternis gedompel.

Wat ‘n jammerlike dag was dit nie; ek wonder of daar nie ‘n siddering, soos ‘n aardbewing, deur die ganse tuin gespoel het nie. Hierdie vrae sal ons nooit kan beantwoord nie; maar diep in ons harte weet ons dat as ons in Adam en Eva se skoene gestaan het, ons waarskynlik presies dieselfde sou gedoen het!

D. GOD SE HANTERING VAN DIE MENS SE VAL (Lees asb Gen 3:9-24).

God soek die mens op.

Die Here het na die mens geroep: ”Waar is jy”? Hy het geweet dat hulle dringend hulp nodig gehad het. Op hulle eie sou hulle uit hierdie put nooit kon uitkom nie. As alwetende God het Hy presies geweet tussen watter bome hulle skuil maar Hy wou hulle egter nie soos ‘n polisiebeampte gaan opspoor en uithaal nie. Hy het die eerste stap geneem en na hulle toe beweeg, maar wou hê dat hulle ook ‘n stap moes neem, op Sy roepstem moes reageer en uit hul eie na Hom toe kom.

God roep vandag nog na verlorenes wat wegkruip.

Die Here is vandag nog besig om deur die tuin van hierdie wêreld te stap, op soek na gevalle mense wat vir Hom wegkruip. Party kruip weg en maak of hulle sy stem nie hoor nie omdat hulle die sonde geniet.  Andere verberg hulle omdat hulle die oordeel van God vrees.

Mense kruip weg agter die vyeblare van beskawing of uiterlike vroomheid, maar gedurig skeur dit en staan hulle in skaamte as hul sondes ontbloot word. Wanneer die mens se gees hierdie wêreld by sy afsterwe verlaat, word die laaste vyeblare van hom afgestroop en staan hy nakend voor die God van wie Hy sy lewe lank weggevlug het.

Die hofsaak: drie beskuldigdes waarvan  twee onskuldig pleit.

Adam se verweer.

Die mens (Adam) het uiteindelik geantwoord dat hy weggekruip het omdat hy nakend was en bang daaroor. Om met God oor jou sondes te praat, is vernederend maar dit is die regte ding om te doen; dit is waar jy verlossing van jou skuld sal vind.

Die Here vra toe wie vir hom gesê het dat hy naak was en of hy nie van die verbode boom geëet het nie. Hierop antwoord hy dat die vrou wat die Here hom gegee het hom van die vrugte gegee het wat hy toe geëet het. Hy pleit dus onskuldig.

Eva se verweer.

So draai die Here toe na die vrou en vra wat sy nou gedoen het. Haar antwoord was dat die slang haar bedrieg het. Sy pleit dus ook onskuldig.

Ek was my hande in onskuld.

Kyk nou net hoe beskuldig hulle mekaar; die man blameer nie net sy vrou nie, maar sommer die Here ook wat die vrou vir hom gegee het en vergeet hoe in sy skik hy was die dag toe hy haar ontvang het.

As hoof van sy gesin, faal hy nou vir die tweede keer deurdat hy nie verantwoordelikheid aanvaar vir die kwaad wat hulle aangerig het nie.

Die vrou weer, wys na die slang en sê “Di’s hy wat my bedrieg het”; snaaks dat sy nie ook byvoeg: “Daardie slinkse dier wat die Hére gemaak het” nie.

Hoe dikwels hoor ons dit nie ook in ons eie huise nie; “Di’s nie mý skuld nie, di’s jóu skuld!” Gaan sit maar in ‘n geregshof, dan sien jy hoedat kamerade wat gister nog saam gesteel en gemoor het, vandag holderstebolder die skuld op mekaar pak. Van die moeilikste woorde om oor ons lippe te kry is: “Ek is jammer; ék was verkeerd.”

Uitspraak.
Die Here kondig toe hulle straf aan. Onlangs nog was Hy hul liefdevolle Skepper; nou is Hy hul regter. Hy aanvaar nie hul verskonings nie en gee geen redes vir Sy uitspraak nie want hulle weet baie goed dat hulle verkeerd gedoen het.

Die slang gevonnis.

Die slang word eerste gestraf: vervloek is hy onder al die diere van die veld. Op sy buik sal hy seil. Stof moet hy eet. Daar sal vyandskap wees tussen hom en die saad van die vrou. Hy (haar Saad) sal hom die kop vermorsel. Hy (die slang) sal Hom (haar Saad) in die haksteen byt.

Omdat die slang toegelaat het dat die duiwel hom as werktuig, as instrument, gebruik om die mens aan te hits om homself tot die hoogte van God self te verhef, word hy tot in die stof van die aarde verneder; die laagste plek onder al die diere word hy aangewys. Selfs die geitjie het bene en pote maar die slang verloor hierdie ledemate en het net ‘n kop en lyf sodat hy op die grond ten aanskoue van die ander diere moet wriemel om oor die weg te kom. Waar hy tesame met die ander diere die groen plante as voedsel geniet het, moet hy nou stof eet.

Tussen die ander diere en die mens sou daar, soos wat ons vandag waarneem, vervreemding en vrees wees, maar tussen hom en die mens niks minder as vyandskap nie, sodat die een die ander se dood ewigdurend sal soek.

‘n Profesie.

Vers 15b is ‘n baie belangrike vers want dit het ook ‘n dieper betekenis naamlik dat die duiwel sou probeer om die Seun van God, Jesus Christus, wat eeue later uit ‘n vrou gebore sou word, te vernietig en dat die Seun op sy beurt, die duiwel finaal sou oorwin en in die ewige verdoemenis werp. Dit het gedeeltelik reeds gebeur met die kruisdood en opstanding van die Here Jesus Christus.

Eva gevonnis.

Volgende in die beskuldigdebank was die vrou. Haar swangerskap sal met moeite en die geboorte van haar kinders met smart gepaard gaan. Sy is nie soos die slang vervloek nie, maar moet ook ‘n duur prys vir haar selfverheffing betaal. Nieteenstaande die verligting wat die mediese wetenskap kan bewerk, getuig vroue wêreldwyd vandag nog van die waarwording van God se woord wat betref swangerskap en geboorte (en so ook elke man wat al bygestaan het wanneer sy vrou ‘n baba in die wêreld bring.)

Haar begeerte sal na haar man wees en hy sal oor haar heers. Sy sal van hom afhanklik wees en na hom opsien vir die bevrediging van haar behoeftes. (Later in die Woord sal ons sien hoedat, vir die man en sy vrou wie se verhouding met God reg is, hierdie onderlinge verhouding ook in iets baie moois omskep word.)

Van die begin af was die man nie aangestel om oor die vrou te heers nie, maar omdat sy nalatig was en nie saam met hom oor die tuin gewaak het nie en boonop haar vertrouensposisie as sy hulp om die tuin te bewerk en bewaak misbruik en hom mislei het, word hy nou oor haar aangestel.

Adam gevonnis.

Laastens moet ook die man sy straf aanhoor: om sy ontwil word die aarde vervloek. Die man was van die begin af oor die tuin aangestel; die vrou het later bygekom om hom in hierdie taak by te staan. Hy was dus primêr verantwoordelik vir die tuin.

Hy behou sy verantwoordelikheid om die tuin te bewerk en bewaak, maar die tuin en sy diere rebelleer nou teen hom soos wat hy teen God gerebelleer het. Voortaan sal hy swoeg en sweet om ‘n bestaan te maak. Die vrugtebome lewer nie meer hul ryke oorvloed nie. Die plante van die veld verander in dorings en distels sodat hy die grond moet bewerk en saai om te kan oes en vir hom en sy vrou te kan sorg. Nie meer sal die diere gewilliglik na hom kom om bestudeer en benoem te word nie; die bok vlug weg in die lower van die bos in en die leeu brul dreigend wanneer Adam hom nader.

Samevattend: Die dood het op die aarde kom heers.

Hierdie soort van bestaan noem God nie lewe nie; Hy noem dit dood. Daarom het Hy hulle gewaarsku dat hulle sou sterwe as hulle van die verbode boom sou eet; Hy het presies geweet wat sou gebeur. Elke mens, dier en plant is sedertdien lewend dood. Vanaf die dag dat hy ontkiem of gebore word, beweeg hy al nader aan sy finale sterfdag.

Die duiwelsraad was dodelike gif; nogtans slurp die mensdom dit nog steeds op.

Die mens word met God versoen.

Die vonnisoplegging was verby, die hof het verdaag, die Regter het van die regbank afgeklim om by sy twee verwese kinders te kom staan. Die vyeblare aan hul liggame was verskeurd en verdor; hulle was skaam en miskien het hulle gebewe van die ongekende koue. Die sagte klimaat waarin hulle nakend baljaar het sonder om warm of koud te kry, het verander; voortaan sou die son soms neer skroei op hulle.

Toe bloei die Here se hart vir die twee. Hy neem van die onskuldige diere; hulle skreeu van vrees, maar Hy slag hulle; hulle bloed vloei; die eerste sterftes en die eerste bloed wat die mens ooit gesien het. God brei die velle, maak vir sy skaam kinders snoesige rokke en laat hulle dit aantrek. Hulle kyk na Hom en glimlag deur hulle trane en Hy glimlag terug en God en mens is weer versoen; hul verhouding is herstel (Die skrywer se verbeelding!)

‘n Profetiese handeling.

Hierdie storting van bloed om die mens se naaktheid te bedek, is geweldig belangrik want dit is ‘n beeld van Jesus, die Lam van God wat sou sterwe om die mens se sonde naaktheid te bedek.

Verban uit Eden.

Om te voorkom dat hulle van die Boom van die Lewe eet en vir ewig lewe, stuur die Here hulle toe weg uit die tuin en laat die ingang bewaak deur ‘n engel met ‘n flikkerende swaard. God het besef dat om tot in der ewigheid so ‘n haglike bestaan te voer, ‘n onbeskryflike foltering sou wees. Daarom het Hy verhoed dat hulle ‘n nog groter ramp oor hulleself sou bring deur van die Boom van die Lewe te eet.

Nou was hulle buite die idilliese tuin en moes hulle vir hulself sorg. So het pyn in die wêreld gekom, asook harde werk, bekommernis en skaamte. Wat ‘n hartseer verhaal.

E. GOD SE PLAN “B”.

Wat ‘n terleurstelling vir God maar Hy gee nie soos ons moed op nie. ‘n Projek wat Hy aangepak het, voltooi Hy. Die res van die Bybel gaan oor Sy se handelinge met die mens om deel te hê aan die nuwe, volmaakte Koninkryk wat Hy besig is om op te rig en waarin sonde en die duiwel geen plek sal hê nie. Maak tog seker dat jy ook deel van daardie Koninkryk is!

Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.

Rom 5:12

———-

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → SONDEVAL . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die venster onderaan hierdie bladsy daarvoor.

———-

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *