Ek Is, SSG

Aangesien hierdie ‘n selfstudiegids is, gee ons in DEEL EEN net ‘n aantal EK IS opskrifte met een of twee tekse daarby. U moet dan u eie gedagtes of kommentaar onder elke opskrif opteken. Wanneer u almal klaar afgehandel het, kan u na DEEL TWEE van die gids gaan waar òns bondige kommentaar aangeteken is en dit met u eie gedagtes vergelyk.

.

 DEEL EEN

A. EK IS … 

 Iemand het gesê: “Die Nuwe Testament is vervat in die Oue en die Ou Testament word verklaar in die Nuwe”. (Vertaling). Raak gesê en hierdie waarheid kan so duidelk gesien word in die onderstaande teks. Toe die Heer vir Moses gestuur het om die Israeliete uit die slawerny van die Egiptiese Farao te verlos, het hy benoud ‘n logiese vraag gevra maar ‘n vae, kopkrap antwoord verkry. Ons haal aan:

Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? —wat moet ek hulle antwoord? En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur. (Eks 3:13,14).

Wel, Moses het so gedoen maar ons sal saamstem dat dit ‘n eienaardige, en vir ons as aardlinge ‘n bykans niksseggende antwoord is. Die feit van die saak is dit dat ‘n naam in daardie tye beskrywend van die persoon was en dat geen enkele, of paar woorde die Here God kan beskryf nie. Geen woorde of paar woorde kan reg laat geskied om die grootheid van God te beskrywe nie. Hy gebruik die ganse Skrif om die veelsydigheid van sy wese aan ons te openbaar. Daarom dan ook dat ons gaandeweg by die lees van die Skrif, vanaf Genesis tot Maleagi, ‘n al duideliker beeld van hom kry.

Met Jesus se menswording het ons die duidelikste openbaring van die Vader ontvang en daarom is dit wat Hy van homself gesê het, so belangrik. In elk van die onderstaande tekse voltooi Hy met verdere woorde die onvolledige Ou Testamentiese “EK IS …” waarmee Moses en die Israeliete tevrede moes wees. Jesus se “EK IS …” stellings omtrent homself openbaar nie net sy eie rol nie, maar ook die rol en wese van God die Vader. Kom ons kyk dan vervolgens na Hom deur middel van hierdie insiggewende lering.

B. DIE BROOD VAN DIE LEWE

En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. (Joh 6:35. Sien Joh 6:28-34 en Ex 16:14-18.)

C. DIE WEG, WAARHEID EN LEWE

Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Joh 14:6)

D. DIE WARE WYNSTOK

Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer.  (Joh 15:1 en lees verder tot by vers 17)

E. DIE DEUR EN DIE (GOEIE) HERDER

Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape. (Joh 10:7)

Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. (Joh 10:11)

F. DIE LIG VAN DIE WÊRELD

En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê. (Joh 8:12).

G. DIE OPSTANDING EN DIE LEWE

 Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; (Joh 11:25: Lees ook Joh 11:1-44)

H. DIE ALFA EN OMEGA; DIE SEUN VAN GOD; VOOR ABRAHAM

 … sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik—omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God?  (Joh 10:36)

Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek. (Joh 8:58)

Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. (Openb 1:8)

DEEL TWEE

.

B. DIE BROOD VAN DIE LEWE

 Die mens se liggaam is so geskape dat dit ‘n natuurlike behoefte het aan, en honger het na, kos. Net so het ons gees ‘n ingeboude behoefte aan en honger na God. Hy het ons so geskape. Daarom bly die mens soekend na iets wat hy nie mooi weet wat nie; soekend na iets wat hierdie knaende honger kan stil. Sommige verdoof hul geestelike honger deur die oormatige of ongesonde voeding van die liggaam (kos, drank en seks) of hul siel met die verkryging van besittings, aansien en mag.

Ons weet egter dat die bestudering van fotos van, en artikels oor kos, jou verstandelike insig in die lewensbelangrikheid van kos gee en jou honger kan stimuleer, maar dat dit geen voedingswaarde het nie: jy moet die brood wat jy sien, of van hoor, self inneem. Alle godsdienste het een ding in gemeen, naamlik lering, waarvan sommige goed is, maar Jesus sê Hy is nie die lering oor God nie, Hy is God self. Jy moet Hom as Gees self deur geloof in jou liggaam, siel en gees inneem, dan sal Hy sy lewe aan jou ganse mens oordra. Dit is nie die lering dat Jesus die Verlosser is, wat my verlos van sonde en dood nie, maar Hy, die Persoon. Jy moet nie net van hom lees nie, jy moet hom belewe, ervaar.

Dit was nie die lering oor die God van Abraham, Isak en Jacob wat Israel uit Egipte verlos het nie maar die God wat in daardie lering beskryf word. Dit is Hy wat al die plae gebring en die Rooi See gekloof het. Hy is ‘n Persoon.

Elk van die onderstaande tekse is ‘n kollig wat vanuit die hoogte op Jesus gefokus is; dit openbaar iets meer omtrent sy wese en deur te glo, laat ons hom toe om daardie element in ons lewens te verwesentlik.

C. DIE WEG, WAARHEID EN LEWE

 ‘n Blinde kan in sy eie huis of omgewing deur middel van ‘n staf homself behelp en voel-voel rondloop, maar as iemand ‘n tas onder die bed uitsleep en daar laat lê, kan hy baie maklik daaroor struikel en neerslaan. Sommige blindes, veral in die minder ontwikkelde lande, gebruik ‘n begeleier. Die blinde plaas dan sy hand in die hand van die begeleier wat ‘n baie betroubare persoon moet wees en natuurlik presies weet watter roete om te volg om die bestemming veilig en betyds te bereik. Die begeleier word die blinde se pad na sy bestemming. As iemand hom sou vra: “En watter roete gaan jy nogal volg om by daardie plek uit te kom, sal hy antwoord: “Ek gaan net aan Jan vashou, hy ken die pad soos die palm van sy hand”. Jan word die blinde se weg, se pad.

Dit is wat Jesus hier vir ons sê: Hy IS die weg. Hy is die SEUN wat uit die hemel na ons gekom het; Hy alleen kan ons daarheen lei wanneer ons, ons hand in geloof in syne plaas en nie kort-kort uitruk as ons skrik of moeg word en dink dat ons op ons eie beter kan doen nie. So beland ons in diep slote of loop ons onsself teen mure vas. Kinderlike geloof is wat ons moet hê; kleuter geloof wat die handjie in ma s’n plaas al is dit net om veilig oor die straat te kom.

Niemand het nog ooit die hemelse Vaderhuis bereik, behalwe deur Jesus nie. Hy was selfs die Ou Testamentiese gelowiges se begeleier al het hulle toe nog nie duidelik verstaan dat Hy ‘n afsonderlike Persoon van die Goddelike Drie-Enheid is nie.

D. DIE WARE WYNSTOK

 Die beeld wat hier gebruik word, is dié van ‘n druiweboer, sy wingerd en die druiwe wat Hy oes, ‘n boerdery waarvan die mense van Jesus se tyd heelwat kennis gedra het. So kom ons kyk eers na die verbouing van natuurlike druiwe. Behalwe die wilde druiwes wat deur voëls geëet word, is daar, na ek verneem, ongeveer 4000 spesies, waarvan 40 meer populêr is. Sommige is meer geskik vir die maak van wyn, andere weer vir druiwesap, vir rosyntjies of om genoeglik net so van die tros af te eet. Dan kom druiwe natuurlik ook voor in skakerings van wit, rooi, blou en swart. Die druiweboer moet dus presies weet watse vrug hy wil oes en daarvolgens besluit watter spesie hy moet verbou.

Ons Hemelse Vader is ‘n baie puntenerige landbouer en begeer geen ander vrug nie as net die vrug van die Gees wat onder andere in Gal 5:22 beskryf word:

Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Die Heilige Gees wat die sap is wat al hierdie heerlike soorte druiwes voortbring, het egter die regte wingerdstok nodig waardeur Hy na die lote kan vloei en in ons teks sê Jesus dat Hy uit al die menigte van wingerdstokke wat die duiwel deur die mens voorgebring het, die ENIGSTE WARE WYNSTOK IS; die wynstok wat die Vader uitgekies het as kanaal waardeur die lewe van die Gees na sy kinders, die ranke, moet vloei; lewe wat hulle in staat sal stel om die regte soorte druiwes voort te bring.

Nou moet ons ook in gedagte hou dat die druiweboer sy wingerstokke nie toelaat om wild te rank net waarheen hulle wil nie; dit is nadelig vir die hoeveelheid en kwaliteit van die vrug. So ook met ons as lewende lote; ons moet gedurig gesnoei word want ons skiet alte graag wilde lote uit.

Maar ons verbintenis met Jesus is deur geloof, en ons kan baie maklik geleidelik ons vertroue in hom laat verflou totdat ons geen sap meer ontvang nie en geestelik verdroog. Die einde daarvan is ewige verbranding. Daar is diegene wat oënskynlik goed begin maar wanneer hulle die pynlike kant van Christen wees ervaar, heg hulle hulself eerder aan die nabygeleë wilde wêreldse wynstok wat nooit gesnoei word nie en kan groei net so wild as wat hy wil.

Op ‘n stadium het ek ‘n perskeboom se tak wat deur die wind losgeskeur was en met sy punt op die grond gehang het, met ‘n fietsbinneband weer styf aan die stam vasgedraai sodat dit nie vog sou verloor nie en toe verder met ‘n tou opgebind. Aanvanklik het die blare verwelk maar kort voor lank was die lewe weer besig om deur te vloei en die tak het so goed geheg dat dit nie weer daar sou skeur nie.

Die tak kon nie bid nie maar die boom was vir my kosbaar, daarom het ek dit gedoen. Jy kán bid en is baie kosbaarder as ‘n boomtak. As jy voel jy het losgeskeur, roep uit tot die Hemelse Landbouer en Hy sal jou weer optel en stewig aan die Jesus stam vasheg.

E. DIE DEUR EN DIE (GOEIE) HERDER

Lees asb Joh 1:10-15. Weer gebruik Jesus ‘n beeld wat aan almal goed bekend was naamlik dié van ‘n herder en sy skape. Dit wil voorkom asof Hy eintlik twee maal oor hierdie onderwerp gepraat het. In beide beklee Hy die sentrale plek; in die eerste EK IS, is Hy die DEUR en in die twede EK IS, is Hy die HERDER.

Die plek van veiligheid waarin die herder sy kudde laat oornag het, was soms meer soos ‘n stal met ‘n dak en deur as ‘n kraal met ‘n hek. Die deur het beheer wie en wat ingaan en wie en wat uitgaan. Van die begin af het die Vader sy Seun aangestel as die Lewende Deur en die Opperherder (1Pet 5:4).

Wanneer ‘n verlore skaap die ander hoor blêr en by die kudde wil aansluit moet hy maar al om die stal dwaal totdat hy by die deur uitkom. Daar sal die deurwagter hom goed bekyk en as hy onbekend is, hom wegjaag. So is dit egter nie met ‘n soekende mens nie. Wanneer hy met sy sware las van sonde, honger en dors by die Deur uitkom, lees hy daarop, Klop, en vir jou sal oopgemaak word” (Matt 7:7) en Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. (Matt 11:28). JESUS IS die Lewende Deur.

Deur die donker koue nag hou die herder sy skape veilig en warm in die stal, maar wanneer die dag breek, roep hy elkeen by die naam wat hy self vir hom gegee het. Of ‘n skaap sy eie naam kan herken weet ek nie, maar die Skrif sê hulle herken die herder se stem, steier orent en almal wat aan hom behoort dring om hom saam; dan lei hy hulle na die weiveld en drinkwater wat hy vooraf vir hulle uitgesoek het.

Jesus ken die van ons wat aan hom behoort ook by ‘n naam wat Hy self aan ons gegee het. Hy gebruik geen ID nommers nie. In sy handpalms is ek opgeskryf nie as nommer ZA 93785431 nie maar by my Jesus naam. In Jes 43:1 sê Hy Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! Eendag in die hemel sal ons ‘n wit keursteen ontvang waarop daardie naam geskryf is. Die hemelse taal is ook so ryk dat niemand anders my naam sal hê nie (Openb 2:17).

Vireers is ons egter nog op aarde en nou dat Jesus terug is in die hemel, kan Hy elkeen van ons elke dag op sy eie pad lei want ons loop mos elkeen ‘n ander paadjie. Die Staatspresident het Maandagoggend sy pad en ek as student het myne, maar ons albei moet fyn na sy stem luister, dan loop ons almal die Jesus pad; ook die oumatjie van 95 wat elke dag in haar kamer en bed moet deurbring.

Ons volg hom omdat ons hom liefhet en vertrou, want Hy, die goeie Herder het ons so lief dat Hy elkeen met sy Bloed vir homself gekoop het. ‘n Skatryk skaapboer kan met sy kierie na ‘n Merinoram wys en spoggend verklaar, “Vir hom het ek soveel duisend dollar betaal” maar net Jesus kan met ‘n hand met ‘n spykermerk daarin na jou beduie en verklaar, “Vir haar moes ek voor die aangsig van die Regverdige Regter urelank aan ‘n kruis hang en my lewensbloed stort om die opgelegde prys van haar sonde te kon betaal”.

F. DIE LIG VAN DIE WÊRELD

Nog ‘n “EK IS”, en weer gebruik Jesus ‘n beeld wat selfs vandag, 2000 jaar later, vir ons baie sinvol is, naamlik LIG. Die gedurige, langdurige kragonderbrekings bring mee dat ons voortdurend krag moet stoor in een of ander vorm van battery sodat ons gedurende die donker ure van die nag ten minste ons eie lig kan maak. Gaan ons uit vir ‘n samekoms met ‘n aantal vriende, bring elkeen maar soos toentertyd ‘n “lantern” saam sodat ons mekaar kan sien en by ons tuiskoms die deur se sleutelgat kan vind. Nee, lig is noodsaaklik, daarom het die Heer tydens die Skepping, voor alle ander dinge, lig geskape, later ook die son, maan en sterre en hulle skyn nou al meer as 6000 jaar lank sonder onderbreking. God is die beste ligmaker want Hy is van ewigheid af die lig. Hy is die bron en oorsprong van alle lig.

Lig, so verneem ek, is basies klein stafies wat deur ‘n ligbron uitgestraal word en vanaf die voorwerpe waarop dit skyn, weer in alle rigtings weerkaats word. Die oog tel die strale op, voer dit in gedekodeerde vorm na die brein vir wie die omgewing dan skielik sigbaar word in elke denkbare soort van voorwerp en kleur. Nou kan jy begin om rond te beweeg en alles te doen wat nodig is om jou lewe te kan uitleef. Dit alles gebeur met die druk van ‘n knoppie.

Om in die geestelike wêreld jou omgewing te kan “sien,” is nog veel moeiliker want daarvoor het jy geestelike lig nodig wat jy op geen manier self kan opwek nie. Daarvoor moet jy ook wegkyk van wêreldse ligbronne en Jesus se teenwoordigheid opsoek. Hoe nader jy aan hom voortstap, hoe helderder skyn sy wil vir jou en hoe duideliker word die leuen ontbloot vir wat dit is. Die wêreldse lig openbaar aan jou die wêreldse pad naamlik, “Eis ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand,” maar Jesus se lig lei jou om te vergewe en te sëen. Die wêreldse lig skyn vir jou op die pad van skelmstreke en bedrog as die vinnigste en maklikste manier om die lewe vir jouself gemaklik en lekker te maak, maar die Hemelse Lig lei jou om deursgtig te lewe sodat jy vrede met God en mens kan hê en vir jou skatte kan belê in die ewige lewe daarbo.

G. DIE OPSTANDING EN DIE LEWE

 Van die vroegste tye af, was die dood die mens se mees gevreesde vyand wat oor koning en kneg gelyk regeer het. Hoe groot die blydskap oor die geboorte van ‘n kindjie ookal was, een ding het die ouers geweet en dit is dat hy hulle ook na verloop van tyd deur die graf in die ewigheid in sal volg.

Vir magtige heersers was dit ‘n verskriklike gedagte dat hulle totaal magteloos sou word, geen opdrag meer sou kon gee nie, dat bedelaars en bokke vreesloos oor hul grafte sou slenter asof hulle nooit bestaan het nie; terwyl hul eens gerespekteerde self daaronder besig was om tot stof te vergaan. Daarom het sommige van hulle reuse piramides gebou waarin hul liggame tesame met lewensmiddele en sommige van hul skatte weggelê moes word om hulle sodoende voort te help na een of ander beter bestemming. Andere het egter die onbetwisbare werklikheid van die dood aanvaar soos die leier wat in sy testament bepaal het dat sy geneeshere sy kis ten aanskoue van sy volgelinge graf toe moes dra sodat hul almal kon sien en erken dat die mens geen mag oor lewe en dood het nie.

In die verhaal wat ons so pas gelees het, staan Martha voor die graf waarin die ontbindende liggaam van haar broer weggelê is. Sy glo dat Jesus sy Vader sou kon bid om Lasarus uit die dood uit op te wek want Hy het immers ook die weduwee van Nain se seun en Jairus se dogtertjie teruggeroep tot die lewe. Maar wat sy nie besef het nie, was dat Jesus nogeens aan die mensdom wou toon dat Hy sélf   die OPSTANDING EN DIE LEWE IS sodat elkeen wat in HòM glo, nou al, in hierdie moment, uit die geestelike sondedood opgewek en ‘n lewende kind van God kan word.

Ons het wel elkeen gesterwe toe ons die dag vir die eerste keer gesondig het, maar kan in die breukdeel van ‘n oomblik die Ewige lewe van Jesus ontvang. Soos Lasarus in die doderyk Jesus se stem gehoor en lewend uit die graf gestap het, kan dit met ons ook wees. Hy het wel later liggaamlik weer gesterf maar geestelik leef hy in die hemel voort. So kan dit wees met elke ongeredde mens wat die Evangelie hoor, bely dat hy dood is in sy sonde, glo dat Jesus vir sy sonde gesterf het en homself oorgee aan die OPSTANDING EN DIE LEWE om hom uit die graf uit op te roep om deel te word van die groot skare van geestelik lewendes.

Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe. 25  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe. 26  Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê. (Joh 5:24-26)

H. DIE ALFA EN OMEGA; DIE SEUN VAN GOD; VOOR ABRAHAM

Vra jy my om in een woord op te som waaroor die Bybel gaan, antwoord ek sonder om te aarsel: oor GOD: oor God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees wat van ewigheid af is en tot in ewigheid sal wees. Die tweede groot waarheid is dat God se genade deur sy Seun na sy skepping vloei; HY IS ALLES wat mens en dier nodig het. Daarom dan het Hy al die bostaande versekerings aan sy dissipels gegee het: EK IS, EK IS, EK IS … Wat is jou behoefte? Jesus sê, “EK IS jou antwoord”.

//////////

KLIK HIER OP EK IS SSG OM HIERDIE DOKUMENT IN PDF FORMAAT AF TE LAAI OF UIT TE DRUK.

KLIK NOU HIER OP “KEUSES” VIR NOG ‘N SELFSTUDIEGIDS

OF

SIEN LYS VAN ANDER ONDERWERPE BO-AAN, REGS VAN, OF ONDER-AAN HIERDIE BLAD

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha