A.TOENEMENDE BEDERF OP DIE AARDE (Lees asb Gen 6:1-12).
Die mense op die aarde het grootliks vermeerder.
Na Kain, Abel en Set is nog baie ander kinders vir Adam en Eva gebore en hulle het onder mekaar getrou. Gedurende die daaropvolgende honderde jare is duisende mense op die aarde gebore.
Elke keer wanneer ‘n baba gebore word, word die heerlikheid van God geopenbaar. Duisende jare nadat God die mens geskape en die vermoë gegee het om mense na sy eie beeld voort te bring, is daardie gawe nog net so vars en wonderbaar soos reg aan die begin toe Adam sy vrou beken en ‘n seuntjie vir hulle gebore is.
Ook vir die Here moes dit ‘n groot vreugde gewees het om te sien hoedat ‘n proses wat Hy self “ontwerp” en in werking gestel, rustig in elke volgende geslag voortgegaan het.
Die seuns van God het vir hulle vroue geneem uit die dogters van die mense.
Sommige Skrifverklaarders meen dat “die seuns van God” verwys na gevalle engele. Hieroor die volgende:
- Engele is geslagloos en dus nie in hul gewone staat by magte om seksuele omgang te kan hê
- Gevalle is in die Woord opgeteken waar engele in menslike gestalte op aarde verskyn en byvoorbeeld gewone kos saam met die persone na wie hul gestuur is, geëet het (Gen 19:3). As hulle dus in staat was om in hierdie opsig soos mense op te tree, waarom sou hulle nie ook op seksuele gebied so kon doen nie?
- In die boek Judas, verse 6 en 7, praat die skrywer byvoorbeeld van engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie en hul eie woning verlaat het en vergelyk hulle met die mense van Sodom en Gomorra. Dié het gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop deurdat mans met mans geslagtelike omgang gehad het (Gen 19:5) en selfs onwetend engele in hul wellus wou betrek. Hulle het dus afgewyk van die seksuele beginsel wat God vir hulle neergelê het toe Hy hulle geskape het. Dan is dit seker nie vêrgesog om dit in verband te bring met “die seuns van God” wat met die dogters van die mense getrou het nie.
- In 2Pet 1:4,5, word gepraat van engele wat gesondig en deur God in die hel gewerp is en direk daarna verwys die Skrif na die oordeel wat oor die mense gekom het in die tyd van Noag en wil dit voorkom of dié twee insidente verband hou met mekaar; engele het in die gedaante van mans na die aarde gekom en met vroue uit die mensdom omgang gehad.
- Die feit dat reuse, geweldiges, buitengewone mense uit hierdie geslags-omgang gebore was, versterk hierdie vermoede.
- Weereens wesens wat selfstandig wou wees en buite die wil van God beweeg het.
Andere meen dat dit mans was uit die nageslag van Kain wat na die vlees uitnemende persone was, maar geestelik algeheel bedorwe en dat hierdie vermenging die verderwing van Set se nageslag tot gevolg gehad het.
Of ons hierdie onduidelikheid nou ookal kan uitrafel of nie, wat vasstaan is dat ongeoorloofde seksuele vermenging plaasgevind het, wat tot verdere verval gelei het.
Deur hierdie seksuele omgang is reuse gebore, manne van naam, geweldiges.
In Num 13:33 lees ons ook van sulke reuse waarvan die reus Goliat afgestam het; groot in die vlees en indrukwekkend om te aanskou en na te luister, maar geestelik dood en in ‘n staat van gevorderde ontbinding.
God sien nie aan wat voor oë is nie; Hy sien die hart aan en bepaal die mens se waarde volgens die reinheid van sy gees (1 Sam 16:7).
Die Here besluit toe dat Sy Gees nie vir ewig in die mens sou heers nie (of met hom sou worstel nie) en dat sy dae 120 jaar sou wees.
Die 120 jaar kan eerstens verwys na die mensdom se daaropvolgende lewensduur deur die eeue; met ander woorde dat die mens van toe af aan nie ouer as ‘n 120 jaar sou word nie. Indien wel, het hul afname in lewensjare geleidelik begin gebeur want die afstammelinge van Sem het nog 200 tot oor die 400 jaar oud geword (Gen 11:10 e.v.).
Dit kan egter eerder verwys na die oorblywende lewensduur van daardie geslag wat in die vloed sou omkom. Gedurende die ongeveer 120 jaar dat die ark gereedgemaak is, het die Gees van God deur die prediking van Noag by die mens gepleit (met hom geworstel) om hom te bekeer. (1 Pet 3:20; 2 Pet 2:5)
God het gesien dat die mens se gedagtes en lewens deur en deur sleg was.
Die mens se geneigdheid tot die kwaad, sy sondige natuur, het daartoe gelei dat hy al slegter en slegter geword het totdat hy totaal deurtrek en verrot was van sonde.
Kernkrag is seker die grootste krag wat deur die mens ontketen kan word; daarmee kan ons waarskynlik alle lewe op aarde vernietig. Veel groter nog is die mag van sonde. Dit is onsigbaar soos radio-aktiewe materiaal en vernietig alle lewe waarmee dit in aanraking kom. Soos wat volkere wat radio-aktiewe materiaal genereer, later daardeur bedreig word en nie weet hoe om daarvan ontslae te raak nie, is daar gedurig nuwe lande wat besig is om deur sonde soos geweld, korrupsie en seksuele losbandigheid wat hulle self gegenereer het, geleidelik doodgewurg te word, maar nie weet hoe om dit weer uit te roei nie.
Die mensdom se lewenswyse was veral gekenmerk deur geweld.
Begeerlikheid groei tot selfsug en selfsug gaan oor in geweld. As ons die huidige vlakke van geweld in sovele lande van die wêreld waarneem, besef ons hoe vêr die mensdom buite die wil van God beweeg het en hoe na hy aan die Here se oordeel is.
Dit het die Here berou dat Hy die mens geskape het en vir Hom groot droefheid veroorsaak.
Dit beteken nie dat God gevoel het dat Hy ‘n fout gemaak het om die mens te skape nie want Hy maak immers nooit ‘n fout nie en het self, toe Hy Sy handewerk aanskou het, besluit dat dit goed was. Sy berou en smart was eerder oor wat die mens aan hulself gedoen het.
Hy besluit toe om mens sowel as dier van die aarde af te verdelg.
God wat alwetend is, het besef dat daar geen hoop was dat die mense sou verbeter nie. Hulle was soos ‘n sak aartappels waarvan een sleg word en die verrotting aan die res oordra totdat die eienaar genoodsaak is om die hele sak weg te gooi.
As regverdige regter en wyse bestuurder, moes die Here ‘n besluit neem en kon Hy nie anders as om die ganse mensdom (uitgesonderd die agt) te vernietig nie. Dit was die regte ding om te doen. Sodoende is die kwaad en kwaaddoeners uit die samelewing verwyder en kon die goeie en godvresendes weer ‘n kans kry om te gedy (te groei). Op dié manier het die mensdom as sulks behoue gebly.
Hy het dus steeds in liefde, en daarom in die beste belang van mens en dier opgetree. As Hy dit nie gedoen het nie, sou die geweldenaars die oorblywende agt godvresendes uitgemoor het en sou die wêreld totaal en al in die mag van die duiwel geval het. Die pragtige skepping van God wat aan die begin net goed was, sou uiteindelik algeheel sleg (boos) geword het. Dit sou wees soos ‘n pragtige stuk beeldhouwerk wat onher-kenbaar geskend of ‘n skildery wat aan repe gesny word.
B. GOD BEVEEL NOAG OM ‘N ARK TE BOU (Lees asb Gen 6:8-22).
Noag, ‘n skynende lig in ‘n donker wêreld.
Wanneer die Here iets op aarde gedoen wil hê, soek Hy eerstens na iemand deur wie Hy dit kan doen. So ‘n persoon moet duidelik aan God se kant staan en nie skaam wees om dit te wys nie.
So ‘n man was Noag; ‘n regverdige (reg met God), opregte man wat met God gewandel het; ‘n eensame kers wat absoluut uitgestaan het in ‘n nagdonker wêreld. Al sy bure en hulle bure, en húlle bure, was kinders van die duisternis, maar hy, ‘n kind van die Lig. Almal het dit raakgesien en God het hom raakgesien en die Here se glimlag was oor hom.
As Noag in so ‘n donker put van onheil, nie net kon oorleef nie, maar met God kon wandel (6:9), kan ons dit mos ook doen. Sê ons eie spreekwoord dan nie, “In die swartste modder groei die witste lelie,” nie?
Met die heilige lig wat in sy eie hart gebrand het, kon die Here ook ‘n heilige lig bring in die harte van sy drie seuns, Sem, Gam en Jafet. Hoe lekker tog wanneer ‘n ouer sien dat die liefdeslig vir Jesus ook in sy kinders se harte aangesteek is en dat hulle selfs ook godvresende vroue as huweliksmaats neem nie. As dit nie die geval was met Noag se vrou en kinders nie, sou God hulle nie in die ark ingesluit en sodoende uit Sy oordeel gered het nie. (‘n Kind kan mos nie op grond van sy ouer se verhouding met God, vergifnis ontvang en hemel toe gaan nie.)
Die Here sê toe vir Noag dat Hy die aarde sou verdelg.
God lig die mensdom, en in besonder hulle wat aan Hom behoort, vroegtydig in oor wat Hy van voorneme is om te doen.
Hy het Sy twaalf dissipels ingelig oor sy komende inhegtenis-neming, verhoor, kruisdood en opstanding sodat wanneer dit sou gebeur, hulle daarop voorbereid sou wees en hul geloof in Hom versterk sou word (Matt 17:22).
Ook vir ons het die Here die gordyn van die toekoms oopgetrek sodat ons kan weet wat ons te wagte moet wees. Verskeie Ou Testamentiese boeke bevat profesië oor die eindtye. Die Here Jesus self het daaroor geprofeteer en die Sendbriewe en die boek Openbaring bevat ‘n groot hoeveelheid inligting in dié verband. Ons moet dit bestudeer sodat ons die tekens van die tye kan onderskei, kan sien hoe naby ons aan die einde van die wêreld is, en nog inniger met Hom kan lewe.
Noag kry ‘n goddelike opdrag.
Noag het seker dikwels gebid dat die Here die goddelose mense sou straf, dus was dit vir hom goeie nuus dat sy gebede verhoor is, maar die slegte nuus was dat Hy en sy gesin nie sommer dadelik deur die Here weggeneem sou word uit hierdie woonplek van die duiwel nie, maar dat hy eers ‘n ontsaglike groot skip moes bou wat as middel sou dien om hom en sy gesin en ‘n menigte diere in die lewe te behou sodat hulle die gereinigde aarde weer sou kon bevolk. Ai, wat ‘n terleurstelling, maar ook wat ‘n eer om vir so ‘n belangrike taak deur God gebruik te word!
Hoe lyk dit met jou en my en ons huise? Is ons arkbouers of skattejagters? Is ons oorgegee aan God se saak, of aan ons eie sake? Kom ons besin ‘n slag deeglik hieroor voordat ons verder gaan om te sien hoe dit met Noag gegaan het.
God verskaf die bloudruk (die planne) vir die ark.
Die ark moes volgens die volgende spesifikasies gebou word: lengte 300 el, breedte 50 el en hoogte 30 el. (150x25x15m) Dit moes van goferhout gebou en met pik bestryk word.
Hierin lê ‘n belangrike beginsel opgesluit: God het self besluit op die wyse waarop Hy sommige wesens sou red, net soos wat Hy ook self besluit het om sy Seun as Verlosser na hierdie wêreld te stuur en dat die mens deur geloof in Hom gered moes word.
Die mens wat destyds sou probeer om vir homself ‘n eie skip te bou om die oordeel van God te ontvlug, sou dom wees. Net so met die mens van ons dag wat op sy eie pogings vertrou om sy verlossing te bewerk. Groot getalle mense dryf rigtingloos rond op die vlot van ‘n kerklidmaatskapsertifikaat of in die lekkende bootjie van goeie werke, maar is te trots en selfversekerd om deur die Nou Poort in die Ark, Jesus Christus in te gaan.
Net ‘n druppeltjie uit die emmer sou behoue bly.
Uit hierdie klein groepie van mens en dier sou die Here die wêreld weer bevolk. Die wêreld se bevolking van vandag is ook ‘n emmervol verlorenes en net ‘n druppeltjie wat behoue sal bly.
Die ark se spens vir mens en dier.
Waar het Noag ten minste ‘n jaar se kos voorraad van soveel uiteenlopende soorte bekom? Het hy dalk net ‘n klein hoeveelheid van elke soort na die ark gebring waar die Here dit dan soos die brode en vissies vermeerder het (Matt 14:19)?
Noag het gedoen presies soos die Here hom beveel het.
Gehoorsaamheid aan God is die stempel van nederigheid en nederigheid dek die tafel vir geloof. Noag het sekerlik met honderde vrae rondgeloop maar daar was niemand om te raadpleeg nie; hy kon net maar gehoorsaam wees aan God en glo dat alles reg sou uitwerk soos wat die Here gesê het dit sou.
C. DIE SONDVLOED (Lees asb Gen 7:1-24).
Boutyd en genadetyd.
Noag het moontlik 120 jaar aan die ark gebou. Dit was ‘n lang tyd om jou lewe aan een projek te wy; ‘n lang tyd wat hy en sy gesin moes aanhou om te glo en te doen.
Dit was ook genadetyd; bekeringstyd, om die komende oordeel te ontvlug: 1Pet 3:20: … wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is;
Ons lees later in die Woord, dat Noag ook ‘n prediker van geregtigheid was. (2 Pet 2:5). Terwyl hy besig was om die ark te bou, het hy dus waarskynlik ook gepreek en die mensdom teen hul goddelose lewenswyse gewaarsku. ‘n Mens kan jou net indink hoeveel spot hy van so ‘n goddelose samelewing moes verduur het, te meer so, omdat hy homself besig gehou het met die bou van ‘n reuse hout skip op droë grond. Hy het egter volhard om God te glo en sodoende is hy en sy dierbares gered en die ganse skepping van uitwissing bewaar. Ware geloof kan volhard.
Die groot dag breek aan.
Uiteindelik was die reuse skip voltooi en met pik bestryk. Nou was alles gereed vir God se woorde om in vervulling te gaan en gee die Here opdrag dat Noag en sy gesin daarin moes ingaan.
Weer bevestig die Here dat Hy hom regverdig bevind het, nie op grond van die ark wat hy gebou het nie, maar omdat hy in geloof, vir nog ‘n 150 jaar met Hom gewandel het. Hoe lekker moes dit nie gewees het om daardie “Wel gedaan, Noag,” uit die mond van die Heer te hoor nie.
Elke wedergebore kind van God beleef ook dat die Heilige Gees in sy gees (in sy hart) teenoor hom getuig dat God hom regverdig bevind (dat sy saak reg is met God). “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;” (Rom 8:16).
Eers moes die diere in die vreemde gevaarte ingaan.
‘n Skip kan ‘n mens nog bou, maar hoe keer jy en jou drie seuns vier olifante aan; twee gesonde jong bulle en twee koeie en oorreed jy hulle om in ‘n skip in te gaan; veertien vlugvoetige springbokke; vier vlakhase; om nie eers te praat van die arende en al die ander soorte voëls nie; en dan is daar nog die luislange, mambas, pofadders. Hoe lank sou dit hom nie neem om hulle almal aan te keer en seker te maak dat nie ‘n enkele spesie oorgeslaan is nie, en hoe gemaak dat die leeus nie bokke opvreet terwyl die vier manne nog buite besig is nie.
Hieroor was daar seker lang debatte om die etenstafel gevoer; ‘n enorme geloofsuitdaging.
Uiteindelik, toe hulle planne uitgeput en geen oplossing gevind is nie, hoor hulle van alle kante af ‘n gebulk, geblêr, getrompetter, getjirp, gefluit en gekekkel en stroom al wat denkbare dier is, jong gesonde spesies van die regte geslag, uit die ruigtes en uit die bloue lug in die ark in asof hulle van kleinsaf daarin grootgemaak is, terwyl Noag en sy gesin net verstom staan en toekyk.
As die mens maar net dít doen wat God vir hom gee om te doen, sal die Here die groter werk doen wat vir die mens onmoontlik is om te doen, en so sal hulle saam die Here se raadsplan uitvoer.
Fil 2:12,13: Daarom, my geliefdes … werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.
Bekommer ek en jy ons tot ons nie ‘n haar op ons kop oor het nie, en dit oor dinge wat vêr bo ons vermoë is? Agge-nee wat, dit maak ons ongelukkig en sieklik en oud voor ons tyd. Laat ons net ‘n slaggie terugstaan en kyk of ons nie dalk besig is om God se werk te probeer doen nie. Net Hy kan die aardbol, en ons daarmee saam, op Sy skouer dra.
Toe gaan Noag en sy gesin ook in.
Die diere wat God uitgekies het, het nie ‘n keuse gehad of hulle in die ark wou ingaan of nie, maar Noag en sy gesin kon oplaas nog hul geloof laat vaar en terugdraai na hul snoesige veilige huis. Dink maar aan Lot se vrou wat verlangend oor haar skouer geloer het, maar nee, elkeen van die agt gesinslede het reg besluit. Miskien het die vier vroue vir laas nog ‘n beker of bord gegryp, maar toe het hulle die rug op hul tuiste en hul vriende gedraai en gehoorsaam, gelowig in die ark ingegaan.
Wat ‘n vreugde wanneer elkeen in ‘n gesin, ingaan in die Jesus Ark. Is jy, leser, dalk die laaste een in jou gesin wat nog buite staan en rondkyk? Toe dan nou, waarvoor wag jy nog?
Toe sluit God die deur agter hulle.
God rek genadetyd baie vêr, 120 jaar in Noag se dae, maar toe kom die afsnypunt; die deur swaai toe en God self draai die sleutel in die slot en, as ek dit so mag stel, met die sleutel in Sy hand, keer Hy terug na die hemel vanwaar Hy die sluise sou oopdraai.
Noag kon dus nie die deur van binne oopsluit vir laatkommers nie, al was dit ook vir ‘n dierbare familielid of vriend.
Na die sluiting van die deur, wag die Here nog sewe dae voordat Hy Sy vonnis oor die mensdom voltrek. Sewe is natuurlik die getal van volmaaktheid of volkomendheid. Kon dit dalk wees dat die Here gedurende daardie sewe dae nog ‘n geleentheid gegee het aan iemand wat tot berou sou kom, maar dat niemand uit die ganse mensdom by die deur kom aanklop het nie? Maar na die sewe dae, sou niemand kon sê dat die Here onregverdig was en dat hy nie ‘n billike kans gegun is nie.
Noag kry ‘n kans om skoene uit te skop.
Hy was toe 600 jaar oud en na sy harde werk, het ‘n tyd van verposing vir hom aangebreek (of was hy dalk elke dag besig om die diere te versorg; kos en water te gee)?
Die watervloed.
Toe die vloed eers begin, was daar geen keer aan nie; van bo het reën neergegiet en van onder het fonteine deur die aardkors uitgebreek. 40 Dae en 40 nagte het dit onverpoos so aangehou.
Eers het die laagliggende vlaktes met water gevul geraak sodat groot mere ontstaan het, maar gelydelik het die water al hoër teen die rante en toe teen die berge opgerys sodat net hier en daar ‘n bergspits nog uitgesteek het.
Op ‘n stadium het die water ook rondom die ark begin toemaak en toe, eendag, het Noag hulle gewaar geword dat die skip wat hy gebou het, nou bo-op die waters gedryf het en deur die kragtige winde wat gewoed, êrens heen voortgedryf is.
Die water het finaal opgerys tot 15el (7,5m) bokant die hoogste bergspits. Alle lewende wesens (mense en landdiere) wat buite die ark was, het verdrink, ook dié wat na die toppe van die berge gevlug het.
Watter verskriklike paniek moes daar nie geheers het nie. Hoeveel vrugtelose gebede moes daar nie na die hemel opgestyg het nie! Vreeslik is dit om te val in die hande van ‘n lewende God. (Heb 10:31).
Of sou die mensdom so verhard gewees het dat hulle die Naam van die Here gelaster het omdat Hy hulle so gestraf het (Open 16:10)?
Die aardbol was weereens met water omhul, net soos die dag toe die Here met die skepping van alles begin het, want die Here was besig om alles nuut te maak, om van vooraf te begin.
Net die ark wat deur God ontwerp, en onder sy toesig gebou was, het veilig op die waters gedryf. (Dit is al wat op ‘n satellietfoto van die aarde, as daar toe satelliete was, sou verskyn het)
Die langste ononderbroke seereis ooit?
Na 40 dae en nagte het die grootste natuurramp ooit, opgeklaar. Die son het weer geskyn en lig het geskitter op die eiendelose watervlak. Die oordeel was voltrek; die vrede herstel, maar ‘n lang wagtyd sou nog moes verloop voordat die “nuwe skepping,” die hernude skepping, gereed sou wees om weer bewoon te word.
Die uitverkorenes beêrf ‘n nuwe aarde.
Nogal ‘n slim plan om voëls as verkenners te gebruik; eers ‘n kraai en toe ‘n duif. Noag het voëls uit die ark laat vlieg om te toets of die water al genoegsaam weggedroog het dat mens en dier kon uitgaan. Ongeveer een jaar en 10 dae nadat Noag hulle in die ark ingegaan het, was die aarde tot so ‘n mate afgedroog dat God hulle laat uitgaan het om Sy hernude skepping in besit te neem, ‘n skepping waarin daar geen geweld tussen mens en mens meer was nie.
‘n Geseënde begin en ‘n bevestiging van ‘n opdrag.
Wat ‘n vrolike dag moes dit nie gewees het toe mens en dier wat ‘n jaar lank in die noute van die ark moes deurbring, daaruit kon uitstroom en die ganse skepping net vir hulleself in besit kon neem.
Sekerlik het die olifante getrompetter, die leeus gebrul, die voëls gekwetter en die mense gejuig.
(Wanneer ‘n mens God behaag, gebeur dit dat Hy jou op die regte tyd uit jou moeilike omstandighede verlos en vir jou iets nuuts en aangenaams voorsien.)
Hulle taak was steeds dieselfde, naamlik om te vermeerder en die aarde te vul. Hiervoor het die Here hulle toegerus deur hulle met vrugbaarheid te seën.
D. LEWE OP DIE GEREINIGDE AARDE (Lees asbGen 8:20-10:32)
Wat hier volg is net ‘n kort opsomming.
Noag bring ‘n dankoffer aan God.
Die deurlewing van die sondvloed wat waarskynlik gepaardgegaan het met hewige donderweer, loeiende wind en golwe, moes ‘n geweldige traumatiese ondervinding gewees het. So ook om na 12 maande se opsluiting, uit te stap in ‘n wêreld wat tevore dig bevolk was, waarvan nou net 8 mense oorgebly het.
Geen wonder dan dat Noag se eerste begeerte en handeling was om ‘n dankoffer aan God te bring. Hy bou toe ‘n altaar vir die Here en offer daarop aan Hom van ál die rein diere en van ál die rein voëls. Wat ‘n aanbiddingsdiens moes dit nie gewees het nie!
So het Moses ook gevoel na hul verlossing uit Egipte en hul tog deur die Rooi See en het hy ‘n loflied gekomponeer en die volk dit laat sing terwyl Miriam die vroue met tamboeryne in ‘n koordans gelei het.
Net so voel ook dié mens wat deur die bad van die wedergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, vir die eertse keer die nuwe lewe in Christus beleef.
Wat ‘n vrolikheid sal dit nie wees wanneer die Here se verlostes die nuwe hemel en aarde in besit neem nie!
Ook God was bly.
Toe die Here die lieflike geur van Noag se offerandes ruik, was Hy bly, alhoewel Hy besef het dat die mens in sy wese nie verander is deur al die trauma wat hy deurgegaan het nie, selfs nie deur die aanskouing van God se oordeel oor sonde nie.
In tyd was die mensdom nou ‘n stap nader aan die ver-soeningsdood van Jesus waardeur selfs die gruwelikste sonde van die mens bedek sou kon word. Die Vader het dit in die verte reeds gesien en het Hom verbly.
Intussen sou die mens, alhoewel slegs ‘n klein minderheid soos die Noag gesin, sy verhouding met God behou deur die diere bloedoffers wat hy aan die Here sou bring en nie op sy eie pogings om ‘n heilige lewe te lei nie.
Op hierdie basis sou die lewe voortgaan en sou ‘n heilige God ‘n sondige mensdom kon verdra en hulle, sowel as die diereryk, nie weer deur ‘n wêreldwye katastrofiese vloed uitdelg nie.
‘n Nuwe klimaat met ‘n “geskrewe” waarborg.
Omdat die mens voortaan by die geringste skommeling in die weer en klimaatstoestande, vir die ergste sou vrees, gee die Here ‘n belofte (verbond; dws verbind Hy Hom daartoe) dat voortaan: … sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie. (Gen 8:22).
Om Sy verbond sigbaar aan elke volgende geslag te bevestig, gee die Here Sy teken (handtekening) as ‘n kleurryke boog in die wolke. Wanneer Hy die watermassas versamel om die aarde te bevogtig, sal hierdie pragtige boog daarin verskyn en Hom herinner aan Sy belofte om die aarde nie weer deur middel van ‘n watervloed uit te delg nie. Daardeur spreek Hy ook tot die mens daaronder en sê Hy: “Moenie bekommerd wees nie, Ek bly by My belofte; hierdie wolke bring vir julle seën en nie oordeel nie.”
Die mens se mandaat oor die natuur word bevestig.
Noag en sy gesin word heraangestel om oor die ganse skepping te heers. Die vrees en skrik vir hulle sal oor die diere visse en voëls wees en hulle sal na hartelus van dit alles, net soos van al die groen plante kan eet.
Ook sal hulle as gesin vrugbaar wees sodat die aarde weer herbevolk kan word.
Die held van die verhaal het voete van klei.
Noag word dronk van wyn en lê nakend in sy tent. So word die idilliese verhaal van God se nuwe gereinigde aarde wreed ontsier deur die godsman Noag se skande. Die man wat 600 jaar lank te midde van die mees goddelose samelewing denkbaar as ‘n skynende lig uitgestaan het, word nou deur ‘n beker of twee wyn, ‘n ewige klad op die naam van sy familie. Hy het gerus geraak; nie rekening gehou met sy eie sondige natuur nie. Al die waters van die vloed kon daardie ingebore begeerte na die kwaad nie uit sy hart uitwas nie; hy het dit saamgedra waar hy ookal beweeg het; in die ark in en ook weer uit die ark uit, in die nuwe aarde in.
Hy het ook nie rekening gehou met die duiwel wat ook die vloed oorleef het nie en wat vasbeslote was om God se nuwe aarde weer vir homself in te palm.
Noag het goed begin maar lelik gestruikel. Die reinheid van die mensdom was reeds weer besoedel. Die gewaste sog het in die modder gerol (2 Pet 2:22).
As ‘n uitstaande regverdige soos Noag so maklik deur drank oorval en verneder kon word, moet kinders van God dan nie maar vêr daarvan af wegbly nie?
‘n Piepklein saadjie wat in my groentebedding inwaai, groei tot ‘n kolossale bloekomboom as ek hom nie vroeg-vroeg uitroei nie. ‘n Vis wat so proe-proe aan die aas, besef eers te laat dat daar ‘n hoek met ‘n weerhaak binne-in verskuil is.
Bedwelming, hoe gering ookal, bedwelm ook die geestelike sintuie sodat die stem van die gewete en die waarkuwings van die Heilige Gees verdof, en later op dowe ore val. Laat ons doen soos die Skrif sê: vlug vir die kwaad (1 Tim 6:11).
Een sonde lei tot ‘n ander: ‘n spotter in die huis van God.
As Noag nie naak-dronk in sy tent gelê het nie, sou hierdie insident nooit plaasgevind het nie.
Net soos Adam se nageslag en Kain s’n, is Noag se nageslag ook deur sy sonde geraak en tot so ‘n mate dat een van sy kleinkinders, asook sy nageslag vervloek is.
Wat Gam betref: hy het sy eie lewe aan sy vader se vroomheid te danke gehad, tog dryf hy die spot met hom. Hy was ‘n geredde man, maar het ook teruggeval.
‘n Mens moet nie spot met, of neersien op iemand wat in sonde geval het nie; dit is God se genade wat jou staande hou (1 Kor 10:12).
As ‘n mens genot put uit sonde deur ‘n grap daarvan te maak, wys dit dat jy dit nie in ‘n ernstige lig beskou nie. Vir die Here is sonde iets afskuweliks: Jer 44:4 En Ek het na julle gestuur al my knegte, die profete, vroeg en laat, om te sê: Moet tog nie hierdie gruwelike saak wat Ek haat, doen nie.
Sem en Jafet het hul vader se naaktheid bedek.
Een seun het verkeerd geloop maar twee seuns het reg gedoen; 33% teenoor 66%. Laat ons die Here ook dank vir elke godvresende in ons families. Dit is ‘n bewys dat Sy genade in hulle werk.
Veroordeel die sonde, maar betoon respek aan die sondaar (omdat hy na die beeld van God geskape is) soos wat Sem en Jafet agteruit gestap het terwyl hulle terseldertyd ‘n laken oor hul vader trek. Noag sou agterna dankbaar gewees het daarvoor en meer agting vir hierdie twee seuns gehad het.
Bedek die sonde soos Sem en Jafet gedoen het deur met die sondaar en met God daaroor te praat, in plaas van om daaroor in die gemeenskap te skinder (1 Kor 13:7: Jak 5:20). As andere daaroor praat, trek ‘n laken daaroor deur op die goeie dinge in die persoon se lewe te wys.
Wat jy saai, sal jy maai.
As gesinshoof en priester van sy huis, moes Noag werk maak van die sonde in sy gesin. Hoe moeilik tog om iemand anders te straf terwyl jy self met ‘n skuldige gewete rondloop. (‘n Regter mag nooit ‘n geraamte in sy klerekas wegsteek nie.) Hy het darem seker self eers met sy eie sonde voor God gegaan en vergifnis gevind.
Die uitspraak (wat, ons glo, van God gekom het): Die twee seuns wat eer gesaai het (Eer jou vader en jou moeder), maai verhoging en die een wat oneer gesaai het, maai vernedering – die twee wat hulself verneder het, word verhoog en die een wat homself verhoog het, word verneder.
Omdat Gam met Noag gespot het, vervloek hy Gam se seun Kanaän en sy hele nageslag, en stel hulle tot diensknegte van Sem en Jafet. Watter geweldige gevolge het Gam se daad nie gehad nie; ‘n hele generasie moet daaronder ly en soos wat Gam sy vader geminag het, sou sy seuns hom minag omdat hy hulle hele toekoms benadeel het. Eina.
Hoekom Kanaän en nie Gam nie?
Waarom is Gam se seun, Kanaän, vervloek en nie hyself nie? Die Here het in Kanaän dieselfde geestelike tendens gesien as wat sy vader Gam openbaar het. Hierdie goddelose karaktertrekke sou voortgeplant word in Kanaän se nageslag sodat hulle al verder van God sou wegdryf; al meer deur die kwaad oorweldig sou word. Dit sou hul ondergang beteken en maak dat hulle diensknegte sou word van die nasies wat uit Sem en Jafet sou voortspruit. Die vloek wat deur Noag namens God uitgespreek was, was dus ‘n profesie oor wat in die toekoms sou gebeur.
Kanaän se nasate se morele minderwaardigheid sou hulle ongeskik maak om te heers. Gam het as vader van Kanaän in dié vloek gedeel.
Die goeie nuus egter, is dat God besig is om vir Hom ‘n nuwe volk te versamel uit elke stam, taal, volk en nasie (Open 5:9) en dat Hy deur Sy Gees Sy heilige karakter aan hulle oordra sodat daar in Sy nuwe koninkryk geen onderskeid gegrond op herkoms meer sal wees nie.
Sem, Gam en Jafet se afstammelinge (10:1-32). (Sommige ge-gewens is onseker).
Gam.
Gam se vervloekte seun, Kanaän, word die voorvader van die Kanaäniete wat so sleg (boos) geword het, dat God Israel opdrag gegee het om hulle te vernietig en hulle land in besit te neem.
Gam se ander drie seuns, Kus, Misraim en Put was nie vervloek nie en hulle het die voorvaders van die nasies van Afrika geword, soos die: Egiptenaars, Filistyne, Hetiete en Amoriete. Een van sy seuns was Kus wie ‘n seun by name Nimrod voortgebring het. Nimrod was ‘n geweldige jagter. Hy het weer begin om geweld te beoefen en was die aartsvader van die latere groot goddelose Babiloniese ryk.
Sem se vier seuns is die voorvaders van die Semitiese geslaglyn van wie die Hebreërs, Persiërs, Assiriërs, en Chal-deërs afstam.
Jafet se sewe seuns se geslagslyn is waarskynlik die volgende: Klien-Asiërs, Europeërs, Galliërs (Franse), Britte, Russe, Grieke, Romeine, Mediërs en Thraciërs.
E. AANVULLEND.
Die Ark.
Afmetings: 150 m lank, 25 m wyd/breed en 15 m hoog. Gebou oor ‘n periode van moontlik 120 jaar maar die presiese tydperk is nie bekend nie. Dit het drie verdiepings gehad.
Pogings is al aangewend om te bereken hoeveel diere die ark sou kon huiswes en sommige meen dat soveel as 45,000 sou kon inpas.
‘n Universele of gelokaliseerde vloed?
‘n Vraag wat altyd weer gevra word, is of die vloed die ganse aardbol met water bedek het wat tot 15 el bo die hoogste bergspitse gestyg het. In hierdie verband ‘n paar opmerkings:
- Ten gunste van ‘n globale vloed.
As die water die hele aarbol tot so ‘n hoogte oordek het, sou dit basies ‘n terugkeer gewees het na die toestand toe God met die skepping begin het en die ganse aarde in water gehul was (Gen 1:2). Die aardkors sou moontlik gedeeltelik moes versink – ‘n algehele wêreldwye katastrofiese ramp. Die feit dat die Here na die vloed ‘n reënboog (9:13) in die wolke gegee het wat tevore onbekend was en ook die seisoene, dae en nagte, ja selfs die mens se voedsel (8:22-9:4) hergedefinieer het, dui daarop dat die sondvloed ‘n groot klimaats-verandering tot gevolg gehad het. Moontlik was daar dus inderdaad ‘n wêreldwye katastrofe.
Die Almagtige, sou dit natuurlik sonder moeite kon doen want vir Hom is niks onmoontlik nie. As ons deesdae sien hoedat ‘n geringe versteuring van die aardkors ‘n vloedgolf (tsunami) tot gevolg het wat meters hoë water diep in kusgebiede injaag, is dit voorsienbaar dat ‘n grootskaalse versteuring, see-water oor groot dele van kontinente kon laat spoel en selfs onderaardse waters onbeheersd deur die oppervlak kon laat uitbreek.
- Ten gunste van ‘n gelokaliseerde vloed.
Eerstens: Die ganse mensdom was gedurende daardie tyd in die Mesopotamië landstreek saamgetrek; hulle het nog nie verder versprei gehad nie en die Heer se basiese bedoeling was om die sondige mensdom uit te roei. Daar was dus geen nodigheid vir ‘n globale vloed nie.
Dit was gevolglik ook net nodig om verteenwoordigers van diere wat in daardie omgewing te vinde was, in die ark te akkommodeer. As daar van élke soort dier op aarde verteenwoordigers in die ark moes ingaan, sou sommige wat nie in daardie omgewing voorgekom het nie, van ander kontinente af daarheen moes migreer en na die vloed weer daarheen moes versprei.
Tweedens: Daar is tekens van so ‘n rampspoedige vloed in daardie landstreek wat min of meer daardie tyd voorgekom het.
Daar is dus ook argumente vir ‘n lokale vloed.
Die belangrike lering wat God deur hierdie verhaal wil deurgee, is dat sonde tot verdelging lei en dat ons dit net kan ontkom deur God se verlossingsplan te volg. Om hierdie rede word al die tegniese detail, net soos met die skeppingsverhaal, nie verstrek nie.
Feit of mite?
Is die sondvloed slegs ‘n denkbeeldige verhaal om die gedagte van verlossing oor te dra? Om dit as bloot simbolies te sien, soos sommige doen, is onsin. Die Skrif stel dit baie duidelik as ‘n werklike gebeurtenis waarna ook meermale in die Nuwe Testament verwys word (Matt 24:38; Luk 3:36; Heb 11:7; 1Pet 3:20).
Daar was ‘n werklike ark, waarin werklike diere en mense ingegaan het om behoue te bly. God het werklik die deur agter hulle toegesluit waarna Hy alles deur ‘n werklike vloed uitgewis het. Sien dit voor jou geestesoog afspeel, glo dit van harte en ook dat die huidige wêreld net so seker, soos deur God voorspel, met vuur sal vergaan en slegs dié wat in Christus is, gered sal word (2 Pet 3:10).
Verloop van die sondvloed.
Die datums wat volg, is gekoppel aan Noag se lewensjare.
600-02-10 | God sluit die ark se deur nadat almal binne is. |
600-02-17 | Die sluise van die hemel en fonteine gaan oop en die vloed begin. |
600-03-29 | Die reën stop (40 dae en nagte nadat dit begin reën het). |
600-07-17 | Die ark kom tot rus op die berg Ararat, 150 dae nadat dit begin reën het. |
600-10-01 | Die bergtoppe word sigbaar. |
600-11-10 | Noag stuur ‘n kraai uit (40 dae nadat die bergtoppe sigbaar word). Hy kom nie terug nie. |
600-11-11? | Noag stuur ‘n duif uit wat geen rusplek kon vind nie en terugkeer. |
600-11-18 | Noag stuur die duif weer uit wat met ‘n groen olyfblaar in sy bek terugkeer. |
600-11-25 | Noag stuur die duif weer uit wat wat toe nie weer terugkeer nie. |
601-01-01 | Noag maak die ark se deksel oop en sien dat die water grootliks weggedroog het. |
601-02-27 | Die aarde was nou droog en op God se opdrag verlaat Noag, sy gesin en al die diere die ark. |
Hulle was 1 jaar en 17 dae daarbinne |
———-
VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → SONDVLOED . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.
Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.