Die Bybel

A. DIE BYBEL IS ‘N UNIEKE BOEK.

Die Bybel is die enigste boek ter wêreld waarvan God self die skrywer is. Dit bevat alles wat God nodig ag dat die mens moet weet om ‘n vervulde lewe te leef, welaangenaam voor Hom en tot voordeel van die mensdom.

“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (2 Tim 3:16,17)

B. WOORDELIKS DEUR GOD GEÏNSPIREER.

Die Bybel is woord vir woord  deur God die Heilige Gees geïnspireer. Eintlik is dit ‘n biblioteek van 66 verskillende boeke. Hulle is oor ’n periode van ongeveer 1535 jaar opgeteken deur  sowat 39 manne wat geweldig van mekaar verskil, maar een ding in gemeen gehad het, naamlik hul hegte verhouding met God. In dié manne se harte en gedagtes kon Hy Sy Woorde lê sodat hulle dit in skrif aan die mensdom kon oordra. So het God dit moontlik gemaak dat ons elkeen vandag so ‘n handleiding vanuit die hemele kan besit.

C. HOE WEET ONS DAT GOD DIE OUTEUR (SKRYWER) VAN DIE BYBEL  IS? VIER REDES:

  • Die Bybel se aanspraak: Die Bybel verklaar self, maak self daarop aanspraak, dat dit deur God geïnspireer is (2 Tim 3:16 hierbo).
  • Geen weerspreking: Eerstens omdat die Bybel homself nêrens weerspreek nie. ‘n Mens sou verwag dat wanneer so baie skrywers oor so ‘n lang periode oor dieselfde hoof onderwerp skryf, hulle soms verskillende opinies en insigte sal hê maar dit is geensinds die geval nie. Hulle praat almal uit een mond. Dit wys vir ons dat God eintlik agter die skerms die skrywer is en nie die manne wat die pen hanteer het nie; hulle was maar eintlik net ‘n pen in God se hand.
  • Vervulde profesië: God alleen ken die toekoms en al die profesië wat Hy in die Ou Testament laat opteken het, is al vervul, uitgesonderd dié wat betrekking het op toekomstige datums (Sien bylae hieronder).
  • Jesus het die Bybel as van God erken: Die Here Jesus wat Homself bewys het as die Seun van God deur Sy sondelose lewe, deur die wonderwerke wat Hy gedoen, deur die hemelse wysheid waarmee Hy gespreek het en deur Sy opstanding uit die dood, het talle gedeeltes uit die Ou Testament aangehaal as synde die Woord van God en nooit enige gedeelte daarvan bevraagteken nie.
  • Die Heilige Gees getuig dat die Bybel God se Boek is: Enige persoon wat ernstig na God soek, word, terwyl hy die Bybel lees, deur die Heilige Gees oortuig dat  dít wat hy lees, waarlik die Woorde van God is. Op hierdie wyse verseker God dat selfs klein kindertjies en mense wat nie in staat is om navorsing te doen nie, met sekerheid kan weet wat God vir hulle wil sê, wat Hy van hulle verwag en wat Hy vir hulle belowe.
  • Wanneer ek begin om die Bybel te probeer uitleef, besef ek dat dit van God kom. As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek. (Joh 7:17). 

Probeer gerus om net een of twee verse in die Bybel uit te leef en jy sal gou agterkom dat hierdie voorskrifte vêr bo die mens se vermoë is en dat net God dit kon bedink en gegee het. Probeer bv om die Groot Gebod (Mat 22:37-39) net vir een dag lank na te kom:

En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Geen mens kan dit uitleef nie behalwe die Seun wat mens geword en dit toe voor die oë van die mens kom uitleef het. Net Hy kon uitroep: “Wie van julle oortuig My van sonde?” (Joh 8:46).

D. TEMA (SENTRALE ONDERWERP WAAROOR DIT HANDEL).

Die Bybel handel eerstens en primêr oor God wat voor alles bestaan het. Voortvloeiende daaruit, handel dit oor die mens wat deur Hom geskape is, teen Hom in opstand gekom en nou deur Hom herskape word. Dit is waaroor die Boek  ons onderrig.

E. SAMESTELLING EN INHOUD.

Die Bybel bestaan uit twee dele: Die Ou Testament en die Nuwe Testament.

F. OU TESTAMENT: 39 boeke.

 1. Historiese boeke: 17

Groep 1:  5 boeke

          • Staan bekend as die
          • Genesis, Exodus, Levitikus, Númeri en Deuternómium.
          • Dek vanaf die skepping tot waar Israel op die grens van Kanaän is.
          • Moses het dit opgeteken onder inspirasie van die Heilige Gees.

Groep 2: 12 boeke

          • Joshua, Rigters, Rut, 1 & 2 Samuel, 1 & 2 Konings, 1 & 2 Kronieke, Esra, Nehemia en Ester.
          • Handel hoofsaaklik oor die wel en weë van die volk Israel (en oor individue binne hierdie volk).
          • Dek hulle geskiedenis vandat hulle die land Kanaän binnegegaan het, tot en met hul terugkeer uit ballingskap.

 2. Poëtiese boeke: 5

          • Job, Psalms, Spreuke, Prediker en Hooglied van Salomo.
          • Poëties genoem as gevolg van literêre styl.
          • Sommige is bedoel om gesing te word.
          • Hulle handel oor die mens se geestelike belewenis.

 3. Profetiese boeke: 17 (God se woorde aan die nasies.)

Groep 1:  5 boeke: Grotere profete

Jesaja, Jeremia, Klaagliedere van Jeremia, Eségiël en Daniël.

Groep 2: 12 boeke: Kleinere profete

Hoséa, Joël, Amos, Obádja, Jona, Miga, Nahum, Hábakuk, Sefánja, Haggai, Sagaría en Maleági.

G. NUWE TESTAMENT: 27 boeke

 1. Historiese boeke: 5

Groep 1:  4 boeke: Vier Evangelies.

          • Matthéüs, Markus, Lukas en Johannes.
          • Dek die lewe, sterwe, opwekking en hemelvaart van Christus.

Groep 2: 1 boek

          • Handel oor die uitstorting van die Heilige Gees en die wêreldwye verbreiding van die Evangelie.

2. Leerstellige boeke: 22:

          • Staan bekend as “Sendbriewe.”
          • Bevat lering aangaande die Christelike lewe.

Groep 1: 9 Briewe.

          • Romeine, 1 & 2 Korinthiërs, Galasiërs, Efesiërs, Filippense, Kolossense en 1 & 2
          • Geskryf deur Paulus aan spesifieke kerke.
          • Leerstellings van die Christelike geloof.

Groep 2: 4 Briewe.

          • 1 & 2 Timótheüs, Titus en Filémon.
          • Geskryf deur Paulus aan individue.
          • Handel oor persoonlike verhoudinge.

Groep 3: 9 Briewe.

          • Hebreërs tot Openbaring.
          • Gerig aan groepe persone verspreid oor die hele wêreld.
          • Handel oor vervolging, valse leermeesters, die oppergesag van Christus en Sy wederkoms.
          • Die boek Openbaring gee ‘n blik op die hemel en vertel van Christus se finale triomf .

D. DIE BYBEL IS ALLES OMVATTEND.

Niks mag by die Skrif bygevoeg en niks mag daarvan weggelaat word nie (Matt 5:18; Open 22:18).

E. BYLAE B: OU-TESTAMENTIESE PROFESIë WAT REEDS VERVUL IS

1. Dat die Messias in Betlehem gebore sou word.

OT profesie:

En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid. (Mig 5:1) Die profeet Miga het hierdie profesie gegee 8 eeue voor die geboorte van Christus.

NT vervulling:

En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys. (Mat 2:1).

2. Dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.

OT profesie.

Daarom sal die HERE self aan julle ‘n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem. (Jes 7:14). Hierdie profesie is ongeveer 735 jaar voor Christus se geboorte gegee.

NT vervulling.

Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons. (Mat 1:20-23).

3. Die Messias sou Jerusalem oorwinnend binnegaan.

OT Profesie:

Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel—op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin. (Sag 9:9). Profesie gebring ongeveer 520 jaar voor Christus se geboorte.

NT Vervulling:

hulle het die esel en die vul gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het daarop gaan sit. En die grootste deel van die skare het hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takke van die bome afgekap en op die pad gestrooi. En die skare wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele! En toe Hy in Jerusalem inkom, het die hele stad in opskudding geraak en gesê: Wie is hierdie man? En die skare sê: Dit is Jesus, die profeet, van Násaret in Galiléa. (Mat 21:7-11)

4. Die Messias sou deur Sy eie mense verwerp word.

OT Profesie

Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar? Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie. Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. (Jes 53:1-3) Ongeveer 538 VC.

NT Vervulling

Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. (Joh 1:10,11)

En alhoewel Hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie; sodat die woord van die profeet Jesaja vervul sou word wat hy gesê het: Here, wie het ons prediking geglo, en aan wie is die arm van die Here geopenbaar? (Joh 12:37,38).

5. Die Messias sou deur een van Sy eie volgelinge verraai word.

OT Profesie:

Selfs die man wat met my in vrede lewe, op wie ek vertrou het, wat my brood eet, het die hakskeen teen my opgelig. (Ps 41:10).

NT Vervulling:

En terwyl Hy nog spreek, daar kom Judas, een van die twaalf, en saam met hom ‘n groot menigte met swaarde en stokke, gestuur deur die owerpriesters en ouderlinge van die volk. En sy verraaier het vir hulle ‘n teken gegee en gesê: Die een wat ek sal soen, dit is Hy, gryp Hom! En dadelik gaan hy na Jesus en sê: Gegroet, Rabbi! en hy het Hom gesoen. Maar Jesus sê vir hom: Vriend, waarvoor is jy hier? Toe kom hulle nader en slaan die hande aan Jesus en gryp Hom. (Ps 26:47-50)

6. Die Messias sou bespot en uitgetart word.

OT Profesie:

Maar ek is ‘n wurm en geen man nie, ‘n smaad van die mense en verag deur die volk. Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê: Laat dit aan die HERE oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry: Hy het mos behae in hom! (Ps 22:7-8).

NT Vervulling:

En die verbygangers het Hom gesmaad terwyl hulle hul hoofde skud en sê: U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van God is, kom af van die kruis! En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes en ouderlinge gespot en gesê: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo. (Mat 27:39-42).

7. Die Messias se kledingstukke sou deur loting verdeel word.

OT Profesie:

Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer! Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad. (Ps 22:18).

NT Vervulling:

En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp, sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad die lot gewerp. (Mat 27;35).

8. Die Messias sou as ‘n offer vir sonde sterf.

OT Profesie:

Jes 53:5  Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Isa 53:6  Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.

Isa 53:7  Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie. (Jes 53:5-7)

NT Vervulling:

Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! (Joh 1:29).

Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie. (Hand 13:38,39).

 9. Dat die Messias uit die dood opgewek sou word.

OT Profesie:

Daarom is my hart bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon; want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie.  (Ps 16:9,10).

NT Vervulling:

Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het; en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê. (Mat 28:5-7).

Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; (1 Kor 15:3,4).

/////////////

Die opening van U woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig.

Ps 119:30


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → BYBEL . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha