Genesing van ‘n Verlamde; Luk 5:17-26

Heal Man Roof

‘N VERLAMDE SE VRIENDE LAAT HOM OP ‘N DRAAGBAAR DEUR DIE DAK NA JESUS TOE AFSAK

DOKUMENTE KAN GRATIS VIR PERSOONLIK GEBRUIK AFGELAAI WORD

Lees Lukas 5:17-26 (Sien ook Matt 8:1-4 en Mark 2:1-12))

A. WAT WIL DIE HERE ONS DEUR HIERDIE VERHAAL LEER?

In die Bybel is die opskrif vir die verhaal: “Genesing van ‘n verlamde man,” maar anders as in die meeste ander genesingsverhale, gaan dit hier nie soseer om die persoon wat genees is nie, maar eerder oor die besonderse geloof van sy vier vriende en dan ook oor Jesus se outoriteit om sondes te vergewe.

B. “DAAR WAS KRAG VAN DIE HERE OM HULLE TE GENEES”

Kon die Seun van God dan net by tye genees? Nee, Hy kon dit te enigertyd doen, maar die vloei van goddellike krag vanuit die Troon van genade was nie altyd ewe sterk nie. Dit was ook gekoppel aan die geloof van die mens. In Násaret het Jesus weens die ongeloof van die inwoners, nie veel kragtige dade gedoen nie (Matt 13:58). Op hierdie dag, hier in Kapérnaùm, was daar ‘n reuse skare wat na Jesus se lering sit en luister het. Daar was ook ‘n besondere salwing en hoop, geloof en verwagting het soos ‘n vol rivier, breed en diep gevloei.

Onder die aanwesiges was daar ook ‘n plaat Fariseërs en Skrifgeleerdes wat van elke dorp van Galiléa en Judéa, ja selfs vanaf Jerusalem gereis het om na Jesus te kom luister en met hulle eie oë die wonders te kom aanskou wat onder Sy bediening plaasgevind het. Sommige van hulle het moontlik self ook gekom om deur Hom genees te word (sien v 17). Andere het weer waarskynlik hulle baarde sit en kou van frustrasie en jaloesie omdat hulle nie dieselfde mag tot genesing gehad het nie en daarom besig was om hul aansien en gesag as geestelike leiers te verloor. Van sulkes skryf Paulus in 2 Tim 3:5 “mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.” Om te “verloën” beteken iets soos om te sê: “Dit bestaan nie,” of om jou rug daarop te draai en dit te ignoreer. (Daar is deesdae steeds talle geestelike leiers wat maar langtand byt aan enigiets wat bonatuurlik is.) Terselfdertyd het hierde skare “geestelikes” net gesit en wag om ‘n hou vanuit die Wet teen Jesus in te kry en Hom te “ontmasker” as ‘n valse leraar.

C. WARE VRIENDE

Onder die groot skare was daar egter ook vier manne wat met totaal ander oë na Jesus gekyk het. Hulle geloof, aangewakker deur die atmosfeer van intense verwagting, het selfs nog vêr bo die ander mense s’n uitgestyg.

Sulke vriende is goud werd want daar is soveel negatiewe mense in die wêreld wat, wanneer hulle jou siek in die bed kry, ewe sedig vertel van ‘n familielid wat dieselfde simptome gehad, en dae later gesterf het. Andere weer vermy jou, te bang om aan te steek of bang hulle sal nie weet hoe om op te tree nie. In Ps 38:11(12) skryf Dawid van so ‘n onaangename ondervinding wat hy gehad het: “Die wat my liefhet en my vriende is, staan opsy vir my kwaal, en my nabestaandes het ver gaan staan; “ Daar is mos ‘n gesegde wat lui: “Wanneer jy lag, lag die wêreld saam met jou; maar wanneer jy huil, huil jy alleen.” Hierdie verlamde man was beter daaraan toe; hy het sommer vìer vriende gehad wat omgegee en by hom gestaan het; ware kamerade deur dik en dun. Boonop het hulle geglo dat Jesus vir alles ‘n oplossing het; dat Hy genade sou betoon selfs aan hulle ou maat wat nie altyd mooi in die nou paadjie geloop het nie.

D. GELOOF IN AKSIE

Dit wil voorkom asof Jesus aanvanklik buite, in die opelug besig was om die skare te onderrig, maar later in ‘n nabygeleë  huis of gebou ingegaan het. Van die mense het Hom gevolg en die gebou tot in die deur volgepak in ‘n poging om by Hom uit te kom en van hul kwale genees te word.

Die vier manne van wie ons vroeër gepraat het, kom toe met ‘n groot spoed daar aan. Hulle het vinnig gestap gehad en die sweet het hulle afgetap. Op ‘n draagbaar het hulle ‘n vyfde man gedra. Hy was totaal verlam en het hulpeloos op sy rug gelê, sy oë toegeknyp weens die skerp sonlig. Wat het dan gebeur dat hy verlam geraak het? Sonde; hy het op een of ander manier gesondig; hoe, weet ons nie. Dalk het hy gedrink en in ‘n bakleiery betrokke geraak en toe steek iemand hom met ‘n mes in die rugmurg of slaan hom met ‘n knopkierie oor die kop sodat hy verlam is. Sy sonde het hom ingehaal. Die dokters het net hulle koppe meewarig geskud en gesê: “Daar is geen mediese praktisyn op hierdie aarde wat jou kan laat opstaan nie, vriend. Jy moet maar aanvaar dat jy vir die res van jou lewe van ander afhanklik sal wees.” Moontlik het hy snags, wanneer niemand hom kon sien nie, in stilte gesnik en homself verwyt vir sy losbandige lewe en vir die lyding wat hy oor homself gebring het.

Maar hy het hierdie vriende gehad en dié het van Jesus gehoor, die Man van Galiléa wat wonderwerke kon doen: melaatses reinig, blindes laat sien en dowes laat hoor. Hulle besluit toe om hul maat na Hom te neem. Nou hoe kry ‘n mens ‘n lam man by Jesus? Hulle moes hom maar dra. Hulle maak toe ‘n draagbaar, lê hom daarop neer en vat die pad. Dalk het hulle met hom gehardloop omdat hulle nie geweet het hoe lank Jesus in die omgewing sou wees nie. Hoe vêr moes hulle hom dra? Dalk ‘n groot afstand – selfs vanaf ‘n naburige dorp. In Kapérnaùm moes hulle, hul pad vind tussen al die mense, donkies en kamele deur en aanhou pad vra om Jesus op te spoor.

Kom ons kleur die verdere verhaal in met so ‘n tikkie verbeelding en gee die vyf mans name. Die sieke noem ons Sondaar en die ander vier: Liefde, Hoop, Genade en Geloof.

Groot was die vyftal se teleurstelling toe hulle uiteindelik stokflou by die gebou aankom waarbinne Jesus was. Soveel mense het in die ingang saamgedrom dat dit nie vir hulle moontlik was om die man op die draagbaar tot binne by Hom te bring nie.

Sondaar bars in trane uit en roep droewig: “Daar is geen hoop vir my nie, ek gaan sterwe.” Hoop reageer daarop deur te sê: “Kyk, die oog van die Here is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goederierenheid wag;” (Ps 33:18) Toe voeg Liefde by: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie maar die ewige lewe kan hê.” (Joh 3:16) Genade kyk met deernis na hul maat en fluister: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” (Jes 55:7) Hierdie woorde het Sondaar gekalmeer en toe hy rustig word, vat Geloof die draagbaar stewiger vas, bekyk die gebou en roep uit: “Ek het gehoor dat Jesus gesê het: ‘Julle moet geloof in God hê. Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see — en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur—hy sal verkry net wat hy sê. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry'”. (Mark 11:22-24) Net daar bid hulle saam en vertrou God vir ‘n uitweg uit hul probleem.

Hoop begin wonder of die agterdeur van die gebou nie dalk oop was nie. Dalk moes hulle gaan kyk. So drafstap hulle uitasem om die gebou. Die agterdeur was egter stewig gesluit maar hulle ontdek ‘n stel trappe wat na die dak van die gebou lei. Die een kyk vir die ander en Hoop sê: “Kom ons gaan; dalk is daar nog ‘n ingang.” Dadelik beur hulle teen die trappe op met Sondaar bleek van vrees dat hy enige oomblik van die draagbaar sal aftuimel. Bo gekom is daar egter net die plat dak en niks anders te siene nie. Drie van hulle kyk mekaar moedeloos aan maar Geloof slaan sy oë op na die blou hemel daarbo en prewel: “Here, U het altyd ‘n plan.” Ineens kry hy ‘n ingewing. Hy kyk die ander een vir een stip aan en stel dan gedemp voor: “Kom ons maak ‘n gat in die dak en laat Sondaar met draagbaar en al afsak tot by Jesus”. Genade, Liefde en Sondaar snak na hul asems, maar Hoop gooi sy hande in die lug en juig: “Ja, dis die oplossing!”

Hulle begin toe met groot ywer met hulle kaal hande die dakpanne afhaal en die riete en klei oopbreek. Een twee drie was daar ‘n gat in die dak, groot genoeg om deur te loer en daar sien hulle Jesus reg onder hulle sit, besig om met die mense om Hom te praat. Van die stof en grond val op Sy skoot. Hy kyk ‘n bietjie verbaas op, glimlag en praat verder asof niks gebeur het nie. Die vier manne val die konstruksie nou met mening aan en soos wat die gat groter word, besef van die mense daaronder wat besig is om te gebeur. Hulle wil keer, maar so styf is hulle saamgedrom, dat niemand buite en op die dak kan kom nie! Magteloos en rooi van verontwaardiging moet hulle toekyk hoe die gat groter en groter word.

Daarbo werk die manne verbete en skielik is die opening groot genoeg om die draagbaar deur te laat. Elkeen trek sy bokleed uit en bind dit aan een van die vier hoeke daarvan vas. Dan laat hulle, hul vriend met opgehoue asem, stadig, versigtig afsak tot byna op Jesus se skoot. Nie ‘n woord word gepraat nie.

Die mense rondom Jesus is woedend. Hulle het die hele dag in die warm son in ‘n tou gestaan om hulle beurt af te wag om by Jesus uit te kom en hier kom druk hierdie mense sommer van bo af voor hulle in. Dan het hulle nog sowaar ook ‘n gat in ‘n ander man se gebou se dak ingebreek. Die polisie behoort ontbied te word! Boonop onderbreek hulle die Meester terwyl Hy besig is om hulle te onderrig. Het hulle dan geen maniere of respek nie!

Intussen lê Sondaar bewend op die draagbaar terwyl hy vreesbevange na Jesus kyk. Hy weet nie wat om te verwag nie. Sal die Here vuur uit die hemel laat neerdaal om hom te verdelg soos wat Elia gedoen het?

Jesus glimlag en skud sy kop van verbasing oor die vertroue wat hulle in Hom het. Hierdie manne glo nie net in sy krag om hulle vriend te genees nie, maar ook in sy liefde en genade; dat Hy hulle nie sal verwyt of wegstuur omdat hulle die dak beskadig het om hulle maat te help nie. Dan praat Hy medelydend met Sondaar en sê vir hom: “Mens, jou sondes is jou vergewe.”

Die Fariseërs se bloeddruk skiet gevaarlik die hoogte in en vra die een vir die ander: “Wie is Hy wat so godlasterlik praat? Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?” Jesus antwoord hulle bedaard: “Wat redeneer julle in julle harte? Wat is makliker, om te sê: ‘Jou sondes is jou vergewe’; of om te sê: ‘Staan op en loop’? Maar dat julle kan weet dat die Seun van die Mens mag het om op aarde sondes te vergewe – sê Hy vir die verlamde man: Ek sê vir jou: Staan op, neem jou bed op en gaan huis toe.” Hy staan toe onmiddellik voor hulle op, neem die bed op waarop hy gelê het, en gaan na sy huis terwyl hy God verheerlik. En verbasing het almal aangegryp, en hulle het God verheerlik en is met vrees vervul en het gesê: Ons het vandag ongelooflike dinge gesien.” (Luk 17:26)

En so het Sondaar sy draagbaar geneem en kop omhoog tussen die mense deur geloop en huis toe gegaan. Sy sondes was vergewe en sy liggaam was genees. Ek dink hy en sy vriende het daardie dag ‘n groot fees gevier. (Of hulle die dak weer reggemaak het? Dit weet ons nie!)

E. GOD SLAAN GELOOF HOOG AAN

In antwoord op Joshua se gelowige bevel aan die son en die maan daar bo in die hemelruim om tot stilstand te kom, het die Here die aarde op sy as laat stop. Toe Moses sy staf in geloof oor die Rooi see uitstrek, het God die water gekloof sodat Sy volk kon deurgaan. Toe Jona in die oseaan wegsink en seegras hom verstrik en hy tot God roep, beskik die Here binne sekondes dat ‘n groot vis hom insluk en op die land gaan uitspuug. Kom nou, vertrou tog die Here vir die onmoontlike sodat Hy die geleentheid kan kry om Sy mag en liefde aan jou te openbaar!

Deur middel van hierdie wonderwerke en deur ‘n mens sy sondes te vergewe, het Jesus bewys dat Hy die Seun van God is.

Op die draagbaar van gebed kan elkeen van ons iemand anders, ‘n deur sonde verlamde vriend of kennis na die Troon van God dra en dan terugstaan en sien hoe ‘n wonder voor ons oë plaasvind.


———-

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → LAMME GENEES . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha