Hoe kan ‘n persoon seker wees dat Hy deur God aanvaar is?
A. GOD SELF SAL VIR JOU SÊ DAT JOU SAAK MET HOM REG IS
Niemand is in ‘n beter posisie om hierdie vraag te beantwoord nie, as God die Heilige Gees en wanneer iemand Hom in alle nederigheid hierdie vraag vra, en die persoon wel gered is, bevestig Hy dit aan hom; so nie, antwoord Hy hom nie en bly die onsekerheid aan die persoon se hart knaag.
God wil natuurlik hê dat sy kinders sekerheid omtrent hierdie belangrike saak moet hê en deur alle eeue heen het Hy teenoor hulle getuig dat hulle in die regte verhouding met hom was, bv soos wat Hy gedoen het met die rower aan die kruis. Kom ons kyk na ‘n aantal gevalle.
- Die rower aan die kruis
En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom. En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. (Luk 23:42,43)
- Abel
Deur die geloof het Abel ‘n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is. (Heb 11:4).
- Henog
Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het. (Heb 11:5).
- Abraham
Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken. (Gen 15:5).
- Die menigte van gelowiges gelys in Heb 11
En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het … (Heb 11:39). (LW: “almal”).
As God dan so duidelik teenoor gelowiges wat in die Ou Testamentiese be-deling geleef, getuig het, hoeveel te meer sal Hy nie nou getuig teenoor sy wedergebore kinders, sy uitverkore geslag, sy bruid, dat hulle in die Gelief-de (Jesus) aanvaar is nie? Daarom, as ‘n persoon homself as ‘n Christen sien, maar hy beleef nie daardie innerlike getuienis van die Heilige Gees nie, moet Hy die aangesig van die Here in groot erns soek totdat hierdie saak opgeklaar is.
B. KINDER DOOP: DOOP VAN ‘N BABA DEUR SY OUERS
In sommige kerke laat ouers hulle kinders (babas) doop deur hulle met water te laat besprinkel. Die dominee kondig dan aan dat hulle nou deel van “God se volk” geword het. So ‘n doop is onskriftuurlik en het geen saligmakende gevolg nie. Dit kan selfs sondig wees.
Hierdie gebruik het sy wortels in God se handelinge met sy volk Israel.
Wanneer ons die Bybel bestudeer, moet ons die posisie van Israel baie duidelik verstaan en veral die onderskeid tussen hulle as ‘n fisiese nasie en die geestelike volk van God. Laasgenoemde was nog altyd sy enigste werklike volk, burgers van sy hemelse koninkryk, sy wedergebore kinders en dit is nou nog so. Abraham was een van hulle want Hy het in God geglo en God het hom dit as geregtigheid gereken. Hy is deur geloof gered.
Sy nageslag was Israel genoem. God se bedoeling was om homself aan hulle te openbaar. Dit het Hy gedoen deur sy handelinge met hulle, bv hulle verlossing uit Egipte, die wette wat hulle van hom ontvang het, rein en onrein diere, offerandes, veral bloed offers van diere, die tabernakel en die priester-orde. Sy geestelike wette was in beeld of prentjie formaat aan hulle gegee en het ook bekend gestaan as skadubeelde van dinge wat nog sou kom. Die bloedoffers byvoorbeeld het heengewys na Christus, die Lam van God wat geslag is vir hulle sonde. Ons kan sê dat hulle ‘n prentjie Bybel gehad het waarin die Evangelie opgesluit was.
Wat belangrik is, is dat die blote feit dat iemand as ‘n lid van daardie uitverkore nasie gebore is, hom nie outomaties ‘n seun of dogter van God se hemelse koninkryk gemaak het nie. Om dít te kon word, moes die persoon weer gebore word, geestelik gebore word, net soos enige ander persoon. Ja hulle was natuurlik baie bevoorreg deurdat hulle omring was van Goddelike lering, maar dit het ook ‘n groot verantwoordelikheid op hulle geplaas om hulleself aan die enige God, die Skepper van die mensdom oor te gee.
Een van die bepalinge van dié lering was dat alle manlike kinders op die agtste dag na hulle geboorte besny moes word. Dit was om aan te dui dat hierdie kind fisies gebore is uit die volk Israel en daarom deel was van daardie volk.
‘n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte. (Gen 17:12).
Eerstens was dit ‘n uitwendige teken dat daardie seuntjie behoort het tot die fisiese vlees-en-bloed nasie van Israel en nie deel van die omringende heidense nasies nie. Wanneer ‘n baba besny moes word, kon dit natuurlik gedoen word sonder enige twyfel of Hy ‘n Israeliet was of nie. Hy was tog gebore vanuit ‘n sekere Israelse vader en dit het hom ‘n Israeliet gemaak; so hy moes dan besny word. Laat ons verder daarop let dat die geboorte van die seuntjie as ‘n Israeliet eerste gekom het en die besnydenis daarop gevolg – dit is vanselfsprekend want ‘n ongebore kind kon tog nie besny word nie. By die besnydenis sou die vader, bekend as ‘n Israeliet, bevestig dat hierdie seuntjie inderdaad uit sy saad was en daarom ‘n Israeliet.
Die geestelike betekenis en waarde van hierdie ritueel, was dat dit God se boodskap aan daardie kindjie en aan al die lede van sy familie was, dat hy en hulle weer gebore moes word deur die besnydenis van hulle harte deur die Heilige Gees – die sondige vlees wat geestelike vrugbaarheid verhoed, moes weggesny word. So sou hulle kinders van God se hemelse koninkryk word en dit sou gebeur wanneer hulle, hul vertroue in hom as hul God plaas. Hy sou dan hulle harte besny, ‘n geestelike besnydenis, en dit sou maak dat hulle sy kinders word.
Die meeste van hulle het egter nooit tot die punt gekom waar hulle harte geestelik besny is nie, hulle was heeltemal tevrede om lede van die fisiese nasie van Israel te wees en was trots daarop.
Net so is baie mense onder die indruk dat om ‘n lidmaat van ‘n Christelike kerk te wees, presies dieselfde is as om ‘n kind van God te wees.
C. KERKE WAT BABAS DOOP, FOUTEER IN VIER OPSIGTE
- Hulle kaap die besnydenis teken en pas dit toe op ‘n persoon wat waarskynlik nie ‘n Israeliet is nie en in elk geval nou lank na die afsluiting van Ou Verbond eers lewe. Die doop en besnydenis is vir twee algeheel verskillende doele gegee.
- Hulle span die kar voor die perde. Hulle doop ‘n kind en verklaar dat hy daardeur ‘n kind van God geword het, voordat Hy nog sy lewe aan die Here gegee het. Die ouers en dominee het op daardie stadium geen sekerheid of die kind ooit sy lewe aan die Here sal gee nie.
- Hulle gee eintlik vir die kind geen opsie of Hy aan God wil behoort of nie. Dit is vir God onaanvaarbaar want Hy wil vrye wil kinders hê en ‘n bruid wat haar eie keuse gemaak het en nie robots nie. God sal nie met hierdie mensgemaakte plan saamgaan nie. Dit is ‘n sondige gebruik. Hulle doen ook ‘n baie ernstige onreg aan die kind. Wanneer hy die ouderdom bereik dat hy besef dat hy ‘n sondaar voor God is en dat hy hom moet bekeer en Jesus as sy Verlosser aanvaar, speel die feit dat sy ouers hom gedoop en verklaar het dat hy toe reeds deel geword het van God se mense, ‘n negatiewe rol wat nou deur die duiwel gebruik word om hom te oortuig dat daar vir hom geen rede bestaan om tot bekering te kom en weer gebore te word nie. So leef hy dan nou in ‘n skemer wêreld van onsekerheid, jaar na jaar, en so sterf hy uiteindelik in sy sonde. Hy het homself op sy ouers se geloof verlaat wat is soos om ‘n huis op sand te bou.
En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot. (Mat 7:27)
Die Nuwe Verbond wat God met alle mense van alle nasies aangaan, het natuurlik ‘n ooreenkoms met die Ou Verbond wat Hy met Israel gehad het: eers die geboorte en dan die teken of belydenis.
(Miskien moes ek net hier byvoeg: Elke wedergebore ouer of ouerpaar, het die behoefte om hul kindjie voor die gemeente aan die Heer te wy. Daarom is daar gemeentes wat spesifiek voorsiening maak dat ouers hul kleinding na vore kan bring sodat hy of sy deur die Here Jesus geseën kan word soos wat Hy ook op aarde met kindertjies gedoen het (Luk 18:15-17). Die pastoor of leraar sal hulle dan gewoonlik in sy arms neem en hulle aan die Here opdra. Dit is volkome Skriftuurlik. Wanneer die kindjie veel ouer is en self vir Jesus as Sy Verlosser aangeneem het, sal hy hom, of sy haar, laat doop soos elders beskryf.)
D. GELOWIGES “SONDER” ‘N DATUM VAN GEESTELIKE GEBOORTE
Wat dan nou van hom wat verkeerdelik as ‘n baba gedoop is, maar nou glo dat Jesus vir hom gesterf het? So ‘n persoon moet tot bekering kom en weer gebore word net soos enige ander heiden wat die Evangelie boodskap vir die eerste keer hoor; daar is geen verskil nie. Hy moet homself die vraag afvra of sy geloof uit sy hart is en of dit gelei het tot bekering van sonde, wedergeboorte en ‘n veranderde lewensstyl (sien die studiegidse oor velossing (bekering, redding) en oor wedergeboorte).
Sommige sal aanvoer dat hulle nooit lelike goddelose lewens gelei het waarvan hulle hul moet bekeer nie en dat hulle sedert hulle kinderdae geglo het dat Jesus hulle Verlosser was. So wat hulle sê, is dat hulle net geleidelik, ongemerk, oorgedryf het vanuit die duisternis in God se geestelike koninkryk in, sonder dat hulle dit gewaar geword het, sonder dat hulle daarvan bewus was of dat hulle nie ‘n tyd en datum in die verlede kan kan herroep wanneer hulle onrustig was of besorg was oor die sondige toestand van hulle hart nie en met God gepleit het vir vergifnis en om aanvaar te word as sy kind nie.
Kon dit werklik op so ‘n sagte, rustige wyse gebeur het? Word die wedergeboorte dan nie vergelyk met ‘n fisiese geboorte wat ‘n baie traumatiese ondervinding is en gevolg word deur ‘n groot vreugde daarna, ‘n belewenis wat vir ewig onthou word nie? Is die verlowing van ‘n meisie aan haar bruidegom dan nie ‘n vreugdevolle gebeurtenis waarop of waartydens sy rondgaan en haar glinsterende diamantring aan haar vriende vertoon nie? Word ‘n vrou een oggend wakker en bevind haarself by ‘n man in die bed, sonder om te weet hoe sy daar beland het en aanvaar sy dan maar dat sy met hom getroud is sonder haar uitdruklike toestemming, sonder dat daar ooit vir haar gevra is om te antwoord of sy hom as haar man aanneem of nie? Kan ‘n mens vaders verruil? Kan hy die leuenagtige stelende, moordende duiwel ruil vir die heilige, eerlike, liefdevolle, Hemelse Vader sonder om daarvan te weet (Joh 8:44)? Kan ‘n mens vanuit ‘n pikdonker kamer oorstap in ‘n helder verligte banketsaal sonder om sy oë toe te knyp en daarna opgewonde te raak oor die verandering van omgewing (1 Pet 2:9?) Kan ‘n lyk uit ‘n doodskis opstaan, rondstap tussen die lewendes wat hom geken het, saam met hulle eet en met hulle praat sonder dat hy en hulle bewus raak van die feit dat hy lewend geword het (Ef 2:1)?
Aan die ander kant, kan ‘n baba die gebeure rondom of die datum van sy geboorte herroep? Is dit nie eerder dat die ouers weet dat hy hulle kind is, en hulle hom vertroetel, versorg en bewaar en dat hy geleidelik bewus raak van die feit dat hierdie mense sy ouers is nie en aan hulle gebonde raak op ‘n wyse wat hy nooit met ander mense sou doen nie?
Kan dít wees wat gebeur met kinders wat opgroei in ‘n Godvresende Godgerigte gemeente waar die Heilige Gees aanhou om na hulle uit te reik, alhoewel hulle nie sy kinders is nie, totdat hulle op Hom aggee en hulself uiteindelik, onherroeplik aan hom oorgee en weer gebore word?
Wat meer is: ‘n ware kind van God bekla dikwels sy ou sondige natuur in gebed, vra om vergifnis vir sy wangedrag en bely sy algehele afhanklikheid van sy liefdevolle Vader, Verlosser en Heilige Gees. Is dit nie voldoende bewys dat hy êrens in die verlede sy lewe aan Hom oorgegee het nie? Is dit dan werklik so belangrik dat hy die dag toe hy dit vir die eerste keer gedoen het, moet kan herroep? Is sy huidige staat of toestand meer belangrik as sy historiese datum?
Indien jy werklik ‘n kind van God is, het jy verseker ‘n datum waarop jy geestelik gebore is en ken God dit en is dit aangeteken in die Lam se Boek van die Lewe.
Nou dan, waar ons aan die einde van ‘n lang beredenering gekom het waar-in ek twee kontrasterende argumente aan jou voorgehou het, as jy nog twyfel, waarom beklink jy nie hierdie saak eens en vir altyd deur die sondaars gebed te bid wat voorsien is in die studiegids oor verlossing en jou dan te laat doop in ‘n eerbare gemeente of huiskerk nie? Daarna kan jy mos jou weg met vreugde in jou hart gaan soos die Ethiopiese kamerling na sy ontmoeting met Filippus en deur hom, met Jesus Christus?
……….