Filippus, Ethiòpiër en bekering van Paulus

2024-04-27

A. FILIPPUS EN DIE ETHIÒPIESE HOFDIENAAR.

Ons lees Handelinge 8:26-29:

En ‘n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê: Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is ‘n eensame pad. 27  Toe het hy opgestaan en gegaan. En daar was ‘n man van Ethiópië, ‘n hofdienaar, ‘n staatsamptenaar van Kandacé, die koningin van die Ethiópiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid. 28  En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees. 29  Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan daarheen en bly by daardie wa. 30  En Filippus het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê: Verstaan u wel wat u lees? 31  En hy antwoord: Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie? Toe vra hy Filippus om op te klim en by hom te kom sit. 

In die vorige studie het ons eers gelees van Filippus wat as een van sewe diakens aangestel in die Jerusalem gemeente aangestel was. Hulle moes toesien dat die weduwees binne daardie groot gemeente goed versorg word. Hy was ‘n betroubare man en het homself waarskynlik baie goed van sy taak gekwyt. Maar hy was nie net begaafd as administrateur nie; hy was ook ‘n kragtige evangelis.

Toe kom die vervolging van Christene in Jerusalem wat baie laat besef het dat dit wyser sou wees om hulself elders te vestig; verder van die brandpunt van die Joodse godsdiens. Filippus was waarskynlik een van hulle. Hy het mettertyd moontlik iemand anders opgelei om sy taak as diaken oor te neem en toe na Samaria verhuis.

Sy hart was steeds brandende vir Jesus en deur sy bediening het kreupeles weer geloop, is duiwels uitgedryf en het groot getalle mense tot bekering gekom. Dit het tot groot vreugde in daardie stad in die landstreek van Samaria gely. Later het Petrus en Johannes selfs vanaf Jerusalem afgekom na hierdie mense wat deur die Jode verag was. Nadat hulle alles waargeneem het, het hulle erkenning gegee aan die werk wat die Heilige Gees daar deur Filippus verrig het. Ons lees daarvan in hoofstuk 8:1-25. 

Maar die Heer se visie het reeds baie verder uitgekring. Hy het geweet dat selfs in die verre land van Ethiopië, suid van Egipte, daar mense was wie se harte op soek was na God. Vandag is dit ‘n baie arm land waar mense honger ly. In daardie dae, blyk dit egter, dat ‘n baie ryk koningin oor Ethiopië regeer het. Sy het ‘n sekere man aangestel om oor al haar skatte toesig te hou. Hierdie man het op een of ander manier met die Joodse godsdiens in aanraking gekom en het waarskynlik in die God van Abraham geglo. Daarom het hy al die pad van Ethiopië af na Jerusalem gereis om daar te aanbid en offers aan die ware God in sy tempel te bring.

Die dors van sy hart was egter nie versadig nie, want hulle wat nou daar in beheer was, het die God van Abraham nie geken nie. Hierdie man, die hofdienaar soos wat ook na hom verwys word, het egter nie moed opgegee of kwaad geword omdat hy so ‘n lang reis verniet aangepak het nie; nee hy het ‘n baie duur rol Ou Testamentiese Skrif aangekoop en dit verder deursoek. Die Here Jesus Christus het vanuit die hemel gesien hoe hierdie soekende man via die Gaza-pad na Ethiopië terugkeer. Hy het ook opgemerk wat ‘n groot dors hy na God gehad het; hoe hy al reisende in sy koets of wa, nie die natuur bewonder nie, maar die Skrifrol noukeurig oor en oor lees, maar helaas, sonder om dit te verstaan het.

Wat nou? Die Heer het ‘n boodskapper, ‘n evangelis, nodig gehad om die Skrif woorde aan hom te verduidelik. Filippus was net die man vir hierdie taak! So stuur die Here toe ‘n engel uit die hemel om vir hom te gaan sê: “Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is ‘n eensame pad.” Net dit. Filippus het nie getwyfel of geknibbel nie alhoewel hy nie geweet het vir watter doel hy daarheen moes gaan nie, maar het dadelik gegaan.

Dit was moontlik waar die pad uit die noorde die Gasa pad gekruis het, dat hy ‘n hooggeplaasde man op ‘n wa sien verbygaan het. Ineens het God in sy hart met hom gepraat: ”Voeg jou by daardie wa”. Haastig het hy langs die wa ingeval. Toe hoor hy hoe die man ‘n gedeelte uit die Profeet Jesaja hardop lees; ‘n gedeelte wat hy goed geken het. Hy skraap sy moed bymekaar en vra vir hierdie belangrike man: “Verstaan ​​u wel wat u lees?” “Hoe kan ek as niemand dit vir my verduidelik nie”, kom die antwoord. Toe skuif die man so ewe op en nooi Filippus om langs hom te kom sit en die Skrif aan hom te verduidelik.

Baie Christene begeer om ‘n mikrofoon in die hand te hê met ‘n aantal groot luidsprekers en daarmee met massas mense te kan praat. So, voel hulle, dat hulle nou werklik deur God gebruik word. Maar die Heer sien individuele eensame mense oor die hele wêreld raak wat op soek is na die waarheid. Daarom soek hy voortdurend na iemand daar naby wat Hy kan stuur om hulle te onderrig.

Wanneer ons in die woonbuurtes rondbeweeg, sien ons soms ‘n man wat bely dat hy deur God as ‘n evangelis geroep is. Maar die hele Saterdag sit hy voor sy huis in die skadu van ‘n boom, teruggeleun in sy stoel. Hy eet en drink dit en dat en gesels met sy talle vriende oor nietige wêreldse dinge. Maar selde sien ons hom uitgaan om die verlorenes op die paaie van die lewe in die Woord te onderrig. Dan wonder ek, “My liewe broer, is die ore van jou hart oop om te hoor of die Heilige Gees jou nie dalk nodig het en na iemand wil stuur nie? Het jy vanoggend gebid en God gevra om jou voetstappe te rig na ’n hart wat deur hom voorberei is; na iemand wat uit ‘n vêr sondige land kom, soekende na lewende waters”

Laat ons van Filippus leer; hy was as diaken in Jerusalem aangestel om na die weduwees om te sien, maar deur sy lewe vir God oop te stel, het hy herlewing en vreugde gebring in die vêrre land van die Samaritane. Toe, skielik het hy langs ‘n baie hoë amptenaar op sy wa gesit en die Evangelie met hom gedeel. Hy was daar buite op ‘n verlate pad waar sy gemeente hom nie gesien het nie, maar orals was hy getrou besig om die werk van God te doen.

Ons lees hoofstk 8, verse 32 tot 34:

En die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was dít: Soos ‘n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos ‘n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie. 33  In sy vernedering is sy oordeel weggeneem, en wie sal sy geslag beskrywe? Want sy lewe word van die aarde weggeneem. 34  En die hofdienaar antwoord en sê vir Filippus: Ek bid u, van wie sê die profeet dit, van homself of van iemand anders? 

Hierdie is ‘n aanhaling uit die boek van die profeet Jesaja; hoofstuk 53:7. Die skatmeester van Etiopië was sekerlik ‘n hooggeleerde man. Hy was moontlik Amharies sprekend maar kon selfs Hebreeus lees. Die Skrif kon hy egter nie uitlê nie. Hy kon nie verstaan ​​na wie hierdie verse verwys nie.

Van die Ou Testamentiese gelowiges het selfs die mees toegeweides, min verstaan ​​omtrent die toe komende koms van die Seun van God. Nog minder dat Hy (hul verwagte Messias) aan ‘n kruis vir die redding van die mensdom sou sterf. Filippus, uit die binnekring van Jesus se dissipels, het hierdie verborgenheid natuurlik ten volle begryp en kon dit op ‘n eenvoudige manier verduidelik aan hierdie man wat so ‘n dors na die waarheid gehad het. Hy kon hom vertel van Jesus wat uit die maagd Maria in Betlehem gebore is, in Nasaret grootgeword, en as die seun van ‘n timmerman met sy hande sy kos verdien het; drie jaar lank deur die land beweeg; siekes gesond gemaak; demone uitgedryf; dooies opgewek en die beginsels van die Koninkryk van Sy Vader aan armes verdudidelik het. Ook hoedat hy toe deur sy eie mense gekruisig is vir die sondes van die ganse mensdom. ‘n Helder lig van begrip het vir hierdie soekende siel opgegaan: skielik het hy alles duidelik verstaan.

Ons lees verse 36-38:

En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word? 37  Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is. 38  En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop.

Die hofdienaar het begeer om daar en dan sy innerlike oorgawe en geloof deur die waterdoop te bevestig. Op sy versoek hiertoe het Filippus geantwoord: “As jy glo met jou hele hart is dit geoorloof”. Sy antwoord was ronduit: “Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is.”

Die doop red ons nie maar is ons getuienis dat deur Jesus as ons Verlosser aan te neem, ons deur geloof saam in Christus vir ons sondes gesterf het en saam in Hom opgewek is tot ‘n splinternuwe lewe. Dit leef ons deur die leiding en bemagtiging van die Heilige Gees wat in ons kom woon het. Die amptenaar het waarskynlik baie diensknegte gehad wat hom vergesel het, want hy was ‘n baie belangrike man. Hy wou hê dat hulle almal getuies moes wees van die feit dat hy sy vertroue onherroeplik in die Here Jesus Christus gestel het. 

(Weet almal by u werk dat u ‘n wedergebore kind van God is?)

En nou lees ons hoofstk 8, verse 39 en 40:

En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis. 40  Maar Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesaréa gekom het. 

Die hofdienaar het met blydskap op sy pad voortgereis. Hy het Filippus nie verder nodig gehad nie, want hy het Jesus gehad om hom tot in Ethiopië te vergesel. Daar aangekom, glo ek, het hy sy blye nuus met sy koningin en al haar belangrike hofamptenare gedeel. Hy het vêr gereis gehad en lank weggebly, maar het die grootste moontlike skat na sy land teruggebring; die Ewige lewe in Jesus Christus onse Here. En dit was meer werd as al die goud en skatte van Ethiopië.

Wat het van Filuppus geword? Dit was nie vir hom nodig om terug te stap na waar hy ookal vanaf gekom het nie. Die Heilige Gees het hom sommer net weggevoer na die volgende plek waar God hom wou gebruik. Sy skielike, bonatuurlike, verdwyning was natuurlik ook ‘n kragtige bevestiging vir die Ethiopiese man dat hy deur God gestuur was om sy vrae te beantwoord en hom te help om die Verlosser te ontmoet.

B. DIE BEKERING VAN PAULUS.

En nou kom ons by een van die belangrikste hoofstukke in die boek Handelinge, hoofstuk 9, wat handel oor die bekering van Paulus. Ons lees verse 1-9:

Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan 2  en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring. 3  En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af; 4  en hy val op die grond en hoor ‘n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? 5  En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. 6  En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen. 7  En die manne wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien nie. 8  Toe staan Saulus van die grond af op, en alhoewel sy oë oop was, het hy niemand gesien nie; en hulle het hom aan die hand gelei en in Damaskus ingebring. 9  En drie dae lank het hy niks gesien nie, en niks geëet of gedrink nie. 

Toe ons vroeër die marteldood van Stéfanus behandel het, het ons gesien dat hulle wat hom gestenig het, hul klere in bewaring van ‘n jong man, genaamd Saulus, gelaat het terwyl hulle hul grusame taak verrig. Saulus, ook bekend as Paulus, was dus ‘n getuie van die gebeure. Hy het gehoor hoe Stéfanus, terwyl hy sterf, uitroep dat hy die hemele geopend en die Seun van God aan die regterhand van die Vader sien staan. Hy het ook gehoor hoe Stéfanus vir sy vervolgers bid dat die Here hulle nie moes straf nie omdat hulle nie bewus was dat hulle sondig nie. Selfs hierdie kragtige getuienis het hom egter nie oortuig dat Jesus deur God gestuur was nie. Inteendeel was hy steeds van mening dat Jesus ‘n bedrieër was, wat probeer het om die geloof van sy volk, Israel, te ondermyn. Elke oomblik van sy lewe sou hy daaraan wy om hierdie geloof, wat hy as godslastering beskou het, uit te wis.

Die vervolging van Christene wat toe in Jerusalem opgevlam het, het veroorsaak dat baie van hulle uit die stad gevlug en hulself oral rond in die Romeinse ryk gaan vestig het. Waar hulle ook al gegaan het, het hulle die Goeie Nuus versprei dat Jesus Christus die Verlosser gesterf en opgestaan ​​het sodat alle mense gered kon word. So het die vervolging van die heiliges tot voordeel van die Koninkryk gestrek.

Nuus hieroor het baie gou die ore van die Hoëpriester in Jerusalem bereik. Hy moes daarteen optree en was natuurlik net te bly om op Saulus se versoek lasbriewe vir die inhegtenisneming van Christene in die belangrike stad van Damaskus uit te reik. 

Saulus en ‘n paar dienaars, of sal ons sê, polisiemanne, het uit Jerusalem vertrek. Hy was gevul met ywer vir die Joodse godsdiens en het werklik geglo dat hy God behaag deur te probeer om hierdie “sekte” uit te roei. Die Bybel sê dat hy moord geblaas het, soos ‘n kwaai bul deur sy neusgate blaas en stof opskop voordat hy storm. 

Selfs deesdae vind ons iets soortgelyks in Christelike kerke. Sommige staan so sterk op hul lering oor minder belangrike leerstellings, dat hulle hulself afskei. Hulle stig ‘n nuwe denominasie en tree op teen lidmate wat dit waag om enige dienste behalwe hulle eie by te woon. Ons moet hierteen waak. Ons kan opreg en ywerig wees en God tog mishaag deur Sy mense te kritiseer en sy werk ten te staan.

As ons Saulus voor ‘n Christelike hof moes daag, sou ons hom waarskynlik swaar gestraf het vir sy bose dade, maar kyk net wat God gedoen het. Hy het Stéfanus se gebed verhoor en Saulus gladnie gestraf nie. Hy het in ag geneem dat hy in onwetendheid opgetree het en eerder die waarheid oor homself aan hom geopenbaar. Toe hy al naby Damaskus en die einde van sy reis was; toe hy hom alreeds verlustig het in hoe hy hierdie hardkoppige Christene gaan aankeer, het dit gebeur.

Skielik, in die flits van ‘n oomblik, het die Heer ingegryp. Jesus het met ‘n verblindende lig op hom neergeskyn en luid tot hom geroep: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” Jesus leef in elke gelowige se hart en wie iets aan een van sy geringste dissipels doen, doen dit aan hom self. Saul was geskud. ”Wie is U, Here? vra hy verdwaasd. Hy het wel van Jesus gehoor. Hy het baie, baie getuienisse gehoor oor die wondere wat Hy gedoen het, maar in hom glo? Nog nooit as te nimmer nie. Glo dat Hy die Seun van God was wat uit die graf opgestaan ​​en na die hemel opgevaar het? Nee, dit het hy totaal en al verwerp. Daarom vra hy geskok: “Wie is U, Here?” Hy spreek die spreker aan as Here, as ‘n god. Net ‘n god kan met so ‘n verblindende lig uit die hemel daarbo skyn en met so ‘n magtige gebiedende stem spreek. Maar watter God is dit hierdie van wie hy die stem nie ken, en wie hy nie dien nie?

Dan kom die magtige antwoord: ”Ek is Jesus, wat jy vervolg.” Wat ‘n skok moes dit vir die arme Saulus gewees het om te ontdek dat hy besig was om die Seun van God, die almagtge Skepper van hemel en aarde te vervolg, te arresteer, boeie om sy polse te slaan, Hom soos ‘n boosdoener na Jurusalem terug te neem! Hy moes bewend gevrees het dat die aarde sou oopskeur en hom sou verslind soos vir Korag, Datan en Abiram. Maar hierdie onbekende God het geen begeerte gehad om die aarts-sondaar, Saulus, te vernietig nie. Eerder sou Hy hom tot bekering lei en hom dan tot Sy eie eer gebruik. Daarom sê Jesus vir hom : ”Staan op en gaan in die stad in, en jy sal vertel word wat jy moet doen.” 

Toe Paulus van die grond af opstaan, was hy totaal blind. Die trotse Fariseër wat mans, vrouens en kinders sou arresteer, boei en as gevangenes uit Damaskus lei, word nou self deur die hand van ‘n dienskneg die stad ingelei. O, die geheimsinnige weë en krag van God.

Drie dae lank het hy niks geëet of gedrink nie, maar sy tyd bewend in gebed deurgebring. Voor die troon van die almagtige God het hy gekniel of op sy aangesig gelê. Daar het die Gees van God sy verstand verlig het om die verborgenheid van die Evangelie van Jesus Christus te verstaan.

Ons lees nou hoofstuk 9, verse 10-19:

En daar was ‘n dissipel in Damaskus met die naam van Ananías; en die Here het vir hom in ‘n gesig gesê: Ananías! En hy antwoord: Hier is ek, Here. 11  Toe sê die Here vir hom: Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na ‘n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid; 12  en hy het in ‘n gesig ‘n man met die naam van Ananías sien inkom en hom die hande oplê, sodat hy weer kon sien. 13  Maar Ananías antwoord: Here, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor hoeveel kwaad hy u heiliges in Jerusalem aangedoen het; 14  en hy het hier volmag van die owerpriesters om almal te boei wat u Naam aanroep. 15  Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. 16  Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly. 17  En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word. 18  En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop. 

Ons let vanuit hierdie Skrif op hoe God gewone mense soos ons gebruik om Sy werk te doen. Jesus wandel nie meer fisies tussen ons nie. Ons weet almal dat Hy aan die regterhand van die Vader sit vanwaar Hy sy Koninkrykswerk hier benede bestuur. Maar om dit tot uitvoer te bring, het Hy het jou en my bene, hande en mond nodig.

Hy wou Ananias vir ‘n maklike maar baie belangrike taak gebruik, naamlik om ‘n diep bekommerde siel te laaf. Hy wou ook deur hom, Saulus se glasig-blou verblinde oë weer aanraak en open. Bowe alles wou Hy sy Heilige Gees in hierdie man se gereinigde hart gee sodat hy Hom, die onbekende Jesus kon belewe. Dit was tegelyk ‘n groot eer en verantwoordelikheid, want hierdie man was deur God die Vader bestem om die grootste van alle apostels te word. Hy sou Jesus se boodskapper wees om die Evangelie aan die grootste konings en heersers van hierdie wêreld te verkondig.

Maar wat was Ananias se reaksie? Hy verskoon homself heftig van hierdie taak. Hy weet van beter. Net soos Saulus handel hy egter ook in onkunde. “Here, daardie man, ek weet alles van hom. Hy is nie ‘n Christen nie. Hy het hierheen gekom om ons in hegtenis te neem, in die tronk te sit, selfs dood te maak. Nee Here, na hom toe gaan ek nie.”

Deur die hele Skrif vind ons dat gelowiges wat deur God geroep was om dit of dat te doen, soms verskonings gehad het. Is u een van hulle? U weet dalk baie goed in u hart waartoe die Here u geroep het, maar u het baie aardse verskonings: finansies, familieverpligtinge? Wel, spreek dit uit teenoor die Almagtige sodat Hy kan antwoord en u vrese kan besweer soos wat Hy met Ananias gedoen het.

Jesus het vir hom gesê: “Ek weet alles van Saul se verlede; dat hy my volk vervolg het, maar ek weet soveel meer. Ek weet ook hoe sy hart nou warm klop vir my. Ek hoor hoe hy bid, hoe hy na my roep om hom te vergewe en weer op te rig. Ek weet ook van alles wat vir hom voorlê; dat hy vir my ‘n uitverkore werktuig is wat nie net van My sal getuig nie, maar ook vir My sal ly. Gaan rustig en bedien hom.” Wel, ek dink toe Annanias hierdie woorde hoor, het hy gedrafstap na die huis van Judas in Reguitstraat; kon hy nie wag om Saulus te ontmoet nie.

Daar aangekom het hy aan die blinde Saulus verduidelik dat die Here Jesus wat op die pad aan hom verskyn, hom, Ananias, na hom gestuur het. In liefde het hy sy hande op sy hoof gelê en vir hom gebid. Onmiddelik het God iets soos skubbe van Saulus se oë laat afval en net daar sien hier weer; sien hy vir Ananias. En toe, terwyl dié vir hom bid, gebeur die groter wonder en raak hy gewaar dat die onbekende Jesus, deur sy Gees, in hom intrek kom neem het. Dadelik was hy ook gereed om deur die waterdoop te getuig van die goddelike wonder wat in sy lewe plaasgevind het. Van daardie oomblik af sou die boodskap uitkring: “Saulus van Tarsis, die vervolger van die Kerk, het Jesus Christus as sy Here en Verlosser aangeneem”.

Hoe wonderlik en geheimsinnig is die weë van God. Ons moet nooit sê hierdie of daardie persoon leef so diep in sonde dat hy nooit gered sal word nie. God werk voortdurend in die harte van mense op ‘n onsigbare wyse. Hy beweeg deur hulle soos die wind wat deur die bome waai, maar ons kan nie sien van waar dit kom en waarheen dit gaan nie. Ons moet bid en God vertrou vir die redding van sondaars. Wanneer ons dit gelowig doen, sal ons wonderwerke op die mees onwaarskynlike plekke sien gebeur.

Maar, Paulus het homself nie net tot Christus bekeer en toe rustig teruggesit nie. Nee, hy het onmiddellik, sommer daar in Damaskus, begin om kragtig te getuig; so kragtig dat die Jode hom summier wou doodmaak. Sy Christen broers en susters, hulle wat hy kort tevore wou arresteer, moes hom help om in ‘n mandjie deur ‘n venster in die muur te ontsnap.

O, die krag van Jesus. Wie kan teen Sy mag staan? Laat die duiwel probeer wat hy wil, hy sal altyd verslaan word en sy sterkste dissipels sal die mees toegewyde volgelinge van ons Here Jesus Christus word.

//////////

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK →  Fillippus, Ethiopier en bekering van Paulus. Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

//////////

As hierdie studiegids u hart geraak of u nuwe insig daardeur ontvang het, deel dit asb met ons. U kan die onderstaande vorm daarvoor gebruik. Baie dankie, by voorbaat.




    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend