Heilige Gees: Bedroef en Uitblus

DIE HEILIGE GEES BELIG DIE JESUS PAD

A. OM DIE HEILIGE GEES TE BEDROEF

En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing. (Ef 4:30).  

Die Heilige Gees het op die Here Jesus neergedaal, nie in die vorm van ‘n arend met dodelike  snawel en kloue nie,  maar soos ‘n duif (Matt 3:16). Hy is so teer van hart; Hy kan so maklik seer gemaak word deur ons onversigtige woorde of deurdat ons hom wegstoot wanneer Hy ons wil help om verdere stappe te neem op die pad van heiligmaking.

B. UITBLUS VAN DIE HEILIGE GEES

Blus die Gees nie uit nie. (1Th 5:19).

Die Heilige Gees is soos ‘n lig in ons gees. ’n Kers kan uitgeblus word deur dit dood te blaas of met jou twee vingers dood te druk. Alhoewel die Heilige Gees die Magtige Skepper is van hemel en aarde, sal Hy hom nooit op iemand af forseer nie en alleenlik dít vir ons doen wat ons hom toelaat om te doen. Hy is ‘n ware Heer.

Wanneer ‘n wedergebore Christen aanhou om hom te weerstaan, raak Hy bedroef en onttrek hom meer en meer tot in die verste hoekie van ons hart. Sy lig word gevolglik al dowwer en dowwer en ons raak al meer verhard sodat ons bykans enige sonde kan begaan sonder om daaroor na te dink of dat dit ons pla. Ons gewete raak afgestomp en onsensitief sodat die wonderlike werk wat Jesus in ons gedoen het, onwerklik skyn te wees. Dit vervaag tot ‘n vae herinnering; dit beteken niks meer vir ons nie.

Daarna is dit maar net nog ‘n klein stappie verder voordat ons hom uitdruklik ontken, hom willens en wetens verwerp. Ons kan daardie stap neem deur een of ander sonde te doen met die duidelike bedoeling om Hom te smaad. Ons kan dit ook doen deur van uit die diepte van ons hart nie meer in hom te glo as Jesus, die Seun van God, wat vir ons sondes gesterf en weer opgestaan het nie.

Dit wil sê, om ons verlossing te verloor is nie die resultaat van net meer en meer sonde te doen nie, soos byvoorbeeld deur te drink en rond te slaap totdat God genoeg gehad het en ons verwerp nie. Die sleutelwoord is OPSETLIK. Net soos wat ons hom vroeër van harte aangeneem het toe ons tot redding gekom het, net uitdruklik verwerp ons hom nou ook weer; dit is ‘n wilsbesluit en daad.

Wat sonde doen, is dat dit die weg baan na die punt waar ons redding niks meer vir ons beteken nie en ons dit laat vaar soos wat Esau gedoen het toe hy sy geboortereg vir ‘n bord lensiesop verkoop het (Gen 25:29-34). Wat ‘n verskriklike gedagte! Kyk net na die volgende vers:

Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? (Heb 10:26-29).

Die verbreking van ons band met God, kom van ons kant af, nooit van sy kant nie. Hy sal ons hand nooit laat los nie. Dit is ek wat my hand uit sy hand ruk. So ‘n persoon verloor sy verlossing en kan nooit weer gered word nie. Al wat vir hom oorbly is die ewige straf in die hel. Jesus sal nie ‘n tweede keer vir hom kom sterf nie.

 C. DIE DOPING IN DIE HEILIGE GEES

Hierdie onderwerp en ander aspekte wat verband hou met die werking van die Heilige Gees, sal behandel word in die studiegidse wat oor die mens handel.


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → HEILIGE GEES BEDROEF, UITBLUS. Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha