Is daar ‘n God?

Mors ek nou nie sommer my tyd deur te soek na ‘n God wat nie eers bestaan nie en wat niemand nog ooit gesien het nie? Is daar werklik ‘n God wat na my soek?

Dalk sê jy: “Goed, as daar ‘n god is, sal ek hom miskien soek, maar hoe weet ek daar is ‘n God?

A. DIE EERSTE ANTW: EK WEET DAT DAAR ‘N GOD IS OMDAT DIE GANSE NATUUR VAN HOM GETUIG

Jou vraag of daar ‘n God is, wys dat jy oor hierdie belangrike saak nadink. Dit is ‘n sinvolle vraag waarop God ‘n duidelike antwoord het. Sy antwoord is: “Kyk net ‘n slag om jou rond en vra jouself die vraag af: “Waar kom dit alles vandaan?”

As jy in jou huis rondkyk en jy sien ‘n pragtige hout stoel daar staan, en mense vra vir jou waar jy dié mooi meubelstuk kry; wat sal jy sê?

Sal jy vir hulle vertel dat dit ‘n boom was wat in jou tuin gegroei het en toe eendag begin daar vier pote uit die stam uitgroei en die takke krimp al kleiner en kleiner totdat ‘n rugleuning en ‘n sitplek word en toe tel jy dit op en kom sit dit in jou huis. Sal jou vriende dit glo? Wel dit is die stories wat party slim wetenskaplikes vandag vir ons kinders in die skole vertel; hulle noem dit Darwin se ewolusie teorie en hulle vertel dit sodat jongmense nie die Here moet soek en vind en hemeltoe gaan nie.

Wat is die ware storie van jou stoel? Miskien is dit dat jou pa wat ‘n uithaler skrynwerker was dit uit egte okkerneuthout vervaardig het en jy sal sy foto wat daar aan die muur hang vir hulle wys en die mense om jou sal hom bewonder. As hulle sy handewerk sien, sal hulle besef dat hy nie sommer ‘n hierjy was nie. Sy handewerk getuig van hom al is hy nie meer self hier sigbaar nie.

Net so getuig God se handewerk van Hom. Al kan ons Hom nie met die blote oog sien nie, getuig Sy handewerk dat daar ‘n magtige, wyse, vaardige Skepper is wat alles geskape het. Gaan staan aan die voet van Tafelberg, kyk op na die kranse daar vêr bo jou en vat dan ‘n rots wat net die helfte so groot as jy is en probeer dit bo jou kop in die lug in opstoot. Erken dan dat jy baie klein en nietig is en dat daar êrens ‘n Skepper-God moet wees wat ontsaglik groot en magtig is.

Gaan staan buite in ‘n donderstorm en voel hoe die donder die aarde onder jou laat bewe en skrik jou asvaal as die weerlig uit die hemel blits en ‘n reuse boom naby jou in twee klief en laat uitbrand.

Gaan staan langs die see en kyk uit oor daardie waters wat tot teen die horison strek en dink daaraan dat dit wat jy sien maar net ‘n koppie vol is in verhouding tot al die oseane gesamentlik.

Bekyk 10 verskillende bome en twintig soorte diere en sien die wysheid van die God wat dit alles uitgedink het en dat dit maar net ‘n handjie vol is in vergelyking met wat dwarsoor die wêreld leef.

Neem ‘n handvol sand, bekyk dit noukeurig en dink daaraan dat selfs die slimste wetenskaplike nie ‘n enkele korreltjie uit niks kan vervaardig soos wat God gedoen het nie.

Ja die Here se werke wat ons omring, roep uit dat ‘n magtige Skepper hulle geskape het, en dit alleen is reeds voldoende bewys van Sy bestaan; so sê Hy duidelik in Sy Woord:

 Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar.  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; (Rom 1:18-20).

Die Here sê dus dat ons weet Hy is daar maar ons onderdruk die insig wat Hy vir ons gegee het. Die antwoord is dus: hou op om te twyfel, erken dat elke selletjie in jou liggaam aan Hom behoort en soek Hom met jou hele hart want Hy is sommer baie naby jou:

 sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag. (Hand 17:27,28).

 Die Eerste Antwoord op die vraag “Hoe weet ek dat daar ‘n God is”, is dus: God kan duidelik in sy skepping gesien word want Hy het homself deur Sy skeppingswerke aan die mens geopenbaar. So, daar is verseker ‘n God.

En nou dat ek uit die skepping kan sien dat daar ‘n God is, is ek in die moeilikheid want ek bly op God se aarde en is deel van Sy aarde en ek ken Hom nie en ek dien Hom nie.

Jes 1:3  ‘n Os ken sy besitter en ‘n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie.

Ja tot ‘n domme dier weet baie goed aan wie hy behoort en wie hy moet gehoorsaam en wie vir hom sorg, maar die slimme mens, maak of hy nie weet dat daar ‘n God is wat hom gemaak het, Wie se son hom warm maak en Wie se lug hy inasem nie.

B. DIE TWEEDE ANTWOORD: EK WEET DAT DAAR ‘N GOD IS OMDAT HY DEUR DIE BYBEL VIR DIE MENS SIGBAAR WORD.

Nog ‘n hulpmiddel waardeur die Here Homself openbaar, is Sy heilige Skrif, die Bybel. Dit bevat al die inligting wat die mens nodig het om God te kan ontmoet en met Hom te kan wandel.

 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. (2 Tim 3:16,17).

Die eerste stukkie Bybel is deur God self met Sy vinger op twee plat klippe gegraveer. Dit ken ons as Die Tien Gebooie. Die res van die Skrif is net soseer deur God geiïnspireer, maar dit het Hy deur die hand van mense laat neerskryf.

Die Bybel is eintlik ‘n biblioteek van 66 verskillende boeke. Hulle is oor ’n periode van ongeveer 1535 jaar opgeteken deur  sowat 39 manne wat geweldig van mekaar verskil, maar een ding in gemeen gehad het, naamlik hul hegte verhouding met God. In dié manne se harte en gedagtes kon Hy Sy Woorde lê sodat hulle dit in skrif aan die mensdom kon oordra. So het God dit moontlik gemaak dat ons elkeen vandag so ‘n handleiding vanuit die hemele kan besit.

C. DIE DERDE ANTWOORD: EK WEET DAT DAAR ‘N GOD IS OMDAT HY HOMSELF DEUR SY GEES AAN DIE MENS BEVESTIG (OPENBAAR).

Spr 1: 20-33: Die Heilige Gees wat hier “Wysheid” genoem word, is gedurig besig om met die mens te praat waar hy ookal rondbeweeg, maar die mens besef nie dat dit God is wat met hom praat nie omdat hy Sy stem nie herken nie.

Rom 8:16: Wanneer die mens sy lewe aan die Here gee sodat God binne-in hom kom woon, getuig die Heilige Gees teenoor sy gees dat hy nou ‘n kind van God is.


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → GOD IS . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha