Hemelse Wesens

ENGELE IS OOK GOD SE BOODSKAPPERS

A. GOD SE ONSIGBARE SKEPSELS

Tot nou toe het ons gekyk na God se fisiese skepping, die son, maan, sterre en die aarde waarop Hy geskep het, plante diere en die mens, maar Hy het ook die eindelose, onsigbare hemelse wêreld geskape waar Hy lewe, omring deur vier lewende wesens, ouderlinge en engele wat Hy ook geskape het.

Ons sal vervolgens die Woord ondersoek om meer inligting te bekom oor hoe hulle lyk en wat die hulle funksies is.

Wanneer ons in hierdie studie verwys na engele, sal ons nie die Engel van die Here (wat die Here Jesus Christus is) of die gevalle engel, die duiwel, daarby insluit nie. Daardie twee onderwerpe sal in afsonderlike hoofstukke behandel word.

B. DIE VIER LEWENDE WESENS EN DIE OUDERLINGE

Hulle eerste en belangrikste funksie is om God dag en nag te aanbid.

En al die engele het rondom die troon en die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan, en hulle het voor die troon op hulle aangesig neergeval en God aanbid en gesê: Amen! Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid! Amen. (Open 7:11,12).

C. ENGELE

  1. Karaktereienskappe
        •  Geskape wesens; deur God geskape.

want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. (Col 1:16).

        • Geestelike wesens.

Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie? (Heb 1:14).

        • Ewige wesens

maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie. Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is. (Luk 20:35,36).

        • Geslagloos en kan nie voortplant na hulle eie soort nie; elkeen is individueel deur God geskape.

Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel. (Mat 22:30).

        • Heilige wesens.
          • So geskape

Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele. (Luk 9:26).

God het die engele as heilige wesens geskape.

          • Uit eie keuse

En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neer-gewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. (Openb 12:9).

Toe die engel wat later die duiwel sou word, teen God in opstand gekom het, moes die engele kies of hulle hom sou volg en of hulle getrou sou bly aan God. Twee-derdes het God gekies as hulle God en Koning en hulle het hulle heilig-heid behou: so is hulle dus heilig uit eie keuse.

        • Emosies
            • Vreugde: hulle juig oor die redding van ‘n sondaar.

Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor nege en negen-tig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie. (Luk 15:7).

            • Verdriet en woede: dit word nie vir ons ver-meld nie.
        • Statuur
            • Heerlik en magtig (2Thes 1:7).
            • Kragtiger as die mens (2Pet 2:11).
        • Fisiese voorkoms.
            • Soos wat hulle in die hemel te sien is: heer-like gevleuelde wesens.

Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg. En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol! En die drumpelposte het gebewe van die geluid van die roepers, en die huis het vol rook geword. (Jes 6:2-4).

Deels weens die visie van hierdie engele is Jesaja met vrees oor-val as gevolg van die sonde van sy lippe.

            • Soos gesien op aarde.

Wanneer hulle die mens op aarde besoek, is hulle in staat om in ‘n gedaante te verskyn wat die paslikste is vir die geleentheid is.

              • Waar Abraham voor sy tent gesit het, het hulle as drie gewone reisigers aan hom verskyn.
              • Die engel wat die klip voor Jesus se graf weggerol het, het in die gedaante van ‘n hemelse wese verskyn (Mat 28:2-4).
              • Binne in Jesus se leë graf het hulle verskyn as twee jong manne in wit klere (Mat 24:1-4).
              • By Jesus se hemelvaart, het hulle verskyn as twee mans in wit klere (Hand 1:10).
        • Kennis
            • Om God te kan aanbid, moet hulle ‘n diep-gaande kennis van hom hê en aangesien dit juis is wat hulle meeste van die tyd doen, sal hulle kennis van hom ons s’n waarskynlik oortref.
            • Kennis van wat hier op aarde gebeur: Aangesien hulle hul verheug wanneer ‘n sondaar tot bekering kom, moet hulle be-kend wees met baie van wat hier op aarde gebeur.
            • Sekere dinge wat hulle nie weet nie:
              • Die misterie van die Evangelie (1Pet 1:12).
              • Die datum van Jesus se wederkoms.

Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen (Mat 24:36).

  1. Tipes en name
        • Serafs

 Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg. (Jes 6:2).

Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool in sy hand, wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het, (Jes 6:6).

        • Gerubs

 Maak ook twee gérubs van goud. Van dryfwerk moet jy hulle maak, aan die twee ente van die versoendeksel (Exo 25:18).

        • Aartsengele
          • Migael

Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou! (Jud 1:9).

          • Gabriël

Dan 8:16; 9:21; Luk 1:19; 1:26.

 En die engel antwoord en sê vir hom: Ek is Gabriël wat voor God staan, en ek is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie goeie tyding te bring. (Luk 1:19).

  1. Aantal en rangorde
        • Daar is ‘n ontelbare aantal engele in die hemel.

Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tien duisende van tien duisende en duisende van duisende; (Rev 5:11).

Sien ook Heb 12:2.

        • Die engele is opgestel in vlakke van outoriteit.

wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is. (1Pe 3:22).

  1. Toegang tot God
          • Die duiwel het vrye toegang tot God gehad (Job 1:6) totdat Hy neergewerp is en Christene het ook ononderbroke toegang tot God, waarom dan nie ook die engele nie?
          • Engele wat klein kindertjies bewaar, het gedurige toegang tot God; hulle sien die aangesig van die Here gedurigdeur.

Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is. (Mat 18:10).

  1. Die mens se verhouding tot engele
        • Hulle mag nie aanbid word nie (Open 22:8,9).
        • Hulle is dienende geeste wat deur God gestuur is om sy heiliges te bedien.

Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie? (Heb 1:14).

        • Ons kan nie die engele beveel om dinge vir ons te doen te doen nie. Selfs Jesus, gedurende sy leeftyd op aarde, sou sy Vader moes vra om engele te stuur om hom te bewaar, as Hy bewaring benodig het.

Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie? (Mat 26:53).

  1. Gevalle engele

Die leier van die engele, die duiwel, het in opstand gekom teen God en is uit die hemel neergewerp, tesame met die engele wat hom gevolg het.

Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hul-le in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word; (2Pe 2:4).

En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aar-de, en sy engele is saam met hom neergewerp. (Open12:7-9).

Funksies op aarde

        • God gebruik engele om dinge vir hom te doen.

Hy doen baie selde self fisiese dinge op aarde; Hy doen hierdie dinge deur sy engele, bv  om boodskappe oor te dra, teen vyande te beskerm; heiliges te versterk; ‘n grafsteen weg te rol vir twee vroue wat dit nie self kan doen nie. Aangesien ons deur bose geeste in die lug omring is, is ons waarskynlik ook omring deur talle kragtige, heilige engele. Kinders mag selfs spesiale besker-mende engele hê (Mat 18:10).

        • Voorbeelde van engele wat op aarde bedien.
          • Hulle het die Boom van die Lewe bewaak (Gen 3:24).
          • Lot en sy familie na veiligheid gelei (Gen 19:1-22).
          • ‘n Rol gespeel by Moses se ontvangs van die Wet van God (Gal 3:19).
          • Die verbondsark bewaak (simbolies) (Eks 25:18 ev).
          • Israel met ‘n plaag getref (2Sam 24:15,16).
          • Die Assiriese leër verslaan (2Kron 32:21).
          • Elisa in Dotan bewaar (2Kon 6:17).
          • God se boodskap aan Sagaria oorgedra (Luk 1:11-20) en aan Josef (Mat 1:23 en 2: 13,19,20) en aan Maria (Luk 1:26-38).
          • Aan die skaapwagters die boodskap van Jesus se geboorte oorgedra toe ‘n groot hemelse koor van engele ook nog lofliedere tot God gesing het (Luk 2:13-15).
          • Jesus in die woestyn bedien (Mat 4:11) en in Getsemané (Luk 22:43).
          • Lasarus hemel toe gedra nadat Hy gesterf het (Luk 16:22).
          • Petrus uit die tronk verlos (Hand 5:19 en 12:7).
          • Die klip voor Jesus se graf weggerol en die wagte op die vlug laat slaan (Mat 28:2).
          • Aan Maria Magdalena en Johanna verskyn by Jesus se graf (Luk 24:4-7).
          • Aan die dissipels verskyn en God se boodskap aan hulle oorgedra by Jesus se hemelvaart (Hand 1:10,11).
          • Aan Paulus verskyn en hom bemoedig gedurende die storm ter see (Han 27:23).
  1. Funksies in die hemelse sfere
        • Voorvalle
          • Jesaja se lippe aangeraak met ‘n brandende kool vanaf die altaar en daardeur sy skuld weggeneem (Jes 6:6,7).
          • Josia, die hoëpriester, beklee met ‘n kleed van geregtigheid (Sag 3:4).
          • Aanbidding van God.

Dit wil voorkom of die aanbidding van God is wat die engele meeste van die tyd doen en wat hulle ook die meeste geniet om te doen.

En al die engele het rondom die troon en die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan, en hulle het voor die troon op hulle aangesig neergeval en God aanbid en gesê:  Amen! Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid! Amen. (Open 7:11,12).

          • Bevegting van bose geeste wat oorlog voer teen God se mense.

Toe sê hy: Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet dan nou teruggaan om te veg met die vors van die Perse; en as ek heenge-gaan het, kyk, dan kom die vors van Griekeland. (Dan 10:20).

Hierdie heersers was bose geeste wat die gemelde nasies beheer het.

          • In die eindtye sal hulle op baie verskillende wyses diens doen bv: die aankondiging van elke nuwe fase van God se plan waardeur hulle dit wer-king stel; die uitoefening van oordeel oor sekere mense op aarde terwyl hulle andere verseël met ‘n merk op hulle voorkoppe sodat die oordeel hul-le nie sal tref nie; die werping van die duiwel in die bodemlose put, ens (sien die Boek Openba-ring).

D. LESSE VOORTSPRUITENDE UIT HIERDIE ONDERWERP

  1. Let op God se wysheid

Die Skepper van hemel en aarde het voorsien dat die mens sou val, baie swak sou word en gedurigdeur beskerming en versorging nodig sou hê. Hy kon dit natuurlik self met gemak verskaf het, maar dit is nie Sy manier om dinge te doen nie. Soos reeds gesê, verrig die Vader inderwaarheid baie selde self fisiese take. Hy delegeer sy werk aan andere. Sodoende het Hy engele aangestel om ons te bewaar totdat ons ook uit ons gevalle toestand sal oorstap in ons volle nuwe lewe van heerlikheid.

Gedurende hierdie studie het ons gelet op sommige voorbeelde van hulle nederige, maar ook magtige dade, deurdat hulle ons bewaar in ons stryd teen swakheid, siekte, die natuur en bose geeste, maar hier-die opgetekende voorvalle verteenwoordig net ‘n klein druppeltjie in die oseaan van dit wat hulle gedurigdeur vir die menslike wesens dwarsoor die aarde doen. Hulle is ons vriende, medewerkers en be-waarders. Hulle veg vir ons in hemelse sfere. Hulle reageer in ‘n ge-deelte van ‘n sekond om ons uit gevare te red. So, laat ons, ons verheug en moed skep om die wedloop van die lewe te hardloop want ons doen dit nie op ons eie nie; ons is nie alleen hierin nie.

  1. Engele is nie selfsugtig nie

Die engele is fassinerend. Ons as menslike wesens, selfs as Christene, vind soveel vervulling in selfgesentreerde aktiwiteite soos om ons toekoms te beplan, loopbane te bou en rykdom te vergader. Hulle eg-ter, vind hulle vreugde daarin om hulle Koning te aanbid en om sy be-geertes te vervul. Hulle is die perfekte diensknegte wat ook hul Heer se boodskappe aflewer, selfs al beteken dit dat hulle die hemel vir ‘n rukkie moet verlaat en na die vuil, stowwerige planeet aarde toe moet kom waar hulle dikwels nederige take vir die mens moet verrig soos om vleispasteitjies te bak vir die misrabele Elija, of om hulself bloot te stel aan die vernederende aanslae van bose mense soos in Sodom, waar die inwoners probeer het om hulle te verkrag. Sommige van hulle moet selfs oorlog voer met kragtige bose geeste. Soms moet hulle God se oordeel voltrek en duisende mense om die lewe bring.

Hulle weerspieël nie die karaktertrekke van die selfsugtige mensdom nie, maar eerder dié van die miere wat leef om hulle gemeenskap en hulle koning (koningin) te dien, en nie hulleself nie.

  1. Sal engele beloon word vir hulle onselfsugtige diens?

Aangesien, behalwe vir die aanbidding van God, die engele se akti-witeite rondom die mens sentreer en hulle ook ‘n rol speel in sy ver-lossing, sal hulle nie dalk ook daarvoor beloon word deur die nuwe aarde en sterrehemel met die verloste mensdom te mag deel nie? Na alles, Jesus is beloon vir wat Hy vir die mensdom gedoen het en is ver-hoog tot aan die regterhand van die Vader en al die koninkryke van die aarde is aan hom belowe.

As ons verder in gedagte hou dat die mens in die ewigheid geslagloos sal wees, dus meer soos die engele, en dus meer geskik om met hulle in een gemeenskap saam te kan leef, is die moontlikheid nie so ver-gesog nie. Op die oomblik natuurlik, kan ons nie met hulle meng nie want hulle is volmaak en heilig en ons as Christene, alhoewel verlos, voer nog ‘n stryd teen ons oorgeërfde sondige natuur.

Wel, hierdie is nou maar net verbeeldingsvlugte, maar dit is nogal ‘n aangename gedagte dat ons eendag in innige blye gemeenskap met ons vriende, die leermag van engele, sal kan saamleef.

Een van hulle mag dan selfs by jou kom sit en vir jou vertel hoe dat hy oor jou gewaak het gedurende jou leeftyd en baie stories vir jou vertel van oomblikke wat jy in gevaar verkeer het, maar nie daarvan bewus was nie en hoe hy jou daaruit verlos het, om nie eers te praat van wat hy vir jou kinders gedoen het nie.

  1. Het God miskien ook ander heelalle geskape?

Siende dat God hemelse wesens, engele, geskape het met lewenswyses algeheel verskillend van dié van die mens, dink jy nie dat Hy dalk ook ander heelalle en intelligente wesens buite die skepping waarin ons lewe, geskape het nie?

Laat ons maar wag en sien, ons het nou vireers genoeg om ons hier onder op die aarde mee besig te hou.


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → HEMELSE WESENS . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha