Duiwelbesete kind bevry; Luk 9:37 – 42

HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD

Terwyl die drie bevoorregte dissipels ‘n glorietyd saam met Jesus op die berg beleef het (Luk 9:28-36) het die oorblywendes ‘n nagmerrie daar onder ervaar. ‘n Sekere vader het sy seun wat ernstig van ‘n duiwel besete was, na hulle toe gebring. Hierdie seun was in ‘n bedenklike toestand. Wanneer die duiwel hom beetgepak het, het dit gelyk of hy hom totaal uitmekaar wou skeur.

Duiwelbesetenheid.

Dit is ‘n jammerwekkende gesig om ‘n persoon in die greep van ‘n duiwel te sien. So iemand mag verskriklik gil, of grom en blaf soos ‘n boosaardige hond, skuim om die mond kry, neerval en krul soos ‘n slang wat met ‘n stok geslaan word. Wanneer die duiwel hom uiteindelik tydelik loslaat, is hy so swak dat hy totaal ineenstort en dikwels vir ure aaneen slaap voordat hy weer kan loop en kan praat.

Met die hand in die hare.

Toe die dissipels met hierdie vertoning van sataniese mag gekonfronteer is, was hulle so oorweldig en miskien verskrik, dat al hulle geloof weggedreineer het. Vroeër, toe Jesus hulle op ‘n sending uitreik uitgestuur het, het Hy vir hulle mag en gesag gegee om duiwels uit te dryf en toe hulle terugkom, het hulle entoesiasties getuig hoe die duiwels hulle aan hulle (die dissipels) onderwerp het.

Maar nou was hulle beskaamd, want hoewel hulle die duiwel opdrag gegee het om die seun te verlaat, wou hy nie bes gee nie. Hulle was dalk vir ure lank besig en het al desperater geraak; so ook die seun se pa. Hy het gedink dat hierdie manne wat Jesus elke dag gevolg het, sekerlik ook oor diesefde krag as hulle Leermeester beskik het, maar nou het dit gelyk of hy hulle oorskat het.

Jesus, die Oplossing.

Almal moes sigbaar verlig gewees het toe Jesus uiteindelik op die toneel verskyn. Hulle het verseker geweet dat Hy die antwoord was op al hulle frustrasies en onmag. Ons sou vir mekaar gefluister het: “Hy kom of Hy gestuur was.” In hierdie verwagting was hulle reg want dadelik, toe die duiwel sy krag demonstreer, het Jesus sy groter mag aangewend deur daardie bose, walglike wese uit te werp en die bevryde seun aan sy pa terug te gee. Vrees en frustrasie het plek gemaak vir verbasing en verwondering oor die verstommende krag van God wat deur Sy Seun Jesus Christus gewerk het.

Die “pastore” oor die vingers getik.

Maar die Here het dit nie daarby gelaat nie. Dit lyk inderwaarheid asof Hy  meer bekommerd was oor die toestand van geestelike swakheid van Sy dissipels as oor die toestand van die duiwel besete seun. Ten aanhore van die skare het Hy Sy misnoë te kenne gegee en hulle net daar en dan betig met die woorde: “O ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees en julle verdra?” Die tyd vir Jesus se hemelvaart en vir die dissipels om Sy werk oor te neem, het dag vir dag nader gekom en Hy was teleurgesteld dat, na al die lering en praktiese bediening, hulle nog so hopeloos misluk het.

In die Evangelie van Mattheus (17:19,20) vind ons meer oor wat op daardie tydstip tussen hulle gebeur het.  Op hulle vraag waarom hulle onmagtig was om die duiwel uit te dryf, het Hy geantwoord: “Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan weg hiervandaan daarnatoe!’ en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie. Maar hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie.”

Die waarheid maak vry.

Die waarheid maak soms seer maar dit werk ook bevrydend. Wanneer die dokter die pasiënt se siektetoestand korrek diagnoseer, kan dit as ‘n geweldige skok kom, maar tegelyk baan dit die weg vir behandeling en genesing.  Die rede waarom hulle gefaal het, was net eenvoudig omdat hulle versuim het om te vas en te bid. Hierdie waarheid het hulle van wanhoop bevry. Daar wás ‘n oplossing vir hulle dilemma; ‘n oplossing wat binne hul bereik was – daar was dus hoop!

In God se teenwoordigheid, penetreer Sy Gees ons lewens.

Gebed is belangrik want, wanneer jy bid, bely jy jou swakheid deur te sê: “Here, ek is swak, versterk my asseblief. Here ek vertrou nie op myself nie, ek vertrou op U.” Jes 40:31: … “die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” Krag om geestelik te bedien, kom van die Heilige Gees en hoe meer tyd ons in die teenwoordigheid van God deurbring, hoe hoër styg die vlak van Sy vervulling van ons lewens en daarmee saam ook ons geloof.

Nie net wat betref geestelike bediening nie, maar sommer in ons daaglikse wandel as Christene, maak ons dieselfde fout as die dissipels. Ons is behoorlik lui as dit kom by vas en bid. Ons is sommer net traak-my-nie-agtige, lamsakkige bidders. Ons maak staat op ons eie krag om die aanslae van die lewe te hanteer en wanneer ons misluk, blameer ons dikwels vir God. Maar dit is ons eie fout. Om geloof van God te ontvang, moet ons Sy Woord bestudeer en tyd in Sy teenwoordigheid deurbring sodat Hy so stil-stil die mosterdsaadjies van geloof in ons harte kan plaas wat enige berg wat satan  voor ons laat oprys, sonder inspanning in die see sal laat wegsink.

Verstaan ons die woorde wat die Here tot ons spreek?

Die laaste ding wat Jesus vir hulle gesê het was dit: Luk. 9:44 “Bewaar hierdie woorde in julle ore; want die Seun van die mens sal oorgelewer word in die hande van die mense. Jesus was bewus van Sy naderende kruisiging en het dit vir Sy dissipels benadruk om Sy advies sorgsaam in hulle harte te bewaar want hulle sou dit nodig kry wanneer die tyd sou aanbreek dat Hy in hegtenis geneem en tereggestel sou word, maar Sy dissipels het  nie verstaan wat Hy gesê het nie want hulle was nog onder die indruk dat  Hy die Koninkryk van Israel sou herstel en dat hulle saam met Hom uit die stad van Jerusalem sou regeer.

Here help ons!

Mag die Here jou en my help om hierdie lering van gebed, gemeenskap, vervulling en oorwinning daagliks te beoefen en nie net ingedagte die kop te knik wanneer daaroor gepreek word nie. Amen?


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → DUIWELBESETE KIND . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha