Storm op die meer; Luk 8:22 – 25

HIERDIE DOKUMENT KAN GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.

Lees asb Luk. 8:22-25. (Sien ook Matt 8:23-27; Mark 4:35-41).

Jesus, Seun van God, heers deur geloof.

Hierdie Skrifgedeelte lewer bykomende bewys dat Jesus die Seun van God is en leer ons om geloof in God te beoefen, soos wat Jesus gedoen het. Daardeur heers ons oor die storms van die lewe en verheerlik ons die Skepper van hemel en aarde.

Deurdat Jesus volkome mens geword het, kon Hy demonstreer dat die mens deur die krag van die inwonende Heilige Gees, ‘n oorwinnende lewe kan lei te midde van al die toetse en beproewinge waardeur hy in die gevalle skepping omring is.

‘n Rustige begin met ‘n geleende skuit.

Die verhaal begin waar Hy, na ‘n besige dag, net soos Hy was, saam met Sy dissipels in ‘n beskikbare skuit klim, en hul opdrag gee om na die oorkant van die meer te vaar. Self het Hy nie ‘n skuit gehad nie, want Hy het nie veel meer besit as Sy een kledingstuk en ‘n paar sandale nie. Dit kon Petrus se skuit gewees het wat hy beskikbaar gestel het om in God se diens gebruik te word.

Ons moet belangstel in dit wat besig is om in God se werk te gebeur en kyk of ons nie ook ondersteuning kan gee deur van ons besittings beskikbaar te stel nie. As ons in sy werk saai, sal ons ‘n milde oes van vrede en genoegdoening maai en ook in die hiernamaals loon ontvang.

Ervare skippers en ‘n rustende Kaptein.

Hierdie was ‘n seilboot. Die dissipels het, sodra hulle ‘n entjie in die meer ingeroei het, waarskynlik die seil gehys en toe gemaklik teruggesit en gesels en die rit geniet. Klaarblyklik was Jesus moeg, want Hy was gedurigdeur omring deur mense, altyd besig om te genees en te onderrig. Hy het geweet dat wanneer hulle die anderkant van die meer sou bereik, Hy weer werk sou hê om te doen en het die hantering van die skuit, wat sy dissipels goed kon doen, aan hulle oorgelaat terwyl Hy homself op die agterkussing gemaklik gemaak en aan die slaap geraak het.

‘n Skielike krisis!

Maar dinge wat goed en maklik begin, gaan nie altyd so voort nie. ‘n Dag wat mooi en stil aanbreek, mag skielik ‘n onverwagte wending neem deurdat die motor waarin ons ry, langs die pad gaan staan of selfs omslaan, of ons besittings mag gesteel word, of ‘n kind kan ernstig siek word. Die dissipels in die skuit het dit ook ervaar – dieselfde wind wat veronderstel was om hulle veilig en gemaklik oor die meer heen te voer, het skielik in ‘n hewige storm ontaard wat gedreig het om hulle te vernietig.  Alhoewel hulle nie op die oop see was nie maar op die meer van Gennesaret, was hulle in groot gevaar want na bewering ontwikkel hewige storms,  werwelwinde soos tornados, met golwe van tot ses meter hoog vandag nog op daardie meer.

Ek het dít nie nodig nie!

Ons let daarop dat hierdie mense nie heidene was wat in growwe sonde gelewe het nie.  Dit was nie die oordeel van God wat oor hulle gekom het om hulle te straf nie. Hulle was Jesus se boesemvriende. Hulle het hulle werk en huise laat vaar toe Hy hulle geroep het. Nou waarom het hierdie onheil hulle dan getref? Moes hulle nou almal omkom?  Wat van hulle families by die huis? Dit is nou maar eenmaal so dat  slegte dinge dikwels met goeie mense gebeur. Dink maar aan Job in die Ou Testament. Hy het so naby aan God gelewe as wat ‘n mens maar kon, nogtans het hy ‘n groot deel van sy eiendom verloor, baie van sy betroubare diensknegte en al sy kinders aan die dood afgestaan en toe ook nog sy gesondheid ingeboet. Om naby aan Jesus te lewe, is geen waarborg dat dinge in ons lewens altyd glad sal verloop nie.

Dreigende dood!

Die storm het hulle eensklaps oorval. Die loeiende wind het die skuit soos ‘n prop rondgeslinger. Sommige van die dissipels, veral Petrus en sy vriende, was vissermanne van beroep, het presies geweet hoe om ‘n seilboot te hanteer en het sekerlik al baie storms op die einste meer getrotseer en oorleef. Hulle het natuurlik dadelik ingespring om die situasie te beredder,  die seil haastig gestryk, die neus van die boot teen die wind gedraai, die spane gegryp en geroei tot die are uitgebult het, maar hierdie storm was vir hulle eens te veel. Die dissipel Mattheus skryf in hoofstuk 8:24 dat die skuit “toe was onder die golwe.” Die skuitjie het teen die toringhoë walle water uitgesteier, op die kruin gehuiwer en dan in dolle vaart aan die anderkant afgegly. Kleiner golwe het op die rug van die grotes bo-oor die boeg en kante geslaan en die  watervlak binne vinnig laat styg. In ‘n ommesientjie was hulle tot by hul kuite in die water en het alles wat kon dryf, rondgedobber en geslinger. Terwyl sommige aanhou roei, het die ander manne seker al wat hol ding was, gegryp en verbete water geskep en  uitgegooi, geskep en uitgegooi want die skuit was besig om vol te word, maar dit was ‘n verlore stryd. Die skuit het al laer gesink. Hulle het besef dat hulle besig was om te sink en dat baie, indien nie almal  nie, sou verdrink.

Paniek!

Gegee wie hierdie manne was, dissipels van Jesus wat ‘n geruime tyd al dag vir dag gesien het hoedat Hy magtige bonatuurlik dade verrig, vind ‘n mens dit tog vreemd dat nie een van hulle sy eie fisiese poging onderbreek en tot God geroep het om hulle uit hierdie mag te verlos nie; ek meen al was dit dan net harde uitroepe van gebed te midde van hul pogings.  As dit wel gebeur het, sou dit bes moontlik in die Skrif opgeteken gewees het.

Ons tree natuurlik dikwels net so op. Wanneer ‘n storm ons tref, raak ons angsbevange en hardloop kringe in die stof, breek ons koppe om ‘n oplossing te vind, gebruik al ons finansies en wend al ons kragte aan om die probleem te oorkom, maar so dikwels is dit wat ons probeer, nie God se oplossing nie. Dit is in die vlees en gaan nie gepaard met geloof en gebed nie.  Slegs wanneer ons eie inisiatief totaal uitgeput is, wanneer ons hygend na ons asem snak, dink ons daaraan om te bid, maar selfs dan hou ons die een oog op God en die ander op die probleem. Ons het meer vertroue in onsself as in Hom.

“Here waar is U dan tog?”

Wat was Jesus besig om te doen?  Besig om te slaap! Terwyl die boot soos ‘n wilde perd bokspring en die water binne-in heen en weer was, slaap Hy rustig. Moontlik het hulle Hom vroeër met ‘n seil toegemaak sodat Hy nie sou natspat nie en daar lê Hy nog steeds rustig en sluimer. Na aanleiding van Mark 4:38 waar ‘n soortgelyke insident beskryf word (“Meester gee U nie om dat ons vergaan nie?”) dink ek Petrus en van die ander dissipels was behoorlik onthuts. Hier was hulle, rasend van angs en flou gespook om te probeer oorleef en daar lê Hy en slaap. In die krisis moment wanneer alle hande aan boord benodig was, het Hy geslaap! Hulle sou miskien niks oneerbiedigs gesê het nie, maar hulle liggaamstaal en gesigsuitdrukkings wanneer hulle vir ‘n oomblik oor die skouer na die slapende Man gekyk het, was, glo ek, gewis alles behalwe liefdevol en eerbiedig.

Ons kan die kop meewarig heen en weer swaai, maar ons voel baie keer net so teenoor God wanneer ons oorweldig word deur probleme en dit hou net aan en aan en word net erger en erger en dit lyk asof  die  almagtige God geen kennis neem van ons dilemmas nie. Ons spartel hier onder op die aardse oseaan en roei die boot en probeer om ons huwelik of besigheid vlot te hou, of om die magdom werk betyds baas te raak, maar Hy kom nie tot ons redding nie. Dan breek Sondag aan en gaan sit ons asvaal in die kerk, sing en glimlag vir almal, maar in ons harte is ons baie, baie kwaad vir God en blameer ons Hom omdat, so voel ons, Hy ons in die steek gelaat het.

Jesus verhoor gebed: “Roep My aan in die dag van benoudheid en Ek sal jou uithelp … ” (Ps 50:15).

Het die groepie toe verdrink en Hy alleen ongeskonde op die water weggestap? Nee, einde en ten laaste het hulle Hom wakker gemaak; miskien aan die skouer gevat en geskud.  Terwyl Hy die slaap uit Sy oë vryf en orent kom, het die noodkrete uit baie kele weerklink: “Meester, Meester, ons gaan verdrink!” In die Evangelie van Matthéüs staan dit geskrywe dat hulle geskree het: “Here, red ons, ons vergaan!”

Geloof in aksie.

Was Jesus paniekbevange? Het Hy geskrik? Nee, al het Hy so pas wakker geword, was Hy in volkome beheer. Die omstandighede het Hom nie oorweldig nie, Hy het geweet dat Sy Vader algeheel in kontrole van die situasie was, dat Dié Hom na die wêreld gestuur het om aan die kruis te sterf vir sondaars en dat Hy nie sou sterf deur te verdrink nie; ook nie Sy manne wat Hy besig was om vir hul onderskeie bedieninge op te lei nie.

Het Hy verskoning gevra vir die feit dat Hy geslaap het? Nee, want Hy het geweet dat Hy in die perfekte wil van Sy Vader opgetree het wat Hom gelei het om na die anderkant oor te vaar waar daar werk was wat gedoen moes word en Hy het geweet dat die tyd wat Hy geneem het om te slaap, rustyd was  wat Sy Vader vir Hom geskep het.  Hy het die tyd uitgekoop deurdat Hy, deur te slaap, verfris sou word vir die volgende taak wat op Hom gewag het. Jesus het nooit, ooit verskoning gevra vir enigiets wat Hy gesê of gedoen het nie, omdat Hy wis dat alles wat Hy gedoen het, welbehaaglik was vir Sy Vader. Sy lewe was volmaak.

Hoe het Hy die storm hanteer? Hy het opgestaan soos ‘n generaal wat beheer oorneem oor sy regiment soldate en moontlik die volgende gesê: “Wind, water, wees stil!”   Onmiddellik het die wind gaan lê en die golwe bedaar, die see rondom hulle het tot rus gekom, die geraas weggesterf en het vrede  geheers. Soos ‘n seemeeu het hul skuitjie op die sagte deinings gedobber.

Mooiweersgeloof kan nie weggesteek word nie.

Hy het om Hom gekyk na die druipnat figure van Sy dissipels wat Hom met wydgesperde oë aangestaar het, en gevra:  “Waar is julle geloof?”  Geloof dat die boot nie sou sink nie? Nee, wat Hy eintlik gevra het, was: “Waarom het julle My wakker gemaak?  Waarom het julle nie julle geloof beoefen en self die storm bestraf nie?  Julle het gesien toe Ek na Lasarus geroep en hom uit die graf laat uitkom het.  Waarom het dit nie ook by julle opgekom om dieselfde geloof te beoefen nie? Hoeveel wonderwerke wil julle nog sien voordat julle sal begin om julle geloof uit te leef; om dit in aksie te stel? Wanneer sal wonderwerke deel van julle lewenservaring word?”

Ons skaar ons hierin by Jesus en blameer die dissipels, maar miskien moet ons, ons eerder skaar by die dissipels en in verwondering uitroep: “Wie is Hy?  Hy beveel selfs die winde en die water en hulle gehoorsaam Hom.”  Ons sal nooit regtig een wees met Jesus, of verstaan hoe Hy gedink en geleef het, tensy ons begin om soos Hy te wandel in geloof in die almagtige God, die Skepper van hemel en aarde nie. Jesus wat in ons woon, wil nog steeds wondere doen; deur óns bemiddeling wondere doen maar as ons dit nie van harte glo en in die geloof uitstap nie, sal ons nooit persoonlik iets bonatuurliks belewe nie.

Laat ons ‘n slag stilstaan, glo,  en kyk hoe God werk.

Vanuit ‘n ander hoek gesien: Ons sien hier die kontras tussen die natuurlike optrede in die vlees en die bonatuurlike optrede in die Gees; die asemrowende verskil tussen wanneer die mens werk en wanneer God werk. Die een roei en skep water uit tot hy flou is en blameer God omdat Hy niks doen nie; die ander staan op en oefen die gesag uit wat God in hom geplaas het, en sien hoedat die wêreld om hom verander. Dit beteken geensins dat die mens nou maar net arms gevou in sy stoel moet bly sit en van God verwag om alles te doen nie; maar sou die lewe nie baie eenvoudiger, rustiger, meer ontspanne gewees het as ons meer dikwels ons geloof in plaas van ons natuurlike denke sou inspan op ons vaart na die hemelse strand nie?



……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → STORM . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha