Gelykenis van die Saaier; Luk 8:4-15

Jes sower

HIERDIE DOKUMENT KAN GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD

Lukas 8:4-15

DIE REDE VIR DIE GELYKENIS

Om dié gedeelte mooi te verstaan, moet ons die voorafgaande drie verse ook eers lees om die agtergrond tot hierdie boodskap van die saaier te begryp.

Vergesel van sy twaalf uitgesoekte dissipels en ‘n aantal gelowige vroue wat na hulle fisiese behoeftes soos seker maar kos voorbereiding, wasgoed, ens. omgesien het, het Jesus deur die land rondbeweeg. Te voet het hulle van dorp tot dorp gereis, terwyl Hy die beginsels van Sy nuwe koninkryk geproklameer, siekes genees en duiwels uitgedryf het. Dit was ‘n kragtige, gesalfde bediening wat wyd en syd bekendgeraak en sekerlik in elke huis en op elke markplein druk bespreek was. Mense se belangstelling was geprikkel en duisende het toegestroom om Hom persoonlik te sien en te hoor. Hul kans van ‘n leeftyd.

Vir ‘n openbare spreker soos ‘n politikus, is ‘n groot skare van mense wat na sy vergadering opkom, altyd ‘n welkome gesig want dit bied ‘n geleentheid om sy saak te stel en kruisies vir verkiesingsdag te werf.  Sommige bedoel dit goed maar daar is dié by wie dit meer om mag en finansiële voordele gaan en nie eintlik omgee of die kieser daaruit voordeel sal trek nie.

Jesus self het egter vanuit ‘n ander hoek na die see van gesigte gekyk wat na Sy byeenkomste gestroom het. Hy was nie beïndruk deur die getalle nie, maar besorg oor die motiewe. Hy het gekom sodat die mens lewe in oorvloed kon hê; ware, egte lewe en lewensgenot, volhoubare lewe, nie net ‘n haastige kruisie of die opsteek van ‘n hand nie, maar ‘n oorgawe wat sou lei tot ‘n Goddelike soort van karakter wat vir ewig sou vasstaan. Sodoende sou Hy ‘n radikaal nuwe koninkryk vestig waarin elkeen reg en heilig voor God in liefde sou lewe. Die burgers van Sy nuwe koninkryk moes manne en vroue wees wat diep sou nadink voordat hulle Hom kies.

Daarom het Hy wat die hart van die mens en hul geskiedenis goed geken het, hierdie geweldige opkomste en belangstelling bevraagteken. Hulle wat daar saamgedrom het, was immers die nasate van Sy volk, Israel, wat vroeg en laat na die preke van Sy profete geluister,  maar dan huistoe gegaan en hul eie ding gaan doen het. Hulle het gehoor, maar nie geluister nie, gesien maar nie aggeslaan nie, sodat Hy hulle aan die heidene moes oorgee wat hulle in ballingskap weggevoer het (Luk 8:10b saam gelees met Jes. 6:9-13). En nou was dieselfde ding weer besig om te gesbeur.

Waarom was hulle daar? Was hulle gereed om te luister? Het hulle regtig ‘n behoefte gehad aan Goddelike lering of het hulle maar net uit nuuskierigheid gekom om sy wonderwerke te sien. Daarby sou hulle nie veel baat vind nie. Wat hulle nodig gehad het was selfondersoek, selfontdekking. Elkeen moes ‘n duidelike prentjie van sy geestelike status, sy stand voor God sien.

So vertel Hy toe vir hulle hierdie storie uit die alledaagse lewe; iets wat elkeen van hulle meermale al sien gebeur het. Vanuit dit waarmee hulle so goed bekend is wou hulle help om die geestelike prinsiep wat hulle nie verstaan het nie, te snap. Dit is ‘n heel eenvoudige verhaal van ‘n saaier wat saad gesaai het wat op verskillende soorte grond geval en waarvan sommige ontkiem en op hul beurt vrug gedra het, maar die ander nie. En … net daar eindig Hy Sy preek, roep hard uit: “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor,” en stap verder. ‘n Baie, baie kort boodskap vir so ‘n belangrike prediker en dít vir ‘n gehoor wat so vêr gekom het om na Hom te luister.

Daar was seker ‘n groot gebrom onder die skare terwyl die een vir die ander vra wat dit nou met hulle te doen gehad het. Dié wat na opwinding kom soek het, was veral terleurgesteld en vies oor die moeite wat hulle gedoen het om na Hom te kom luister en het weggedrentel om in die omliggende stalletjies lafenis of interessanter afleiding te gaan soek.

Maar daar was ook dié wie se belangstelling geprikkel was; hulle wat ernstig was met die dinge van God, wat dikwels daaroor nagedink en met mekaar daaroor gepraat en soms daaroor gestry het; hulle wat gebid en gesoek het. Dié sou by hulself gedink het: “Hy is tog ‘n besondere Man van God: Hy moet verseker met dié verhaaltjie iets baie belangriks aan ons wil oordra, daarom stel Hy dit as ‘n raaisel sodat ons nuuskierig moet wees en probeer om dit uit te pluis.” En so wás dit ook: Hy wou niks vir hulle verberg nie, niks goeds van hulle terughou nie, maar wou hê dat hulle hierdie waarhede self ontdek want, dít wat ‘n mens self ontrafel, beteken vir jou baie meer as wat jy met ‘n lepel gevoer word.

Sy dissipels was deel van laasgenoemde groep. Toe hulle nie by die antwoord kon uitkom nie, het hulle eenkant vir Hom gevra om dit tog vir hulle te verklaar en toe hulle gehoor en verstaan het, het hulle sekerlik onder die massas rondbeweeg en dit aan die groepies wat om hul saamgedrom het, verduidelik. Dié wat graag wou hoor, sou nie terleurgesteld huistoe gegaan het nie.

Kom ons kyk nou na Jesus se uitleg van die verhaal. Die kern van die verhaal het gegaan oor die verskillende groepe waaruit die skare bestaan het. Hoeveel groepe was daar: vier? Die pad-groep, rots-groep, doring-groep en goeie-grond groep? Nee die kruks van die verhaal is dat daar daardie dag en ook in die ganse wêreld en deur al die eeue, net twee groepe mense op aarde was: die wat aan God behoort en die wat nie aan Hom behoort nie. So eenvoudig as dit: net die goeie-grond groep en die ander-groep, die res  wat jy dan in verskillende soorte nie-Godsmense kan rangskik. Soos wat die akkertjie goeie grond omring was deur onvrugbare grond, was dié binne-in daardie grootte mensemassa wat aan Hom behoort het, waarskynlik in die minderheid en elkeen van hulle was voor hom, agter hom, regs van hom en links van hom in kontak met iemand wat, hoe wonderlik hy ookal voorgekom het, nie aan God behoort het nie. Dit is die punt wat Jesus wou hê dat Sy hoorders moes insien.

Dit wil nie sê dat die nie-Godsmense noodwendig besonder slegte mense was nie, want die ganse mensdom deel per slot van rekening maar dieselfde sondige natuur, net soos wat al vier stukke grond waarskynlik dieselfde tekstuur gehad het want hulle het immers reg langs mekaar gelê. Waarom dan het die saad net in die een deel gefloreer en nie in die ander nie? Om net een rede: omdat die saaier baie lank in die warm son bloed gesweet het om daardie akkertjie voor te berei vir Sy kosbare saad. Hy het dit geploeg en geêg, bemestingstowwe toegedien en weer en weer die opslaan onkruid uitgeskoffel en verbrand. Dít, en dít alleen was die geheim en is vandag nog die geheim waarom die Woord wat Hy op baie maniere oor ons uitstrooi, in sommige se lewens wortel skiet en nie in andere s’n nie.

Kom ons kyk byvoorbeeld na die grond met die dorings. Daarin sien ek myself tog so duidelik. Van kleintyd af het my ouers baie moeite gedoen om my op die regte pad te stuur en het ek die sondagskool, kinderkrans en eredienste bygewoon, maar so teen std. nege (vorm 11) se kant, was daar geen keer meer aan die dorings in my lewe nie. Hulle het behoorlik geblom en van al die goeie saad het niks gekom nie. Nie die katkisasie of aanneming, of die feit dat ek en die predikant se dogter saam gaan perd ry het, kon ‘n duit verskil aan my lewe maak nie. Waarom nie: omdat ek, net soos die ongeredde Israeliete wat daardie dag voor Jesus gestaan het, “die duiwel as vader gehad, ”en na sy advies geluister het. Dit sê ek vandag met skaamte. Tot op daardie stadium het ek baie saad ontvang maar nog nooit my lewe aan die Saaier oorgegee nie.

Kom ons dink nou net baie prakties, realisties, oor daardie drie stukke onvrugbare grond: kon die grond wat jare der jare vasgetrap was, die menigte voete wat daagliks oor hom geloop het, langs ‘n ander weg lei, sy eie kors opbreek, self bemesting versamel en homself so oopstel vir die saad? Onmoontlik!

Kon die vlak grond, die rotsbank in homself opbreek, die brokstukke wegry, die gate opvul en alles gelykmaak vir die saad? Onmoontlik!

Kon die grond wat jarelank al met dorings besmet was, homself daarvan reinig en dan wag op die saad sonder om weer, wanneer die eerste reëns val, blou te staan van die distels? Onmoontlik!

En tog probeer ons as mense om in eie krag en deur eie voorneme onsself te bevry van die harde kors wat oor ons gees opgebou het; van die rotsbank waarmee ons deur oorerwing in die wêreld gekom het, van die dorings wat ons jarelank al self in ons lewens gekweek het deurdat ons oor en oor toegegee het aan dit wat ons geweet het nie goed is vir ons was nie. Is dit nou realisties om te verwag dat hierdie grond deur ‘n ewolusie proses of deur selfverbetering in ‘n lowergroen akker omskep kan word. Ons probeer inderwaarheid God se werk in ons lewens doen en dit is waarom ons so gedurigdeur misluk, terwyl ons sien hoedat andere geestelik verander, anders doen, anders praat, anders dink oor alledaagse dinge.

Maar is ek dan enigsins skuldig as ek so totaal magteloos is; is dit nou nie maar my geaardheid en my lot om so te wees nie? Hoor wat sê Jesus: ‘n gedeelte van die saad het op die pad geval en ‘n gedeelte op rotsagtige plekke, ‘n deel tussen die dorings en ‘n deel in die voorbereide grond. Niemand sal kan sê dat die Here andere bevoordeel en hom of haar afgeskeep het nie; nee, elkeen het sy deel gekry. Maar omdat ons harte nie ontvanklik was nie, is die kosbare saad op ons verkwis en het die Saaier geen opbrengs daaruit gekry nie.

DIE OPLOSSING

Genoeg van die probleem; is daar nog iets aan te doene? Miskien nie vir die fisiese lappies grond nie, maar vir ons lewens, ongetwyfeld, ja. Ons is mense, ons kan ‘n keuse uitoefen wat die almagtige God van hemel en aarde sal eer. As ons Hom hier en nou kies en ons lewens onvoorwaardelik aan Hom oorgee,  sal ons nooit weer dieselfde wees nie. Hoor Sy beloftes:

Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” (Jes 1:18)

En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.  (Esg 36:26,27)

Die eerste belofte gaan oor die vergifnis van ons sonde en die tweede oor die nuutmaking van ons lewens en albei handelinge is ‘n werk van God omdat Sy Seun Jesus jou land, jou lewe aan die kruis gekoop het en nou net wag dat jy dít wat aan Hom behoort aan Hom oorhandig. Die grond rondom die vrugbare akker het waarskynlik ook aan die saaier behoort, maar was nie aan hom oorgegee om bewerk te word nie; dit was die verskil.

Jesus het ‘n geestelike implement of middel vir elke land; ‘n “ripper” (korsbreker of êg) vir die pad, lugdrukbore vir die rotsbank, onkruiddoder vir die dorings. Duisende jare al ruim hy mense se lewens op; Hy het raad vir elke kwaad.

DIE PAD-GROND

Miskien is jou hart so hard soos ‘n pad waaroor baie voete gedurig loop. Baie voete, spreek vir my van baie mense wat daagliks oor die saailand van my lewe stap en elkeen hul deel bydra om die grond vas te trap totdat dit hard getrap is, kliphard soos ‘n pad. Ek het self al met grond te doen gekry wat so hard gekompakteer geraak het, dat ek selfs met ‘n pik skaars ‘n merk daarin kon slaan.

As my hart só lyk, is ek heeltemal vasgevang in my daaglikse lewe. Daar is hopeloos te veel voete in my lewe. Ek het soveel vriende en soveel besigheidsvennote en dien op soveel rade en hulle almal praat so baie met my dat ek hard gepraat is en geen geestelike woord ‘n kans het om deur hierdie kors van my denke te dring nie. Ek verstaan ook nie die dinge van die Here nie. Dit is vir my so onlogies, ek kan dit nie glo nie en ek het ook nie die tyd om daaroor na te dink nie, want daar is hierdie grootpad met al die baie voete wat dwarsoor my akker loop. (Daar lui my selfoon nou alweer … verskoon tog dit is ‘n dringende oproep van oorsee.) As daar nog ‘n paar saadjies Skrif per toeval deur die radio by my een oor ingesaai word terwyl ek op pad werktoe is, steel die duiwel dit dadelik  by die ander oor uit. Nee, ek is ‘n besige man met baie verpligtinge. Tyd vir God? Nee, nee ek het net te veel hooi op my vurk; miskien eendag as ek afgetree het. Die Here moet maar my posisie verstaan.

(Woorde en gedagtes wat ons van God ontvang, is baie kosbaar maar as dit onbenut in die brein lê, vervaag en verdwyn dit.)

DIE ROTSBANK-GROND

Of dalk is jou lewensakker soos ‘n yslike rotsbank wat deur ‘n dun lagie vrugbare grond bedek word.

Hierin kan ek met jou saamvoel. Na baie jare wat ek met die Here wandel, ly ek nog onder my oorgeërfde haastige geaardheid wat alles sommer nou en hier wil afhandel – gejaagdheid. Selfs wanneer ek deur die Gees van God gelei word om iets vir Hom te skryf, raak ek oorhaastig en luister nie mooi wat Hy vir my sê nie. Ek is nie altyd ‘n pen in Sy hand nie maar glip sommer maklik uit en skryf my eie storie totdat ek agterkom dat ek nou nie meer Sy teenwoordigheid beleef nie. Dan moet ek oorskryf. So verloor ek eintlik tyd. Maar daar is mos ‘n spreekwoord: “Hoe meer haas, hoe minder spoed,” so dit lyk my daar is andere wat kan saampraat. Gejaagdheid lei tot ‘n gedurige gevoel van onvervuldheid wat selfs kan oorgaan in depressie. Alhoewel ek nog nie volkome oorwinning hieroor het nie, beleef ek tog ‘n nuwe vryheid wat die Here vir my bewerk en wat ek tevore nie geken het nie.

Jy, ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste! Kyk, Ek lê jou stene in sierklei, en Ek grondves jou in saffiere; (Jes 54:11)

‘n Ander rotsbank wat my genot gesteel het, was die kwaadwees vir mense wat nie eers geweet het dat hulle my omgekrap het nie. Oor en oor het ek in my gedagte met hulle baklei totdat ek stokflou was. Ons elkeen het sy eie geestelik oorgeërfde rotsbanke: ‘n dinamiet humeur, ‘n geweldige sterk wil wat altyd sy eie ding wil doen en hom nie deur mens of God wil laat oorheers nie, jaloesie wat jou verhouding met jou huweliksmaat versuur, ens., maar neem die Here op Sy belofte soos hierbo aangehaal uit Eseg 36:26 en 27 en sien hoe Hy jou rots laat verdwyn.

DIE DORINGS VAN BEKOMMERNIS

Dan, sê Jesus, is daar ook die saad wat tussen die dorings geval en mooi opgekom het, maar toe verstik is deur die sorge van die lewe, rykdom en plesiere.

Dat rykdom en plesier my geestelike lewe skade kan berokken, dit is te verstane, maar sorge, bekommernisse! Dra ek dan nie reeds swaar genoeg daaraan nie? Nou moet ek nog hoor dat dit op die koop toe sonde is om te stres. Nee, Hy blameer jou nie, Hy was ook mens en verstaan jou stryd. Hy wil help. Hy wil jou stres heeltemaal wegneem. Hy sê:

”Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal vir julle rus gee …” (Mat 11:28).

Hy wil die swaar juk van jou skouers aflig dat jy weer kan asemhaal en die plantjies van geestelike vreugde in jou lewe kan blom. Hy wil ‘n huppel in jou stap bring:

Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal.(Mal 4:2)

‘n Gedurige frons op jou voorkop, is net soveel van ‘n doring wat jou geestelike lewe verstik, jou  verwagting dat goeie dinge jou inwag, doodgroei, as wat aardse skatte en losbandige plesiere is. Daarom sê die Skrif:

Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.  (1 Pet 5:7)

As daar iets in my lewe is waaroor ek spyt is, is dit dat ek soveel lekker in my lewe misgeloop het omdat ek my verknies het oor dinge waaraan ek niks kon doen nie en wat die Here tog mettertyd reg laat uitwerk het.

DIE DORINGS VAN TE VEEL DANS EN DOLLARS

Maar kom ons kyk dan nou ook na die skatte en plesiere. Die duiwel se aanklag teen God in die Paradys toe hy met Eva geredekabel het, was juis dat die Here suinig was en die beste van die mens weerhou het; ook dat Hy ‘n pretbederwer was wat nie toegelaat het dat hulle van die lekkerste vrugte in die Tuin eet nie. Wat ‘n leuen! Wie het dan die goeie dinge gemaak: die goud en diamante;  die duiwel of God? Natuurlik was dit die Here wat dit onder die aarde se oppervlak weggebêre het sodat die mens dit as ‘n verrassing kon ontdek.

Goud, materiële seëninge, is ‘n gawe van God waarmee ek in my familie se redelike behoeftes kan voorsien en waarmee ek Hom kan dien  maar dit is wanneer my goue bates verander in ‘n goue kalf en dan in ‘n goue god, dat ek diep in die pekel is. Die grootste verlies wat ek kan ly, is nie om op een slag al my opgehoopte bates te verloor nie, maar om my goud so ywerig vir myself te versamel dat ek my siel verwaarloos en op ‘n dag moet sien hoe dit vir ewig oor die afgrond tuimel.

Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?(Mat. 16:26).

Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.” (Spr 4:23)

Net so geniet die Here dit om te sien dat ons ‘n potjie tennis, golf of ‘n fietswedren geniet, maar wanneer my plesier in ‘n pendoring ontaard wat dreig om die brose ballon van my lewe stukkend te steek, moet ek sommer dadelik my rakket, golfstokke of fiets aan ‘n balk in die motorhuis ophang totdat ek eers weer my balans herwin het. “Te veel van ‘n goeie ding is ook nie goed nie”. Koue turksvye uit die yskas is heerlik, maar oppas vir te veel … .  My grootste  genot moet altyd my omgang met my God wees, dan sal die ander genietinge net die lewe vir my soveel lekkerder maak.

“ … en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.(Ps 37:4)

DIE “LEWENDE” GROND

Die goeie nuus waarmee hierdie verhaal afsluit, is dat daar ook ‘n deel van die saad is wat in goeie grond val. Hier floreer dit en lewer ‘n reuse oes op, tog is daar geen aardse oes wat met ‘n geestelike oes tred kan hou nie. Wanneer my hart ontvanklik is vir God se Woord-saad dra dit die besonder soet, sappige vrugte van vrede en vreugde. ‘n Mens met ‘n goed bewerkte hart-land, is ‘n blymoedige opgewekte mens en boonop is hy besig om skatte hemeltoe te stuur waarvan hy daar vir altyd die voordeel sal geniet.

GOD’S HULP IN PLAAS VAN SELF-HELP

Te veel voete; te veel klip, te veel dorings. As dit so is met my, is daar nog raad vir my? Ja, en sommer goeie raad ook!

Kom ons kyk weer na die gewone lewe. Ek weet van ‘n boer wat jare gelede met suikerriet begin boer het, ‘n tipe boerdery waarvan hy niks geweet het nie. Hy het uit die staanspoor besef dat sy kanse op sukses maar skraal was. Sy oplossing was om gedurig maar die foon op te tel en die hulp en advies van die destydse baie bekwame landboubeamptes in te roep. Hulle kon elke siekte of tekort diagnoseer en ‘n gepaste middel daarvoor aanbeveel. So dan het die onkundige boer een van mees suksesvolle boere in sy omgewing geword.

Waarom sukkel jy dan so om jou geestelike probleme met jou eie kundigheid en in jou eie krag te oorkom? Ons het mos ‘n hemelse Landboubeampte wat presies weet hoe om jou geestelike boerdery op dreef te kry. Gaan klop aan Sy deur, praat met Hom, vertel Hom hoe Sy saad in jou lewe vermors word en jy sal verbaas  wees hoe gou jy weer ‘n groenigheid op jou land sal sien uitslaan.

Maar onthou: dit is volkome waar dat dit Hý is wat die hart van klip uit jou binneste sal wegneem, maar Hy sal nie ‘n groot sterk engel met ‘n lugdrukboor stuur om daardie rots op te breek nie. Hy sal jou bemagtig om met Hom saam te werk. Jy sal moue moet oprol en die hamer van Sy Woord vasvat en daardie rots dag vir dag peper totdat dit middeldeur kraak en dan verder en verder verbrokkel. God se hamer beskik oor bomenslike krag:

 Is my woord nie só, soos ‘n vuur, spreek die HERE, en soos ‘n hamer wat ‘n rots vermorsel nie?(Jer 23:29)

God se Woord-vuur, verbrand ook die doringstoppels tot as en vernietig selfs die saad sodat dit nie weer opslaan nie, maar jy moet die vuur aan die brand hou deur gedurigdeur die Woord te lees en te bepeins.

Dat dit soms baie pynlik en vermoeiend sal wees, is nou maar net so. Niks wat die moeite werd is, vra nie vir opoffering, aanhoudende opoffering nie. Om die “voete” te verminder sal die Here dalk toelaat dat jy vriende of besigheid verloor, maar jy sal daarsonder kan klaarkom. Om die rots opgebreek te kry, sal jy sommer baie tyd met God op jou knieë moet deurbring; aanvanklik skuldbelydenis, maar daarna lofprysing en soete gemeenskap, dit is wat werk.

Die oormatige tyd wat jy aan jou werk bestee? Jesus se raad aan die ryk jongman was om sy eiendom sommer aan die armes weg te gee. Daarvoor sou hy ‘n batebewys kry wat hy eendag in die hemel sou kon wissel (Luk 18:22). Raak ontslae van dit wat skadelik is vir jou en jou familie se geestelike groei.

Die bekommernisse moet jy op Jesus werp (gooi) (1 Pet 5:7) en die skadelike plesiere kan jy mos maklik self inkort. Maak nie saak wat jou probleem is nie: vir alles het Hy raad. Die oplossing is absoluut binne jou bereik, in jou hande. Die Landboubeampte staan gereed: Jy moet net vir Hom ja sê. Waarom nie?


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → SAAIER . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha