Die verlore seun; Luk 15: 11 – 32

HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK WORD

Hierdie is die laaste in ‘n reeks van drie gelykenisse. Al drie gaan oor iets of iemand wat weggeraak of verlore geraak het en weer gevind is. Die vorige twee het gegaan oor ‘n skaap en ‘n penning wat soekgeraak het. Jesus wou sekermaak dat almal, en veral die geharde sondaars, moet verstaan hoe lief Hy hulle gehad en hoe Hy begeer het dat hulle almal ook gered moes word.

Lees asb Luk. 15:11-24

Die verlore skaap.

‘n Belangrike verskil tussen hierdie gelykenis en die twee voriges, lê in die skuld van die verlorene.  Die skaap het waarskynlik weggeraak omdat hy iets groens te ete gesien en toe onnadenkend van die kudde af weggedwaal het. Hy was maar net ‘n skaap en sy skuld was miskien nie te groot nie.

Die verlore penning.

Waarom die muntstuk verlore geraak het, weet ons nie. Dalk het die kinders die snoer met munte in die hande gekry, daaroor gestoei vir besit, die koord gebreek en een penning het weggerol, in ‘n donker hoek beland en so verlore geraak. Dit kan miskien vergelyk word met ‘n dogter wat aanhoudend geslaan, misbruik of uitgetrap was en toe weggeloop en in prostitusie verval het om aan die lewe te bly. Ook vir haar sou mens tot ‘n mate ‘n verskoning kon vind.

Die verlore seun.

Maar in hierdie verhaal van die verlore seun, het ons te doen met ‘n kind wat in ‘n welaf en geordende huis grootgeword het, met ‘n vader wat hom werklik liefgehad het. Hier het die skuld by die seun gelê. Hy was arrogant. Hy het sy pa nie liefgehad nie en sy pa se liefde het nie vir hom getel nie. Die ordelike leefwyse in hul huis, het hy gehaat. Die probleem was dus in sy eie hart.

Die pa.

Die pa se kant was skoon. Sy gedagte was om sy boerdery self met behulp van sy twee seuns te bedryf sodat hulle kon leer om te boer en dan, kort voor, of by sy afsterwe eers, sou hulle dit alles erf.  Een van die seuns, nogal die jongste het egter ander planne gehad. Alhoewel hy slegs ‘n verwagting op ‘n toekomstige erfdeel gehad het, het hy dit voortydig opgeëis asof hy reeds ‘n wetlike reg daarop gehad het. Sy aandeel wat hy eendag sou ontvang sou waarskynlik 1/3 van sy pa se boedel wees (Deut 21:17).

Die seun kry wat hy vra.

Dit is verbasend dat die vader sy versoek, sy eis, toegestaan het. Hy het seker maar gesien hoe die wind waai en wou sy seun, vir wie hy lief was, nie deur wêreldse goed aan hom bind nie. So ‘n pa/seun verhouding sou niks beteken nie. Die pa het hom egter nie die pad gewys om sy eie potjie elders te gaan krap nie, maar sy versoek toegestaan en alles waarop hy aanspraak gemaak het, in sy hand gegee sodat hy ongebonde sy eie koers kon inslaan.

‘n Haastige reis en drome wat waar word.

Die seun het sy erfporsie in geld omgesit, toe so vêr as moontlik weggegaan en hom daar in ‘n jolige dorp gaan gevestig met sy sakke en tasse vol geld. Dadelik het allerhande soorte vriende, net so wild soos hyself, om hom versamel, asook meisies wat die mooi geskenke geniet het wat hy vir hulle gekoop het. Maar as ‘n mens nooit geleer het hoe om met geld te werk nie, dreineer dit vinnig van jou af weg.

Die droom eindig in ‘n nagmerrie.

Eendag toe hy weer sy hand in sy sak steek, was dit leeg. Hy het sy vriende op wie hy soveel spandeer het, vir ‘n bordjie kos gevra maar hulle het hom uitgelag en die rug op hom gedraai. Hy soek toe maar werk, maar ‘n droogte het die land in sy greep gehad en werk was skaars want almal moes besuinig om deur te skraap. Einde ten laaste het ‘n boer hom in diens geneem om sy varke op te pas want niemand  anders wou dit doen nie. Almal was skaam om in so ‘n vernederende posisie gesien te word. Hy het boonop basies vir die dak oor sy kop gewerk, want die kos wat hy  gekry het, was slegter as die varke se peule wat hom nie gegun was nie. Die Jode het ‘n vark ingevolge die Wet van Moses as ‘n onrein dier beskou en dit nie eers met die hand aangeraak nie uit vrees dat hulle geestelik onrein sou word. Hierdie arme jongman, uit ‘n goeie agtergrond was nou so onrein as wat hy maar kon kom.

Sy pa se verstandige optrede al was dit ook hoe swaar.

‘n Mens mag vra waarom  die Pa nie gemaak het soos die skaapwagter met die verlore skaap, of die vrou met die verlore penning nie; waarom hy nie na sy verlore seun gaan soek en hom huistoe gebring nie? Die antwoord is dat om ‘n skaap op te tel, op jou skouers te sit en hom huistoe te bring is redelik maklik; so ook om ‘n verlore muntstuk van die vloer af op te tel en in jou sak te steek. Maar om ‘n verlore seun huistoe te bring en daar te hou, is ‘n ander saak. Jy kan jou bediendes hom laat vang, met toue vasmaak, oor ‘n donkie se rug hang, terug karwei en hom na sy  kamer toe neem, maar as hy nie by jou wil wees nie, sal hy die heel eerste nag deur die venster spring en padvat. Die pa het geweet dat sy seun net by die huis sou bly as hy in sy hart oortuig was dat dit vir hom die heel beste plek op aarde was. En so het die pa gewag en gewag .  Elke dag het hy op die pad waarlangs sy seun weggeloop het, gaan staan en bakhand oor skrefie oë die verte in gestaar om te kyk of hy hom nie dalk sien kom nie.

Klaar gerinkink; tyd om te dink.

Intussen, daar in die vêr land tussen die stinkende, snorkende varke het die seun baie tyd gehad om na te dink, om te besin oor wat hy verloor het. Sý deel van die erfporsie het hy reeds ontvang en verkwis. Wat in die boedel oorgebly het, was sy pa en sy broer s’n. Maar wat dan ten minste net van kos, klere en huisvesting? Daaraan was selfs die plaasarbeiders goed toe. Hulle was versorg met ‘n oorvloed van kos en lewensmiddele en het gedeel in die rustigheid en veiligheid van die plaas. As hy maar net as een van hulle aangestel kon word, sou hy al oneindig beter daaraan toe wees. So het hy dag vir dag geworstel met sy gedagtes.

Die lang pad terug plaas toe.

Uitendelik kon trots en vrees hom nie langer terughou nie en een mooi dag steier hy orent in sy uitgehongerde, verslonsde toestand om die langpad plaastoe aan te durf. Onderweg het hy seker dikwels gewonder of hy die regte ding doen, maar die drang in sy hart was net te groot om moed op te gee. Dit het hom voortgedryf. Elke aand was hy ‘n klein entjie nader. Hy het begin om die riviere en berge te herken. Toe dalk mense begin ontmoet wat hy voorheen geken het.

Twyfel, vrees en skaamte.

Wat nou voorgelê en hy die meeste gevrees het, was om die uitdrukking op sy pa se gesig te sien wanneer hy tuis sou aankom want hy was baie, baie maer en vuil. Sy klere was in vodde en die varkhok waarin hy dalk maandelank geslaap het, se reuk het om hom gewalm. En o, die skuld, die skuld oor wat hy sy pa aangedoen het.

Die herontmoeting.

Uiteindelik het hy die plaashuis in die verte gesien en die mense wat op die werf rondbeweeg, die rook wat uit die koorsteen opkrul. Sy hart het wild begin klop. Paniek het wurgend in sy keel opgestoot maar net toe hy wil omdraai om weg te vlug, sien hy deur die waas van sy trane ‘n man wat padlangs na hom toe aangehardloop kom. Hy knip sy oë en kyk weer. Hy ken daardie drafstap! Kan dit wees? Ja werklik, dit is … sy pa! En hy kom nader met uitgestrekte arms. Die volgende oomblik is hulle bymekaar, vou sy pa hom toe in sy arms, soen hom oor en oor op sy vuil beswete wange. Hy begin pleit: “Ag Pa, ek is so bitter, bitter jammer oor alles. Ek het teen die Here sonde gedoen en ook teen pa. Ek is nie werd om meer pa se seun te wees nie, maar asseblief, laat my net toe om ‘n bediende op pa se plaas te wees.”

Vergewe en in ere herstel.

Maar sy Pa antwoord hom nie eers hierop nie, roep net na die verbaasde bediendes: “Maak gou, gaan haal die beste pak klere uit die hangkas, ‘n hemp ook en ‘n das, en ‘n ring vir sy vinger en ‘n paar nuwe skoene. En julle ander, los al die werk net so en gaan na die stalle en kry die kalf wat ek vir hierdie juiste dag vet gemaak het, slag hom. Sê vir die kok om tafelsvol van ons beste kos  voor te berei. Kry ook die musikante en die buur plase se mense bymekaar en laat ons ‘n groot, groot partytjie hou.”

‘n Dooie word lewendig; ‘n verlorene word gevind.

Toe die bediendes nog huiwer raas hy: “Hierdie seun van my was dood maar het lewend geword, hy was verlore en is gevind.” Kort daarna het die fees toe begin.

Die Hemelse Vader en Sy geestelike seuns en dogters.

Wanneer ons van God af weggaan, rou Hy net soveel oor ons as wat ‘n vader sal rou as sy seun sterf en hy hom moet begrawe, maar wanneer ons terugkeer, verbly Hy hom oor ons soos oor ‘n seun wat uit die dood opgestaan en uit die graf te voorskyn gekom het. Die Here ly intense pyn as gevolg van ‘n verlore sondaar en Hy loop rond met daardie pyn in sy hart totdat die sondaar terugkom. Maar ook ervaar die Here uitbundige blydskap wanneer ‘n sondaar  na Hom toe terugkom. Hy gee opdrag dat ‘n fees in die hemel gehou word vir elke sondaar wat terugkeer na die ewige huis van sy Skepper.

Ons herstelde status in die Vaderhuis.

Let ook op dat die jongman nie terug ontvang is as ‘n bediende nie, maar herstel is in sy posisie as  seun. Ag, die wonderlike genade en guns van God. Dink net hoe diep aangeraak was die harte van die geharde sondaars  wat na Jesus kom luister het. Hulle het verstaan dat hulle ook  deur God tuis verwelkom sou word, ondanks wat hulle gedoen en hoe erg hulle hul lewens verkwis het. Hulle het geweet dat die Vader ook vir húlle op die hemelse pad staan en wag het. God weet dat dit vir die mens pynlik is om die duiwel te dien en daarom koester Hy die verwagting dat elke sondaar na Hom sal terugkeer.

Lees asb Luk 15:25-32.

Koerant berig, “Die tuiskoms van Jan se wegloop seun is met gemengde reaksie begroet.”

Terwyl die “slegte” mense in die gehoor nog oorbluf staan en moontlik trane met die agterkant van die hand uit die oë wegvee, draai Jesus na die “goeies” in die gehoor, die Fariseërs en Skrifgeleerdes en vertel vir hulle die res van die verhaal.

Die vreugdevure oor die tuiskoms van die pa se wegloop seun het skaars behoorlik gevlam en die musikante het net begin om die jolyt op dreef te kry, toe die oudste seun tuiskom. Moontlik was hy weg gewees om na aspekte van die boerdery te gaan omsien. Hy was natuurlik verbaas oor die  musiek en beurtsang, roep die eerste die beste plaaswerker en vra hom wat aangaan. Dié vertel hom toe van die tuiskoms van sy jonger broer en hoe bly sy pa daaroor was.

 Die vlieg in die salf.

Onmiddelik is hy briesend en weier selfs om in te gaan. Dit is natuurlik deur die bediendes binne vertel en haastig kom sy pa uit en smeek hom om in sy blydskap te kom deel. Dit alles help egter niks. Hy het hoegenaamd geen gevoel gehad vir sy slegte wegloop broer wat ‘n deel van hul eiendom met straatvrouens verkwis het en nou dat hy niks meer oorgehad het nie, druipstert huis toe kom. Wat hom betref moes die nikswerd net daar in die vreemde doodgegaan het. Dit was sy verdiende loon.

Tweedens voel hy uiters veronreg omdat sy pa nooit vir hom eers ‘n bokkie aangebied het wat hy kon slag om saam met sy vriende fees te vier nie en nou slag sy pa ‘n vetgemaakte kalf vir wegloper. Hierop antwoord sy pa verbaas dat alles in die boedel dan syne was en dat hy mos enige tyd ‘n slagding vir hom kon uitkeer, sonder om toestemming te vra.

Geestelike leiers met liefdelose harte.

Wat het Jesus hiermee bedoel? Dit was ‘n berisping vir die “goeie” mense, die Fariseërs en Skrifgeleerdes  wat ‘n fatsoenlike lewe gely het, maar nie God die Vader se liefde vir verlore sondaars gedeel het nie. Hulle harte was koud en hard. Hulle was aldag met godsdienstige dinge besig, het die tempel en die sinagoges besoek, mooi “kerkklere” gedra, op die straathoeke staan en bid om geëer te word, tiendes gegee en met lang vroom gesigte rondgeloop terwyl hulle soos die ouer broer dag vir dag met allerlei werkies in die huis van God besig was, maar het dit nie geniet en nooit feesgevier omdat God, soos hulle gedink het, hul Vader was nie. Wanneer die ware kinders van God wat tot wedergeboorte gekom, vergader het om lofsange tot Hom te sing en te jubel oor hul onverdiende aanneming tot kinders, het hulle buite God se huis in eiegeregtigheid op hul tande staan en kners. Hulle was dus net so, ja selfs verder verlore as die tollenaars, straatvroue en ander sondaars.

Twee verlore seuns.

Die Vader het dus twee verlore seuns gehad; die een buite die huis en die ander binne die huis. Die ouer broer het nie in die vaderhuis aangebly omdat hy sy pa liefgehad en dit geniet het om dag vir dag saam met hom te verkeer en te werk nie, nee dit was eiebelang wat hom in die huis gehou het. As eersgebore seun sou twee-derdes van die erfporsie aan hom toeval; daarom het hy so hard gewerk om die plaas te verbeter, die vee te laat aanteel en die landery netjies te bewerk. Dit het om homself gegaan. Hy was ‘n selfsugtige liefdelose mens. Dat sy broer teruggekom het, was vir hom ‘n ramp want dalk sou sy pa hom ook nog ‘n keer laat erf en sou hy self minder erf.

So was dit ook met die Fariseërs gewees; hulle het hul geestelike posisies om selfsugtige redes beklee. Hulle was verslaaf aan die eerbetuigings van mense, maar het geen liefde vir God of mens gehad nie. Die sondaar wat terugkeer na die Vaderhuis, sou hulle net onrein maak en as so een die aandag van die gemeenskap sou ontvang, sou dit die aandag van hulle self aftrek. Sulke mense was vir hulle ‘n bedreiging. En wie weet of hulle nie hulle sondes saam in die “kerk” sou inbring en dit ontheilig nie. So het hulle gevoel. ‘n Mens kan jou net voorstel hoe woedend hulle vir Jesus was om so in die gesig gevat te word en dit nogal voor die einste mense wat hulle so verag het.

Omhels die sondaar wat terugkom uit die vêr land en laat hom lekker tuis voel.

Laat elkeen van ons wat na die Vaderhuis teruggekeer en in Sy kindskap herstel is, ook in deernis uitreik na hulle wat nog buite staan, of hulle nou ookal onwelriekend is van opsigtelike sonde of opgeblase van selfregverdigende trots. God het hulle almal lief.


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → VERLORE SEUN . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha