IN DIE BEGIN: GEN 1:1-5

A. INLEIDING

Genesis, die eerste boek van die Ou Testament, ongeveer 3400 jaar oud; waarom moet die mens van vandag so ‘n ou geskrif tog nog lees? Wel, om verskeie redes wat al duideliker sal word hoe verder jy lees.

Die voor die-hand-liggende rede is natuurlik dat dit vir ons duidelik uiteensit hoe ons as mens, en die planeet waarop ons woon, tot stand gekom het. Vir die wetenskap is dit nog steeds ‘n geheim wat ons voorste wetenskaplikes selfs met hul nuutste, asemrowende Alan Webb ruimteteleskoop nie regkry om te ontrafel nie.

Maar die tweede en nog belangriker rede, is dat dit ons ontsaglik baie omtrent ons Skepper leer. Hy is onsigbaar, maar sy werke kan wel gesien word. Genesis leer ons om noukeurig te let op alles wat Hy geskape het want Hy het dit juis só gedoen dat ons deur die bestudering daarvan meer omtrent Homself te wete kan kom.  Met daardie inligting tot ons beskikking, kan ons dan ‘n ingeligte besluit neem om Hom persoonlik te ontmoet en ons lewens onder sy gesag te plaas.

Ons kan dus grootliks baat by die bestudering van hierdie fantastiese Boek – eintlik is dit ‘n moet. So kom ons begin om dit te lees.

B. VERS 1 en 2a

 In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed

Ons lees van Iemand, ‘n Persoon, God. Hierdie woord, soos dit allerwee verstaan word, beskryf ‘n Wese oneindig groter as onsself, groter as enige ander wese, ‘n Persoon wat hemel en aarde uit niks kon maak want dit is wat die woord “geskape” beteken.  

In vergelyking met die ander hemelliggame wat die Heer later geskep het, is dit maar klein, maar as ek as mens met ‘n ruimtetuig sou opstyg en dit van ‘n paar duisend kilometer af bekyk, sou dit ‘n reusagtige stuk materie wees wat uit niks ontstaan het nie want sy deursnee is 12,742km en sy massa 5,972 X 1024kg.

As Hy dit kon doen, kan Hy enigiets doen! Wat ‘n verligting om te weet dat daar êrens ‘n plek is waar ‘n mens geholpe kan raak; dat daar Iemand is, na Wie toe ek met al my behoeftes kan gaan: my siekte, pyn, eensaamheid, vir ‘n dak oor my kop, kos in my bord en vir brandstof in my motorfiets se tenk – dan is daar tog hoop! Maar sal Hy gewillig wees om my te help? Later meer hieroor.

Ons kyk eers na nog twee woorde uit die teks:

  • Die woord, “Begin”: Het die Here die hemel en aarde op die eerste skeppingsdag geskape, dws op dieselfde dag as wat Hy lig gegee het, of verwys die woord na ‘n voeëre begin.
  • Tweedens die woord “Hemel,”: Watter hemel? Die Skrif praat later van drie hemele:
  • Die atmosfeer wat op die tweede skeppingsdag eers geskape is.
  • Die sterrehemel wat op die vierde skeppingsdag eers geskape is.
  • Die hemel waar die Here en sy engele en ander hemelwesens woon en wat ons nie weet wanneer dit tot stand gekom het nie.

As twee van die hemele dan nie op die eerste skeppingsdag geskape is nie, is dit seker ook moontlik dat die aarde ook nie op die eerste skeppingsdag geskape is nie. Daarom spekuleer sommige teoloë dat hierdie “begin” na ‘n vroeëre “begin” verwys en dat die aarde op die eerste skeppingsdag reeds geskape was. Na sy vroeëre skepping het dit om een of ander rede te gronde gegaan – so word vermoed. Alles daarop wat ordelik uitgelê was, het verval; alles wat van intelligente beplanning getuig het, het vergaan, daarom was dit nou woes; ‘n woesteny.  Alles wat moontlik vroeër daarop geleef het, het vergaan; daarom was dit leeg. So lê sommige Skrifgeleerdes hierdie teks uit.

Al wat oorgebly het was die boustene van grond, metale en minerale met die moontlikheid van ‘n kern van kokende lawa. Reg rondom hierdie reuse bol van klip en klei was daar ‘n baie, diep oseaan van kolkende stromende water, bedek met stoom wat as wolke daaruit ontsnap het.

Wat die prentjie nog donkerder maak, was dat hierdie kolos van materie verswelg was in ‘n onmeetlike poel van volkome duisternis. Hulpeloos, troosteloos, het die aarde daar in die niet gehang. Dit kon homself nie help of ontwikkel nie en wie tog sou in hom belangstel?

Of ons nou die moontlikheid van ‘n vroeëre skepping van die aarde voorsien, of glo dat dit ook op die eerste skeppingsdag deur die Heer geskape is, is nie so belangrik nie. Wat wel van kardinale belang is, is dat Gód dit geskape het en dat dit op die oomblik waarvan in hierdie teks gepraat word, in absolute duisternis gehul was.

 

C. VERS 2b

 , en die Gees van God het gesweef op die waters. 

Die Here doen niks terloops of onnadenklik nie. Elke ding wat Hy skape, is vir Hom waardevol, kosbaar. Hy wil hê dat dit die doel sal bereik waarvoor Hy dit geskape het.

Daarom was daar skielik beweging want God het die aarde nie vergeet nie. Die donkerheid waarin dit beland het, het hom nie vir die oë van sy Skepper verberg nie want vir Hom:

 is selfs die duisternis (vir U) nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig. (Psa. 139:12).

Daaom het Sy Gees van noord na suid en van oos na wes, op elke legte- en breedtegraad, reg rondom die aardbol oor die eindelose oseaan gesweef, soos ‘n arend wat die vlaktes daaronder verken. (Eintlik lees die teks dat Hy “op” die waters gesweef het – kontak met die aarde gehad het – soos die melaatse wat Hy aangeraak het (Mat. 8:3). Oor hierdie skepping van sy hande sou Hy Hom ontferm; vir hom het Hy planne gehad. Daaronder op sy oppervlak het Hy reeds vooruit plante gesien, bome met vrugte, kleurryke blomme, waters krioelende met visse, velde waarop ‘n menigte diere gewei het en blou lug waarin voëls van alle soorte gesweef het.

Wat leer ons hieruit: dat die Here vir elke mens wat na sy beeld geskape is maar in duisternis beland het, ‘n menigte van goeie dinge beplan soos wat Hy in Jer. 29:11 belowe:

Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle n hoopvolle toekoms te gee. 

Daar is geen donkerte waarin die mens homself kan bevind waarvoor die Here nie ‘n uitweg sien nie. Hoe onordelik en hoe leeg jou lewe ookal is, God het die antwoord. Hoe magteloos jy ookal is om vir jouself ‘n nuwe toekoms te kan bewerk, Hy sien moontlikhede waarvan jy nooit sou kon droom nie.

God het geweet dat die aarde niks sou kon doen om homself te verlig en te ontwikkel nie en dat Hy, sy Skepper alles vír hom sou moes bewerk, maar dit het Hom nie afgeskrik nie. Hy het selfs vooruit geweet dat Hy eeue later sy lewe aan ‘n houtkruis sou moes gee om die mense wat Hy sou skep van hul ellende te verlos, maar ook daardie grusame dood het Hom nie laat terugdeins nie.

Sien jy jouself in so ‘n posisie van totale onmag? Skep moed; daar is hoop.

Deur op die waters te sweef, het die Heer in geloof besit geneem van die aardbol. Eeue later toe die land Kanaän ingeval en verower moes word, het Moses twaalf verspieders uitgestuur om die stede, paaie, landerye en mense te verken en aan hom berig te bring. Tien van hulle was bang vir die inwoners en het geen geloof gehad nie, daarom moes die volk nog 40 jaar in die woestyn rondswerf voordat hulle nageslag hul beloofde land kon inneem.

God het egter geloof gehad in homself vir wat Hy met die aarde wou doen, maar het ons geloof in Hom vir wat Hy deur ons vir ons en vir andere wil doen? Ongeloof kan maak dat ‘n mens nie sy potensiaal waarvoor God hom geskape het, kan verwesentlik nie.

Op ‘n dag het die Here Jesus en ‘n vrou genaamd Martha voor haar broer se graf gestaan. Hy was al drie dae dood en sy het nie geglo dat Jesus meer iets vir hom sou kon doen nie maar Hy antwoord haar:

Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie? (Joh. 11:40).

Toe bewys Hy dit deur Lasarus uit die dood terug te roep sodat hy voor hulle oë uit die graf uitgestap het.

Baie van God se kinders se drome sterf en vergaan omdat hulle nie glo dat die Here die skynbaar onmoontlike vir en deur hulle kan doen nie. Hulle bereik die hemel in die hiernamaals, maar gaan sonder trofeë van wat hulle tot eer van God in geloof op aarde vermag het. Baie van hulle woeker nie met hulle talente nie, omdat hulle nie glo dat hul Heer goed is en die beste vir hulle wil doen nie.

En die een wat die een talent ontvang het, kom ook en sê: Meneer, ek het u geken, dat u ‘n harde man is wat maai waar u nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie; omdat ek bang was, het ek gegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort. (Mat. 25:24,25)

So moet ons tog nie doen nie. Laat ons eerder navolgers wees van ons Skepper God na Wie se beeld ons geskape is. Hy het wonderlike planne gehad vir die aarde en vir elke plant, dier en mens wat Hy daarop sou skape. Eendag op die nuwe aarde sal ons sien hoe asemrowend Hy daarin geslaag het.

 

D. VERS 3

En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. 

 God spreek nou uit wat Hy in geloof reeds sien en onmiddellik kom dit tot stand. Die aarde word ineens sigbaar as ‘n glansende bal. Waar net stikke duisternis was, hang ‘n skitterende planeet voor Hom in die ruimte; ‘n sfeer van eindelose moontlikhede. Tussen die wolke deur blink sy skommelende waters en weerkaats hy God se lig uit in die ruimte. Dit word ‘n wêreld in lig; ‘n sigbare planeet.

Die Here het die lig nie terwille van homself gegee nie maar ter wille van die skepsels wat Hy later daarop sou plaas. Hy wou dat hulle alles om hulle sou kon sien en gebruik. Daardeur sou hulle mekaar ook kon sien, herken en waardeer.

Lig is ‘n verstommende entiteit. Dit behou sy momentum (spoed) terwyl dit deur die ruimte skiet. As ons vandag met ‘n ruimtetuig miljarde kilometer weg van die aarde af die ruimte in sou reis, sou ons dit nog steeds met ‘n teleskoop kon sien weens die lig wat van sy oppervlakte af weerkaats word.

Niks ewenaar die spoed van lig nie. Ons vinnigste vuurpyl kruip soos ‘n skilpad deur die ruimte in vergelyking met God se blitsige kosmos boodskapper wat uit die blokke wegspring teen 300 000 kilomter per sekond. Daarom waarsku hy my betyds wanneer ‘n aankomende voertuig sy baan verlaat sodat ek uit sy pad kan beweeg. Vinniger nog waarsku Sy Gees my wanneer die bose ‘n vurige pyl van versoeking op my afvuur.

En hier op aarde kan lig op die vuilste ashoop skyn maar nie daardeur besoedel nie: die weerkaatste lig is net so rein soos die invallende lig. Lig is ‘n waardige beelddraer van ons Skepper.

Watter ander geestelike lesse leer ons omtrent God uit die lig wat Hy geskape het?

  God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. (1 Joh. 1:5). 

 Fisiese lig is in besonder ‘n beeld van God se volmaakte geestelike heiligheid. Soos die teks sê, in Hom is geen duisternis nie. In Hom is geen verborge dinge waaroor Hy hom hoof te skaam of wat Hy vir sy engele of aardse wesens sou wou wegsteek nie. Jesus het mens geword en vir 33 ½ jaar tussen sondaars gewandel, maar sy karakter het blink skoon gebly. Hy is tussen twee moordenaars gekruisig maar ook daar het Hy uitgestaan as die skitterende diamant, die vlekkelose Lam van God. Net Hy kon die mensdom om hom in die oë kyk en vra:

Wie van julle oortuig My van sonde?  (Joh. 8:46).

Daarom kon God, die Vader, die sondes, die duisternis van die ganse wêreld soos deur ‘n reuse tregter op Hom uitgegiet, maar kon dit sy geestelike lig nie uitblus nie. Vir drie ure lank het dit nagdonker geword op Golgota terwyl Hy ons skuld deur sy wonde betaal het, maar toe dit vereffen was, het die daglig weer helder deurgebreek want die Skrif verseker ons:

En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. (Joh. 1:5). 

Dit sou dan ook geld vir sy skepsels wat later na sy beeld geskape sou word. Om in sy teenwoordigheid te kan inkom en sy vriend of kind te kan wees, sal die mens ook gewillig moet wees om ontbloot te word; hy sal moet oopmaak sodat die lig elke hoekie van sy lewe, van sy hart kan bestraal. Geen geheime mag van Hom teruggehou word nie.

Duisternis is die afwesigheid van lig. As daar ‘n donker kol in jou lewe is, beteken dit dat die Here nie daar teenwoordig is nie; jy laat Hom daar nie toe nie. Dit is jou geheime lewe. Jou stukkie duisternis.

Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here wandel soos kinders van die lig. (Efes. 5:8).

 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. 7  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. (1Joh. 1:6). 

 Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. (1Thes. 5:5). 

Hierdie drie tekse praat van mense wat vroeër soos die aarde in duisternis was, maar nou innerlik deur God verlig is. Hy, die Lig wat elke mens sou verlig, het in hulle kom woon en elkeen het ‘n skynende lig, ‘n lamp van God geword. Die Bron van lig skyn nou van binne na buite uit hulle. So is die mens dan beide van buite en van binne verlig. Hy sou nie net die lig van God weerkaats nie, maar dit self ook uitstraal.

Gesamentlik vorm hierdie mense ‘n gemeenskap van lig, ‘n Koninkryk waarvan almal wat daaraan behoort met mekaar in die lig wandel. So verrys ‘n stad op ‘n berg wat van vêr af sigbaar is.

Die mensdom wat nie vir God oopgemaak het nie, sal dan soos die aardbol wees wat op sy oppervlak verlig, maar van binne in duisternis is. Sulke mense sou baie lig van God op verskillende maniere ontvang; getuienisse uit die natuur, lig uit die Woord van God, preke, lig uit ander geredde mense se lewens, maar innerlik sou hulle in duisternis wandel, oor allerhande sondes struikel en uiteindelik hul lewens vir ewig verloor omdat hulle die lig verwerp het. Hulle volg hul eie insigte; hulle besluit self oor wat reg en wat verkeerd is; hulle verwerp die Lig wat gekom het om alle mense te verlig.

As die aardbol die lig wat God oor hom laat skyn kon verwerp het, sou daar vir hom geen ander hoop oorgebly het nie. Hy sou verewig ‘n lewelose koue stuk materie gebly het. So ook die mens wat God se geestelike lig verwerp; hy bly geestelik leweloos en leeg.

Deur die loop van die eeue het die bose dikwels daarin geslaag om die mensdom in geestelike duisternis te dompel soos toe Adam en Eva die slang geglo en God se waarskuwing verontagsaam en die ganse mensdom in eeue van ellende laat beland het. Veel later, in die dae van Noag, het die geestelike duisternis die mensdom feitlik verswelg:

Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,  (Gen. 6:5).

 En die Here het net agt mense in wie se lig was na die gereinigde aarde oorgedra. Op Golgota, het die bose selfs probeer om die Bron van Lig uit te doof. In die dae van die Hervorming het hy die Kerk gebruik om die Lig van God se Woord te verduister en heel aan die einde van die tye sal die antichris en die valse profeet ‘n laaste aanslag op die Lig loots maar dan sal die Lig die finale oorwinning behaal en alle duisternis vir ewig in die bodemlose put indryf.

Miskien het jy op ‘n stadium vir God oopgemaak en het Hy die olie van sy Gees in jou hart uitgegiet. Dit was so heerlik. Jy het gestraal en daarvan getuig. Maar later het jy begin om die Heilige Gees te bedroef deur jou eie pad te loop. So het die olie min geword en jou lamppit is beskadig. Jy is besig om uit te brand; jy verkwis jou eie lewe. Jy het ‘n rokende lamp geword. Jou glas is donker van die rook, jou lig skyn flou, jou lamplig flikker.

Maar daar is hoop: Hy sal die rokende lamppit nie uitblus nie (Matt. 20:12). Gee jouself maar net opnuut aan Hom oor dat Hy die verkoolde dooie stuk van jou lewe kan afsny, daardie gedagtes, woorde en dade wat deur sonde duisternis ingeneem is. Wanneer dit bely en vergewe is, sal Hy jou vul met vars olie en jou weer onder die wegkruip emmer van skaamte uithaal en jou op sy rak van getuienis plaas om vir die wêreld om jou te skyn.

E. VERS 4 a

 Toe sien God dat die lig goed was.

Ons lees hierdie woorde keer op keer. Soos ‘n meesterbouer het die Heer weer en weer teruggestaan en sy handewerk beskou en dit geniet en bevind dat dit goed was vir die doel waarvoor Hy dit geskep het. Natuurlik sou dit so wees want Hy kan niks anders as die goeie voortbring nie.

Hierin stel Hy vir ons ‘n voorbeeld en het dit laat opteken dat ons ook so moet doen. Deur dikwels rustig ons gesindhede, gedagtes, woorde en werke voor die Heer vir ondersoek te bring, kan ons, ons foute gou ontdek en regstel voordat ons daardeur skade lei. Hy veroordeel nie, maar help ons om dit in wysheid te beoordeel en die krom geboude stukkie muur af te breek voordat dit tot ‘n kamer aangegroei het. Onthou net, as Hy sê, “Breek af,” gee Hy raad wat vir jou die allerbeste is; Hy begeer net die beste vir jou. Wanneer ‘n muur skeef gebou is, gaan jy sukkel om die ingeboude kaste in te pas, so ook sal jy sweet met die plafon, om nie eers te praat van die vloerteëls nie. En wanneer jy die huis moet oorgee, mag die koper dit dalk raaksien, sy neus optrek en eerder jou buurman se plek koop. Luister fyn na die sagte influistering van die Heilige Gees en spaar vir jouself baie geld, tyd en moeite.

Daardie outjie in jou lewe; as die Here sê, “Nee”, beëindig die verhouding selfs al verstaan jy nie mooi wat dan fout is nie. As die trouring eers aan jou vinger is, sal jy maar vir die res van jou lewe in die huis met die skewe mure moet bly. Eina. Al jou trane sal die muur nie skuif om mooi haaks met die ander mure te staan nie.

Soms is ons oorhaastig met die lê van die stene van ons lewensmure. Daarom, vra Hom daagliks om jou geestelike bouwerk te beoordeel soos wat Hy met sy eie gedoen het.

F. VERSE 4b en 5

En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; 5  en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag. 

Waarom het die Here nog duisternis op die aarde oorgelaat? Hy kon mos net sowel van alle kante af lig gegee het. Laat ons net weer in gedagte hou dat God niks doelloos doen nie. ‘n Praktiese rede mag wees sodat die mens rustig kon slaap. Maar waarom het die Heer die mens so gemaak dat hy ‘n groot gedeelte van sy lewe moet omslaap; die mens is immers na die beeld van God geskape en Hy sluimer of slaap nooit nie? (Ps. 121:4). Nee, die gedeeltelike donkerte op aarde was ‘n beeld van geestelike lig en duisternis.

Die duisternis was nog nodig want die eerste twee mense moes nog die geleentheid hê om te kan kies tussen lig en duisternis; tussen goed en kwaad en as daar net lig en geen duisternis was nie, sou die mens geen keuse hê nie; hy sou niks anders as ‘n robot wees nie; ‘n masjien wat gemaak is om net die goeie te doen; ‘n wese sonder ‘n eie wil, ‘n eie opinie, ‘n eie begeerte. Dan sou die mens nie na die beeld van God geskape gewees het nie. Hy self het ‘n vrye wil en doen die goeie uit eie keuse.

Die Here het dan ook aan die eerste twee mense, Adam en Eva, sommer vroeg in hul lewens al die geleentheid gebied om hul kruisies te trek. As hulle die lig sou kies, dws ewige gehoorsaamheid aan ‘n heilige God, sou die Here moontlik die donkerheid, dws die keuse om die duiwel en sonde te dien, sommer dadelik vir ewig weggeneem het. Hoe wonderlik sou dit nie gewees het nie!

Soos vroeër gemeld, het hulle ongelukkig die duisternis bo die lig verkies en die hele menslike geslag in smart gedompel. Ons het elkeen ook, toe ons oud genoeg was om tussen goed en kwaad te kon kies, die duisternis gekies. Daarom moet ons elkeen weer kies; die Lig kies, Jesus kies, om kinders van die Lig te kan word. Maar ook die kinders van die lig moet elke dag en in verskillende situasies die Lig, weer en weer kies want ons moet só deur geloof volhard tot die einde toe en sal dit ook doen deur die innerlike krag van die Heilige Gees.

Selfs ons Here Jesus het daarop gewys dat die duisternis en die kinders van die duisternis ‘n rol het om op aarde te speel, maar uiteidelik geoordeel sal word. In Jesus se uitverkore groepie van 12 apostels, was daar ‘n duistere karakter, Judas Iskariot, maar hoor wat die Heiland van diesulkes sê:

Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom. (Mat 18:7). 

Ja, in sy wysheid, gebruik die Here selfs die duisternis om ons geestelike spiere te bou. Sonder opdraendes sal die fietsryer se bene nie sterk word nie en sonder gewigte aan die stang sal die kragman se spiere nie uitswel nie.

Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 3  omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie. (Jas 1:2). 

Ja, die Heer gebruik die versoekings waarmee ons omring word, as ‘n gymnasium toegerus met allerhande apparate waardeur ons tot geestelike manne en vroue van staal ontwikkel kan word. Jesus is self in hierdie gym gevorm:

Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; ( Heb 5:8). 

Vandag beweeg Hy steeds in hierdie pynlike gym rond om seker te maak dat sy atlete nie deur die apparaat beseer word nie:

Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word. (Heb 2:18). 

Hy maak seker dat die gewigte nie swaarder is as wat jy kan optel nie. So, al sweet en beur jy om die lewenslas bo jou kop op te stoot, hou goeie moed, jou afrigter weet presies wat jy kan dra. Jy sal nie gebreek word nie; net gebou word. Jy sal eendag met bultende spiere voor Hom in die hemel op die podium staan. So sal jy Hom verheerlik vir wat Hy in jou gedoen het.

G. Vers 4 en 5

En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis;en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag. 

 

Na elke nag in jou lewe laat die Here ‘n blye môre aanbreek. Al gaan jy dalk nou deur ‘n donker nag, netnou maar breek die dag weer aan en verrys die kragtige son bo die horison. Dan sit jy weer met jou bekertjie koffie saam met Hom op die voorstoep en vertroos sy Gees jou uit sy Woord. Hy wat nag en dag in die skepping ingestel het, reël ook die nag en dag periodes in jou lewe.

Laastens: laat ons as kinders van die Lig elke dag uitsien na die ewige dag wat eersdaags sal aanbreek:

Rom 13:12  Die nag het ver gevorder en dit is amper dag.

SHALOM!

……….

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm onderaan hierdie bladsy daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha