Die Toring van Babel – GEN 11

Toring v Babel

A. INLEIDING.

Wanneer ‘n mens om jou kyk en sien hoe roekeloos die mensdom voortgaan om mekaar te beroof en vermoor en hoe uitdagend hy teenoor God staan, wonder jy waarom God dan maar toesien en nie ingryp nie. Mense wat werklik hieronder ly, kan selfs wonder of die volkere nie so magtig geword het dat God niks meer aan die saak kan doen nie. Hierdie kort verhaal oor die Toring van Babel, verseker ons dat die Here steeds al die troefkaarte in Sy hand hou en te eniger tyd, wanneer Hy dit goedvind kan ingryp en die mensdom in een enkele skuif  kan lamlê.

B.DIE MENSDOM BOU ‘N STAD EN TORING (Lees asb Gen 11:1-4).

Een taal, een volk en ‘n volksverhuising na Sinear.

In die vorige studie het ons gesien dat die mensdom aansienlik vermeerder het. Ten tyde van hierdie gebeure was hulle nog deur een taal verenig om een volk te vorm. Hulle het ook saam gewoon. Dit het natuurlik baie voordele ingehou vir bv. veiligheid teen wilde diere en onderlinge hulp tussen verskillende ambagte en professies.  “Eendrag maak mag.” Hulle onderlinge ondersteuning sou hulle egter ook minder afhanklik van God maak.

Tegnologiese vordering.

Die leemgrond van Sinear was ‘n groot fonds want dit het goed saamgebind om baie sterk stene te vorm. Mettertyd maak hulle bakstene uit die leemgrond en bak dit behoorlik en bou pragtige sterk huise om in te woon.

Ryk na die sterre.

Tegnologiese vordering bring nuwe moontlikhede, open nuwe horisonne, net soos wat ons ruimtereise nou vir sommige die weg open om op hulle op Mars te gaan vestig.

Toe kom die gedagte om die stene aan te wend om ‘n stad te bou met ‘n toring wat tot aan die hemel reik. Die rede hiervoor, so het hulle gesê, was om vir hulself ‘n naam te maak en ook om te verhoed dat hulle oor die hele aarde verstrooid raak.

Dit klink so al na politieke redes; ‘n paar leiers wat vir hulsélf naam wou maak, monumente wou oprig en enersdenkendes wat om hulle groepeer het.

“Eendrag maak mag.”

Daar was seker ook goeie redes hiervoor. ‘n Volksverhuising is nie maklik om te bewerk nie; om ‘n menigte mense te motiveer om alles op te pak en vêr weg te trek, is vir die meeste mense ‘n groot uitdaging, veral vir die goedgevestigdes. Toe die leiers dit nou uiteindelik reggekry het, moes hulle verseker dat sommige nie weer terugtrek na hul geboorteland toe nie en die dwarstrekkers en avontuursoekers nie verder trek en ‘n klomp mense met hulle saamsleep nie. Hulle moes bymekaar gehou word, want sodoende kon hul kundigheid saamgesnoer word tot voordeel van die hele gemeenskap.

Roofdiere was op daardie stadium ook ‘n bedreiging vir die mensdom en ‘n stad met mure rondomheen, sou almal, en veral die kinders, veilg hou.

Die gemeenskaplike visie van ‘n pragtige, veilige stad en ‘n indrukwekkende toring, was dus, menslikerwys gesproke, net die ding om almal se passie op te wek.

Die duiwel se aandeel.

Dit alles lyk so rasioneel maar onderliggend was daar alweer ‘n rebellie besig om teen God te broei. ‘n Mens kan nie anders as om ‘n bomenslike duiwelse plan en listigheid in hierdie gebeure te sien nie. Hy haat God en is gedurig besig om planne te beraam om die mens teen Hom in opstand te bring.

In die tyd voor die sondvloed, laat hy die mensdom die een teen die ander draai, mekaar aanrand en vermoor; elkeen wou die ganse wêreld vir homself hê. Toe hy daarin slaag, kon God nie anders as om bykans die hele mensdom wat Hy tot stand gebring het, uit te wis nie.

Moontlik het Noag en sy seuns ‘n sterk waarskuwing teen tweespalt en geweld aan hul nageslag deurgegee, dus verander die duiwel sy strategie en moedig die mensdom nou aan om in vrede met mekaar te leef en saam te staan; een groot gelukkige familie – voorspoed en vrede vir almal – die “American Dream”  of die “Global village” van vandag.

Dit klink baie goed en werk toe ook net so goed, want die entoesiasme vlam hoog op. Dit wemel behoorlik van werkers, soos ‘n miernes, en hulle maak stene, messel dit in en dag vir dag rys die toring hoër en hoër, die blou lug in.

‘n Fondament van bose motiewe.

Stenemaak en geboue oprig, is nie sonde nie maar dit hang af waarom jy dit doen; dit kan bv ‘n skandmuur wees wat skeiding bring. So ook was hul motiewe boos: hulle wou hulleself verryk en verhoog. Ons sien dit eerstens in die hoogte van die toring wat hulle wou bou. Dit sou geen praktiese waarde hê soos bv. om as ‘n silo te dien om hul graan in te stoor nie.

Die feit dat dit tot aan die hemel moes reik, lyk ook  verdag, so asof hulle na die troon van God wou opklim; hulself tot op Sy vlak, ja selfs bo Hom wou verhoog. Hulle was nie tevrede om die aarde te vul wat Hy vir hulle gegee het om op te bly nie, nee, hulle wou woon waar Hy woon. Hulle wou nie dat Hy meer op hulle neerkyk en oor hulle regeer nie.

Tweedens sien ons dat hulle hul naam wou verewig; hulle wou dat hul nageslag moes sien watter wonderlike mense hulle voorouers was. Dit is niks anders as hoogmoed nie; die sonde wat God meer haat as alle ander. Dit was selfs ‘n groter sonde as dié van geweld waarin die mense voor die sondvloed verval het.

Hulle besluit om saam te groepeer, was reëlreg in stryd met God se opdrag aan die mensdom dat hulle vrugbaar moes wees, vermeerder en die aarde moes vul (Gen 1:28; 9:7). Die duiwel gee nie om of die mens na links of na regs afwyk van God se opdrag nie, solank hy net sondig, is hy tevrede, want hy weet dat die Here hom dan sal moet oordeel en straf.

C. GOD VERYDEL HUL PLANNE DEUR HUL TAAL TE VERWAR (Lees asb Gen 11:5-9).

Die Here daal toe neer om die stad en toring te kom besigtig.

Die Here is alwetend en alomteenwoordig en dit is nie vir Hom nodig om soos ons van een plek na ‘n ander te gaan om te wete te kom wat daar aangaan nie, maar Hy skryf dit so, dat ons kan verstaan dat Hy ons optredes deeglik in oënskou neem, voordat Hy optree.

 ‘n Belangrike bevinding, gesien dat dit van Bo kom.

Sy bevinding was dat, aangesien hulle nou een volk was, met een taal, hulle in staat sou wees om enigiets wat hulle ookal sou beplan, ten uitvoer te bring.

Hierdie is baie belangrike woorde, te meer so omdat Gód dit gespreek het. Dit sê vir ons watter ontsaglike potensiaal God in die mens ingebou het en dat hy, deur samewerking met mekaar, tot enigiets in staat is. As ons vandag sien dat die mens selfs ruimtetuie kan bou en na ander planete kan reis, begryp ons hoe waar God se woorde was.

Wat die mens tot vandag toe bereik het, het hy bereik deurdat honderde duisende mense elkeen iets uitgevind het wat weer deur iemand anders gebruik kon word. Die een het bv. uitgevind hoe om ‘n motorband te maak, ‘n ander die masjien, ‘n derde brandstof en so kon hulle gesamentlik ‘n motor bou wat een alleen nie sou kon doen nie.

Die Here steek ‘n stokkie voor hul planne.

God het gesien dat hul onderlinge samewerking sou verhoed dat die mensdom volgens Sy voorneme eweredig oor die aarde sou versprei. Dit sou nie tot voordeel van die mensdom wees nie. Hulle insig in wat vir hulle die beste sou wees, was beperk, eng. Hulle het nie die groter prent gesien nie.

Daarom het die here besluit om hul plan te fnuik. Toe sê Hy: “Kom Ons daal neer en verwar hulle taal sodat hulle mekaar nie kan verstaan nie.”

Ongeag hoe slim die mens is, die Here sal hom altyd sonder moeite troef. Kyk net met watter gemak bedink Hy ‘n eenvoudige plan om die bose planne van die duiwel en die mens plat te slaan. Wie van ons sou so ‘n meesterlike plan kon uitdink om duisende mense uitmekaar te laat spat, deur hul taal te verwar?

Let ook op God se genade. Hy het niemand gestraf of doodgemaak soos gedurende die sondvloed nie. Hy het ‘n vreedsame manier gevind om hulle te verstrooi.

 God is die oorsprong van die tale wat gepraat word.

Sy vermoë om globale oplossings te vind en uit te voer, is onbeperk. Sy skeppende vermoë tree weer na vore soos ten tyde van die skepping van hemel en aarde. Dit lyk soos ‘n sewende skeppingsdag. Deur Sy verbeeldingrykheid skep Hy in ‘n oogwenk ‘n menigte tale uit niks; elk met sy eie grammatika en uitspraak.

Om ‘n nuwe taal met sy eie struktuur en woordeskat van nuuts af aan saam te stel, is ‘n haas onbegonne, bomenslike taak. Dink net hoe lank neem dit ‘n kind om ‘n taal aan te leer en dit behoorlik te kan praat.

Hy plaas hierdie tale na willekeur in die gedagtes van wie Hy wil.  Elkeen verloor sy eie taal en skielik ken hulle tale waarvan hulle nog nooit vantevore gehoor het, of gepraat het nie, kan hulle dit praat en word verskillende volkere in ‘n oogwenk gebore. Elke mens kan sy nuwe taal vloeiend praat – al die vreemde klanke korrek uitspreek en herken.

Die bouwerk knars tot stilstand.

Maar onder die bouers het dit chaos tot gevolg gehad. Skielik kon hulle mekaar nie verstaan nie. Die messelaar vra vir nog stene, maar sy helper bring vir hom water. Eers vloei daar toe seker ‘n stroom warm woorde na alle kante toe, maar dan stop die werk en stroom die bouers soos miere van die toring af.

Skuldig, bevrees, vlug hulle van hul sondige handewerk af weg.

En dit was die einde van die bouwerk. Die toring wat vir hulle roem moes bring, was nou tot hul skande. Daar staan dit, verlate! Geleidelik verbrokkel die struktuur en word dit toegegroei deur onkruid. Hulle nageslagte sou daar verby loop, die koppe meewarig skud en sê: “Siestog ons ouers het die toring begin bou, maar kon dit toe nie voltooi nie.”

Omdat die Here hul taal daar verwar het, het hulle die stad Babel genoem.

Vandag lag ons soveel te meer daaroor want as ons met al ons magtige vuurpyle nie na die hemel toe kan reis nie, hoe sou hulle toringkie tog ooit tot daar kon reik?

Oppak en trek

So, wat het met die toringbouers gebeur? Die van hulle wat dieselfde taal gepraat het, het waarskynlik by me-kaar  uitgekom en saam gegroepeer. Hulle het besef dat dit nie vir hul vooruitgang bevorderlik sou wees om saam te leef met mense wat ‘n vreemde taal praat nie. Daarom het elke taalgroep in sy eie rigting van die toring af weggetrek. Soos God dit wou hê, het hulle toe begin om oor die aarde te versprei. Het God dalk hieroor goedig geglimlag?

Die Here wen die skermutseling.

Weereens het God bewys dat Hy ‘n God van wysheid is en sien ons dat, om Hom te gehoorsaam, die verstandige ding is om te doen en aan die einde van die dag, die beste vir ons is.

Die verwarring van tale was so duidelik ‘n wonderwerk wat deur God bewerk is, dat dit ‘n heilige vrees oor die mense sou bring wat stukrag sou verleen aan God se plan dat hulle oor die ganse wêreld moes versprei, soos wat Hy van die skepping af al verorden het.

D. VERSPREIDING VAN DIE MENSDOM EN HUL VERHOUDING MET GOD ( Lees asb Gen 10 & 11).

Die stamboom van Noag deur sy drie seuns, Sem, Gam en Jafet. (Gen 10)

Uit hierdie stamboom, tesame met die verhaal van die verwarring van tale, begryp ons waar al die nasies en tale van die wêreld vandaan kom. Hulle het nie maar elkeen na willekeur hul eie oorsprong gehad soos volksmitologië dit wil hê nie, nee, God het dit so bewerk.

Hoeveel en watter tale daar by daardie geleentheid ontstaan het, weet ons nie; ook nie of enige van daardie tale vandag nog net so gepraat word nie.

Dit wil eerder voorkom of die verdeling van die mensdom in taalgroepe wat by Babel begin het, deur die eeue voortgegaan het sodat daar ‘n aanhoudende proses van taal- en nasie-vorming plaasgevind het; soos wat Afrikaans uit Hooghollands ontwikkel het.

Tale het natuurlik ook nie staties gebly nie, maar voortdurend ontwikkel; dit is byvoorbeeld vandag vir ons moeilik om die Engels wat ‘n paar honderd jaar gelede gepraat was, te verstaan. Die feit dat spraak vandag op skrif gestel kan word, het weer ‘n stabiliserende uitwerking op die tale van die wêreld.

God het alle volke ewe lief.

Dit is ook interessant om daarop te let dat die Here nie onderskeid tussen die nasies gemaak het deur die een oor die ander aan te stel nie. Die volk Israel was ‘n uitsondering, maar dit het honderde jare later eers gebeur toe die Here hulle as Sy spesiale volk opgerig het, ook nie om oor die ander te heers nie, maar om deur hulle al die volke te seën.

Nasies verskil van mekaar.

Met verloop van tyd het nog tale ontwikkel en die kenmerke van die verskillende groepe skerper na vore getree, sodat hulle geidentifiseer kon word, nie net op grond van hul taal nie, maar ook op grond van hul fisiese voorkoms en kultuur.

Die konsep van verskillende nasies is gevolglik van God en nie van die mens nie. Daar is gevolglik niks mee verkeerd om ‘n mens se eie nasie lief te hê en ‘n gesonde waardering te hê vir wat hy bereik het nie, maar daar moet gewaak word teen trots asof die mooi dinge wat bereik is, uit onsself was en nie uit God nie.

(Is dit dalk moontlik dat, in ‘n onvolmaakte wêreld, die Here eerder wil hê dat elke nasie op sy eie ontwikkel as om tot een mega nasie met een taal saam te smelt ? Kan die mens soveel mag hanteer en dit tot voordeel van selfs die geringstes in sy samelewing aanwend? Sal hy nie maar, net soos die mense van Babel, so trots word dat hy hom bo God probeer verhef nie – ons sien dit reeds gebeur.

Soek ons nie dalk mag, voorspoed, vrede en eenheid in oppervlakkige dinge soos kleur en kultuur nie, instede dat ons eenheid van harte soek in verhouding met God en met mekaar nie? Net maar ‘n vraag.)

Die duiwel se betrokkenheid by nasies in die opwekking van oorloë.

Die duiwel is natuurlik gedurig besig om nuwe maniere te bedink om die mensdom te vernietig en het deur al die eeue, die een nasie teen die ander aangehits deur wrywing, haat en vrees te skep. Nasies begeer om oor mekaar te heers om hul aansien en rykdom te bevorder, wat onbeskryflike wreedheid en bloedige oorloë tot gevolg het, waardeur miljoene mense uitgewis is.

‘n Sekere historikus het gesê dat die geskiedenis van die mensdom, die geskiedenis van oorloë is. Die duiwel is ‘n mensemoordenaar en laat ‘n spoor van bloed en chaos agter. Sommige lande het skaars herstel van een stamoorlog, voor die volgende uitbreek. Wat ‘n wonderlike wêreld sou hierdie nie gewees het as elke nasie die welsyn van elke ander nasie bevorder het nie.

Die duiwel se betrokkenheid by nasies deur die ontwikkeling van aparte godsdienste vir elk.

Die duiwel beveg God ook op ‘n meer geestelike vlak, deur te probeer om die mensdom van Hom te vervreem deur hulle aan te por om elk hule eie gode op te rig of om die geeste van hul afgestorwe voorvaders te aanbid, in plaas van die enige God wat ons almal gemaak het. Sodoende het hy nie net individue nie, maar selfs nasies van God vervreem.

Die oorloë wat geveg word omdat nasies voel dat hulle hul eie gode of godsdienste moet verdedig (heilige oorloë) is almal tevergeefs, want daar is inderwaarheid net twee koninkryke naamlik, die Koninkryk van Lig waartoe alle wedergebore kinders van God behoort en die koninkryk van die duisternis waaraan die res van die mensdom behoort.

God se betrokkenheid by die wêreld deur die oprigting van ‘n volk vir Homself.

Die Woord van God leer dat Hy Sy Seun gegee het as die enigste Verlosser deur Wie ons tot die Vader moet bid en die goeie nuus is dat uit elke taal, volk en nasie, menigtes versoen raak met God, deur Jesus as Verlosser aan te neem. Hierdie mense se harte word gaandeweg verander om soos Hy te dink en te doen.

By die toring van Babel het mense uitmekaar gespat maar by die Kruis word hulle weer verenig.

Die Here sal ook eendag hierdie huidige wêreld tot sy einde bring. Hy sal dan dié wat Hom liefgehad en aanbid het, opwek uit die graf waarna hulle vir ewig in vrede sal lewe op die nuwe aarde.

Ons burgerskap van hierdie “hemelse” godvresende nasie, moet in alles vir ons belangriker wees as ons deelgenootskap aan een of ander aardse nasie. Aardse nasies is tydelik en verbygaande, maar God se geestelike volk bly tot in ewigheid. Is jy deel daarvan?

Op die nuwe aarde wat Hy sal skep, sal Sy mense almal weer een en dieselfde taal praat en almal mekaar liefhê.

 Die stamboom van Noag se seun Sem deur  tot op Abraham (11:10-32).

In hierdie geslagsregister merk ons op dat die mens nie meer so oud geword het as voor die sondvloed nie. (Sem 500; Arpágsad 438; Selag 433; Heber 464; Peleg 239; Rehu 239; Serug 230; Nahor 148; Tera 205; gemiddeld 321.78).

Maar hierdie is ook ‘n baie belangrike linie sovêr dit die vestiging van God se nuwe koninkryk betref, want uit hierdie linie het Hy later ‘n man uitgekies deur wie Hy vir Hom ‘n volk, die volk van Israel, gebou het en uit die nageslag van daardie volk het Hy Sy Seun, Jesus, as Verlosser vir die mensdom gegee het.

E. AANVULLEND

Die mens se potensiaal.

Daar is krag in eenheid. Toe die Here die Toring sien, het Hy gesê, “Nou sal niks meer vir hulle onmoontlik wees nie”.  Hy het vêr in die toekoms gekyk. Vandag sien ons hoedat Sy Woord bewaarheid word deur die gemeenskaplike poel van kennis wat deur die internet tot elkeen se beskikking is en deur die tegnologiese ontwikkeling op elke gebied. Die Christen-dom benut dit ook en geweldige vooruitgang is gemaak om die Evangelie vir elkeen, in sy eie taal en in sy eie huis bekikbaar te stel.

Ons motief om saam te werk, moet altyd die verheffing van God ten doel hê bv. wanneer ‘n groep Christene ‘n gemeente vorm. Dié soort eenheid behaag God.

 Bou jy ‘n toring of ‘n altaar?

Die mens is dwarsoor die ganse wêreld nog steeds besig om vir homself torings van rykdom, roem, gewildheid, ens. te bou, maar God wil hê dat ons eerder soos Noag (Gen 8:20) ‘n altaar bou waarop ons, ons lewens in dankbaarheid aan Hom kan offer.

Godsopenbaring het nie ontbreek nie.

Die Here stuur die taalgroepe van Babel af weg, elk met ‘n vars, nuwe openbaring van Sy grootheid. Boonop was daar op daardie tydstip, deur oorlewering, voldoende Godskennis, Godsopenbaring, in omloop sodat elkeen wat ‘n begeerte na Hom gehad het, Hom kon soek en vind.

Die volkere begin dus hul “uittog” met ten minste ‘n mate van Godskennis waarop hulle kon voortbou deur hulself aan Hom toe te wy.“En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; ” (Hand 17:26,27)

Die mens het hierdie Godsopenbaring egter nie as ‘n kosbare skat bewaar en benut nie, sodat die nasies deur die eeue in elke denkbare vorm van afgodery verval het.

Een Skepper, een God.

Een van die sterkste argumente dat alle mense uit dieselde poel onstaan het, is dat alle volkere se bloed dieselde is en dat bloedoortappings vandag vryelik tussen mense van totaal verskillende rasse gegee word. Daar is ‘n “broederskap” in die bloed. Die Sjinees verander nie deur ‘n bloedoortapping in ‘n Europeër of die Amerikaner in ‘n boorling van Afrika nie.

Die Toring was meer as net nog ‘n gebou.

Die toring wat hulle gebou het, was waarskynlik ‘n soort tempel wat ‘n Ziggurat genoem word. Dit was ‘n konstruksie vir die aanbidding van afgode soos die son, maan en sterre. Hulle was gewoonlik in die vorm van ‘n piramiede gebou en min of meer net so hoog as wat dit wyd was by die basis. Dit kon tot 90 meter hoog wees met trappe of ‘n skuins oploop al om die buitekant.

Babel.

Babel was waarskynlik die plek waar die stad Babilon later gebou is. Die Woord beskryf dit as die groot geestelike hoer wat die mensdom verlei en teen God laat draai het. (Openb 14:8; 17:5) Beide Babel en Babilon beteken verwarring omdat die Here die taal van die mensdom verwar het.

Die Chinese volk.

Sommige navorsers beweer dat een taalgroep na die ooste oor die berge getrek en hulle aan die kus gevestig het. Hulle het ontwikkel om die Chinese volk te word. Tot op daardie stadium het hulle ‘n tipe van prente skrif gebruik en verhale wat daarmee opgeteken is, klop met die Bybelse skeppingsverhaal en wat daarop volg.


Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,

Openb. 5:9


———-

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → TORING VAN BABEL . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha