Die Hemel en die Paradys

DIE NUWE JERUSALEM

Om ‘n geheelbeeld en ‘n beter begrip van die bestemming van gelowiges te kry, moet hierdie hoofstuk saamgelees word met ‘n latere hoofstuk wat han-del oor die eindtye van die heelal.

A. HOEVEEL VERSTAAN ONS OMTRENT DIE HIERNAMAALS?

Om in die Woord vir ons te beskryf hoe die Paradys, die hemel en die nuwe hemel en aarde sal lyk, is nogal moeilik want die Here moes die mens se taal gebruik om dinge te beskryf wat alleenlik in ‘n ander wêreld bestaan.

Indien Moses byvoorbeeld vir die mense van sy tyd moes vertel van toe-komstige dinge soos televisie, selfone, vliegtuie, ens, sou hy dit moes ver-gelyk met dinge wat aan hulle bekend was. Om ‘n selfoon te beskryf sou hy miskien kon sê dat dit sal wees soos ‘n duif wat ‘n boodskap vanaf die berg Sinai na Ramses in Egipte neem in dieselfde tyd as wat ‘n mens sy oog een-maal kan knip. Selfs hierdie illustrasie sou nie die wonder van hierdie klein instrumentjie behoorlik kon beskrywe nie. Sou die leser die woorde letter-lik interpreteer, sou hy moes probeer om vir hom ‘n soort van super duif voor te stel. So ‘n vertolking sou net meer vrae laat ontstaan. ‘n Wyser leser sou dit eerder soos volg vertolk: “Moses sê dat teen daardie tyd sal daar ‘n manier wees om boodskappe na mense in afgeleë plekke in ‘n oogknip te stuur”.

Ons kan dus sien hoe moeilik dit was vir die profete, Paulus, Petrus en Jo-hannes, om die ewigheid te beskrywe in terme van konsepte wat aan ons bekend is. Ons moet gevolglik elke Skrifgedeelte sorgvuldig bestudeer om te sien of ons dit letterlik of figuurlik moet interpreteer, want ons kan na bei-de kante toe fouteer.

B. DIE PARADYS, DIE CHRISTEN SE TYDELIKE VERBLYFPLEK

Wat gebeur met ‘n Christen wanneer hy sterf? Hierdie vraag word duidelik beantwoord in Luk 16:19-31. Lees dit asseblief aandagtig deur voordat jy die volgende opmerkings bedink.

  1. Die waarheid omtrent die hemel/Paradys

Daar is so baie stories wat vertel word van mense wat beweer dat hul-le gesterf, hemel toe was en weer teruggekeer het en wat dan vertel van hulle ondervindinge. Hierdie verhale word opgeslurp en boeke wat daaroor handel, word by die miljoene verkoop om te bewys dat die Bybel die waarheid is, maar hulle weerspreek mekaar heel dikwels en moet liefs nie te ernstig opgeneem word nie.

Waarom nie eerder die Bybelse weergawe bestudeer nie? Die gedeelte van die Skrif waarna ons verwys het, is die absolute waarheid en is die werklikheid; dit is nie net ‘n gelykenis nie. Ons word vertel van twee werklike mense wat geleef en gesterf het en wat met hulle ge-beur het. Kom ons kyk nou wat mense na hul dood belewe.

  1. Die mens se gees verlaat sy liggaam

Net soos met alle ander mense wat sterf, het Lasarus se liggaam op aarde agtergebly want vlees en bloed kan die koninkryk van God nie beërwe nie.

Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onvergank-likheid nie. (1Kor 15:50).

  1. Sy gees is deur engele weggeneem na die Paradys

Sy dooie liggaam kon deur die honde wat sy wonde tevore gelek het, geëet gewees het, of dit kon op die ashoop buite die dorp gegooi ge-wees het, maar sy gees was weggeneem na anderkant die wolke, nie deur ‘n aardse lykswa nie, maar deur een of meer glorieryke engele, want hy was ‘n belangrik persoon, ‘n welbekende burger van die Ko-ninkryk van God; sy naam was in die boek van die lewe opgeskryf.

  1. Hy is na Abraham toe geneem

Op aarde was hy ‘n eensame man, want niemand wou so ‘n veragtelike persoon as vriend gehad het nie; verseker nie die ryk eienaar van die luukse woning voor wie se hek hy gelê het nie. Hy was verag deur een en almal maar nou was hy gesien vir wie hy werklik was, ‘n spesiale geëerde persoon aan wie ‘n sitplek gegee is, digby die Vader van gelo-wiges die vriend van God sodat hy teen sy boesem kon aanleun. Uiteindelik het hy ‘n baie spesiale vriend gehad wat geweet het wat dit was om van familie en vriende geskei te wees en wat die pyn daarvan geken het om geduldig op God te moet wag om beloon te word.

  1. Hy het troos ontvang en al die ander goeie dinge wat Christus vir hom deur sy kruisdood verwerf het

Op aarde het hy daagliks opgekyk na die ryk man en sy glorie; nou was hý op sý beurt die ryk man en het hy al die hemelse heerlikheid geniet.

  1. Sou hy die Here Jesus kon sien?

Niks spesifieks word oor hierdie aspek gesê nie, maar Lukas werp ‘n bietjie lig op hierdie saak in sy verhaal oor wat op Golgota tussen Jesus en ‘n rower gebeur het. Beide van hulle was binne ure vanaf hulle dood en in gesprek met mekaar. Jesus het daar aan hom belowe dat hulle op daardie selfde dag, saam in die Paradys sou wees.

En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. (Luk 23:43).

As die rówer dan saam met Jesus sou wees, is dit ‘n billike afleiding om te maak dat Lasarus ook na sy afsterwe by Jesus was en hom sou kon sien en, wat meer is, dat elke gelowige ook die oomblik wanneer hy op aarde sterf, met Jesus in die Paradys sal verkeer.

Maar hier is ‘n vraag: Na Jesus se opstanding het hy opgevaar na die hemel en as die hemel en die Paradys verskillende plekke is (sien die volgende paragraaf) beteken dit dat gelowiges wat nou sterf en na die Paradys geneem word, Hom nie sal sien nie. Die antwoord hierop is dat die Here Jesus alomteenwoordig is, nou, net soos deur die ganse ewigheid. Na sy opstanding het Hy bv aan baie gelowiges verskyn; net so kan Hy ook aan gelowiges in die Paradys verskyn. Aangesien daar so ‘n hegte band is tussen gelowiges en Christus is, is dit ondenkbaar dat Hy nie vir hulle in die Paradys toeganklik sal wees nie.

  1. Is daar ‘n verskil tussen die Paradys en die hemel?

Teoloë verskil hieroor. Sommige sê dat die Paradys ‘n plek is waar die liggaamlose geeste van Christene sal verkeer tot met die wederkoms van Christus, ten tyde waarvan hulle opgewek sal word met nuwe, verheerlikte liggame en in die eintlike hemel opgeneem sal word.

Wel of die Paradys nou tydelik is of te nie, dit sal ‘n plek van heerlik-heid te wees en as dit goed genoeg is vir Abraham, Elia en Moses is dit goed genoeg vir jou en my.

  1. Is die Paradys ‘n fisiese plek en waar is dit?

Is die Paradys ‘n fisiese plek of net ‘n toestand van heerlikheid? Eerstens moet ons in ag neem dat die mens se gees, net soos die gees van Abraham en dié van Lasarus, nie alomteenwoordig is nie. Hulle kan dus net op een plek op ‘n gegewe gegewe oomblik wees, daarom moet die Paradys sowel as die hemel beslis plekke wees wat met ons skepping verband hou.

Die paradys en die hemel mag die ganse heelal beslaan maar ten minste is hulle erns weg vanaf die aarde want na hulle word dikwels verwys as synde in ‘n opwaartse rigting en aangesien die aarde min of meer rond is, beteken dit weg van die aarde af.

en nadat Hy opgekyk het na die hemel, sug Hy en sê aan hom: Éffata, dit is: Gaan oop! (Mar 7:34).

Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, en nadat Hy opgekyk het na die hemel, seën Hy dit en breek dit en gee dit aan die dissipels om dit aan die skare voor te sit. (Luk 9:16).

En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem. En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, (Act 1:9,10).

  1. Hoe beleef die mens se gees die Paradys?

Geeste is daar herkenbaar die een vir die ander en ondervind dit soos in liggaamlike gedaante want Lasarus is daar vertroos.

  1. Slaap christene wat sterf nie maar net tot die dag van die wederoprigting van hulle liggame nie?

Beslis nie, want Jesus het aan die rower gesê dat hy op daardie selfde dag met hom in die Paradys sou wees en toe Lasarus gesterf het, het die engele hom direk weggeneem na die boesem van Abraham waar hy vertroos is (Luk 23:43 en 16:22).

Die woord “slaap” word figuurlik gebruik om die dood aan te dui (Joh 11:11). ‘n Slapende persoon is dood vir die wêreld om hom, net soos ‘n dooie persoon, in dié sin dat hy nie daarop reageer nie.

B. DIE HEMEL GOD SE VASTE WOONPLEK

  1. Onderwerpe waarmee ons reeds gehandel het

Die volgende aangeleenthede waaroor ons reeds hierbo besin het, is ook van toepassing op die Hemel/Nuwe Jerusalem en sal gevolglik nie weer bespreek word nie:

        • Dit is nie net ‘n toestand nie maar ‘n plek.
        • Waar dit is.
        • Slaap christene eers?

Laat ons dan nou na ander aspekte kyk.

  1. Die Hemel self

Die meeste van wat oor die hemel gesê word, word in die Boek Open-baring beskryf en sommige daarvan in Esegiël (afhangende van hoe jy daardie Boek interpreteer). Daar word egter nie soveel omtrent die hemel self gesê nie; dit handel meer oor gebeure daar gedurende die eindtyd as oor die plek self. Inderwaarheid word meer omtrent die Nuwe Jerusalem vertel as omtrent die hemel self.

Die volgende inligting word wel verstrek aangaande wie daar is:

        • God self (Open 4:2,3).
        • Die 24 ouderlinge (Open 4:4).
        • Die Heilige Gees (Open 4:5).
        • Die vier lewende wesens (Open 4:6-8).
        • Die Here Jesus (Open 5:6).
        • ‘n Menigte engele (Open 5:11).
        • Verloste mense vanuit elke stam, taal, volk en nasie (Open 5:9).
  1. Waarmee is hulle besig?
        • Die Vader onthul sy plan om die huidige dispensasie te beëindig en oorhandig aan die Seun die boekrol bevat-tende die voorskrifte met betrekking tot wat onder op die aarde sowel as bo in die hemel moet gebeur tot by die Wit Troon oordeel en die Nuwe Jerusalem daarna (Open 5:1).
        • Die Seun, wat die reg daartoe verdien het, breek die die boekrol se seël en stel die hele plan in aksie (Open 5:5; 6:1).
        • Die Heilige Gees en engele gaan voort om die plan ten uitvoer te bring (Open 6:2 ens).
        • Baie tyd word gewy aan aanbidding van die Vader en Seun deur die ouderlinge, lewende wesens, engele en verloste mense (Open 4:8; 5:8-14) ens. Hierin word die Here Jesus dikwels geloof vir sy werk aan die kruis.

C. DIE NUWE JERUSALEM

Voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het Hy vir sy dissipels gesê dat daar in sy Vader se huis baie wonings is en dat Hy sou gaan om vir hulle plek te berei (Joh 14:2,3) en daarna sou terugkom om hulle te haal sodat hulle ook kon wees waar Hy is. Dit wil voorkom asof hierdie nuwe woon-plek die Nuwe Jerusalem is.

(Lees asseblief Open 21:1-22:5 voordat jy die volgende opmerkings bekyk.)

  1. Dit word vergelyk met ‘n stad
        • Sy naam: die Nuwe Jerusalem

Jerusalem was die hoofstad van God se aardse koninkryk, die belang-rikste woonplek van sy mense; dit maak dus sin dat die ewige woon-plek van sy mense ook daardie naam sou dra.

        • Waarom word dit met ‘n stad vergelyk?

Dit word met ‘n stad vergelyk (21:2,10) omdat ‘n stad ‘n plek is waar miljoene mense saamgroepeer en saam lewe. Die stad wat beskryf word, is wel asemrowend mooi, maar ons moet nie verstom daarby bly stilstaan nie, maar dieper kyk na wat dit simboliseer. Die klem is op die mense wat daarin woon en nie op die mure, strate, geboue, ens nie.

Daarom word dit ook ‘n bruid genoem (21:9), natuurlik verwysende na die Bruid van die Lam, bestaande uit miljoene verloste, gereinigde mense .

        • Die boumateriaal en boukoste van die stad

Die ganse stad, insluitende die enigste straat, is van suiwer goud ge-maak, deurskynend soos glas (21:18,21). Die fondamente is elk versier met ‘n verskillende kosbare edelgesteente (21:18-20). Die poorte  be-staan elk uit een ontsaglike groot pêrel (21:21). Hierdie materiale is vir die mens óf onverkrygbaar óf onbekostigbaar. Dit alles is gawes wat die Hemelse Bruidegom vir sy bruid deur sy kruisdood gekoop het – absoluut uniek.

        • Die ingange tot die stad

Wanneer Israel kamp opgeslaan het, is aan elke stam ‘n spesifieke po-sisie om die tabernakel waarin God gewoon het, aangewys; so hulle was eweredig rondom die tabernakel versprei en het vrye toegang daartoe geniet. Die twaalf ingange tot die stad, drie aan elk van die vier kante wat elkeen die naam van ‘n stam gedra het (21:1,13) dui dus op die gelyke en ongehinderde toegang van al God se mense tot hom-self.

        • Die mure en die engele by die ingange

Beide verseker die inwoners dat hulle absoluut veilig is. Daar sal geen nodigheid wees vir hekke wat oop en toegemaak moet word nie want die inwoners sal die bonatuurlike beskerming van die Almagtige God geniet. Hoe anders nie as hier op aarde waar soveel van God’s kinders in vrees lewe nie.

        • Die stad is in die vorm van ‘n kubus waarvan elke kant dieselfde afmetings het

Hfs 21:16. Die lengte, breedte en hoogte van die stad is dieselfde. Die stad sal dus ‘n perfekte kubus wees, net soos die Allerheiligste in die tempel waar God gewoon het, ook was (1Kon 6:20). Hierdie gelyke lengte, breedte en hoogte verwys waarskynlik na die Drie-Enige God wat rondom sy mense is, hulle is almal in Hom. (In die aardse tempel het God se volk natuurlik eers toegang tot die Allerheiligste gekry nadat die voorhangsel geskeur is.)

        • In hierdie stad gaan dit net om God en sy mense

In die Bybel verwys die getal 12 na die volk (12 stamme) van God en hulle leiers. Let nou op hoeveel keer hierdie getal in hierdie Skrifge-deeltes voorkom.

            • Die 12 stamme van Israel (21:12) het betrek-king op die OT gelowiges.
            • Die 12 apostels (21:14) verteenwoordig die NT Kerk; so alle gelowiges is ingereken.
            • Die afmetings van die stad verseker dat al God se mense ‘n plek daar binne sal vind: die lengte van die mure word in Grieks aangegee as 12 000 “stadia” (21:16); die breedte is 144 el (dws 12×12) dik (21:17), die mure rus op 12 fondamente (21:19-20); en daar is 12 poorte in die muur (21:21).
        • Lig

Hfs 21:11; 22:4. Wanneer jy die stad nader, is jy gefassineer deur die kristalhelder lig wat daarvandaan af uitstraal. Daar is geen behoefte aan hemelse liggame soos die son, maan of sterre om dit te belig nie, ook nie aan straatlige of ligte in die wonings nie, want die Lig wat van God af uitgaan, skyn deur alles en belig alles en almal.

“Lig” word hier figuurlik gebruik en wys op lewensbeginsels, sy lief-desboustene vir ‘n volmaakte samelewing. Jy kan niks beter vir jouself doen nie, as om te doen wat Hy van jou vra – dws om in sy lig te wan-del. Daarom sal daar geen behoefte wees aan ander inligtingsbronne (ligbronne), gedagtes of riglyne waarvolgens om te lewe nie – geen “alternatiewe” lewensstyle nie. God se wil, soos weerspieël in sy Woord, is volmaak, nou, hier, maar ook daar anderkant in ons nuwe woning (Ps 119:96,99,105,140).

        • ‘n Rivier wat vloei met lewende waters

Hfs 22:1. Hierdie is ‘n rivier van lewe en vreugde. Wanneer die Heilige Gees in die hart van ‘n mens kom woon, bring Hy ‘n vloed van lewe en vreugde vir die siel. Dit is soos met ‘n reisiger wat deur ‘n dorre land-skap reis en skielik op ‘n fontein met helder, koue water afkom: hy skep en drink lang verkwikkende teue.

Vergelyk hierdie vers met dit wat Jesus vir die Samaritaanse vrou gesê het, naamlik dat Hy vir haar lewende water sou kon gee wat haar geestelike dors vir ewig sou les, want daardie water sou binne-in haar ‘n fontein word wat opspring tot in die ewige lewe (Joh 4:10,14).

En by ‘n fees in Jerusalem het Jesus uitgeroep:

En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uit-geroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; (Joh 7:37-39).

Dit verwys natuurlik na die Heilige Gees wat op Pinksterdag uitgestort sou word.

        • Die Boom van die Lewe

Hfs 22:2. Vergelyk dit met Gen 2:9. Toe die mens gesondig het, was hy nie toegelaat om verder van die Boom van die Lewe te eet nie sodat hy nie vir ewig sou lewe nie. Hy was afgesny van daardie lewe wat uit God vloei.

Ook in Esegiël vind ons ‘n beskrywing van hierdie boom en sy vrugte en blare (Eseg 47:12). Die vrugte gee lewe en die blare bring genesing vir die nasies. Esegiël vertel ook van vissers wat langs die rivier sal staan en visvang. Al drie hierdie dinge, die stroom, vrugte en blare kan dui op die Evangelie van God se genade wat van hom af sal uit-gaan en miljoene mense uit die mensesee van nasies sal genees en die ewige lewe aan hulle sal gee. Dit is ‘n stroom wat nou reeds vloei maar wat tot in ewigheid sal aanhou vloei en ‘n immergroen boom waarvan die vrugte en blare altyd vir God se volk beskikbaar sal wees, want ons sal tot in ewigheid gedurigdeur wil eet en drink uit die Bron van Goed-heid.

        • Geen sondaars en geen sonde nie

Open 21:8,9,27 en 22:15. ‘n Mens wil amper jou kop skud en sê, “Te goed om waar te wees”. Om nooit weer deur sonde versoek te word nie, nooit weer die drang te hê om jou eie wil te doen nie, nooit weer te ly onder kwetsende woorde van andere, of van die regering se versuim om reg aan jou te laat geskied in situasies waarin jy magte-loos staan om self iets daaraan te kan doen. Here, hoe sien ons nie uit na die Nuwe Jerusalem nie!

        • Niks sal deur God vervloek wees nie

Open 22:3. Aangesien daar geen sonde sal wees nie sal daar ook geen nodigheid wees vir iets of iemand om onder die Here se oordeel te wees nie.

        • Geen droefheid of trane nie

Hfs 7:17; 21:4. In sommige Bybel vertalings verskyn die woord, “trane” 28 maal. Ons aarde is ‘n planeet van droefheid en die eerste ding wat ‘n baba doen wanneer hy in hierdie wêreld inkom, is nie om te lag nie, maar om te huil. Hoeveel keer het jy al gehuil gedurende jou leeftyd, hoe dikwels moes jy al trane uit jou oë wegvee en dan maar net weer aangaan met jou lewe omdat daar geen ander uitweg is nie. Wanneer jy in die Nuwe Jerusalem aankom, sal die Here nie eers toelaat dat een van die engele die trane uit jou oë wegvee en van jou wange af afvee nie, nee, Hy sal dit persoonlik vir jou doen.

        • Om Sy aangesig vir ewig te sien

Hfs 22:4. Hierdie aspek is waarskynlik die hoof rede waarom ons in die hemel en in die Nuwe Jerusalem wil wees. Dit is nie die aanskou-likheid van die plek nie, nie die pêrels nie, nie die goue strate nie, maar die Persone van die Vader, Seun en Heilige Gees wat ons asem sal wegslaan. Die hemel is daar waar God is en daar waar God is, is hemel. Vir die eerste duisend jaar sal ons niks anders wil doen as om net by sy voete te sit en op te kyk in sy aangesig, want daarin is vol-heid van vreugde.

  1. Dit (die Nuwe Jerusalem) word vergelyk met ‘n bruid

Hfs 21:2. Hier, soos voorheen al vlugtig na verwys is,  verander die prentjie en word die mense van God gesien, nie as ‘n stad nie, maar as ‘n bruid. Nooit in die geskiedenis van die mensdom was daar ooit so ‘n pragtige bruid, of ‘n bruid wat so pragtig vir haar bruidegom versier was nie. Die Here Jesus se bruid was in die Paradys deur sy teenstan-der, die duiwel begogel, maar Hy het oor ‘n periode van meer as 6000 jaar vir haar geveg en haar teruggewen, een persoon op ‘n slag. Aan die kruis het Hy die finale oorwinning behaal en nou is die Hemelse Bruidegom en sy aardse vrou gereed om te trou. Halleluja!

  1. Dit word vergelyk met die tabernakel

Hfs 21:3. Toe Israel deur die wildernis getrek het, is die tabernakel waarin God gewoon het, altyd in die middel van die laer opgeslaan. Hulle was egter verhoed om in te gaan in die allerheiligste omdat Jesus nog nie die prys vir hulle sonde betaal gehad het nie, maar nou kon Hy ongehinderd met sy mense in gemeenskap leef.

  1. Geen tempel

Hv 21:22. Vroeër in die Boek Openbaring, word daar dikwels van ‘n tempel gepraat, maar nou is daar in die Nuwe Jerusalem geen tempel meer nie. Om tot God te mag nader, moes die priesters van die OT hul-self eers deeglik reinig, dan kon hulle in die eerste gedeelte van die tempel ingaan tot naby die Allerheiligste waar God gewoon het, maar nou sou daar geen verder behoefte aan ‘n tempel wees nie, want elke gelowige sou self ‘n tempel wees waarin God sou woon (2Kor 5:17).

  1. Belonings

Hierdie onderwerp word behandel in ‘n volgende hoofstuk oor die eindtye en wederkoms van Jesus.

D. DIE NUWE AARDE EN STERREHEMEL

Laat ons die volgende Skrifgedeeltes ondersoek:

En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johan-nes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die he-mel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. (Open 21:1,2).

  1. Die eerste hemele en aarde sal verby gegaan het

Hoe sal dit gebeur? Die apostel Petrus verduidelik:

Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die he-mele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. (2Pet 3:10).

Sodra die aarde ontruim is van alle menslike lewe soos wat ons tevore gesien het, sal dit algeheel deur vuur vergaan, tesame met elke hemel-se liggaam in die sterrehemel. Nie net sal voorwerpe op die oppervlak-te vernietig word nie, maar die liggame self sal vernietig word, selfs die atome, die boublokke waaruit die ganse ganse skepping saamgestel is. Die energie sal na God terugkeer en geen materie sal in die ganse skepping oorbly nie. Die skepping sal heeltemal ophou om te bestaan; alleenlik dit wat in die hemel en die hel is, sal voortbestaan. Dit kan naastenby vergelyk word met ‘n ster wat inplof op homself en ‘n blote stippel van materiaal met onbeskryfbare massa word.

  1. ‘n Nuwe hemel en ‘n nuwe aarde

Die eerste hemel en aarde was goed toe dit geskape is, hulle het eers later korrup geword en is vervloek as gevolg van die mens se sonde.

Sedert die sondeval het die skepping op baie maniere gely: dorings en distels, droogtes, siektes wat plante en diere aanval, natuurkatastrofes soos aardbewings, tsoenamies, ens en miskien meeste van alles, deur die mens se verwaarlosing van die eens pragtige planeet wat aan hom toevetrou was. God het die volgende daaromtrent gesê:

Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarma-king van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. (Rom 8:19-22).

Nou dat ‘n heilige nasie wat vir ewig so sal bly daargestel is, kan God ook die natuur vrymaak en voortgaan met sy plan om ‘n fisiese skep-ping onder die sorg van die mens daar te stel, want dit was wat Hy oorspronklik in gedagte gehad het en dit wat Hy hom eenmaal voorge-neem het, voer Hy uit, nieteenstaande dat sy planne tydelik in die wie-le gery is.

Die nuwe hemele waarvan hier gepraat word, is natuurlik die sterre-hemel en nie die hemel waar God woon nie, want daardie hemel is nooit deur sonde besoedel nie.

  1. Die Nuwe Jerusalem daal neer

Dit daal neer vanuit die hemel maar waarop daal dit neer? Dit daal neer op die nuwe aarde want daar is geen ander logiese antwoord as dit in konteks gelees word nie.

Ons het tevore gesien dat hierdie Nuwe Jerusalem nie soveel ‘n stad is nie, maar eerder ‘n konsentrasie van God se mense. Hulle kom nou om besit te neem van die woning wat die Here vir hulle berei het.

  1. Die Bruidegom en bruid in hulle nuwe huis

Die bruid is nou met haar hemelse Bruidegom getroud. In die volgen-de vers word die bruid vir die eerste keer die vrou van die Lam ge-noem.

En een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae, het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam. (Open 21:9).

Die bruilofsmaal van die Lam is reeds gehou (Open 19:7) en nou gaan hulle vir ewig ongestoord lewe. Beide die bruid en Bruidegom het deur groot beproewinge gegaan, maar nou geniet hulle die vrug van hulle leiding en arbeid.

Die mens sal nie meer ‘n seksuele wese wees nie en daar sal ook nie meer huwelike gesluit word nie aangesien beide die eertydse mans en vrouens as lede van die bruid met Christus verbind sal wees.

  1. Die mens se liggaam en sy bewegings

Na sy opstanding kon die Here Jesus aan mense verskyn, maar ook weer skielik verdwyn. Klaarblyklik kon hy ongehinderd van een plek na ‘n ander en vanuit een dimensie in ‘n ander in beweeg, want Hy het op verskillende plekke aan mense verskyn. Toe hy aan die 500 broe-ders tegelyk verskyn het, was hulle bymekaar of was hulle afsonderlik elkeen op sy eie plek (1Kor 15:6)?

Hy kon menslike voedsel eet – kon hy ook sonder kos bly? Hy kon op-vaar na die hemel. Daarom ontstaan die vraag wat ons vermoëns op die nuwe aarde sal wees?

Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. (1Jn 3:2).

Sal ons dan ook kan verskyn en weer verdwyn? Sal ons in staat wees om deur soliede materie  te beweeg? Sal ons in staat wees om die he-mel te besoek? Sal ons in staat wees om na die verste ster in die heelal in ‘n breuk van ‘n sekonde te reis? Dit sal ‘n uitkoms wees want selfs die spoed van lig (die hoogste spoed wat ons nou van weet) is hopeloos te stadig om sulke langafstand reise moontlik te maak. Hoe sal die nu-we hemel en aarde daar uitsien?

Wel ons het nie die antwoorde op hierdie vrae nie, maar dit open ve-seker opwindende moontlikhede. Ons sal beslis nie verveeld wees nie!

Vasbyt, dit is dalk sommer voor die deur!


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → HEMEL, PARADYS. Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha