A. INLEIDING
(Sommige Skrifgedeeltes wat op hierdie tydperk van toepassing is, is die volgende: Dan 2; 7; 9:24-27; Ese 38-39; 1The 4-5; 2The 2; Matt 24:3-31; Boek Openbaring).
Die vorige drie studiegidse het oor die Bruid se vertrek gehandel en wat daarna met haar in die hemel sal gebeur.
Maar wat sal gedurende daardie tydperk op aarde gebeur en hoe belangrik is dit vir ons om dit te weet?
Die tydperk onder bespreking is hoofsaaklik van belang vir die onverloste menigtes wat met die Wegraping agterbly. Aangesien die doel van hierdie reeks studiegidse is om basiese lering vir die voorbereiding van die Bruid vir die Wegraping te voorsien, sal ons nie in detail ingaan op gebeure rakende die tydperk volgende op die Wegraping nie. Vir daardie periode gee ons slegs ‘n raamwerk van gebeure soos gesien deur sommige vooraanstaande Christelike teoloë.
Diegene wat deur die Heilige Gees gelei word om dieper te delf, kan dit gerus doen. Bekom studiemateriaal wat deur erkende Bybelstudente geskryf is en bestudeer dit na aanleiding van die Skrif. Dit is ‘n intense, maar fassinerende, verrykende studie.
B. DIE SEWE JAAR VAN VERDRUKKING
(Gesimboliseer deur ‘n week van 7 dae waar elke dag een jaar verteenwoordig, Dan 9:27).
- Aanvang
- Begin onmiddellik, of kort na die Wegraping.
- Is verdeel in twee tydperke van 3 1/2 jaar elk. Die draaipunt sal wees wanneer die anti-Chris sy verbond in die middel van die week verbreek (Dan 9:27).
- Die tweede gedeelte staan bekend as die “Groot verdrukking” (Openb 7:14).
- Dit sal die donkerste tyd wees wat hierdie wêreld nog ooit geken het.
.
- Nasie groeperings tydens die verdrukking
Die profeet Daniël skilder die duidelikste prentjie van die opeenvolgende nasies wat die aarde sal regeer, vanaf sy tyd tot en met die verdrukking. Die laaste twee reëls word bygevoeg om te wys hoe dat die regering van die anti-Chris en van Christus daarop volg.
KONINKRYK | DANIëL 2 BEELD | DANIëL 7 DIER |
Babilon | Hoof van goud | Leeu |
Medo-Persië | Bors en arms van silwer | Beer |
Griekeland | Buik en lendene van koper | Luiperd |
Rome I (Historiese Rome) | Bene van yster | Skrikwekkende dier |
Rome II (Toekomstige finale Romeinse ryk) | Voete en 10 tone van yster en klei | Tien horings |
anti-Chris | Klein horingkie | |
Christus se Koninkryk | Die rots wat losgeraak en die beeld fyngestamp het | Seun van die Mens ontvang die Koninkryk |
(Gebaseer op Mark Hitchcock se boek, “Die Einde”, gepubliseer deur Tyndale House.)
Rome II: die 10 tone van Daniël se profesie het tot nog toe nie bestaan nie en dui waarskynlik op ‘n groep van tien nasies wat ‘n herrese Romeinse ryk sal wees. Dit word gesimboliseer deur die tien tone van Dan 2 en die tien horings van Dan 7. So, laat ons dan kyk na groeperings van nasies wat tydens die verdrukking sal bestaan.
- Eerstens, ‘n sentrale tien nasie Europese konfederasie gelei deur die anti-Chris wat sal oorheers.
- Tweedens, ‘n noordelike konfederasie gelei deur Rusland en insluitende ‘n paar Noord-afrikaanse lande (Ese 38-39). Die volgende nasies kan deel daarvan wees (Mark Hitchcock, supra, PG 299):
ANTIEKE NAAM | HUIDIGE NASIE |
Rosh (Rashu, Rasapu, Ros en Rus) | Rusland |
Magog (Skithe (Scithians)) | Sentraal Asië & moontlik Afghanistan |
Meshech (Muschki en Kusku) | Turkye |
Tubal (Tubalu) | Turkye |
Persië | Iran |
Ethiopië (Kus) | Sudan |
Libië (Put of Phut) | Libië |
Gomer (Summerië) | Turkye |
Beth-togarma (Til-garamu of Tegarma) | Turkye |
- Derdens, ‘n Oosterse groep wat, soos die naam aandui, sal bestaan uit verskeie Oosterse lande.
- Die anti-Chris
- Sy Naam en Posisie
- Hy word 4 maal die anti-Chris genoem (1 en 2Johannes).
- Sy naam dui aan dat sy hoofeienskap sy opponering van Christus sal wees.
- Sy strategie sal die opstel van homself as Christus insluit, dit is, dat hy sal voorgee om Christus te wees (2The 2:4).
- Hy is ook bekend as “die man van sonde” (2Thes 2:3) en “die wettelose een” (2Thes 2:8).
.
- Sy Oorsprong en Krag
- Hy sal uit die see opkom, dit is uit die nasies, en word in Dan 7:8 deur die klein horingkie gesimboliseer.
- Vanuit watter geledere van die mensdom sal hy kom? Hieroor word baie gespekuleer. My persoonlike gevoel is dat hy vanuit die geledere van Islam sal wees. Waarom? Dit was waar die geslagslyn van Abraham aanvanklik verdeel het in ‘n goddelike en goddelose linie wat tot vandag toe nog bestaan.
Toe God in die proses was om ‘n nasie vir Homself deur Abraham op te rig, is Ismael uit die vlees gebore. God het Abraham later beveel om hom weg te stuur sodat hy nie Isak, die seun gebore uit geloof, se erfporsie sou inpalm nie.
Maar, Ismael het tot nou toe nie “gesterf” nie. Hy lewe voort deur sy nageslag en hulle is nie ‘n nasie nie, maar ‘n ideologie, ‘n godsdiens en infiltreer elke land van die wêreld. Hulle is vasberade om die wêreld te oorheers, in besit te kry. Ja, Ismael het nie moed opgegee nie. Hy was die eersgeborene en is nou nog oortuig dat hierdie wêreld en sy mense tereg aan hom behoort.
Hy sal deur Satan bemagtig word, sy vergestalting wees, sy verpersoonliking, net soos Christus as God in die vlees gekom het.
- Sy Opkoms
- Hy sal net voor die Wegraping reeds leef, maar nog onbekend wees.
- Hy sal teruggehou word deur die Heilige Gees wat in en deur die Kerk van Christus sal werk (2The 2:6).
- Hy sal kort na die Wegraping na vore tree.
- Omstandighede na die Wegraping van God se kinders, sal hom bevoordeel (sien later).
- Hy sal ‘n dinamiese, indrukwekkende, sjarmante, intelligente, persoon wees (2Kor 11:14).
- Hy sal een van die drie prominente nasies lei, later al tien (Dan 7:8).
- Hy sal oënskynlik dodelik gewond word (Openb 13:3).
- Hy sal herstel van sy swaard wond.
- Sy verstommende herstel sal hom eskaleer na die posisie van algehele wêreldleier (Dan 7:8).
- Niemand sal dan waag om oorlog teen hom te voer nie (Openb 13:4).
- Sy Regering
- Aanvanklik sal hy hom voordoen as ‘n man van vrede.
- Hy sal ‘n vredesverdrag sluit tussen die groep van tien nasies en baie ander, insluitend Israel. Dit sal die voortslepende konflik tussen Israel en sy bure (Dan 9:27) beeindig en die spanning in die Midde-Ooste ontlont.
- Israel sal dan toegelaat word om offers te bring, waarskynlik in ‘n herboude tempel.
- Na 3 1/2 jaar sal hy ontmasker word en sal hy sy ware kleure wys.
- Hierdie tweede tydperk van 3 1/2 jaar, staan bekend as die “Groot Verdrukking”.
- Hy sal dan sy verbond met Israel verbreek en hulle in ‘n onparate, kwesbare posisie laat vir aanvalle deur ander nasies (Dan 9:27).
- Hy sal Israel se tempel ontheilig deur in die Allerheiligste in te gaan, ‘n einde te bring aan die voortdurende offerandes aan God (Dan 9:27) en, bygestaan deur die valse profeet, ‘n beeld oprig wat almal sal moet aanbid (Dan 12:11 en Openb 13:15).
- Hy sal van dan af aan regeer met sataniese brutaliteit.
- Sy wraak sal hoofsaaklik gerig word teen die volk van God, teen diegene wat Jesus na die Wegraping as Saligmaker aangeneem het. Hy sal gesag ontvang om oorlog te voer teen hierdie heiliges vir 42 maande lank en om hulle te oorwin (Openb 13:5).
- Hy sal arrogant die Naam van God laster (Openb 13:5).
- Hy sal ook outoriteit uitoefen oor elke stam, volk, taal en nasie. (Openb 13:7).
- Sy polisie en weermag sal die wêreld met ‘n ystervuis regeer.
.
- Die Valse Profeet
- Hy sal kom uit die land, of grond wat God van die see geskei het en daargestel het as habitat vir mens en dier. Dit kan dui op sy aardsheid (Openb 13:11).
- ‘n Profeet praat namens God, maar hierdie onheilige profeet sal ‘n spreekbuis wees vir die draak, die duiwel en vir sy aardse heerser, die anti-Chris.
- Die anti-Chris sal die arm en hand wees wat die nasies regeer en die valse profeet die mond wat hom ondersteun en voor die mensdom verhoog. Hulle sal in eenheid optree soos Moses en Aaron gedoen het.
- Vanuit watter geledere sal die valse profeet kom? Daar was baie valse profete, beide gedurende die Ou-en Nuwe Testamentiese tye. Hulle het gekom vanuit die geledere van diegene wat veronderstel was om woordvoerders vir God te gewees het. Hulle moes geestelike leiers vir God se volk wees, maar het Hom verlaat vir roem en rykdom, soos Bíleam.
- Ons kan dus aanneem dat hy ‘n top leier sal wees van ‘n afvallige kerk met groot wêreldwye invloed en in staat om volgelinge van die mees wêreldse godsdienste saam te trek en hulle te verenig in ‘n satanies geïnspireerde denominasie wat hand aan hand met die anti-Chris en sy een-wêreld regering sal saamwerk. Ek kan aan net een huidige denominasie dink wat aan daardie vereistes voldoen, maar sal die naam liewer verswyg.
- Hy sal groot tekens doen en selfs vuur uit die hemel ten aanskoue van die menigtes laat neerdaal soos wat Elía gedoen het (Openb 13:13).
- Hy sal toesien dat een en almal ‘n kenteken op hul regterhand of op hulle voorhoof ontvang om die anti-Chris as god in die openbaar te erken.
- Niemand sal in staat wees om te koop of te verkoop nie, tensy hy daardie merk dra nie, wat die naam van die dier of die getal van sy naam is (Openb 13:16, 17).
Hierdie getal is 666. Ses is die getal van die mens wat op die sesde dag geskep is. Drie is die nommer vir die Drie-Eenheid. So, die drie sesse is die teken van die selfverhogende godman wat homself die reg aanmatig om God se plek wederregtelik in te neem. Die tweede en derde sesse kan ook verwys na die ander twee persone van die onheilige drieheid, naamlik satan en die valse profeet (Openb 13:18).
- Evangelisasie tydens die verdrukking
- Vanaf die skeppingsdag van ons heelal, het God daaraan gewerk om ‘n volk vir Homself op te rig, ‘n bruid vir sy Seun, en Hy het daardie plan nog nooit laat vaar of selfs vir ‘n tydperk onderbreek nie. Tydens die verdrukking sal Hy voortgaan om dit te doen. Moeilike tye was dikwels vrugbare geleenthede vir Evangelisasie.
- Hoewel die Bruid van Christus se stem nie meer gehoor sal word nie, sal die Heilige Gees steeds aan die werk wees in die harte van die oorblywendes. Hy sal teenoor hulle getuig, by hulle pleit, hulle herinner aan die woorde en getuienisde van geliefdes en vriende.
- Daar sal ook massas boeke en elektroniese rekords met geestelike lering agterbly. Bo alles, sal die mens se beste raadgewer, die Bybel, ook beskikbaar wees, selfs Bybels waarin tekste onderstreep en notas gemaak is deur gades, ouers, grootouers en vriende. Natuurlik sal die anti-Christ later alles moontlik doen om dit te vernietig, maar sommige sal behoue bly en gelees word.
- Die Wegraping self sal ‘n enorme impak hê op diegene wat die Evangelie gehoor, maar geweier of uitgestel om Jesus as Saligmaker te aanvaar.
- Daar sal ook twee magtige profete van God wees wat namens Hom sal spreek. Alhoewel hulle boodskap nie die Evangelie van verlossing sal wees nie, maar eerder die uitspreek van oordeel oor die Godhaters, sal hulle nietemin ‘n onweerlegbare teken wees dat God lewend en in volle beheer is, selfs gedurende satan se laaste woedende aanvalle.
- Wie sal hulle wees? Soos Johannes die Doper se bediening, sal hulle bedienings ooreenkomste toon met dié van sommige OT profete. Hier kan ons dink aan dié van Moses en Elia, aangesien hulle profete was wat nou verbind was met die verlossing van God se volk van sataniese verdrukking deur middel van bonatuurlike tekens en wonders. Hulle was ook op die berg met Jesus in gesprek oor Sy kruisiging en hemelvaart. So, hierdie twee getuies se bedienings sal miskien dieselfde kenmerke hê, maar hulle sal nie die opgestane profete van ouds wees nie (Openb 11:1-12).
- Die gevolg van dit alles sal ‘n massiewe toekeer tot Jesus wees.
- Groot getalle nuut wedergebore kinders van God sal weier om die merk van die dier te aanvaar en sal vervolg en gemartel word en as martelare sterf. Dan sal hulle deur die engele weggevoer word na die troon van God. Daar sal hulle aansluit by die hemelse leërskare om hulle Saligmaker te prys. Halleluja!
Een van die oudstes het geantwoord en vir my gesê, “hulle wat bekleed is met wit klere, wie is hulle en waarvandaan het hulle gekom?” Ek het vir hom gesê, “my Here, u weet.” Hy het vir my gesê, “Dit is diegene wat uit die groot verdrukking gekom het. Hulle het hulle klere gewas en hulle wit gemaak in die bloed van die lam. Openb 7:13, 14.
- Die Gog en Magog Voer Oorlog Teen Israel
- Rusland en sy konfederasie, vroeër genoem, sal verenig teen Israel.
- Dit sal plaasvind teen die einde van die eerste helfte van die verdrukking, hoewel sommige teoloë dit aan die einde van die verdrukking plaas. Daar is selfs ook diegene wat hierdie oorlog as voor die verdrukking sien plaasvind.
- Die rede vir die aanval is ook nie duidelik nie. Dit is seker nie toevallig nie dat dit, tydsgewys, saamval met die anti-Chris se verbreking van die tien nasie konfederasie se verbond met Israel. Dit kan dus ‘n hewige, wêreldwye, anti-Semitiese opvlamming onder leiding van Rusland wees. Ten diepste sien ons maar weer hierin die volkere se haat van God en Sy volk.
- Israel sal geen kans hê teen hierdie magtige leërs nie, maar God se woede sal opgewek word en Hy sal ingryp en die volkere se leërs vernietig (Ese 38:1 tot 39:24). Dit sal Hy doen deur die aanwending van ‘n aardbewing, hael, siektes en binnegevegte tussen die deelnemende nasies. Die hoeveelheid agtergelate wapens op die slagveld sal soveel wees dat Israel sewe jaar lank daarmee “vuur” sal maak. Dit kan beteken dat hulle finansieël grootliks sal baat by die oorlog waarin hulle nie nodig sou hê om self te veg nie.
- Deur hierdie oorlog, sal God aan Israel, maar ook aan al die ander nasies bewys dat Hy nog in beheer van wêreldgebeure is. Hy sal ook vir Israel wys dat hul straftydperk vir hulle verwerping van Hom ten einde geloop het. (Lees gerus die gemelde twee hoofstukke.)
7. Die Laaste 3 1/2 Jaar
‘n Mens sou dink dat na so ‘n verpletterende neerlaag waarin die hand van God duidelik gesien kon word, die duiwel sou besef dat hy geen kans staan teen die Almagtige nie en die stryd gewonne sou gee. Dit sal egter nie gebeur nie. Die laaste 3 1/2 jaar sal juis gekenmerk word deur sy mees verbete poging om die finale oorwinning te behaal. Daarom ook, soos tevore gemeld, sal hierdie laaste periode bekend staan as die Groot Verdrukking (Open 7:14) waartydens hulle wat weier om die merk van die bees te aanvaar, onbeskryflik sal ly.
Maar dan, einde en ten laaste, sal die einde van die duiwel se tydperk van heerskappy aanbreek en sal dit tyd wees vir die volgende gebeurtenis op die Heer se tydskaal, naamlik die Here Jesus se 1000 jarige vrederyk op aarde.
Die sewe jaar van verdrukking kan gevolglik gesien word as die mens en natuur se geboortepyne wat die weergeboorte van die Tuin van Eden voorafgaan.
//////////
……….