DOKUMENTE KAN GRATIS VIR PERSOONLIK GEBRUIK AFGELAAI WORD
Lees asb Lukas 7:1-10
Kom ons kry eers die feite van die verhaal agtermekaar. Dieselfde relaas is ook in Matt 8:5-13 opgeteken en gee bykomende inligting. Lees ons die twee saam, blyk dit dat die hoofman aanvanklik ‘n aantal Joodse leiers na Jesus gestuur het om Hom te oorreed om te kom om sy siek slaaf gesond te maak. Jesus gee toe gehoor aan die versoek en begin om die rigting van die huis te stap, maar op pad kom ‘n aantal diensknegte wat later deur die hoofman vooruit gestuur was, Jesus tegemoet en sê die hoofman het laat weet dat dit nie nodig was dat Hy self kom nie, maar dat Hy net ‘n paar woorde van gesag kon spreek om die sieke te genees. Dan kom die hoofman self ná sy diensknegte by Jesus aan en herhaal wat hy deur hulle laat weet het.
Dié man was ‘n belangrike staatsamptenaar, ‘n bevelvoerder oor ‘n 100 soldate, ‘n man met mag, sosiale status en aansien in die gemeenskap.
Hy was ook ‘n diep godsdienstige persoon. Hy het geglo in die God van Israel, alhoewel hy nie ‘n Israeliet was nie. Die Heilige Gees het aan hom die waarheid van die Skrif geopenbaar en hy het dit geglo. Hy het begryp dat daar net een God was en was gewillig om Hom te dien al was dit hom nie beskore om al die godsdienstige voordele te geniet nie.
Sy geloof is deur sy dade weerspieël. Baie staatsamptenare misbruik deesdae hulle posisie om te sien hoeveel hulle uit die publiek kan kry. Hulle beroof die mense wie hulle eintlik moet dien en beskerm. Daarom vrees sommige lede van die publiek ‘n polisiebeampte in plaas daarvan dat hulle veilig voel wanneer hy naby is. Hierdie hoofman was egter in guns by die gemeenskap. Hy het sy rykdom gebruik om ‘n sinagoge (kerk) vir hulle te bou.
Mense wat God liefhet, geniet dit om hul oorvloed met andere te deel, maar die selfsugtiges probeer soveel moontlik vir hulself inpalm.
Hierdie amptenaar was nie net lief vir die mense van sy gemeenskap nie maar ook vir sy diensknegte en toe een van hulle ernstig siek word en besig was om te sterf, het hy alles in sy vermoë gedoen om hom by die regte geneesheer te kry sodat sy lewe gered kon word.
Hy het ook nie net in God die Vader geglo nie, maar ook in Jesus, die Seun van God wat in die gestalte van ‘n mens gekom het om die mensdom uit sy lyding te verlos. So diep en eg was sy oortuigings dat hy sy geloof skaamteloos in die openbaar bely het, sonder om te wonder wat ander van hom sou dink. Hoor wat sê hy: “Here moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U te gaan nie; sê dit maar net met ‘n woord en my kneg sal gesond word. Want ek is ook ‘n man wat aan gesag onderworpe is, en ek het soldate onder my; en vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir ‘n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit.” Hy sien Jesus dus as die Seun van God en as ‘n groot koning wat die outoriteit het om te beveel dat siektes mense verlaat en gesondheid hulle deel word. Hy glo dat Jesus outoriteit het in die onsienlike, geesteswêreld, daar waar die mens geen gesag kan uitoefen nie. Hy het groter geloof gehad as die meeste mense van sy tyd wat as Jode gebore was en groot geword het.
Wat was Jesus se reaksie? Eerstens was Hy verbaas dat ‘n heiden soveel geloof in Hom kon hê. Hy gebruik hom as voorbeeld om die Jode wat Hom volg, skaam te maak. Hy sê, alhoewel Hy regoor die land gereis en duisende mense wat deel van God se volk was, ontmoet het, Hy nêrens so ‘n kragtige geloof gevind het nie. Hier was ‘n man uit die heidendom wat sy volle vertroue in Hom, die Seun van God gestel het.
Dit was die onweerlegbare waarheid. Baie van die mense wat by Jesus was, het Hom toe al oor ‘n lang periode gevolg. Hulle het saam met Hom die land te voet deurkruis en was getuies van baie wonderwerke wat Hy gedoen het. Hulle het gesien hoe Hy blindes weer laat sien, melaatses genees, vyf broodjies en twee vissies vermeerder om 3000 mense daarmee te voed en tog was hulle geloof nog so klein. Hulle lewens was soos kanne waarin iemand van vroeg tot laat besig was om water in te giet, maar wanneer hulle teen die aand se kant ‘n bekervol daaruit wou skep, was dit bykans dolleeg, nie eers genoeg vir hulself nie en niks oor om die dors van andere te les nie.
Is dit nie ook so met sommige van ons nie? Daar is die van ons wat jare lank al lede van die een of ander Christelike kerk is, wat ‘n lang pad saam met Jesus gestap en ‘n magdom kennis uit God se Woord vanaf Genesis tot Openbaring ontvang het; lidmate wat van al die wonderwerke wat Jesus gedoen, gelees het en selfs baie wonderwerke in hul eie lewens ervaar het, maar wie se geloof nie daardeur gegroei het nie. Baie male was ons siek en het Hy ons genees. Wanneer ons honger was, het Hy ons van kos voorsien en wanneer ons geld nodig gehad het, het Hy iemand gestuur om ons te help. Hy het ons geloof elke dag gevoed met bewyse van sy oorvloedige goedertierenheid en tog is daar weinig geloof opgevang in ons harte. Waarom so? Is dit omdat ons harte nie werklik oop was om geloof te ontvang nie of is ons soos gebarste bakke wat die geloof wat ons ontvang, die bewyse van God se goedheid, weer net so gou verloor? Het ons lekkende harte?
Jesus draai toe na die hoofman en sê: “Gaan, en laat dit vir jou wees soos jy geglo het.” (Matt 8:13) Hy het nie gesê: “Ek maak jou dienskneg gesond nie”, maar: “Laat dit vir jou wees soos jy geglo het.”
As Hy nou vir ons sou sê: “Laat met jou gebeur dít wat jy glo”, hoeveel sal ons ontvang? As ‘n mens ‘n glas onder ‘n kraan hou, sal jy met ‘n glas water daar wegstap, genoeg om jou eie dors te les, maar as jy ‘n groot glasbeker vol tap, sal jy genoeg water hê om in almal wat aan tafel sit se behoeftes te voorsien. Wat verwag ons van God? Ons verwagtings bepaal hoeveel ons ontvang.
Die hoofman het geglo dat Jesus sy dienskneg genees het en toe hy tuiskom, was hy inderdaad reeds genees. Dít wat hy geglo het, het hy ontvang. Sy geloof is beloon. Hy is nie beskaamd gelaat nie.
———-
VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → KNEG GENEES . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.
Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.