Die verlore skaap; Luk 15:1 – 7

HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.

(Lees asb Luk. 15:1-7)

 Die Evangelie se streng kant: jy kan nie met Jesus knibbel vir afslag op die prys van redding nie.

In die voorafgaande Skrifgedeeltes het Jesus gepraat oor die streng vereistes wat gestel word om in die Koninkryk van God in te gaan. Hy het vertel hoe smal die ingang  is en hoe groot die prys wat die mens sou moes betaal om die ewige lewe te verkry. Dit het gelyk asof Hy nie sy hoorders in Sy Koninkryk wou laat ingaan nie, asof  Hy hulle eerder buite wou hou.

Maar dit is natuurlik nie waar nie. Hy het hulle net die waarheid vertel sodat die wat halfhartig was, sou besef dat hulle nie vir God sou kon kul of mislei en by die agterdeur probeer inglip nie. Daar was net een reël vir een en almal, ryk en arm, man en vrou, grootmens en kind. Net diegenene wat eerlik en opreg was, die wat begeer  het om van hulle sondige leefwyse af weg te breek, die wat bereid was om hulle te verootmoedig, sou deur God aanvaar word.

Die Evangelie se lekker kant: kom sommer nou, nes jy nou daar is.

In die Skrifgedeelte waarna ons nou kyk, praat Jesus met ‘n groep geharde sondaars en ‘n mens sou verwag dat Hy nog strenger met hulle sou wees: met ‘n diep frons op die voorkop die vinger na hulle sou wys, hard en kwaai sou praat. Verbasend genoeg  vind ons dat Hy sag en bemoedigend, padlangs met hulle gesels.

Die Fariseërs het die badwater met die baba en al weggegooi.

Hierdie gesprek het ontstaan weens die Fariseërs se houding teenoor sommige mense wat na Jesus kom luister het. Dit het gereeld gebeur dat talle werklik geharde sondaars  van oral af na Hom gekom en na Sy  lering kom luister het. Sommige van hulle was die Romeinse regering se belastinggaarders. Hulle was dikwels oneerlik en het meer geëis as wat verskuldig was en die ekstra inkomste in hulle eie sakke gesteek.

Andere weer was alombekende diewe, rowers, moordenaars, ontugtiges, dronkaards en opstokers. Die Fariseërs, wat die kerkleiers van daardie tyd was, het hierdie mense verag en gehaat. Hulle sou nooit met hulle meng of hulle selfs groet nie, wat nog te sê bladskud. Hulle het gevrees dat hulle daardeur geestelik onrein geag sou word maar veral ook omdat hulle vriende hulle daaroor sou vermy.

Jesus se mense moet die sonde haat, maar die sondaar liefhê.

In ‘n sekere sin was hulle reg. God se mense behoort nie aanhoudend ten nouste te assosiëer (hegte vriende te wees) met diegene wat God verag nie, sodat hulle nie deur sulke goddelose mense beïnvloed word om ook van God af weg te draai nie. Christene moet egter ook nie dink hulle is beter as andere nie maar eerder diep bewus wees dat dit net deur God se genade is dat hulle versoekings kan oorkom en dat hulle diep in hulle harte dieselfde sondige begeertes huisves. Hulle moet dit openlik bely en wanneer hulle in kontak kom met geharde sondaars, in liefde by hulle gaan sit en hulle vertel hoe hulle ook in die genade van God deel kan hê deur die bloed van Jesus.

Die verlore mens is op soek na liefde en aanvaarding.

Vanweë die feit dat die kerk en sy leiers hulle verwerp het, het hierdie slegte mense geen belang in die “kerk” gehad en nooit soontoe gegaan nie. Maar natuurlik het hulle dieselfde honger na God gehad as al die ander. Sien, God het ons so geskape dat ons ‘n groot behoefte aan Hom het, net soos ‘n klein babatjie ‘n behoefte aan sy moeder het. Jy kan hom allerhande speelgoed en mooi klere gee maar hy sal aanhou huil totdat sy ma hom teen haar bors vasdruk.

n Mens sonder God is dolleeg van binne.

‘n Mens kan ook vergelyk word met ‘n motorband. Dit is gemaak om vol lug gepomp te word. Dan is dit soos dit behoort te wees en rol gemaklik oor die pad en dra die motor sonder probleme. As die lug uitlek en die band pap word, lyk dit nie net sleg nie maar moet herstel word. Die mens sonder God binne in hom is soos ‘n pap band en verlang dat God sy leë hart moet vul. Sy sakke mag vol geld wees, maar as sy hart leeg is, sal sy innerlike ongelukkigheid duidelik op sy gesig gesien kan word.

Die verlorene kan aanvoel wanneer iemand opreg in hom as mens belangstel.

Omdat hierdie sondaars ook sielsvrede en geluk gesoek het, het hulle na Jesus kom luister. Hulle het goed verstaan dat Hy hulle sonde eerder sou veroordeel as goedgekeur maar gesien dat Hy hulle as mense nogtans liefgehad het. Wanneer Hy met hulle gepraat het, het Sy mond gesê: “Wat julle doen is baie, baie sleg en Ek sal dit nooit goedkeur nie,” maar terselfdertyd sou Sy oë sê: “Ek is lief vir julle; Ek wil hê dat julle my vriende moet wees, kom laat ons vriende wees.” Hulle was verstom dat so ‘n besonder goeie man soveel in hulle belang gestel het. Hulle het gedink dat God se oordeel op hulle gerus het en dat Hy nooit naby hulle sou wou kom nie. Jesus het geweet wat in hulle harte was en het daarom hierdie gelykenis van die verlore skaap vertel om hulle aan te moedig om na Hom toe te kom.

Die ware skaapherder.

Hy het vertel van die man wat 100 skape gehad het, maar eendag, terwyl hy hulle tel, ontdek het dat  een weg was. Hy sê toe vir sy hoorders: “Ek weet alte goed wat jy sou doen as dit jou oorkom. Jy sou dadelik dink aan die een wat vermis was. Jy sou nie redeneer dat jy eintlik ‘n ryk skaapwagter was met so ‘n groot kudde nie. Jy sou aanhoudend dink aan die een wat weg was. Jy sou weet presies hoe hy gelyk het. Jy sou selfs ook onthou op watter dag hy gebore was en watter ooi sy ma was. Jy sou wonder waar hy moontlik kon wees. Sou hy dalk vassit in ‘n doringbos daar buite in die woestyn, in groot gevaar  om deur ‘n jakkals gevang te word of dat sy oë deur ‘n kraai uitgepik mag word?

Een-twee-drie sal jy jou ander 99 skape in die sorg van iemand anders agterlaat, brood in jou knapsak sit, jou watersak volmaak en  terugdraai op die pad waarlangs jy gekom het. Jy sal elke nou en dan stilstaan en roep soos wat jy gewoonlik doen wanneer jy die kudde lei en fyn luister of jy nie miskien die verlore skaap veraf in antwoord hoor blêr nie. Jy sal so aanhou in die maanlig, selfs tot dagbreek toe en dan, wanneer jy hom ten einde laaste vind, sal jy eers by hom neerkniel daar waar hy lê om te kyk of hy nie seergekry het nie.

Jy sal hom nie skel of skop vir al die probleme wat hy  vir jou veroorsaak het nie. Jy sal sien hoe swak hy is, hom jammer kry, saggies met hom praat, hom op jou skouers tel en hom heelpad huistoe dra. Sovêr as wat jy loop sal jy glimlag en wanneer jy nog vêr aankom vir jou vriende skree: “Ek het hom, ek het hom.” En die ander skaapwagters sal om jou saamdrom om die stout, verlore skaap te sien en sal saam met jou bly wees, jou op die rug klop en goedig skerts oor die ene wat weggeraak het maar nou weer gekry is.”

“Net so,” het Jesus gesê “is daar blydskap in die hemel wanneer ‘n verlore sondaar gevind word, meer blydskap as oor die 99 wat veilig in die kraal geslaap het.”

Liefde, teerheid en begrip spreek tot die hart van die verlorene.

Wat ‘n pragtige verhaal. Watter groot aanmoediging was dit nie vir daardie mense wat van God af weggedwaal het nie. Wat ‘n motivering om sommer daar en dan, daar waar Hy besig was om met hulle te praat, na Hom, die groot Herder van hul siele te kom sodat Hy hulle in die Gees op Sy magtige skouers  kon tel en terug dra na Sy kraal toe.

Die lekkerte daarvan om deel van Sy trop te wees.

In Jesus se kraal is daar geestelike kos en water en ook veiligheid teen die aanvalle van die duiwel. Het jy al gesien watter salige uitdrukking daar is op die gesig van ‘n skaap wat rustig tussen die ander in staan en herkou? Groter vrede en vreugde nog is daar in die hart van dié mens wat deur God se Seun gevind is en nou rustig tussen Sy kinders sit en Sy woorde oordink. O, ek kan net sien hoe die gesigte van daardie geharde manne en vroue begin versag en trane in hulle oë gekom het toe hulle hierdie liefdevolle woorde hoor.

Binne of buite die kraal?

Is jy al deur Hom gevind? Ken jy Sy liefde, versorging en innerlike rus omdat Hy jou sondes vergewe het? Ons het almal weggedwaal soos skape, elkeen ons eie pad geloop, gedink dat die gras groener is aan die anderkant van die draad en nou is ons bang dat Hy ons sal straf as Hy ons vind. Ons kruip weg agter allerhande verskonings. Hoor jy Sy stem deur hierdie eenvoudige verhaal? Antwoord nou gou. Antwoord so: “Hier is ek Here, vergewe my en neem my op U skouers terug na U kudde. Van nou af wil ek nooit weer my eie pad loop nie.”


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → VERLORE SKAAP . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha